Jongste aktiwiteit:

WINTERNAG

Pa voel nie te wel nie. Die winterkoue sluip rond; ’n ongedierte sonder genade, verstrengel jou met ysige kloue, ’n vriesende asem wat in jou nek blaas. Selfs deur die blink houtvloer syfer die koue deur – bring saam die reuk van vloerpolitoer, stinkhout en klam grond.
Die groot los mat is vaal, skif getrap plek-plek; ligpienk rose en mosgroen krulle en blare. My oë volg die patroon; daar maak dit ’n krul, kyk hoe mooi is die rose geweef, die blare het liggroen rande. Pa luister na die nuus oor die draadloos. Dit is grootmens goed – koue front, reën, dalk verspoelings, sneeu op die Drakensberge en die Oos-Kaap, kapok in die Vrystaat. Ons sit op die mat en wag voor die paraffien verwarmer Pa se oogappel stoot sy Dinky Toy oor die lowergroen blare – plaaspaaie, ’n grondpad na iewers, afdraaipad na nêrens. Sy sagte neurie is skaars hoorbaar.

My huiswerk het ek klaar geleer – Winternag. Môre moet ek dit opsê voor die klas. Ek is droomverlore tussen pienk rose.

Pa vroetel met die draadloos, druk die lugdraad agtertoe, draai aan die knop. Ma bring warm koffie en boerebeskuit, verdwyn weer agter die toe deur na die kombuis. ’n Warm stoof se asem met geure van groentesop en kruie.
“Dis storietyd,” sê pa en trek die kombers stywer om sy lyf.
Hooflig af. Net ’n lampie langs die bed wat flou brand. Die bekende kenwysie word harder met ’n draai van ’n knoppie, bons teen die kamermuur, dans om die lampskerm saam met ’n mot.

Ek verdwaal weg – verder die donkerte in na my verbeeldingsteater, deur die persulium van ’n kaal verhoog tot op die speelvlak waar die karakters en milieu al duideliker word en ek vasgevang agter ’n silwerdoek staan, die rolprent binne my gedagtes.

Ek hoor ’n windjie wat waai – O, koud is die windjie en skraal …

“Ons trek die waens hier. Julle moet die beeste kraal toe jaag,” sê die oom.
“Ek sit solank ’n kannetjie koffie op die vuur,” sê ’n tante.
“Waar is Jamie?” vra die oom vir sy dogter. Ek hoor die beeste op die agtergrond, ’n sweepslag, iemand fluit.
“Hy’s na die kraal toe Vader – om na Frikkie om te sien,” en die dogter gee ’n kuggie. Swak hartjie.
“Jy is die oudste en jy moet mooi kyk na jou boetie, gehoor?” Dan roep die oom na Jamie. Die windjie waai al harder. O, treurig die wysie op die ooswind se maat.
Die tannie bring koffie – die bekers klingeling, ’n lepeltjie wat roer, kap-kap. Die oom slurp en sê dankie.
“Die lug lyk donker aan die oorkant. Ek vertrou nie die wolke wat so swart aanpak nie,” sê die oom terloops.

Geel waaigras wieg heen en weer – die grassaad aan roere soos winkende hande. Goud is die vlakte, roesbruin die koppies wat blink in die laatmiddagson. Net vroeër die dag was sy en Jamie op teen die rand, tot vêr gekyk – verder as ver, waar die plat berge soos miershope lyk. Daar onder is juis ’n miershoop so groot as ’n mens. ’n Aardvark se gat tussen klippe van klei en sand.
“Waar gaan die son vanaand slaap?” vra Jamie en tuur oor die landskap.
“Dáár,” wys sy met haar vinger, “net daar agter die hoogste koppie. Sien jy?”

Ek sien. So wyd as die Heer se genade, lê die velde in sterlig en skade. Ek was nog nooit daar nie, maar hier binne my wás ek. Ek voel haar hand myne vashou. Ek het my volkspele klere aan – groen serp om my nek, wit hemp, kakiebroek, geel onderbaadjie en die veldskoene wat oupa vir my gemaak het. Die draadloos roep my nader, dieper binne-in sy mistieke. Ek is Jamie.

Oor die draadloos kom die klanke, warm stemme wat my verbeeldingswêreld aangryp. Ek is daar.

“Kom, dit raak koud. Kry vir Jamie en dan kom julle binne. Ek maak vir ons ’n vuur,” sê ma en dra die bekers klingeling weg. Sy’t die boerebeskuit vergeet, dink ek.

Ek kruis my bene, my oë toe. In die donker kom die klanke oor die draadloos – ’n vuur wat knetter, die beeswagter wat nog hout op die vuur pak en mompel oor kapokwolke. Pa sê dit gaan sneeu en as dit vanaand gebeur gaan ons bitterlik koud kry. Hy hoop net die beeste sal dit oorleef. Frikkie, my kalfie …
“Wanneer dit sneeu is die wêreld spierwit. Wanneer jy daarin beland moet jy kophou of jy raak weg. Glo my, die sneeu sluk jou in en jy verdwaal dat jy nie weet waar oos of wes is nie.”

Pa hoes. Die draadloos kraak.
Toe raak die kamer swart. Net die vuur wat dans saam met die treurige ritme van die wind in môre se gedig. Gitswart wolke wat teen mekaar druk en skuur. Ek loer bang en versigtig deur die venster. Ek hoor die kalfie roep; eensaam, koud – dalk verkluim?

“Kom weg by die venster,” sê pa, maak sy oë toe en vou sy hande. Ma en sussie ook. Gebed. ’n smeking vir genade van Bo, leiding in die wit storm, dankwoorde, vergifnis. Hulle bid nie vir die kalf nie. Gaan pa sy kalf offer soos in die Bybel vir genade en vergifnis?

Musiek. ’n Treurige deuntjie wat viool-sag om my ore draai. Die draadloos se klanke streel en sweef onderdeur die toe deur van die slaapkamerdeur. Ma roer die pot sop.

“Amen …” sê die oom, “waar is Jamie?”
Die tante skarrel na die deur. Die beeswagter kom help om die deur toe te druk. Die ysige wind waai stormsterkte, suis hard, ruk. Ek hoor die deur toeklap. ’n Venster klap-klap in ’n ander kamer. Voor iemand by die venster kan kom, spring sy na buite.
‘Jy is die oudste en jy moet mooi kyk na jou boetie’.

Racheltjie. Ons vind mekaar iewers. Die koue is klam – ’n verdoemende ysigheid wat waaigras in ’n ysveld verander. Sy abba hom op haar rug. Hy voel die bietjie hitte van haar skraal rug teen sy bors. Haar kappie waai agtertoe. Hy druk sy koue lippe teen haar lang hare vas.
Hulle roep na haar oor die draadloos. Die oom, die tante, die beeswagter. Die wind kwyn stadig weg asof iemand die volume afdraai.

In elk’ grashalm se vou blink ‘n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou.

Ek kry skielik kouer en trek my bene op en rus my ken op my knieë. Die mot sirkel steeds om die lampskerm. My pa lê met sy oë toe, kortasem. Daar is koue doudruppels op sy voorkop. My broertjie lê in ’n bondeltjie onder ’n wolkombers op die mat en slaap. Ek kyk na die draadloos en maak my oë weer toe. Dan bid ek vir Jamie en sy sussie. Ek bid vir my pa en my ma. Ek bid vir my broertjie, toegedraai in ’n bont kombers.
Die mot draai nader aan die lamp se lig.

Die einde is so hartseer. ’n Brawe sussie – besorg, beskermend, omgeekind. Binne die miershoop lê broertjie toegedraai, snoesig warm. Sy is net ’n naakte bondeltjie, verkluim en asemloos. Die aardvark lê in sy gat en slaap. Ek huil. My pa vra waarom. Ek weet nie.

Pa sit die draadloos af. Môre is nog ’n dag.

Vroeg die oggend, voor skool, neem hulle hom weg op ’n draagbaar. Ek huil nie.
“Onthou jy nog die woorde van die gedig?” vra hy vir oulaas.
“Ja,” sê ek. Hoe kan ek dit ooit vergeet?
“Jy moet dit mooi opsê,” en hy gee my hand ’n laaste drukkie.
Weg.

O, treurig die wysie op die ooswind se maat, soos die lied van ‘n (ek) in (sy) liefde verlaat.
Ek huil.
Juffrou vra waarom.

Ek weet nie.

©Nico Schamrel




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed