Jongste aktiwiteit:

Die roosboom voor ons huis

Die roosboom voor ons huis
Die roosboom voor ons huis
is al stokoud.
As hy kon praat,
sou hy baie stories kon vertel
van staan in wind en weer:
jaar-in en jaar-uit
van koue, droë winters,
van versengende hitte, van verwoestende storms
en van oorgange tussenin.

In die winter, met sy takke kaal
en sy bonkige voetstuk,
verknot deur jare se leef en groei
ontbloot,
weet ek dat hy uithou, rus en krag opbou –
‘n gestroopte wat wag op die ontwaking, op die groei
en die sierlike kleed
wat die lente sal bring.

En uiteindelik
word sy deursettingsvermoë beloon:
Eers met die skugtere verskyning
van nuwe, groen blaartjies,
dan met die stoot van lang, lewenskragtige lote
soos arms na bo gehef
om te toon
hy het weer ‘n winter oorleef.

Daarna volg ‘n manjifieke pienk rosevertoon
en die boom hou aan om baldadig te blom.
Maak ek die venster oop, vul sy subtiele, soete geur
die hele kamer.
Dit streel my sinne
En ruik na vrede, na tuiskoms en
na vergenoegdheid.

Vele ander roosbome in ons tuin
het al gegroei, geblom, gepiep en gevrek.
Maar nie dié een nie:
Hy bly staan, met sy wortels geanker in die grond,
met die tekens van ontbering in sy verknotte voetstuk,
en ‘n paar knoetserige takke
wat selfs ná die strafste snoeisessie
altyd boontoe beur en die aanslae deurstaan
om uiteindelik weer in volle wasdom te blom
vir nog ‘n seisoen.

Ek wil
My lewe ook leef
Soos die roosboom voor ons huis.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed