waar my kinderdae woon (goud)
waar my kinderdae woon
tussen hout en hangers vind ek dit elke keer:
die reuk van seep en sonlig en Red Door
wat my wêreld terugskuif na kniehoogte
toe ek slaapdronk my pad tot by haar kon vind
vir opkrul teen die veilige hitte van haar lyf
my vingers volg die nate
tot by dae op die strand
waar sy help sandkastele bou het,
die smaak van kleinkoekies en vars vis,
mossels en jellie en waatlemoen,
kaastoebroodjies en soet tee
ek sien haar hande wat vou en sorteer,
optel en platstryk en regtrek,
trane afdroog, pleisters plak en troos,
groeipyne geduldig wegvryf,
seer spiere insmeer na sportdae
en haar koel palm teen ‘n koorsige voorkop
ek streel oor die bekende lap
van haar middernagblou bloes van sy
wat soos water deur my vingers glip,
haar sagte japon, haar woljas
en voel liefde in elke vou, in elke draad
dit bekoor my oor en oor dat sy telkens
so sag besit van elke seisoen kan neem
© Hester Steenkamp, 2026
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek