wanneer die volmaan my onkant vang
wanneer die volmaan my onkant vang
verlang my diepste wese
na die intensiteit
van jou aanraking en gevoelens
wat briefies in jou oë kon skryf
sodat ek dit teen jou lippe kon lees
en talmend na my hart kon pos
hunker my hart se rosetuin
na die bewing van jou hande
om my skouers en my heupe
smag ek na die roering in my
wanneer jou stem ’n honderd keer
uitnodigings agter my ore influister
en jou wang in morsekode
teen my slape telegram
hoor ek vanaand jou vreugdelag
vol vrede-klingels waarmee jy geluk
saans uit die melkweg kon pluk
en hulle een-een op my gepak het
terwyl jou vingers oor my rug
kon trommel en tamboer
tot lekkerkry my tone een vir een
laat krul het vir ’n liefdesuur
@adéle
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.