‘n Lewe in Legato #Silwer
‘n Lewe in Legato
My lewe – ‘n mengelmoes van swart en wit note, getoonset in majeure van hoop en mineure van verlange.
My skooljare, ‘n adagio soos Beethoven se “Maanligsonate”, met val en opstaan, ‘n arpeggio wat stamel deur tyd.
My weermagjaar – ‘n fortissimo, hard en ongenaakbaar, maar tog net ‘n staccato in tyd se partituur.
Aanvaarding. Uithouvermoë. Beproef tot die uiterste.
Universiteit: ‘n Strauss-wals van romanse,
‘n legato-polsing van passie tot by die klimaks van ‘n sprokiestroue in my derde jaar.
Ek wens ek kon da capo speel met dié jare. Die mooi lyfie, die passie, weer begin, weer beleef;
grasieus soos Tchaikovsky se swane op ‘n stil meer.
Die jare daarna:
‘n dinamiese notasie van verandering;
huise, kontinente, werk.
‘n Duet van “Where do we belong” fluister sag in verlange,
maar ons sing dit saam, ons droom op die wieke van “The Sound of Music”.
Ons klim berge met oë gerig op die Meester Rigtinggewer.
Ons berus in Beethoven se Vyfde Simfonie, die Simfonie van die Noodlot.
En nou, in ‘n mezzo piano van bestaan,
is elke dag
‘n noot
in die groot komposisie van genade.
Christa Diederiks ©
3 Kommentare
-

Tearlach
So op die metronoom spel jy die lewe uit. Baie mooi.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek