My emmerlys (bucket list) Goud 298 woorde
My bucket list
Die soetsap van die druiwekorrel kielie my tong. Kyk ek vrek vir ‘n soetkorrel kristal druif. Die klapgeluid wanneer jy sy korrel met jou tande breek en die stroop jou kies laat bolstaan met lekkerte.
Ek wonder of mens nog kristaldruiwe kry. Ek het al oral gesoek. Daardie fyn, goue, klein korreltjies, klipharde ovaal druifkorrels wat soos ‘n diamant in jou handpalm lê. Hanepoot, nee nie die ou swart nagemaakte hibrid wat jy deesdae op ons rakke kry nie, regte egte swartkorrel lekkerte. Groter as ‘n man se duim. Daardie vet blink trosse wat Oupa met ‘n valkoog dopgehou het.
Ek smag na swartvlek moerbei, bektrek kweper en rooikorrel granaat. Adamsvy, pikswart lekkerte wat klein spoortjies om jou mond los wanneer jy te veel eet. Turksvy wat jou laat bontstaan en fyndoringbrand as jy te haastig is. Ai, ek verlang na Oupa se vrugte boord.
Teruggaan na ons huisie in van Riebeeck straat kan ek nie juis nie. Hulle het daardie boord omgestoot en vervang met dooie klip en baksteen huise. Alles vernietig wat Oupa so sorgvuldig met sy eie twee hande versorg, ge-ent en geplant het. Swartwang pruime, witperske wat bloei as jy hom oopsny, inlê appeltjies en maagappelkoos. My hart loop in spoortjies oor my wang.
Net daar besluit ek. Bucket list. Voor ek hierdie wêreld vir die paradys verruil, wil ek alles weer proe. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet hierdie lekkerte ervaar. Ek gaan soek. Soek totdat ek daardie einste vruggies weer in my hande hou. Iewers moet daar witperskes wegkruip. Iewers in Potch moet daar nog ‘n kristaldruif prieël groei. Net een keer weer wil ek die swartvlek van ‘n vet moerbei op my kleinkind se gesiggie sien blom. Wil ek die lekkerte van regte egte vrugte deel.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek