Jongste aktiwiteit:

Verlossing

Verlossing
Die aarde is my kern. Uit stof het ek gekom, tot stof sal ek terugkeer. Eendag, as ek my kan losskeur uit die vasknellende aardetentakels en mense-opinies wat my verstrengel, meesleur, af, die duister in. In die tussentyd beur ek slepend voort, terwyl versoekings daagliks versperrings voor my voete slinger.
Ek worstel met die wortels van sonde wat om my voete vasklou. Sondegroeisels wat hoe later, hoe hoër teen my bene opklim. Knellende wortels wat my verlam, keer dat ek wegbeweeg van die sonde. Hygend na asem beur ek teen my eie hartklop, diep in my keel. Hoe lank nog gaan hierdie donker knellings my siel uitmergel? Tog bly ek weerloos, uitgelewer aan die krullende, stadig-kruipende sondewortels wat meedoënloos teen my opwurm.
My bene, my lyf, my arms is verlam. Ek kan myself nie help nie, die sonde, die vleeslike, behou die oorhand. Ek weet ek moet uitbreek! Boontoe! Ek moet my uitstrek na die hemel bokant my, die blou, die oop, helder lug, waar ek vry sal kan asemhaal. Daar sal ek kan uitstyg, weg van die donker, drukkende doolhof van sonde op sonde.
Maar die aarde hou my vas, klou verbete aan my hierbly. Wegbreek is my nie beskore nie. Ek, swakke mens, besoedel, besmet, het geen manier om uit die klouende tentakels te ontsnap nie. Hoe lank sal ek dan nog in my eie swakheid moet probeer stry teen die moddervuil om my voete?
My lewenswoestyn strek dor en leeg voor my uit. Die pad is toegewaai deur sandstorms. My stormpaaie, my verkeerde keuses. Geen plant of dier sal hier lewe nie, wat nog stukkende, depressiewe mens sonder heenkome. Slegs die enkele voëls wat ʼn stille rusplek vir ʼn moeë poot of ʼn gogga vir aandete soek, is af en toe in die skrynende helder lug te sien. Ek trek my oë op skrefies vir die skerp lug – en vir my eie skaamte.
Dan, van ver af, sien ek ʼn stippel die lug deurklief. Dit kom vinnig nader. ʼn Duif, blankwit in sy reinheid. Grasieus in sy vlug, al draaiend en swaaiend oor die dorre aarde. Soekend na iets – of iemand? – onder hom. Verlangend staar ek hom agterna toe hy weer verby my kop swiep, op, weg. Nog ʼn draai in die verte, dan keer hy terug, die keer reguit na my toe.
Ek hoor sy koer, sien die lig van herkenning in sy fynkyk-oë. Help, Duif! Lei my hier uit! Oë – gaan oop! Bly oop, kyk op! Die duif – swiepend bo my – klap sy spierwit vlerke. Ek vang sy oog – help! Hy draai, hy swaai terug.
Die duif sprei sy skitterwit vlerke oop, vlieg weer bo-oor my, hang in die lug, oopgevlerk, asof hy my wil beskerm teen wind en weer. Dan sak hy af, af, al laer tot reg bo my. Ek hou my asem op. Ek is gereed, ag, ek is so gereed om te ontvlug uit die tentakels, dit los te skeur, af te skud en op te styg, weg van die aarde met sy vasknellende menseslange, leuens en sondestof wat my oë verdof.
My sien word stil, hoop en smagting vul my stukkende en doodgedrukte lyf. Hoop op uitkoms. Duif, bring jy uitkoms?
Die duif se koms is egter nie genoeg om die knellende groeisels om my, ín my, te breek nie. Nog nie. Die tentakels het reeds my skouers omsingel, na my nek uitgebrei. My asem hortend, smagtend na net nog ʼn laaste sonde-teug. Die slang het weer oorwin.
Die klank van flappende vlerke laat my weer opkyk. Die duif is terug, hierdie keer kom sit hy by my voete op die warm sand, asof hy inspeksie hou waar die swakplek in my harnas is. Dalk wil hy hom inwurm? In vernedering kyk ek af na die spierwit duif. Ek, sondige mens, kyk af na die Duif, wat my redding kan wees.
Die Duif vlieg weer op, sirkel al om my kop. My kyk hou die Duif dop. Ek vang Sy oog, hou sy kyk. Nee, dis Hy wat my oog vang. Hou, Duif, hou my vas, moenie my los nie. Ek verdwaal in die hoop wat Sy oë my bring. Kyk, ek strek my hand uit, vat myne vas, tel my op, ruk my los uit die vassuigende sondewortels. Verlos my van die dorre, lewelose woestyn en sand en son wat genadeloos op my neerbrand. Neem my saam, lei my uit na die vrede, ontvlugting, die redding uit die vernietigende sondestringels om my lyf, my siel. Na die lig, die Lig, daar waar vrede heers, en liefde, en stilte. Vat my siel saam tot bokant die suiwer-wit wolke, die blouselblou lug, nog verder, nog hoër.
Maar los my gefolterde liggaam hier in die woestyn, sodat dit kan terugkeer na salige, stille aardse stof.
©Bets Koen
Februarie 2019




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed