Klipnostalgie – geskryf deur Isha
Klipnostalgie – geskryf deur Isha
Vyf en twintig jaar gelede loop ek en my peetkind Michelle, langs die see. Ek het ʼn ding vir klippe en daar sien ons die pragtigste pienkerige klip lê wat sê: Tel my op, ek’s joune…
Ek het uitgevind dat die ‘klip’ eintlik ʼn sandsteenrots is en daar en dan besluit ek dit moet oopgebreek word. Dalk is daar ʼn fossiel in. Dit gebeur met ander mense, hoekom nie met my nie?! So ʼn week gelede het my argeologiese soektog begin. Ek het egter gou agtergekom, dat wanneer ek sê ek is besig om ʼn rots op te breek, mense my snaaks aankyk. Ek dink ‘rots’ in hulle gedagtegang is soos ʼn berg en hulle ‘sien’ my teen die hange van Tafelberg kappend met ʼn hammer en beitel in die hand. So, ek praat van nou af liewer net van ʼn klip.
Die klip is nogal groot en het ʼn hobbel aan die bokant. Dis hoekom ek al vyf en twintig jaar lank wonder wat word daar binne weg gesteek. Dis asof die klip bedek is met sy eie masker. Ek begin kap met my hamer en beitel; nie teen Tafelberg se hang nie, maar hier op my eie stoep. Ek begin kap waar daar slootjies en gatjies is. Die masker kom soos klein stukkies vel af. Een goeie kap breek ʼn handgrootte af. En dis hier waar my reis begin.
Ek spoel die afbreeksel met water af en beleef dan ʼn onverwagte heilige oomblik. Die kleure binne laat my voel of ek deel van die uitspansel in Genesis is. Die groewe is kleure van bruin, blou, groen met hier en daar ʼn klein wit kristalletjie. Sand, die einste sand waarop die Bybel sê ons nie ons huis moet bou nie, het ʼn vaste rots geword. Waarna kyk ek? Honderde, duisende, miljoene jare gelede? Ek besef skielik dit wat ek as klip gesien het eintlik ʼn tydkapsule is; my vingers raak aan die Skepping; aan skaduwees van tyd. Die kleurgroewe loop horisontaal soos treinspore; so asof daar iewers weer iewers ʼn herontmoeting is. Dit alles onder ʼn ondeursigtige masker van tyd.
Die ervaring het oor en oor in my gedagtes afgespeel, so asof dit my iets wil vertel. Kan ʼn klip praat? Wel, toe Jesus Jerusalem binne gery het op die donkie en die mense ‘Hosanna’ geskreeu het en palmtakke oor die pad gegooi het, het die Fariseërs gekla oor die geraas. Jesus het geantwoord dat as Sy volgelinge Hom nie prys nie, die klippe dit sal doen. Wat wil hierdie klip vir mý sê? Iets oor maskers en die begrip van tyd?
Die tydkapsule in my hand laat dink my aan Bybelkaarte waarop die migrasie van mense soos Abraham en Moses met kleurpen aangedui word. Wel, dit wat ek voor my sien is ook migrasiepatrone. Die wit kristalletjies laat my dink aan die waterfonteine wat God vir hierdie mense voorsien het in hulle tog deur die Beloofde land. Wie weet waar hierdie klip oral was en onder watter omstandighede, voor hy sy finale bestemming hier by my bereik het.
In sy studies verwys Carl Jung baie na die maskers wat ons dra, ons beskermingsmeganismes teen die lewensstorms wat in en buite ons woed. Hierdie maskers word van klein tyd af gevorm deur alles, die goed en die kwaad, wat ons lewenspad gelei het. So met die verloop van tyd het jy geleer watter masker aanvaarbaar is vir die mense en omstandighede om jou. Ons dra die smile masker die meeste, want frons jy, wil mense weet wat fout is. En as jy soos ek is, smile ek eerder want ek pes dit om myself aan iemand te verduidelik. Jung verwys ook na die skaduwee wat jou nooit verlaat nie as ervarings uit jou verlede wat jou bewussyn wil ontken of onderdruk. Die uitkoms van die skaduwee kan darem ook positiewe goed, soos kreatiwiteit en uithouvermoë uit bring. Hang seker maar af hoeveel mag jy vir die masker en skaduwee gee. Een filosoof het sovêr gegaan om te sê dat dit die einste skaduwee van jou verlede is wat die toutjies agter jou masker trek en jou maak wat jy kies om te wees.
Dis hoofsaaklik omstandighede oor ʼn baie lang tydperk wat rotse en klippe se vorming beïnvloed. Dit wat in die omgewing beskikbaar was, hetsy dooie plant- of dieremateriaal, het op ʼn plek gaan lê en met die tyd lagies gevorm. Neerleggings van verskillende materiale word blykbaar kruislaminering genoem. Die nuwe neerleggings oefen kwaai druk op die vorige lagies uit en maak hulle lekker sterk en hard. Die klippe of rotse bly nie gestand op een plek nie en rol of spoel volgens die druk uit die omgewing. Sandsteenrots word hoofsaaklik in seewater of in ʼn woestyn aangetref. Seker was ons klip ʼn skulpie wat uitgespoel het, lagies sand en ander materiaal om hom laat vorm het, terug getrek is in die see en met in-en-uitspoel, in-en-uitspoel oor duisende jare groter en groter geword het. Dit klink vir my soos ʼn lekker lewe, behalwe as jy in die Kaapse water gevorm word. Mens kry mos sulke droë mense wat net oor swaarkry kan praat. Ek dink hulle is in die woestyn gevorm.
Ek het eendag ʼn artikel gelees oor navorsing wat gedoen is oor die invloed wat huisomstandighede op die toekoms van kinders het. Twee broers het uit haglike omstandighede gekom. Een het in die gevangenis beland; die ander een het ʼn suksesvolle dokter geword. Die skrywer van die artikel het vir albei dieselfde vraag gevra: “Hoe het jy in dié posisie beland?” Altwee het dieselfde geantwoord: “Gaan kyk na my huisomstandighede waarin ek opgegroei het, dan sal jy verstaan hoekom ek is wat ek is.” So, jy kan ʼn spoelklippie bly omdat jy nie die omstandighede van jou verlede kan of wil ‘face’ nie, of jy kan die beste van alles maak en ʼn sterkgevormde rots word.
Ek het gelees dat jy die klip vir ʼn paar dae in asyn moet los. Die suur van die asyn los blykbaar die kalmiet, wat ek dink is ʼn kalkagtige neersetting is, tussen die groewe op. Dit het my aan COVID laat dink. COVID was vir ons almal sleg gewees, maar dit was ook goed. Soos die suur die groewe duideliker maak en ek die omhulsel van die klip probeer afkap, het die COVID inperking met baie van ons dieselfde gedoen. Die skaduwee uit die verlede wat ons volg was minder sigbaar en omdat jy nie in kontak met ander mense was nie, kon baie van ons die masker van tyd (en die dramasker) afhaal en tyd spandeer met jou eie JY! Jy kon ‘smile’ as jy wil, frons, huil en jy hoef aan niemand te verduidelik wat jy voel of wat jy dink nie.
Ek het nog baie om te doen. Ek kap en kap, maar die klip laat hom nie manipuleer nie. Hy voel ook maar seker ontbloot soos ons sonder ons maskers. Wel ek moet doen wat ek moet doen om by die fossiel, die waarheid, uit te kom. Ek sal ʼn ‘grinder’ moet kry…
My lyk lê uitgespoel tussen wier en gras.
Op al die plekke waar ons eenmaal was
-Ingrid Jonker
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek