Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 1

Hoofstuk 1 – Uit die Engte

Dit is sestien Desember 2015, wanneer Zuluika Zuess wag vir die oopswaai van die deure van die ou ‘Pretoria Sentrale Gevangenis’, nou genaamd, ‘Kgosi Mampuru II Korrektiewe Sentrum’. Die woorde van die vele gesprekke oor die laaste weke met die Superintendent maal in haar gedagtes, ‘Net jy kan jou toekoms bepaal Zuluika: Net jy kan verseker dat jy weer heel sal wees, weer die briljante mens sal wees wat jy was, en wat jy bedoel is om te wees: Gaan skep vir jou ʼn nuwe lewe, en maak dit ʼn mooi een: Probeer die afgelope tien jaar agter jou sit: Wees weer gelukkig’.
Die uitstap die vryheid in, bring ʼn emosie van vrees. Nie een dag die afgelope tien jaar het sy ooit aan vryheid gedink nie, al wat deur haar gedagtes gaan, is: ‘As vryheid net ʼn vreesbevange leegheid binne my is, wat sal my ooit weer kan vul?’
Die welkome warmte van die son omvou haar, en sy staan een oomblik stil en kyk na die straat voor haar. So onbekend en vreemd soos die naam van die pad waarlangs sy tien jaar gelede hierheen gebring is, so onbekend en vreemd is die pad vorentoe vir haar.
Die volgende oomblik is sy daar, advokaat Lize Burg, een van die mense wat nooit vir een dag opgehou het om haar te ondersteun nie, en die drie duisend sewe honderd vyf en sestig dae wat verby is, versmoor haar.
Die blydskap is gemeng met trane, die omhelsing is warm, ondersteunend, maar so onbekend vir Zuluika wat in al die dae wat verby is, nooit met toegeneentheid aangeraak was nie, en die nabyheid bring ʼn gevoel van paniek in haar.
Sy vat Zuluika aan die arm, “Kom ons gaan, my motor is in die parkeerarea,” en Lize neem die skraal hand in hare, terwyl Zuluika verbete vashou aan die enkele sakkie in haar ander hand, haar tien jaar gelede artikels, wat hulle haar nou met haar ontslag gegee het.
Die toeklap van die motordeur verseël die engte van die motorkajuit, die geslotenheid omvou haar, sy voel die beskerming van die eng ruimte, die gevoel van veiligheid wat die afgelope tien jaar se beperkte spasie gebring het, en sy voel hoe die paniek haar stadig verlaat.

Lize hou haar oë weg van die klein mensie langs haar, te bang om haar oë te knip, te bang haar trane sal uitval en die mens ontstel, maar sy voel die vrees en die spanning aan, en haar hele wese rebelleer teen wat hierdie mens oorgekom het.
Vir een oomblik flits die beeld van die mensie soos sy haar alleen in die straat sien staan het deur haar gedagtes, pikswart hare, bleek gelaat, klein postuur, so skraal, so perfek, en die twee uitsonderlike oë, so groot, so helder, so verskillend, en dit huil in haar oor wat van die bloesende, bruingebrande jongmens oorgebly het.
Sonder om haar oë van die pad te neem, vra sy, “Soos ons afgespreek het, gaan ons na my huis, sal jy vir eers net by my bly?”
“Ja asseblief, indien dit nog reg is met jou,” en Zuluika se stem dra die emosie wat dreig om haar te versmoor.
Lize vleg behendig deur die parkeerarea, draai regs in Kgosi Mampurustraat en kry rigting na Irene.
Zuluika maak haar oë toe, ‘Net ʼn laaste paar minute wegkruip in die verlede, voor sy vorentoe gaan’, gaan dit deur haar.
Sy maak haar oë oop, sien die Gautrein brug met die Fonteinedal effens sigbaar in die agtergrond, die lank gelede bekende, verskuil deur die tien jaar se onbekende, ʼn refleksie van haar lewe op hierdie oomblik.
Hulle ry in die rigting van die Ben Schoeman Hoofweg en Zuluika se gedagtes loop ʼn ver pad terug, toe sy vry was, voor die helse dag. Sy staar by die venster uit, dwing haar gedagtes wat neig na daardie dag, terug na vandag, en teen die tyd wanneer hulle afdraai op Bothalaan en koers kry na die sekuriteitkompleks waar Lize woon, het sy haar emosies onder beheer.

Die oopsluit en die instap in die eenheid, is in stilte, Lize gee haar die geleentheid om deur haar emosies te werk, sy weet die mens hier langs haar is uitgelewer aan meer as tien jaar se hartseer, en sy het geen idee hoe sy haar op hierdie oomblik kan help nie.
Die verwese mensie met die sakkie in haar hand, laat die trane uit Lize se siel uitloop, sy steek haar arms uit na Zuluika en trek haar teen haar vas. Sy voel die warmte van die lyfie, die klop van die pragtige mens se hart teen haar lyf, en die wonderlike wete is in haar, ‘Dankie Here, hierdie hart klop vandag in vryheid’.
Sy hou die skraal hand vas, neem Zuluika na die kamer wat sy vir haar voorberei het, die kamer waar sy die laaste paar persoonlike besittings wat sy uit Zuluika se huis verwyder het, vir haar gebêre het.
Die verwesenheid op die bleek gesig wanneer sy dit wat haar hele verlede verteenwoordig sien, is te veel vir Lize, en sy vlug na haar kamer om alleen te gaan huil.

Lize wag later in die sitkamer, sy weet, niemand sal ooit weet wat agter die kamerdeur in die mensie se gemoed aangaan nie, soos deur die afgelope tien jaar, nooit ʼn enkele woord nie, alles weggesluit binne haar.
Met die instap is die effense glimlag op die pragtige gesig, knik sy haar kop liggies, vou haar hande saam in ʼn dankie gebaar, “Dankie hiervoor, dankie vir my besittings en my vryheid, ek weet wat jy en al die ander mense ingesit het om vandag moontlik te maak. Weet net, ek sal nooit ophou dankbaar wees nie.”
Lize knik haar kop in erkenning, nie in staat om op hierdie oomblik oor die tien jaar se stryd te praat nie, te bevrees dat sy in trane sal uitbars, “Ek het ʼn pot koffie gemaak indien jy wil hê?” en Zuluika knik haar kop.
“Ja asseblief, ek wil, swart sonder suiker,” en sy besef, ‘hierdie is die eerste koppie koffie in vryheid’, en die vreeslike beklemming is minder, en ʼn ongekende gevoel van vreugde is in haar.
Die rustigheid in die warm ruimte, die sien van die blou lug deur die venster bring die kalmte wat Zuluika so voor gebid het die afgelope paar weke, en sy dwing haar gedagtes terug na hierdie vryheid, na die mense wat deel is van haar vryheid.
“Voor ons oor my praat, weet jy hoe dit met oom Nathan gaan. Oom Joos Terblanche het my in die week besoek en gesê Laurie is nog in Brittanje, terwyl oom Nate ʼn terugslag gehad het.”
“Ek en Joos het vroeër vandag gesels, Nathan is geopereer en Laurie is terug, en by hom, sy toestand is bestendig.”
Zuluika voel die verligting in haar, weet sy is nie reg om nog iemand wat dierbaar vir haar is te verloor nie, nie nou nie, “Ek wil hom en Laurie sien indien dit moontlik is.”
“Dit is, Joos het gereël, sodra jy ’vry‘ is,” en die woord lê vir een oomblik tussen hulle, “sal ek jou deurneem na die hospitaal om hulle te sien, Joos is ook daar.”
“Dankie daarvoor,” en die stilte wat volg is rustig, die angstigheid minder.
Lize laat die oomblik verbygaan, “Sien jy kans om te praat oor jou, waar ons met alles is, en wat eerste aandag sal verg?”
Zuluika knik haar kop, “Ja, ek is reg, ek wil dit bespreek, ek wil aangaan.”
Lize se blik is reguit, soos oor die afgelope tien jaar, geen doekies omdraai nie, net die waarheid, “Kom ons gesels eers oor jou status as Mediese Dokter. Ek het na die amnestie goedgekeur is, ʼn aansoek namens jou ingedien om jou lisensie, om as ʼn mediese dokter in Suid Afrika te praktiseer, weer uitgereik te kry. Nodeloos om te sê, daar is tot nou nog geen terugvoer nie, en ek reken die proses gaan ʼn onafsienbare tyd neem, ek wil nie eers bespiegel hoe lank nie.”
Zuluika hou haar stem gelykmatig, “Wat beteken dit vir my?”
“Jy kan nie nou in Suid Afrika as ʼn Mediese Dokter praktiseer nie.”
Zuluika voel die wanhoop in haar, al wat sy wou wees, was ʼn Mediese Dokter, ʼn goeie Mediese Dokter, en sy was een, is een, dit het hulle haar weer en weer, in die gevangenis hospitaal verseker, en sy voel die wanhoop terugkom, ‘Hoe begin ʼn mens na alles weer van vooraf, indien die proses nie werk nie?’
Sy gryp na die grashalm wat Lize ʼn paar weke gelede na haar uitgehou het, “Wat van die geleentheid wat jy gesê het Hermann Helder dalk vir my kan reël?”
Lize sien die wanhoop op die gesig, sy voel die woede in haar oor wat met hierdie briljante mens gebeur het, dit wat die konflik en haat wat heers in die land aan haar gedoen het, maar sy voel ʼn genoegdoening oor wat die ‘Bond’ tot nou reggekry het, “Maar, jy kan in die buiteland praktiseer, dit is reeds reggestel.”
“Hoe?”
“Jy is ʼn Namibiese burger, en tot sy dood het Louis Olivier jou dubbele burgerskap geldig gehou. Ook moet jy onthou, Louis het jou in Namibië as Zuluika Zuess, jou aangenome naam en van, geregistreer. Daar is geen rekord van jou as Cordelia Cordier of Zuluika Bruyns in Namibië nie. Vir ʼn rede wat ek ook nie ʼn verduideliking voor het nie, en anders as wat hier in Suid Afrika gebeur het, is jou Mediese Lisensie nooit deur die Namibiese Geneeskundige Raad opgeskort nie, dit is steeds geldig, en sal geldig bly.”
Daar is vrae in die onmaats oë, en Lize weet, sy self het ook dieselfde vrae, maar vrae waarop sy nie antwoorde verwag nie, “Dit het ons bevestig, en ek het ʼn brief, en ʼn nuut uitgereikte lisensie op die naam ‘Zuluika Zuess’, van hulle ontvang.”
“Al het ek ʼn lisensie om te praktiseer, hoe kom ek uit die land uit, my Suid Afrikaanse paspoort het lankal verval, en ek kan vir geen oomblik glo dat ek ʼn nuwe paspoort nou gaan kry nie.”
“Dieselfde, jy sal met jou Namibiese paspoort uit Suid Afrika reis. Dit is reeds met die hulp van Joos Terblanche, die ‘Bond’, sowel as jou skoonpa se invloed in Namibië hernu, ek het die nuwe paspoort reeds in my besit.”
“Hoe is alles sonder my teenwoordigheid gedoen, en Lize, wie is die ‘Bond’?”
Die kopskud sê alles, “Ek vra nie vrae nie Zuluika, ek weet net, daar is so baie mense reg oor die wêreld wat aan jou kant is, wat tot vandag glo: jou verswarende vonnis, was of ʼn persoonlike agenda, of ʼn polities gemotiveerde daad. Ek vra jou, moenie dat die dinge jou pla nie, aanvaar dit vir eers soos dit is, los die vrae vir nou.”
Zuluika se gesig is uitdrukkingloos, iets wat die tien jaar se afsondering gebring het, maar tog is daar iets anders as die afgelope tien jaar, ʼn ongekende gevoel van hoop.
“Sover dit my, Joos, en ander regsgeleerdes aangaan, is daar niks wat jou sal verhinder om die land te verlaat nie. Jou Namibiese Identiteit, sowel as jou paspoort, is in die naam Zuluika Zuess uitgereik,” en Lize huiwer een oomblik, “Zuluika Bruyns, is nie meer in Suid Afrika op rekord nie.”
Die wisselende emosie is sigbaar op Zuluika se gesig, maar sy uiter nie ʼn woord nie, te bang om die emosie in haar te deel.
“Volgens ons, is jy nie op parool uitgelaat nie, en het jy dus geen verpligting om enige plek, of enige tyd aan te meld nie. Dit kan moontlik in die toekoms verander, maar vandag, en moontlik die res van die jaar, is daar niks op rekord wat jou sal verhoed om die land te verlaat nie.”
Zuluika hoor die woorde, en die wete is in haar, ‘Sy is vry om weg te gaan, haar rug te draai, en weg te stap van hierdie land met sy pynlike herinneringe’.
Lize sien die emosie, weet sy moet deurdruk met hierdie gesprek, “Die pos wat Hermann Helder vir jou het, is ʼn Locum posisie in Corvallis Oregon in Amerika, dit sal naastenby tot die einde April of middel Mei wees. Die vergoeding is uitstekend, en die tyd wat jy sal werk in ʼn goed toegeruste hospitaal, weg van al die dinge in hierdie land, gaan jou ʼn geleentheid gee om voor te begin.”
Zuluika hoor die woorde, neem dit in, maar die tien jaar van verwyt oor wat sy gedoen het, dit wat haar lewe vernietig het, wurg haar by die aanhoor van wat dit nou vra om haar weer ʼn vry mens te maak.
Lize wag vir Zuluika om die feite te verwerk, “Die hospitaal is in die Hood gebergte, naby Corvallis, ʼn paar kilometer op in die berge. Die hospitaal is gevestig in ʼn nedersetting aan die voet van die plantasies en behoort aan een van die grootste saagmeule ter wêreld.” Lize hou Zuluika se gesig dop, en sy sien die gesiggie vir een oomblik opflikker.
“Die hospitaal bedien die Saagmeule se eie dorp en die gemeenskap buite Corvallis, wat in totaal ongeveer agtien duisend bewoners insluit. Die area wat gedek word, is ʼn groot area, wat gelukkig nie dig bewoon word nie. Verder het die hospitaal ʼn affiliasie met die Universiteit van Oregon se Corvallis Fakulteit, en is daar deurgaans studente in die hospitaal besig met prakties.”
Zuluika hoor elke woord, bêre dit vir die dae wat kom, en sy weet, die ‘alles’, wat vir haar gedoen is, is ʼn leeftyd se skuld, en sy sê dit vir Lize.
“Onthou net altyd, ek, en soveel ander persone, sal altyd glo, wat jou en Rudolph oorgekom het, ʼn aksie van haat was, ʼn gevolg van die politiek in hierdie land was, en julle het die prys betaal. Hy met sy lewe, en jy met tien jaar van joune,” Lize kyk haar een oomblik aan, “Net jy kan besluit of jy meer as die tien jaar wil inboet, en of die tien jaar genoeg was.”
Zuluika weet, ongeag wat aanleiding gegee het tot haar daad, of die swaar vonnis, haar daad was verkeerd, en daarin het sy berus, maar die, ‘of sy meer as die tien jaar wil inboet’, maak wel indruk, en sy bêre dit ook vir môre se vrae wat sy moet antwoord.
“Wat van die visum vir Amerika, gaan dit nie maande neem nie, gaan dit ooit toegestaan word?”
“Hermann se organisasie het reeds die H-1B Visum bekom, dit is reeds goedgekeur en op rekord. Wat oorbly is net jou afspraak by die Amerikaanse Ambassade en die inhandiging van die nodige dokumente vir die uitreik van die visum,” Sy sit haar vinger een oomblik op die lêer wat voor haar lê, “Ons het reeds al die dokumente gereed, en ons twee gaan vandag aanlyn ʼn afspraak maak by die Windhoek kantore sodat jy gedurende die tyd wat jy in Namibië by jou skoonouers sal wees, die afspraak kan nakom. Die uitreik van die visum behoort nie langer as sewe tot tien werksdae te neem nie. Hoe gouer jy gaan, hoe gouer is jy reg om Amerika toe te vertrek. Ek glo jy kan in die eerste week van Januarie in Amerika wees.”
Sy sien die vrees, weet wat die vrae is, en sy sê met sekerheid, “Nee daar is niks op jou rekord in Namibië, of in Amerika wat die visum aansoek sal belemmer nie, dit weet ons, en Hermann het dit bevestig.”
Lize sien weer die verwyt in die onpaar oë, sy weet, niks gaan ooit hierdie mens se verwyt wegneem nie, “Ek weet jy wil dit nie hoor nie, maar regter Gert Roestof wat jou met soveel bravade lewenslank tronk toe gestuur het, is nie net ʼn uitgeworpene in regskringe nie, maar hy is gebroke oor wat hy jou aangedoen het. Hy was absoluut instrumenteel in die motivering vir jou amnestie.”
Die kyk in die onpaar oë, die klank in die stem, verteenwoordig alles wat sy voel, “Hoekom?”
“Ek weet dit is ook nie wat jy wil hoor nie, of wil bespreek nie, maar die waarheid wat ook vir Gert Roestof getref het, is die feit dat jou en Rudolph se ‘kaping’ ʼn gereëlde ‘moord’ was, en geen toevallige daad nie. Glo dit Zuluika, Gert Roestof is die een wat vir Joos Terblanche dit genoem het toe hulle ontmoet het om jou aansoek te finaliseer.”
Zuluika hoor die woorde, sien die woede op die vrou oorkant haar se gesig, maar sy sê niks, nie oor die afgelope tien jaar nie en ook nie nou nie. Indien sy haarself oopmaak vir die moontlikheid, sal vrede vir haar ver weg wees, en daarvoor het sy nie vandag krag nie.
Lize sien die verlorenheid, verhard haarself, vandag moet sy sê wat Zuluika nooit in die tien jaar wou hoor nie, “Ek en Joos, en ʼn private speurder, het onder die radar die afgelope paar maande begin krap aan die verlede, die gebeure rondom daardie dag, en die dae wat dit vooraf gegaan het.”
Zuluika lig haar hand, maar Lize ignoreer haar, “Ben de Swart en Willie Roux, word aan twee ander ‘kapings’ gekoppel op mans betrokke in gemengde huwelike.”
Zuluika weet, het tien jaar lank geweet, wat Lize sê kan waar wees, maar sy het nie omgegee nie, sy wou nie leef sonder Rudolph nie, wou net in eensaamheid sterf.
Lize se stem vat haar terug na die tyd wat sy so graag wil vergeet, “Dit moes in die hofsaak uitgekom het, maar het nie, en daar was nooit daarna verwys nie omdat dit nie van toepassing was op jou moordsaak nie, volgens Gert Roestof se siening as Regter daardie tyd.”
Lize haal een bladsy uit die lêer wat voor haar op die koffie tafel lê, en Zuluika weet die gesprek is nie ʼn toevallige gesprek nie, Lize, en sekerlik ook Joos Terblanche, wil die feite vandag met haar deel.
Sy neem die bladsy wat Lize na haar uithou, en iets aan die tekstuur tussen haar vingers is bekend, maar sy laat dit verbygaan. Sy lees die woorde, dwing haarself om die emosie wat in haar is dood te druk, ‘Stop julle gekrap in die verlede, anders gaan soveel mense seerkry’, net die een enkele sin, die dreigement, en sy wonder, ‘wie is oor om seer te kry’.
“Ons het die ondersoek gestaak, indien ons voortgaan, kan ook jy in gevaar wees, en dit wil ons voorkom.”
Zuluika voel dieselfde woede in haar wat sy gevoel het toe sy daardie kwetsende woorde daardie dag voor die Hooggeregshof in Pretoria gehoor het, en vir een oomblik is sy terug in daardie dag se pyn.
