
Augustus 2023 Musiek projek – Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 7 lede!
GEDIGTE
BRONS
GEEN
SILWER
- NO 10 Jessiaca Venter met Wingerdwoorde
- NO 20 Elize Kruger met Musiek en liriek
- NO 21 Marlene Erasmus met blyspel
GOUD
- NO 8 Andries Fourie Musiek oor my
- NO 7 Andries Fourie met Winterklawers
- GEEN
MENINGSTUKKE
NO 4 Marlene Erasmus met ’n Les uit die “Lied van die lewe”
ARTKELS
- NO 1 Ano met Musiek vir beter gesondheid
- NO 3 Marlene Erasmus met Musiek vir trauma slagoffers
- NO 2 Marlene Erasmus met Musiekterapie vir gestremde kinders
RUBRIEKE
- NO 1 Loret Zwarts met Speel musiek ’n rol in jou gemoedstoestand?
- NO 3 Ano met Ozzy, Rocco of Strauss?
- GEEN
VERHALE
- NO 1 Fanus Strydom met Landslied: Simfonia
KOMMENTAAR:
Gedigte
BRONS
2.Gemoedsvennoot
Onthou dat die ellips as sintaktiese proses altyd drie (3) punte is. Let daarop om altyd jou poësie netjies te hou. Die gebruik van inversie moet sorgvuldig gedoen word. Kyk na jou sin “waar ouers bring hul kleintjie klein”. In hierdie geval klink dit nie vir my mooi nie. Dit kon maklik vermy gewees het deur net “bring” met “saam” te vervang. In die laaste koeplet skort ‘n komma tussen ritme en liriek. Die herhaling van stilte(s) in die laaste kwatryn is ook steurend. Dit klink asof ek baie kritiseer, en dalk is dit so, maar dit is my werk en tóg is dit nie op ‘n swak gedig nie. Die progressie van tyd hierin is mooi en die inhoud is keurig.
5.Woorde
Ek dink die vers sou beter daaruit sien as jy nie al die stansas met hoofletters begin het nie. Daar is ook mynsinsiens ‘n tekort aan funksionele punktuasie. Die herhalende (volg, wil nie stop, kannie wegkom, by my ens. ens.) sentiment in die vers is vir my steurend. Ek verstaan dat die aanhoudendheid verbeeld moet word maar dit kon “anders en vars” verwoord gewees het.
6.Harmonieuse melodieë
Dié vers kan werklikwaar baat met nodige punktuasie. As voorbeeld, kom ons loer gou na jou laaste koeplet:
“verander die note – vinnig en vurig –
in ‘n baldadige gelag, gekuier en gejaag.”
Jy het die volta mooi bemeester maar met punktuasie gee jy die leser ‘n ruskans om die mooi van jou crescendo beter te ervaar. Daarsonder is die vers nét soos die branders wat aanstorm en dit ontneem die leser van ‘n heerlike ervaring.
Melodie en harmonie word myns insiens ook onnodig herhaal aan die begin. Daar bestaan die mooiste sinonieme in Afrikaans wat jou gedig vir seker sterker kan maak. Jy het die opdrag mooi nagekom.
9.Bittersoet oorwinning
In Afrikaans praat ons van ‘n “strykkwartet”. Ek dink jy is moedswillig om “string” deurgaans in jou vers te gebruik. Dit is snaar. Selfs in jou voetnota is jy aspris anglisisties om abiliteit te gebruik in plaas van vermoë. Ons het genoegsame, getoetsde en baie funksionele Afrikaanse woorde dat dit bloot onnodig is om wat ‘n mooi vers kan wees te bederf met ‘n lui poging van taalvermening. Indien dit n streektaal vers was is dit totaal ‘n ander storie maar dit is nié wat jy aangebied het nie.
13.Geluidloos staar ek jou agterna
Kyk asseblief op die stelsel wat jy gebruik om jou werk te tik vir ‘n oplossing om die regte hakie op die ‘n te plaas. Die gedig vloei moeilik omdat elke sin soos ‘n losstaande gedagte voel. As ons dig soos ons praat kan dit moeilik gebeur dat digwerk soos ‘n telegram klink. By- en voegwoorde is nie ‘n digter se vyand nie. Jy het vir seker ook nié die tema in jou vers behandel nie.
14.Tussen treine
Interpretasie is maar een been waarop digwerk se sukses gemeet word, en dit is vir seker nie die digter se werk om die leser met ‘n lepel te voer nie. Dit bly egter belangrik dat die leser tog verstaan (in afleiding of andersins) wat die digter probeer sê. Waarom sal ons poësie lees as dit net ‘n samevoeging is van vlietende gedagtes en begrippe wat lukraak by die skrywer ontstaan? Ek voel so oor jou vers. Laat ek verduidelik en kronologies, punt vir punt deur jou vers werk:
1.Karakters tussen treine
2.Is tyd ongereeld of onbekend
3.Tyd verwyl tot wat afgestel is
4.’n brief
5.geluide
6.verwyting
7.hart
8.terug by treine ens ens
Verstaan jy hoekom ek bedenkinge het oor jou aanbieding? Ek sou dit graag wou verstaan maar helaas.
15.Lugkasteel
Die ritme hierin is vir my steurend omdat dit voel asof daar in die grootste gedeelte van jou vers onsamehangende idees is wat jy probeer saamvoeg sonder die nodige motivering. Spelling van “uitgesproke”??
As digter het jy slegs een wapen in jou arsenaal en dit is woorde. As jy nie seker maak dat jy gedig goed versorg is nie, dan verloor jy ‘n gehoor.
16.Woorde word ‘n song
Hierdie vers wil vir klink asof dit deur dieselfde digter geskryf is wat ook “Woorde” geplaas het? Jy het egter in hierdie poging glad nie die struktuur opdrag nagekom nie want jy het vir seker meer as 3 koeplette en 3 kwatryne. Ek kan die vers dus nie beoordeel nie.
17.Smeking
Ek dink nie dit is die beste weergawe van hierdie gedig nie. Daar is slim begrippe maar daar is nie behoorlike vloei nie. Ek verstaan die sentiment maar ek dink die vers kan baat by redigering.
18.Huiwering
Die vers sluit so mooi maar die res van die inhoud is losstaande gedagtes wat lukraak bymekaar gegooi is in die hoop om ‘n geheel te skep. Die vers kan baat by redigering.
27.Lieftydig
Jy spring tussen seisoene, gedagtes, dinge en goeters en steeds weet ek as leser nié wat jy probeer sê nie.
SILWER
1.Musiekblyspel van onthou
Kom ek begin by jou titel. As ek die frase “van onthou” lees, draai my maag in ‘n gastriese bondel. Dit is so geyk en steeds gebruik digters dit sonder ophou. Ek trap jou nou uit oor die sondes van duisende voor jou, maar ek dink jy sal my verdra. Jy het ‘n slim vers ontwikkel maar Waak daarteen dat jy die leser met ‘n lepel probeer voer. Kom ek gebruik jou 3de koeplet as voorbeeld:
“het die strykstok gebreek
en ek het bladleesblind geraak –
tóg weerklink jou skoonheid
in die stembuiging van elke noot”
Omdat:
1.Viool is oorbodig want jou leser weet reeds ‘n strykstok word daarvoor gebuik
2.”van musiek” is oorbodig want jou leser weet reeds bladmusiek het met musiek te doen
3.”Harp van jou skoonheid” klink nie nét nie, maar is ‘n vreemde beeld
4.Waar val die wind in as jy eers van ‘n viool en dan van ‘n harp praat?
5.Verstaan jy hoe beoordeel ek elke sin in ‘n vers? Daar moet behoorlike motivering wees voordat die digter lukraak tussen konsepte en gedagtes spring.
Jou vers het baie potensiaal maar knip daaraan.
3.Veldmusiek
Jou vers bespreek veldmusiek en skielik spring die branders rollend en roggelend die vers binne en ek as leser weet nou nie meer of ek in die veld of op die strand is nie. Poog om altyd ‘n geheel te skep in jou poësie. Die see het vir seker niks met die veld te doen nie. Besluit, maar jy kan nie albei hê nie.
4.Musiekbalk van my lewe
Die vers is soos ‘n dissertasie; dit is beeldswaar en oordadig.
10.Wingerdwoorde
Ek wil my verstout en dink wingerdwoorde is ‘n ode aan die soetheid van ‘n laatoes in ‘n glas. Ek dink jou vers is keurig en jy het die opdrag mooi verstaan.
20.Musiek en liriek
Die vers is keurig. Jy het die opdrag mooi verstaan.
21.Blyspel
Die vers is keurig, getrou aan die opdrag met ‘n mooi volta.
22.Musiek se fluistering
Die vers is werklik op sekere plekke vir my effe onsamehangend. Dit spring tussen gedagtes en begrippe. Neem as een voorbeeld jou 2de kwatryn: reën, wind se lied, fluister, geheime, gesange, siel, brug: almal begrippe wat verstaanbaar is maar dit is asof nie een daarvan werklik in samesyn met die ander verkeer nie.
24.Augustus kantate
Gaan Google bietjie TMIS (Too many ideas syndrome). Die gedig is so swaar dat die kantate dissonansie geword het. Daar is n legio idees in jou vers en dit maak dit vir die leser moeilik om te volg. Soms is minder werklik meer. Ek weet die opdrag vra vir 3 kwatryne en 3 koeplette, en dit moet nagekom word, maar selfs in so ‘n groot spasie moet daar orde wees.
GOUD
7.Winterklawers
Dit is mooi. Die progressie vanuit die winter wat in die volta graanpitrooi ontplof, is besonder. Jou vers hou by jou titel idee en maak ‘n lieflike ommeswaai. Mooi!
8.Musiek oor my
Jy kan gerus “luimer” ook as ‘n neologisme aandui want nie een van my bronne gee die woord aan nie. Dit is egter vir my ‘n verstaanbare en mooi begrip. Die vers is vars in die sin dat jy bekende sangers se lirieke hierin verweef. Ek dink dit is skerpsinnig en keurig.
11.Ek is waardig
Ter verduideliking: die digter praat van ‘n driehoek in die gedig en dan in die laaste kwatryn maak u melding van “kopersmitperfeksie”. Dit kan mos nie reg wees nie want ‘n driehoek in ‘n orkes word nie van koper gesmee nie. Die res van die gedig sukkel sonder nodige by- en koppelwoorde. Dit gedig lees sonder ‘n behoorlike vloei.
12.Kakofonie
Met die gebruik van inner-ek in die 1ste koeplet sou dit makliker (en meer korrek) lees mét ‘n koppelteken. Jy kan ook die sin soos volg aangepas het: “roep ek innerlik uit na jou”
Die aandagstreep in die 2de kwatryn lees ook nie korrek nie. ‘n Bywoord soos “en” kon maklik die oorgang van die een na die ander sin ingelei het. Die herhaling van “dan” in stansa 4 en 5 steur my oor. In die laaste kwatryn gebruik jy slegs “huis” om jou rympatroon te behou en nié omdat dit werklik by die gedig inpas nie. Waar sal huis skielik uitval as die hele “gedig” in die innerlike wese afspeel? Ek is baie streng as dit veral met goue katagorie digters se werk. Die standaard is hoog en moet so bly.
19.Digtersklaaglied
Ek weet nie of die akademies eerlik omgaan met die rympatroon in jou vers nie. Sekere woord klink en voel of hul slegs gekies is ter wille van die rym en nie omdat dit noodwendig die werklike bedoeling was nie. Die eerste kwatryn het soveel belofte ingehou maar die res van die gedig het my teleurgestel.
23.Lente, somer, herfs en koebaai
Die digter het té hard probeer om die leser met musiekterme te beïndruk en het totaal gefaal om ‘n eenvormige gedig aan te bied. Ek dink hierdie is nie die beste weergawe van die gedig wat jy beplan het nie.
25.musieknootsaaier
Ek hou eerlikwaar van die idee agter die vers. Daar is egter jakkalsies wat die nootwingerd verniel.
1.Kwatryn 1
“As jy, juis jý
sterstof met ‘n bakkie
[onbepaalde lidwoord pas beter]
van die sekelmaan
[gebruik die – bepaalde lidwoord]
kon skep
[Vers begin met as, gaan oorbodig]
2.Koeplet 1
” stof sif en daarin
musieknote ontdek
3.So kan ek deur die hele gedig krap en onnodige en oorbodige woorde skrap.
4.Selfs meer kompak neem dit niks van jou vers weg nie maar maak hom eintlik meer impakvol.
26.Saxofoondroom
Die woordorde en -keuses in jou vers is glad nie mooi nie. As voorbeeld: Stansa 1 (kwatryn 1)
“Ek droom deurheen (hoekom graag?)
dat ek myself,
op ‘n klein verhoog,
in ‘n skemer eetplek bevind”
So kan ek deur die vers werk en werklik ‘n sterker weergawe daaruit krap. Dan ook, “gestoel” is nie ‘n nuutskepping nie; dit word reeds in gebruik. (gestoel, gestoelte, gestoeltes)
MENINGSTUKKE
1.Hemelse simfonie
Aangesien ons met ‘n musiek tema besig is, kan ek hierdie meningstuk nét as ‘n kakofonie beskryf. Die skrywer spring tussen gedagtes rond, tree in en uit dialoog en dit sonder dat die leser weet wie, wat, waar en hoe. Die skryfsel is ongeorden, lees moeilik en kan baat by goeie en keurige redigering.
2.Wees jou eie hero
Die skryfsel is keurig genoeg. Daar is sekere gedagtes en idees wat herhaal word, en dit kan met redigering reggestel word. Lesers is slimmer as wat ons as skrywers dink. Ons hoef nie elke nuanse te omskryf nie. Minder is baie keer meer. Jy het wel die opdrag uitgevoer en jou punt in jou meningstuk gemaak.
3.Die roerende resonansie van Skipskop
Sinkonstruksie!! As voorbeeld: “As ‘n skaam, teruggetrokke kind het ek myself dikwels tot musiek, as geselskap, gewend”
Té veel kan ook soms gesê word! As voorbeeld: “‘n Mengsel van nostalgie, verlies en begrip.” Jou vorige sin sê reeds dat dit jou met emosie gevul het, dat jy nie nodig het om “by my gewek” te gebruik nie.
Maak seker om nie ‘n gedagtes te herhaal nie. Dit maak jou leser verveeld.
4.’n Les uit die “Lied van die lewe”
Woordoorbodigheid in ‘n skryfsel is ons vyand. Voorbeeld: “Die lied het (vir my) ‘n baie spesiale plek in my hart. Dit is onnodig om ” vir my” en “in my” in dieselfde sin te gebruik. Die skryfsel is egter keurig.
ARTIKELS
1.Musiek vir beter gesondheid
Jou artikels is baie interessant en op die oog af, goed nagevors. Dit sou lekker wees as jy van die kenners in jou artikel aan haal. Baie goeie artikel. Lekker hieraan gelees.
2.Musiekterapievir gestremde kinders
Jou artikel is sorgsaam en keurig aangebied. Daar is genoegsame navorsing wat met kenners se opinies saamgaan. Die artikel is goed versorg en baie mooi aangebied. Mooi gedoen.
3.Musiekterapie vir trauma slagoffera
Ek dink jy het die artikel goed versorg. Jy het goeie navorsing gedoen en die tema goed aangepak en verwoord. Keurige werk.
RUBRIEKE
1.Speel musiek ‘n rol in jou gemoedstoestand?
Keurige stukkie skryfwerk. Dit is netjies aangebied. Mooi.
2.Musiek die melodie van die siel
Let op jou spelling, die ontbreking van funksionele en nodige punktuasie en sinskonstruksie. Dan ook, punktuasie, waar in gebruik, moet ook ordelik wees. ‘n Vraagteken word nie deur ‘n punt opgevolg nie, en daar is geen spasie tussen die komma en voorafgaande woord nie. Skep orde.
3.Ozzy, Rocco of Strauss?
Ek wonder of die onomatopee hierin funksioneel is? Dit het my egter laat glimlag. Ek het glimlaggend hieraan gelees. Ek vind egter dat sommige sinne so lank is soos die liewe Heer se genade. Ek het tog lekker gelees.
4.Gouedraad tussen musiek en gemoedstoestand
Jou “rubriek” is eintlik ‘n artikel want dit bevat soveel feitlike inligting en nie werklik ‘n persoonlike ervaring of invalshoek nie. Daar is defnitief ‘n verskil tussen die twee genres. Ondersoek dit gerus.
5.Die onsigbare band
Jou “rubriek” is eintlik ‘n artikel want dit bevat soveel feitlike inligting en nie werklik ‘n persoonlike ervaring of invalshoek nie. Daar is defnitief ‘n verskil tussen die twee genres. Ondersoek dit gerus.
VERHALE
1.Landslied: Simfonia
Wat ‘n aangrypende verhaal. Baie lekker hieraan gelees. Welgedaan.
Indien julle die wenplasings wil gaan lees klik op hierdie skakel asb: https://ink.org.za/biblioteek/projek-wenners/
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.