Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 2
Hoofstuk 2 – Hoe Vreemd die Oopte
Hulle ry in stilte na die Unitas Hospitaal, Zuluika voel die opgewondenheid in haar om Laurie Kilber te sien, en die liefde vir haar ‘suster’, wat sy gevoel het, van die oomblik toe sy haar ʼn leeftyd gelede op Louis Olivier se plaas ontmoet het, is in haar.
Joos Terblanche wag hulle in voor die hospitaal, en Lize laat Zuluika alleen ingaan, hierdie is een van die oomblikke wat sy weet Zuluika en Laurie Kilber alleen saam moet ondervind.
“Ek ry gou deur na die sentrum, kry jou oor ʼn uur, of so. Joos kan my ʼn boodskap stuur wanneer jy gereed is om te gaan,” en Zuluika waardeer die begrip.
Joos vat Zuluika in sy arms en hou haar ʼn wyle teen hom vas. “Hierdie is ʼn wonderlike dag Zuluika. Jou vrylating plaas die seël op jare se werk en gebede.”
Sy sê dankie vir alles. Vir tien jaar se ondersteuning en vertroue, vir die amnestie aansoek, vir die mediese tas, en vir sy betrokkenheid in die oopmaak van die waarheid, en dit bring ʼn mate van berusting in haar.
Hulle gaan die hospitaal binne, en wag voor Nathan Kilber se kamerdeur vir Laurie wat in die gang aangestap kom.
Laurie sien Zuluika saam met ʼn glimlaggende Joos Terblanche voor haar pa se kamer, en die vreugde wat albei vroue voel neem al die hartseer vir ʼn oomblik weg.
“Jy is vry… jy is hier,” en sy trek Zuluika teen haar vas, “Ja ook ek het ʼn tweede kans gekry. Ek was so verskriklik verkeerd in wat ek gedoen het, maar nou is ek vry om reg te maak,” en albei weet, al die verkeerd van die verlede, kon nie die hede se vreugde weghou nie.
Laurie loer in haar pa se kamer in, om seker te maak dat hy steeds rustig slaap. Hulle besluit om in die restaurant koffie te gaan drink, om net tyd te maak om mekaar in die oë te kyk, net die wonderlike samesyn te ondervind.
Sodra hulle rustig met ʼn koppie koffie sit, sê Zuluika: “Ek gaan die Locum posisie in Amerika neem wat julle deur Hermann Helder vir my gereël het,” en Laurie kyk verbaas na Joos Terblanche.
“Ek dog ons het netnou eers oor Hermann gepraat, oom Joos?”
“Ek wou nie die verrassing bederf voor Zuluika hier is nie. Ons het Hermann twee maande gelede gekontak toe ons die amnestie aansoek se positiewe aanbevelings-verslag gekry het, en alles gereël. Ons het geweet jou verhouding met Hermann sal verseker dat hy sal help, altyd sal help waar jy betrokke is Laurie.”
Laurie trek haar oë gemaak streng, “Oom Joos, wat steek julle nog alles vir my weg?” Hy lag, maar sê ernstig, “Laurie jy het deur soveel spanning die afgelope maande gegaan, ons wou nie hierdie spanning ook nog op jou plaas nie.”
Sy maak haar gesig gemaak kwaai, maar sy weet dit is waar, “Ek is bly my vriendskap met Hermann kon help, ek sal jou vreeslik mis terwyl jy weg is, maar ek weet op hierdie tydstip is dit beter om ruimte tussen jou en Suid Afrika te kry. Wanneer vertrek jy?”
Zuluika is amper uitgelate, “Ek vlieg môre oggend na Windhoek waar vader en moeder Bruyns vir my sal wag. Ons het vroeër vandag ʼn aanlyn afspraak vir die Amerikaanse visum aansoek vir môre middag in Windhoek gemaak, en ek het reeds al die nodige dokumente by Lize gekry. Sodra die afspraak afgehandel is, gaan ek by moeder Sally en vader James op die plaas kuier tot die visum uitgereik is. Indien alles goed verloop, beplan ek om direk na die visum uitgereik is, vanaf Windhoek na Amerika te vlieg.”
Zuluika herhaal die feite rondom haar lisensie om as ʼn Geneesheer te praktiseer in Suid Afrika sowel as Namibië en die res van die wêreld, ook die feite rondom haar vonnis wat nooit op rekord in Namibië, of enige ander land geplaas is nie.
Laurie vra Joos Terblanche of hy, as regsman, ʼn verklaring het, en hy kyk om die beurt in hul oë, voor hy die woorde duidelik sê: “Zuluika, ek weet Lize het reeds alles met jou bespreek, maar weer vir julle twee om te weet, maar nie te herhaal nie,” en hy wag vir hulle instemming, “Daar is ʼn ‘Bond’ wat oor alle lande in die wêreld strek wat geregtigheid nastreef, ʼn organisasie sterker as regerings, monargieë en geld magte, wat sekere sake vir Zuluika gereël het. Daar kan ʼn argument wees rondom die regsgeldigheid van sekere aksies, maar dit is nodig om Zuluika se veiligheid te verseker.”
Hy wag ʼn paar sekondes, “Jou vlug na Windhoek en Amerika, sal bevestiging wees van die sukses van die ‘Bond’ se planne.” Albei vroue verwerk wat hulle gehoor het, en knik weer instemmend.
Zuluika se stem weerspieël haar spanning, “Ek het Lize die vraag gevra, en ek vra oom Joos ook nou, is ek op parool vrygelaat, is ek nie werklik vry om die land te verlaat nie?”
“Zuluika, die finale voorwaardes van jou amnestie is nie aan ons bekendgemaak, of offisieel op rekord geplaas nie. Die haas van die Regering om hul welwillendheid wêreldwyd te verkondig, het die ‘Administrasie’ so effens onkant gevang, en met die jaareinde sluiting van alles hier in Suid Afrika, glo ons dit sal nie voor einde Januarie reggestel wees nie. So indien daar iets is, is dit nie amptelik nie.” Albei vermoed die vertraging van die ‘administratiewe proses’ is nie net die jaareinde impak nie, maar vir nou is dit ook genoeg.
Hulle probeer wegskram van die noodlottige gebeure tien jaar gelede, maar Zuluika weet, Joos weet wat hy en Lize met die hulp van die speurder oopgevlek het, en sy wil dit met Laurie deel, voor sy dit wel later van iemand anders hoor.
Sy herhaal wat Lize haar meegedeel het, ook die nota se woorde, en Joos Terblanche voeg verdere besonderhede by, “Die ver regse organisasie is onder leiding van ʼn man wat in die afgelope jare sterk onder verdenking gekom het as die opdraggewer vir verskeie terreuraanvalle en beplande terreur aanvalle teen persone van kleur. Wat hulle werklik in die kwartiere doen weet niemand nie, want dit word versteek agter die skerm van blanke vakman opleiding. Hulle word wel deur die polisie gekoppel aan verskeie terreur insidente die afgelope jare.”
Laurie is nie geskok oor die moontlikheid dat Rudolph se dood in werklikheid ʼn gereëlde moord was nie. Anders as Zuluika, wat net haarself wou verkwalik vir die dood van die twee mans, het die meeste mense die dieper boosheid agter die twee jong mans se daad besef. Die stilswye van almal was slegs oor die vrees vir ‘wie’ die opdraggewer kon wees, en hoe dit Zuluika kon raak indien hulle reg was.
Hulle dwing die gesprek weg van daardie helse dag, vandag wil hulle net eers die volgende paar dae, weke en maande van hulle lewens bespreek, nie die pyn van die verlede nie.
Joos se foon lui en hy maak verskoning en stap uit, Zuluika weet sy wil met Laurie oor haarself gesels, “Wat het gebeur tussen jou en Matthew Townsend, woon jy steeds op sy plaas?”
Laurie glimlag, sy is verlig oor die deel van haar hartseer en chaos die afgelope maande met Zuluika gedurende die maandelikse toegelate telefoon gesprekke. Sy weet Zuluika is die enigste persoon wie sy op die oomblik met haar gevoel kan vertrou, en sy bieg aan Zuluika haar liefde vir Matthew Townsend.
Laurie vertel met trane van blydskap die gebeure vandat sy in Engeland aangeland het, opsoek na haar moeder se familie. Die besoek aan die landgoed van haar moeder se familie, die hartseer omdat sy hulle nie daardie dag kon ontmoet nie. Sy beskryf haar reddingspoging van klein Timothy Brooks die kleinseun van Sir Ronald Brooks, en wat dit meegebring het. Sy herhaal haar gevoel dat oom Louis en haar pa by haar was en haar raad gegee het soos toe hulle twee as tieners in die Tugela die stroom versnelling met hulle motorbinnebande gery het, en Zuluika dink aan haar gevoel dat oom Louis van anderkant die graf steeds na hulle twee omsien.
Laurie huil spontaan wanneer sy die eerste ontmoeting tussen haar en haar moeder beskryf, en in Zuluika se vreugde vir Laurie is daar vandag wel ʼn hartseer verlange na ʼn eie moeder, dit wat sy in geen jare gevoel het nie, sy probeer beleef wat die vind van haar moeder sal beteken, maar vir nou is dit buite haar ervaring.
Zuluika luister in ongeloof wanneer Laurie vertel van die haat van Johan van Graan wat haar en Matthew se ouers vir agt en twintig jaar as bannelinge laat leef het, maar ook die wonderlike emosies toe sy haar moeder gevind het.
Die onthou, is amper oneindig vir hulle, maar albei weet, hulle moet nou laat gaan, hulle tyd vandag is verby.
Die belofte is tussen hulle, ‘Hulle gaan alles wat met hulle gebeur deel, en sodra Zuluika terug is, gaan hulle tyd saam deurbring.’
Hulle stap na Nathan Kilber se kamer, en sy herken van Zuluika, bevestig, Nathan Kilber is vir die eerste keer in baie jare helder, en Zuluika weet eendag wil sy by Laurie en Nathan sit terwyl hulle haar die hele verhaal vertel.
Hulle spandeer ʼn halfuur met Nathan, en Zuluika vertel hom van haar geleentheid om weer te praktiseer, en al drie weet, ongeag die pyn van die verlede, daar is geleentheid tot geluk in hulle lewens.
Joos skakel Lize, hulle weet, dit is nou eers tyd om te laat gaan sodat Zuluika kan doen wat nodig is vir haar om die wêreld weer in die oë te kyk, weer normaal te wees, en hulle stem saam, ‘Inkopies en nuwe klere is die regte begin’.
Die trane vloei vry wanneer Laurie en Zuluika afskeid neem, “Ek sal elke oomblik vir jou bid Zuluika.”
“Dankie maat, dankie vir jou liefde en jou geloof in my. Ek sal ook elke dag bid dat Matthew jou so lief sal kry, soos jy vir hom.”
Joos hou haar lank teen hom vas, en sy afskeidsgroet lig haar gemoed, “Ons sal praat wanneer jy anderkant die grense is, alles sal reg uitwerk vir jou.”
Zuluika neem die geld wat Lize aanbied en saam stap hulle deur die sentrum om nuwe klere en persoonlike items te koop.
Die koop van die klere bring die gevoel van vry wees in Zuluika, die gevoel wat ʼn persoon het wat keuses kan uitoefen, wat verskeidenheid kan vra, aksies ver weg van die afgelope tien jaar se eendersheid, en sy is verlig.
Die reuk van die parfuum wat Lize haar as geskenk gee, bring ou herinneringe van Rudolph terug, bring ook herinneringe van die eise wat vryheid stel, en die vraag is in haar: ‘Kan sy gee wat vryheid sal vra, kan sy weer inpas, weer iemand wees?’ Sy weet sy moet net eers wegkom uit die omstandighede, uit die land met sy geheime, wegkom van die herinneringe, haarself die geleentheid gee om die vraag oor ʼn maand of twee te beantwoord.
Hulle ry deur na die Centurion Lifestyle Sentrum om paspoort foto’s te neem, en Lize koop ʼn reistas en ʼn stel muurprop omskakelingsmodelle vir Amerika vir Zuluika. Sy sê effens verskonend wanneer Zuluika haar kop skud, “ʼn Geskenk van my wat jy werklik nodig sal kry.”
Zuluika weet, sy sal weer moet leer om dinge wat natuurlik in vryheid is, te aanvaar, soos die gee van ʼn geskenk, en sy voel die beklemming in haar, ‘Gaan sy ooit weer emosioneel reg wees vir dit wat vryheid vra’.
Lize sien die verlorenheid in die onmaats oë, steek haar hand uit, en druk die skraal handjie, “Alles gaan weer regkom, glo my, alles gaan weer reg wees.”
Terug by die huis skakel Zuluika haar skoonouers, en hulle is oorstelp om haar stem te hoor, in ekstase wanneer hulle hoor sy vlieg die volgende dag na Namibië.
“Ons sal op Windhoek lughawe wees my kind, kom net sodat ons jou kan vashou,” is al wat Sally Bruyns vra.
Lize gee Zuluika ʼn selfoon en ʼn koevert, “Die foon is nuut en die RICA klaring is op my naam en adres gedoen. Ek het my, Joos, Laurie en jou skoonouers se nommers vir jou op die foon ingesleutel, met my en Joos se nommers as noodnommers wat jy direk kan skakel.”
Zuluika besef weer hoe deeglik die beplanning vir haar vryheid is, maar sy besef weer die agterstand wat tien jaar se afsondering gebring het, ʼn agterstand wat sy self weer moet inhaal.
Lize sien die verwarring en vrees, maar sy glo, Zuluika sal ook deur die huidige struikelblokke kom, sy het net tyd nodig, “Ons sal sodra ons by die lughawe is, die “Swerf” funksie laat aktiveer sodat jy die foon wel in Namibië en die eerste dag of twee in Amerika kan gebruik.”
Lize wag ʼn oomblik, “Sodra jy op die lughawe in Amerika is, koop ʼn nuwe SIM kaart en gee asseblief jou nuwe nommer deur na my. Die koevert het die geld in waarmee jy die vlugkaartjie na Amerika moet betaal, en die nodige warm klere in Amerika moet koop, gebruik dit asseblief vir jouself Zuluika.”
Zuluika neem die foon en die geld, en beloof om te doen wat Lize vra.
Dit is laataand wanneer Lize in Zuluika se kamer instap met ʼn houer poeierkoffie, ʼn fles warm water, en ʼn skoon koffiebeker. Die verwese klein mensie tussen haar paar aardse besittings druk Lize vas, “Weet jy mag dalk sukkel om te slaap, so hier is koffie en warm water vir vannag,” en sy kyk na die artikels op die bed, “Wat wil jy alles saamneem?”
“Bitter min, my mediese tas, klere en toiletware. Glo nie enige iets anders nie.”
Lize sit die skinkbord op die bedkassie neer, stap na die hangkas, haal iets uit en wanneer sy omdraai sien Zuluika dit is haar viooltas en Rudolph se hobo tas, en die wegskram is onmiddellik in haar, “Nee Lize, ek dink nie ek kan die pad nou stap nie.”
“Zuluika in die twee tasse is mooi herinneringe van jou en Rudolph gebêre vir vandag, en al die dae wat gaan volg. Asseblief nooi, al is dit al wat jy vir my doen, neem die viool en hobo saam Amerika toe, vind die moed daar in die berge om hulle oop te maak en te speel. Vind weer die vreugde wat dit jou altyd verskaf het.”
Zuluika oorweeg die woorde, “Ek sal hulle saamvat, maar of ek hulle weer sal speel, is ek op die oomblik nie van seker nie.”
“Dit is al wat ek vra, gee dit ʼn kans, hou die mooi herinneringe naby jou.”
Wanneer Lize weg is na haar kamer, sit Zuluika nog met die viool- en hobo tasse op haar skoot, en die pyn wat die herinneringe van die instrumente bring, versmoor haar.
Die kleintyd droom om ʼn musikant te wees, haar onbeskryflike aanvoeling en talent vir musiek. Die talent wat haar in haar eerste jaar op Tukkies in die Gauteng Jeug Filharmoniese Orkes laat beland het. Die herinneringe aan die ontmoeting met Rudolph die eerste dag met haar oudisie vul haar met warmte, maar die hartseer versmoor haar.
Sy maak die viooltas oop en streel sag oor die snare, en die klank kom lê in haar. Wanneer sy die viool uit die tas lig is die foto daar, Rudolph glimlaggend, en die paar woorde wat haar weer heelgemaak het onder op die foto, ‘Onthou altyd, jy is my lewensvlam Zuluika’, Sy druk die foto teen haar lippe en sy huil.
Sy neem haar tyd en sit die foto terug daar waar hy vir meer as tien jaar gerus het, sy maak die hobo tas oop en laat haar vinger aan die mondstuk raak, daar waar Rudolph se lippe dit aangeraak het, en sy mis hom.
Sy kyk na die kassie waarin die hobo mondstukke gebêre is, haar hand gaan onwillekeurig na die kassie, en sy lig hom uit, sy weet onder die kassie is die foto van haar met haar rooi lipstiffie soen vir Rudolph, en die trane val uit haar siel uit op haar hande.
Sy weet sy sal die viool en hobo saamneem, nie net omdat Lize dit gevra het nie, maar omdat dit deel van haar herinneringe is, deel van haar en Rudolph se liefde, en hopelik deel van haar herstel sal wees.
Sy neem die hobo, gooi warmwater uit die fles in die beker en sit ʼn nuwe mondstuk daarin, die roetine wat Rudolph so gedissiplineerd gevolg het. Sy hoor sy stem wanneer hy haar al die geheime rondom die mondstuk vertel het, en sy mis hom.
Sy druk die hobo teen haar hart en lê terug op die bed, sluit haar oë vir een oomblik, en sy sien Rudolph, en sy voel sy nabyheid aan.
Sy staan op, neem die enkele sakkie besittings wat sy ontvang het toe sy vanoggend die gevangenis verlaat het. Sy gooi die inhoud uit op die bed, die klere wat sy daardie helse dag aangehad het, haar trouring, die hangertjie en vriendskapsringetjie wat Rudolph haar op haar een en twintigste verjaarsdag gegee het, die polshorlosie wat oom Louis haar op haar een en twintigste verjaarsdag gegee het, en sy druk die horlosie teen haar lippe en sit dit versigtig neer.
Sy sit die vriendskapsringetjie aan haar regterhand se ringvinger, sy weet hom haal sy nie gou weer af nie. Die dagboek wat Thobile Mathe, die terapeut, haar op die eerste dag toe haar sessies, ‘om haar voor te berei vir haar vrylating’ begin het, gegee het.
Sy maak die dagboek nie oop nie, sy weet wat hierdie boek veilig hou. Die eerste twintig bladsye bevat die temas en rigsnoere van die twintig sessies, die twintig ‘ankertoue’ wat Thobile haar gegee het om aan vas te hou. Die volgende bladsye bevat die waarhede van die struikelblokke waaroor sy moet kom, dit waarmee sy vrede moet maak indien sy ooit weer heel wil wees.
Sy druk die boek teen haar lippe, voor sy dit versigtig op die bedkassie neersit, in haar gedagte sien sy die pragmens wat in ʼn skamele twintig ure haar soveel hoop gegee het, en sy voel die begin van die vrede in haar, wat daardie mens voor gehoop het.
Sy dwing die trane weg, neem haar trouring, lees hulle name in die inskripsie, glip die kettinkie deur die trouring en sit dit om haar hals. Sy kyk na die horlosie en sy weet sy sal die battery moet laat vervang.
Die vraag is in haar, ‘Wat het van Rudolph se trouring geword’, en op die oomblik is dit geweldig belangrik om dit te weet. Sy weet sy sal moeder Sally vra sodra sy in Namibië is, want sy wil dit teen haar hart by haar ring hê.
Sy bly sit op die bed langs haar paar besittings, en na alles wat Lize vandag met haar bespreek het, loop haar gedagtes die afgelope tien jaar se pad van selfverwyt, sy weet, selfvergifnis is die een ‘vergewe’ wat sy nog moet doen. Indien sy dit nie kan doen nie, sal dit ʼn groot struikelblok in haar herstel wees, ‘indien sy dit toelaat’, en Thobile se wyse woorde is in haar gedagtes.
‘Zuluika moenie in alles perfek probeer wees nie, jy is ʼn mens, en jy het reg om soms ook jou eie visier effens te laat sak. Bo alles moet jy jouself vergewe, en jy moet geduldig met jouself wees in jou groei terug na vry wees. Jy moet aanvaar, die tien jaar wat jy ingeboet het, het jou skuld betaal. Gaan uit na die vryheid en vind geluk, want jy verdien dit’.
ʼn Ander struikelblok wat sy moet oorkom, is die feit dat sy in so baie opsigte gestagneer het in die tien jaar, omdat sy emosioneel in twintig vyf wou bly, by Rudolph wou bly, maar sy het dit in die twintig sessies aanvaar, dit sal hom, en sy liefde, nie terugbring nie.
Terwyl sy in haar mediese kundigheid gegroei het, het sy geen begeerte gehad om tegnologiese vaardighede aan te leer nie, nie geglo sy sal dit ooit weer benodig nie. Het sy ook amper al haar sosiale vaardighede verloor, verleer hoe om met mense te verkeer, hoe om tussen ander mense te leef, hoe om te gesels met mense, maar veral verleer om haarself te sien as ʼn mens wat waarde het, en dit moet sy weer vind, haar ‘selfwaarde’.
Haar gedagtes gaan terug na die tyd toe sy uit daardie ‘hel-huis’ gevlug het, sy het toe werklik geen sosiale vaardighede gehad nie, sy was iemand wat nie eers op haar naam genoem was nie, sy was die ‘onrein, waardelose werpsel’, en sy het dit oorleef, gegroei, en ʼn persoon geword wat soveel waarde gehad het, en soveel waarde bygedra het tot ander.
Sy weet indien sy dit ooit weer in die wêreld wil maak, sy so vasbeslote soos daardie verwerpte dertienjarige kind moet wees, en sy weet, sy is, sy het dit toe gemaak, en sy sal dit weer maak, ongeag die tyd wat dit sal neem.
Sy haal die mondstuk uit die water, sit dit vir een minuut op die lappie op die skinkbord neer om droog te word, waarna sy dit versigtig inskuif op die hobo. Wanneer sy die mondstuk tussen haar lippe voel, hoor sy Rudolph se sagte stem gedurende die honderde ure wat hy geneem het om haar die hobo te leer speel, sy sluit haar oë en die helder klank vul die kamer, vul haar hele wese.
Lize hou een oomblik op asemhaal wanneer die melodie van, ‘There is a green hill far away’, sag en helder deur die huis sweef, en al wat op die oomblik deur haar gedagtes gaan, is, ‘Dankie Here’.
Dit is baie later wanneer Zuluika die instrumente terug in die tasse sit en toemaak, sy weet sy sal weer eendag gereeld speel, want dit sal Rudolph by haar hou, en sy gaan deur haar ‘aandroetine’, en sy gaan slaap.
Dit is vroegoggend wanneer sy en Lize op Oliver Tambo Lughawe aankom. Zuluika is verlig oor Lize se voorneme om saam met haar tot by die sekuriteitsarea te gaan, en in die lughawe gebou te bly totdat sy deur die doeane, en veilig op die vliegtuig is.
Lize dring daarop aan om eers ontbyt te nuttig by die ‘Wimpie’, en Zuluika voel die spanning stadig uit haar gaan. Sy was altyd, en sy weet sy is steeds, iemand wat lank voor die tyd by ʼn lughawe of ʼn afspraak wil wees, en die ‘betyds’ wees van vanoggend bring die ou rustigheid terug.
Die eet in die oop ruimte met mense wat kom en gaan, bring ou herinneringe terug, herinneringe van haar en Rudolph op die lughawe, nou is dit hartseer, maar aangename herinneringe.
Lize bly by die Internasionale vertrek area terwyl Zuluika deur die veiligheidsarea stap waar haar handbagasie geïnspekteer word, en sy met ʼn laaste wuif van haar hand uit sig verdwyn.
Sy stap terug na die ‘Wimpie’ en bestel koffie. Sy voel die benoudheid in haar, ‘Wat indien al die planne wat die ‘Bond’ gemaak het vir vandag, en die vryheid van Zuluika Zuess, nie werk nie?’
Haar foon lui en Joos Terblanche se naam verskyn op die skerm, “Is sy al deur die paspoortbeheerarea?” kom dit bekommerd.
“Nee sy is nou net deur die veiligheidsarea, ek dink nog so tien tot vyftien minute afhangende van die hoeveelheid mense wat voor haar is.”
“Bel my asseblief onmiddellik indien jy iets hoor Lize, ons almal wag in spanning. Indien Zuluika sonder voorval deur die doeane gaan, glo ons die reëling is in plek.”
“Ek weet Joos, ek laat weet dadelik.”
Hulle lui af en Lize bly sit met die selfoon in haar hand. Die angstigheid in haar is duidelik sigbaar in die styfheid van die spiere om haar kake, ‘Here laat al die planne wat ons gemaak het om haar vry te kry, asseblief werk’.
Zuluika voel die vrees in haar verhoog wanneer die persoon voor haar geroep word na ʼn toonbank, en sy bid sonder ophou.
Met ʼn kopknik wink die beampte haar na hom, sy voel hoe haar knieë knak, maar sy lig haar ken, kyk hom in die oë, en groet vriendelik. Sy stoot die paspoort en die vlugkaartjie oor die toonbank na hom.
Hy bestudeer die paspoort foto, kyk in haar oë, en sy wil sterf wanneer sy die frons sien, maar sy weet, dit is haar onpaar oë se frons op sy gesig. Hy glimlag, kyk weg, skandeer die kode in die paspoort, neem enkele sekondes met die vergelyking van die data op die skerm, en sonder om weer na haar te kyk, sit hy die paspoort op die lessenaar neer, blaai na die eerste skoon bladsy, tel die stempel op, en stamp die stempel met geweld op die bladsy. Met ʼn, “Veilige vlug,” stoot hy die paspoort en die vlugkaartjie oor die blad na haar, en wink die volgende persoon nader.
Zuluika voel hoe die droogheid in haar keel stadig verdwyn terwyl sy wegstap van die paspoortbeheerarea. Al wat deur haar gedagtes gaan, is, ‘Ek is vry, vry om weg te gaan, weg van bang wees, weg van dink aan wat die afgelope twee dae haar laat onthou het’, en onwillekeurig kom daar ʼn effense glimlag in haar oë, ‘Dankie almal wat gehelp het’.
Die oomblik wat sy by die hek, waar sy aan boord sal gaan, gaan sit, skakel sy Lize. Lize se ‘Hallo’ is onmiddellik, “Ek is deur, sonder voorval, ek is by die hek waar ons aan boord sal gaan,” en sy hoor die gil van blydskap.
“Skakel my sodra jy in die vliegtuig is, en ook wanneer jy deur die doeane in Windhoek is, hou my op hoogte van jou vordering hoor.”
“Ek sal, en Lize, dankie.”
Lize skakel Joos Terblanche en sy emosie belaaide uitroep is hoorbaar, “Sy is vry Lize, Zuluika Zuess kan weer voor begin. Ek sal die ‘Bond’ laat weet.”
Hulle lui af, en Lize stap met ʼn gevoel van genoegdoening deur die saal na die parkeerarea, ‘Hulle is oor die eerste hekkie, die res sal wel volg’.
Joos Terblanche skakel ʼn nommer en al wat hy sê, is, “Sy is deur, nou vir die res.”
Zuluika voel die spanning in haar, maak die koevert oop en gaan weer deur die inhoud, Amerikaanse Dollars, baie daarvan, ʼn brief van bekendstelling van Hermann Helder aan die Hoofbestuurder van die saagmeule in Oregon, die besonderhede van die trein wat sy van die Portland Internasionale Lughawe moet neem na Corvallis, sowel as die restaurant se naam waar sy die saagmeule se voertuig bestuurder in Corvallis sal ontmoet.
Sy kyk onophoudelik na die kennisgewingskas. Voor die ‘Instap’ teken verskyn, begin verskeie mense reeds in die tou inval voor die toonbank, sy staan op, val in die tou in, ‘Hoe gouer sy deur die deur kan stap, hoe beter sal dit wees, weet sy’.
Wanneer sy die viool- en hobo tasse en haar sak veilig in die oorhoofse bagasie area geplaas het, gaan sit sy en skakel Lize om te bevestig sy is op die vliegtuig.
Deur die vlug roetine, die demonstrasie deur die lugwaardin, en die opstyg die blou hemel in, sit Zuluika met die beklemming in haar, en sodra die liggies afgeskakel word, en verskeie mense hulle veiligheidsgordels losknip, voel Zuluika hoe haar hartklop normaal word, hoe die spanning haar verlaat, en dit registreer by haar, ‘Sy is vry, sy is uit die land met sy hartseer herinneringe’.
Die wete is daar, ‘Sy hoef nooit weer terug te kom indien sy nie wil nie’, en dit is vir nou eers genoeg. Sy weet, ‘Wie ook al die ‘Bond’ is, hulle het hulle werk deeglik gedoen, hulle het haar vrygemaak, en sy sê dankie in haar gedagtes.’
Die deurstap deur die doeane in Windhoek bring die spanning terug in Zuluika, maar sonder ʼn tweede blik in haar rigting, stamp die beampte die stempel in die paspoort, gee haar paspoort terug, en wens haar ʼn goeie dag toe.
Sy haas deur die deure na die bagasie herwin area, neem ʼn trollie en plaas haar handbagasie daarop en stap reguit na die vervoerband waar haar vlug se besonderhede op die ligkas verskyn. Sy is verlig wanneer sy haar tas van die vervoerband lig en op die trollie plaas.
Dit is met gemengde gevoelens wat sy aanstap in die rigting van die ‘Aankoms’ ontvangs area, waar sy weet haar familie vir haar wag, en daar is ʼn ander gevoel as net die wanhoop van die afgelope jare in haar.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.