MARKDAG.
Die kerkraad is in sitting in die tempel van Jerusalem. ’n Vreemde versoek was aan hulle gerig, deur ‘n werklose man. Dié versoek maak eintlik nogal sin.
Hy het verduidelik dat hy sien hoe pelgrims van heinde en vêr kom om in die tempel hulle offers te bring. Dit moet diere sonder gebrek of besering wees.
Reisigers moet die diere aanjaag tot hier. Op die lang pad doen menige lammer besering op of vrek selfs. En dan kan hy nie deel in die herdenking van die lamsbloed aan die deurkosyn nie. Die bloed wat verhoed het dat ook die eersgeborenes van die Israeliete sou sterf. Dat dit net die Egiptenare se oudstes sou tref.
Daarom versoek hy om ’n stalletjie te mag opslaan waar hy lammers sal verkoop en ’n bietjie wins maak. Net om kos te koop. Ter selfde tyd, sal hy ’n goeie diens lewer om vooraf goedgekeurde lammers, te verkoop. Hulle sal verseker wees van ’n aanvaarbare offerdier.
Die raad gee hulle goedkeuring. Vir ’n tyd lank is hy die enigste handelaar, maar sommer gou sien ander entrepreneurs die besigheidsgeleentheid. Die Joodse wet bepaal dat tempel belasting van ’n halwe sikkel betaalbaar is. Jode uit ander streke, die Diaspora, het met hulle uitlandse geld gekom. Daarop pryk die gesig van uitlandse heersers. Dis onaanvaarbaar in die tempel van God.
Sommer vinnig maak geldwisselaars, sommige selfs priesters, goeie geld met die uitruil van vreemde munte vir Joodse munte. Teen ’n tarief natuurlik. Hulle buit egter godsdienstigheid uit met ’n buitensporige wisselkoers. Hierdie geldwisselaars is in vennootskap met vee-inspekteurs en tempel venters. Dit is so maklik om ’n dier af te keur en die aanbidder te dwing om ’n ander dier te moet koop.
Armes kom ook offer, maar die vee is net te duur. Dis toe dat een handelaar, die aanvraag raaksien. Later is daar heelwat stalletjies wat duiwe verkoop. Al hierdie stalletjies is in die voorhof, waar non-Jode veronderstel is om te aanbid. Omdat dit vol geraak het, word daar selfs stalletjies opgerig in die koninklike wandelgang, langs die suidelike muur. Koning Herodes het dit laat bou. Later is daar stalletjies binne-in die heilige area. Al verbied die Wet van Moses dit. God het die gierigaard geken, daarom die wet.
Met die Fees van Pasga gaan Jesus en sy dissipels tempel toe. Haanskou Jesus hierdie bedrywige mark. Dis koeimis en duiwemis net waar jy kyk. By aanhoor van pryse, besef die uitbuiting. ’n Heilige woede stoot in sy binneste op.Hy gaan sit eenkant en vleg diepdenkend ’n sweep. Daarna stap ingedagte, na die naaste kampie en maak die draadhek oop.
Die eienaar gil briesend: ‘Wat dink jy doen jy?’
Jesus antwoord: ‘Hoe durf julle van my Vader se huis ’n markplein maak? Dis ’n plek van aanbidding! Maak dat julle weg kom!’ hy maak die volgende kampie oop. Gou is daar toetentaal chaos. Mense skree en bokke blêr. Hy keer wisselaars se tafels om en munte rol oral. Tussendeur laat hy ook die duiwe uit hul kratte vry. Dis ’n geklap van vlerke en vere wat fladder.
Annas en die priesters drafstap ontsteld nader. Togas wapper agter hulle soos vlermuis vlerke. Hulle wil weet wie gee hom enige reg.
‘Hierdie is ’n nes van rowers wat armes en gelowiges besteel! Dit word verbied in die wet!’ verklaar Jesus, hard en duidelik. Hulle gaap soos visse op droë grond. Daarteen het hulle geen verweer nie en moet gedwee toekyk hoe die duiwe wegvlieg en die diere pad afhardloop. Almal weet:
‘Markdag is gekanselleer.’ Laat niemand te nutte maak van ’n ander se swakte of tekortkoming nie.
Stilte daal oor die tempel-werf neer.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2019 projek