“Jy moet verstaan Zuluika, indien die twee jongmans in opdrag gemoor het, en ons is seker hulle het, is daar ʼn lafhartige opdraggewer wat ander gebruik om sy vuilwerk te doen nog op vrye voet, en hy sal nie opgehou het nie, want sy haat is nie net teen Rudolph gemik nie, maar ook teen jou, en moontlik alle persone betrokke by gemengde verhoudings en huwelike,” en Zuluika swyg, sy weet dit is waar.
Lize sien die erkenning in die onmaats oë, hoor dit in die stem, “Ek weet, het altyd geweet van daardie dag af, maar ek kan nie nou hieraan werk nie Lize. Ek moet eers weer met myself in vryheid kan saamleef voordat ek ʼn pad stap wat moontlik vir my en baie ander mense net hartseer en gevaar kan inhou. Gee my net die volgende paar maande asseblief.”
Nou is Lize tevrede. Sy lig die lêer op, “Hierin is jou kontrak, jou paspoort, en jou Namibiese Lisensie om te praktiseer. Die voorskot vir die vliegtuigkaartjie en ander uitgawes is in my rekening, ons kan enige tyd sodra jy reg is, die vlug bespreek, jy moet net sê,” en weer die stilte.
Lize kyk Zuluika in die oë, “Zuluika dit is ook vir Hermann belangrik dat jy so gou as moontlik begin, aangesien die dokter wat jy gaan aflos ʼn baie groot operasie moet ondergaan, en hy wag net vir jou. Dit is ook belangrik vir jou om drie tot ses maande te verdwyn, om te verseker jy is veilig, voor ons met die ondersoek voortgaan.”
ʼn Oomblik stilte, weer die vraende blik, maar met ʼn effense knip van die oë, en Zuluika weet Lize is onder spanning, soos soveel keer tevore in die tien jaar.
“Zuluika, ek weet amper nie hoe om dit vir jou te sê nie, maar ek moet dit nou vir jou vertel, voor jy dit later self uitvind.”
Zuluika kyk haar in die oë, wat kan erger wees as wat reeds met haar gebeur het, “Alle rekords wat verwys na Cordelia Cordier, of Zuluika Bruyns, hier in Suid Afrika, is tot niet gemaak, alle fisiese dokumente wat gevind kon word, sowel as enige verwysing op enige internet omgewing.”
Zuluika hoor Lize se asemhaling, hard en vinnig, en vir een oomblik kan sy dit wat sy gesê het nie verwerk nie.
“Jy bedoel my bestaan voor en na Zuluika Zuess is uitgewis?”
Lize knik haar kop, “Jy, gekoppel aan daardie twee identiteite is uitgewis in Suid Afrika. Wat oor is, is Zuluika Zuess, die identiteit wat jy gekry het nadat die hof jou aanneming deur Louis Olivier goedgekeur het.”
“Hoekom, en hoe?”
“Moenie dit bevraagteken nie Zuluika, weet net, daar is persone wat elke oomblik die afgelope tien jaar vir jou uitgekyk het, en wat dit steeds vorentoe gaan doen. Die hoekom is baie belangrik, en lewensbelangrik vir jou om dit elke dag te onthou, daardie dag tien jaar gelede was Rudolph die teiken, indien ons voortgaan om te delf in die verlede, is ons oortuig jy mag dalk die volgende teiken wees.”
Zuluika kyk na haar, wag vir wat kom, “Zuluika ons glo Rudolph se moord was ook ʼn boodskap aan jou, nie net aan hom nie.”
Die beelde wat haar vir twintig jaar geteister het, en haar gedwing het om as ʼn dertienjarige kind soos ʼn skelm haar ouerhuis te verlaat, is in haar, en dit versmoor haar, en sy moet opstaan en net een oomblik wegstap uit die versmoring.
Wanneer sy terugkom, weet albei daar sal nie vandag verder oor die verlede gepraat word nie. Daardie gebeure wat niemand ken nie, lê soos ʼn skaduwee in haar oë en dit koppel tien jaar gelede se daad aan daardie ouerhuis waaruit sy gevlug het.
Sonder ʼn woord verder gee Lize die lêer met die dokumente vir Zuluika.
Zuluika vat die dokumente en terwyl sy daardeur lees is die blydskap in haar, ‘Uiteindelik is sy, Zuluika Zuess, op pad na ʼn toekoms van geluk, die geluk wat Louis Olivier haar op dertien jarige ouderdom gegee het, een losgemaak van haar verlede van haat.’
Die haas is in haar stem wanneer sy praat, “Ek wil gou gaan, maar eers moet ek Laurie en oom Nate sien, die visum aansoek agter die rug kry en ʼn paar dae saam met Moeder en Vader Bruyns deurbring op die plaas.”
Sy huiwer een oomblik, “Ek is bly ek moet Namibië toe gaan vir die visum, ek het nodig om tyd deur te bring by hulle wat Rudolph en my so liefgehad het, om afskeid te neem van hom wat ek nie eers kon begrawe nie.”
Die afwesigheid van verwysing na haar eie ouers, hulle wat ver terug reeds verlore gegaan het, is net by Lize ʼn gedagte, iets wat vir ʼn leeftyd nie meer deel van Zuluika Zuess se gedagtes is nie, en die hartseer druk hulle albei vas.
“Sodra die visum uitgereik is, sal ek direk Amerika toe vlieg, ek wil nie weer terug na Suid Afrika kom nie.”
Lize hoor die beslistheid, bêre dit diep en laat dit gaan, “Jou persoonlike besittings wat in die kamer is, die bietjie wat ek kon kry, kan net hier bly totdat jy besluit daaroor. Jou mediese tas het Joos Terblanche en Koot Froneman vir jou vervang met nuwe instrumente, hulle geskenk aan jou,” en Zuluika kan net in waardering glimlag, “Ek sal hulle bedank sodra ek weer met hulle praat.”
Die weemoed is terug op die bleek gesig, “Dankie vir die uitkyk vir my en my eiendom. Ek sal neem wat ek nodig het, die res dink ek sal ek laat gaan, dit is dinge uit ʼn lewe wat verby is. Ek wil nie verder in die verlede vasgevang word nie, ek moet vorentoe gaan indien ek hoegenaamd wil oorleef,” en Lize kan net haar kop instemmend knik.
Lize probeer die atmosfeer verlig, wanneer sy gemaak opgewek sê: “Ek dink jy sal wel nou ʼn paar stukkies nuwe klere moet koop, en sodra jy in Amerika land, meer gepaste klere vir hulle temperatuur. Dit is werklik koud op die oomblik daar, en jy het niks tussen jou besittings wat ek na tien jaar as gepaste uitrustings sal sien nie.”
Zuluika weet Lize probeer haar opbeur, en sy probeer self om haar eie gemoed te lig wanneer sy in ʼn ligter trant antwoord, “Ja, ek stem saam, tien jaar gelede se mode gaan definitief nie die ding vir my doen nie.”
“Ons sal na jou besoek aan Nathan by die hospitaal inkope by Centurion Mall gaan doen. Ons kan so een uur hospitaal toe gaan, so, rus ʼn bietjie,” sê Lize gemaak opgewek.
Zuluika gaan terug na die kamer, en sy lig die deksel van een van die kartondose. Haar geraamde Mediese Graad Sertifikaat lê heel bo, en wanneer sy dit uitlig is die foto albums van haar en Rudolph se huwelik onder dit. Sy streel oor die ligblou en swart omslag, en onthou Rudolph se woorde toe hulle dit gekies het, ‘Die kleure van jou oë’, en ʼn ander gedagte is in haar, ‘Die som van my herinneringe van hom wat ek liefgehad het’, en die pyn in haar is oorweldigend.
Vir die eerste keer in tien jaar, erken sy aan haarself dat sy wel vergelding wil hê, vergelding vir hom wat so skoon en rein was.
Sy bly sit met die paar besittings om haar en is verlig wanneer Lize haar roep om studeerkamer toe te gaan om te help met die maak en betaal van die aanlyn visum afspraak, en die vlug na Windhoek die volgende dag.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed