Die laaste boom
“Moenie hom afsaag nie!” styg Johan se stem uit bo die gebrul van die kettingsae.
Sy pa kyk om. “Die fabriek kort hout, Seun. Ons moet geld maak.”
Johan hardloop na die ou kameeldoring en druk sy rug teen die stam.
“Hier het ek as kind onder hom gespeel,” sê Johan.
“En nou wil Pa hom doodmaak?”
Toe die saag weer brul hoor Johan ’n stem. “Moenie; asseblief moenie.”
Hy kyk om. “Het Pa dit gehoor?”
Sy pa skud sy kop terwyl hy gereed maak om die boom af te saag.
“Moenie my doodmaak nie,” sê die stem weer.
Johan kyk na die kameeldoring.
“Is dit jy?”
“Ja,” fluister die boom. “Ek het vir jou skaduwee gegee. Ek het die voëls ’n huis gegee. My wortels het die grond vasgehou. Ek het water bewaar.”
Sy pa laat sak die saag.
“Bome kan nie praat nie.”
“Maar julle mense het lankal opgehou luister,” antwoord die boom.
’n Wind ruk deur sy takke.
“Julle saag my broers af. Julle besoedel die rivier. Julle neem alles wat julle kan en noem dit vooruitgang!”
Johan kyk na sy pa. Die ouman se oë is nat.
“Wie het jou aan ons toevertrou?” vra Johan.
Die boom ritsel saggies. “Die groot Meester van die skepping.”
Die kettingsaag val uit sy pa se hand en met betraande oë sê hy met ’n bewerige stem: “Seun, ons het vergeet wat rentmeesterskap beteken … ”
————-oooOooo—————-
©Pieter Mostert
{240 woorde}
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.