Die dood is nie dood nie
Die dood is nie dood nie
Anders kon my regte naam gewees het. Bang seker, my van. Iewers het ’n gans tussen swane beland… dit was ek. Vandat ek onthou, was ander slimmer, sterker en beter. Atletiek? Ma het altyd getroos: “Alles reg, my seun, jy was tog eerste van agter af.”
Skande kom kuier in ons huis. Pa en Ma skei. Dit was amper so goed soos melaats. Kinders het eerder ander maatjies gekry.
Jare vlieg verby en op my manier kry ek tog ’n weg om hierdie lewe agter die rug te kry. Pa was ’n yster. Harde stem, geen grys. Sy woord was wet. Kerk toe sou hy jou sleep as dit moes. Voorgee was nie iets waarvoor hy sou staan nie.
Op 21 het die lewe pas begin. Slim en selfvoldaan. Tog sê Pa: “My kind, onthou altyd jou God.”
5 Julie kom. Bitterkoud. Die groot K kom haal Pa. Minder as ’n week later val alles inmekaar.
Ek klim die leer van sukses. Maak ’n goeie naam, maar sukses word my afgod. Mense en gevoelens word my mat.
Toe bid ek: “Here, vat my afgod weg.” Minder as ’n week later val my kasteel plat.
Vandag, op Feldsmanhoek, leef ek met min, maar genoeg. God gee my meer as waarvoor ek kan vra. Die dood is nie dood nie. Ek het hartseer laat gaan. Vir nou sit ek ’n lig vir ander in die donker aan, tot my dag kom.
©️ Ryno du Plessis 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.