Ek is
Ek is
Ek lê op my rug in die rimpellose water en staar na die hemel, wolkloos blou. Om my vorm die sonstrale ʼn warm hittekol. Salige stilte. Dis asof die aarde ʼn lewestilstand het. Tog voel ek die vibrasies van lewende wesens en ligte strome in die water onder my. Ai, dis mos die lewe. Eet, rus, sonlig, ʼn salige siklus. Dag vir dag, ís ek net; uitbundig lewend hier waar ek in die stilvloeiende rivier rondswerf.
Ineens kom die wind op, begin blaas en bewe. Bome buig, takke swaai van kant tot kant en gooi blare tuimelend op die aarde neer. Ek word al meer bewus van die sterker onderstrominge om my in die water. Ek kyk op. In die eens blouselblou lug het wolke, asof van nêrens, dreigend nader beweeg. Al hoe vinniger drom hulle bokant my saam, sak al laer en laer. Donderweer rammel vanuit die verte. Die eerste weerligstrale tref die aarde, al hoe vinniger, al hoe meer. Ek skrik toe een naby my in die water vasslaan.
ʼn Groot, donker wolk met die vorm van ʼn aambeeld hang onheilspellend reg bokant my. Ek herken hom: Cumulus – die stapelwolk. Hy is tot barstens toe swanger. My hart klop in my sel, maar tyd vir behoorlik bang word is daar nie, want die volgende oomblik bars Cumulus oop en die massa druppels word op die aarde uitgespoeg, dringend, dwingend, waar dit deur die droë aarde opgesuig word. Water spat om my heen, vorm ʼn kolkbeweging. Ek word meedoënloos meegesleur. Om en om tol ek, dan links, dan regs. Waarheen ek op pad is, weet ek nie, maar klou aan die hoop dat my sterwensuur nog nie aangebreek het nie.
Hulpeloos word ek halsoorkop voortgerol deur massas druppels wat nou verwoed voortspoed om iewers ʼn rusplek te vind. As ek maar net kan vasklouplek kry …
ʼn Druppel breek weg van die massa. Ek voel die rimpeling om my toe sy tot teenaan my beweeg. Haar molekules vou oop en sluit beskermend om my. Ek is binne-in ʼn druppel, groot genoeg vir my om in te beweeg. Vir eers is ek veilig!
Steeds rol ons voort in die stormende watermassa. Al vinniger, vinniger, holderstebolder, rivier af. Die rivier eindig in ʼn magtige waterval. Dit is waarheen ons op pad is en my hart trek saam. Ek twyfel of ek dit gaan oorleef. Die kranse is hoog en die val is ver. As ek maar net binne-in die druppel kan bly, behoort ek veilig te wees.
Ineens voel ek hoe my druppel die rivier verlaat, in die lug op geskiet word … en dan sluit ons aan by die watermassa wat na benede tuimel. Vir ʼn uitmergelende oomblik hou ek op asemhaal. Ver onder my sien ek reeds hoe die eerste druppels op die wateroppervlak val … en in duisend silwerspatsels breek. My hart trek saam. Ag, as ons, ek en my druppel, maar die landing oorleef! Die waterpoel kom nader, nader …
Ek is al so deurmekaar geskommel dat ek nie meer weet watter my bokant is nie, maar ek klou verbete vas aan die waterdruppel se molekules wat steeds beskermend om my hang. Dan tref ons die waterpoel. Dankie tog, my druppel is heel! Ons word verder uitgespoeg, al rollende en kabbelend oor gladde klippers, na stiller water.
Die dreuning van die waterval word al sagter. Ek kyk terug. Cumulus hang steeds oor die rivier, maar hier bokant die waterpoel, is die blousel weer besig om die lug oor te neem. Cumulus word verdring deur ʼn helder streep sonskyn wat deur sy lae breek. Ek kan weer die rustigheid inasem en ek is diep dankbaar dat ek hierdie keer Cumulus se aanslag oorleef het.
Ek hang in die stil waterpoel, veilig, geborge in my eie waterdruppel wat haar oor my ontferm het: ek, ʼn fetus in my eie baarmoeder. Ek is ʼn amebe.
©Bets Koen
Februarie 2019
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Jy dwing meelewing af!