Jongste aktiwiteit:

Stille Pyn

Die gebreekte klokke klingel klankloos
deur die donker gange van jou menswees
as die einde van die spel jou op die ashoop
uitspoeg en jy Job-alleen die weggooiswere
met die skerwe van jou liefdespot moet krap

jou stilte skree die antwoord in die ruimtes
tussen niks want daar is niemand wat kan luister
as jou hartklop saggies ween
en jou oë skree ‘Heil die Leser!’
as jou trane saggies reën

© Anton Bosch 09/02/2018




1 Kommentaar

  • See-Jay-El

    Die alliterasie "klokke klingel klankloos" knoop byna mens se tong en aksentsueer die woorde van die volgende lyn: "deur die donker gange van jou menswees." Dit is 'n hol eensaamheid waarin die onhoorbare "kling-klong-klang" gehoor kan word. Klokke wat lui aan die einde van 'n lewe en dit lui deur die alleenheid van verstotenheid, amper verwerping. Dit wat in hierdie eerste twee lyne geimpliseer word, word in die derde lyn prontuit bevestig. Die lewe van 'n mens word sonder om soos of nes te gebruik vergelyk met 'n "toneelspel" vergelyk, maar anders as die toneelspel waar 'n gordyn net toegetrek word, word hierdie lewe soos 'n gebruiksartikel op die "ashoop" gegooi. Hoewel die verteller nie die woord "gegooi" in dieselfde lyn as "ashoop" gebruik nie, voltooi hy sy gedagte van verwerping in lyn 4. Let op die meesterlike gebruik van die beelde: "Job-alleen die weggooiswere..." Skreeu die alleenheid en verwerping uit, maar dit neem dit een stappie verder. Die uitgeworpenne moet hierdie emosionele seer verwerk op sy eie, sonder enige iemand om te help. Mens besef hier hoe bitter alleen die persoon is, want hy het net 'n skerf van 'n liefdespot om die wonde meë te krap. Die liefde wat hierdie persoon moes onderskraag in hierdie tyd van verwerping is gebreek en al wat hy oor het is 'n herinnering ('n potskerf). Mens wil amper die idee kry dat dit die behoud/kleinnood van die verteller is. Hoe eggo die alleenheid in die holtes van lyn 6 en 7 "jou stilte skree die antwoord in die ruimtes van niks want daar is niemand wat kan luister." Tasbare stilte wat so verstikkend om mens sit dat dit uitskree en eggo in hol ruimtes van afwesigheid. Jy wek soveel empatie en hartseer in jou luisteraar met die woorde "as jou hartklop saggies ween." Hier is 'n donker diep waarheid wat so seermaak dat jy nie ander kan as om totaal verslae te staan oor die impak van hierdie paar woorde. Meeste mense assosieer 'n hartklop met lewe en liefde, polsend en lewend, maar hier is elke klop 'n onsigbare onophoudelike seer (ween). "en jou oë skree: "Heil die Leser" as jou trane saggies reën." Ek wil net volstaan met "SJOE!!!" Watter aanklag, maar ook watter ongelooflike beeld in dieselfde asem. Ja, ek wil sê Red die leser wat nie die boodskap kan lees nie, maar ook die een wat dit kan raak lees. Ek hoor 'n retoriese vraag hier wat nie geuiter word nie: "Moet daar eers in trane wees, voordat jy die seer sweer van verwerping merkbaar kan wees? Moet mens se oë eers dit uitskree?" Ek staan onomwonne verslae en bitter nederig voor die grootheid van hierdie werk! Hier is sosiale kommentaar wat nie beskuldigings na die samelewing toe slinger nie, maar wat saggies fluister: "kom kyk net vir 'n oomblik hier. Onthou, jy hierdie mens?" Dit laat jou uit jou hart ween saam met die verteller. Al sou jy hierdie stuk 2 miljoen keer oor lees, sal jy nooit onaangeraak kan omblaai nie. Dit is 'n tydlose stuk wat in die klas van meesters geplaas moet word. Anton jy het 'n raar-raar talent.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed