‘n Korreltjie jy
Jy wat in kind wees wil dwaal,
op grondpaaie van onthou stap,
opsoek na jou plekkie in die son
met die verlede wat in jou gedagtes maal.
Jy wat die lewe dra –
wat gebroke harte wil heel,
maar argeloos trap hul op jou seer,
ontnugterd is jy, as jy vra.
Eensaamheid skrop nes in jou siel,
waar jy sit in die roes van die maan,
verlang jy na kind wees, ‘n skaduwee
wat kruip deur die gleufies van verniel.
Staan jy voor ‘n ander se baklei,
om die gal en bitter af te weer,
veg jy ‘n stryd teen werklikheid,
maar tog het “jy” gely.
Al wat oorbly… ‘n korreltjie jy,
gevou met jou hande in skoot,
jou liefde weg gegee,
‘n wasige droom wat jou vermy.
Verganklik is ons omgee – ons hart,
weggewaai ons “ek” in die sand,
alles gegee – ons liefde en mens wees…
en nou sit ons met ‘n kommetjie smart.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.