Vriende Goud 724 woorde
Vriende
My eerste dag by die skool. Die keer aan die ander kant van die lessenaar. Ek laat my oë stadig oor elkeen van die groepies geselsende dames gaan. Nie een doen eens die moeite om te kom groet nie. Dit pas my. Ek kry die kans om elkeen van hule afsonderlik te oordeel. Die kaf van die koring te skei. Vals vriendinne wat jou parasieties leegsuig tot daar net ‘n leë dop agterbly. Ek het al genoeg seergekry. Al geleer dat jy in ‘n hysbak agter staan sodat jy die dolk sien kom.
Pouse kan nie gou genoeg kom nie. Ek smag na ‘n koppie warm tee. Om in ‘n klas voor 50 kinders te staan is nie grappies nie. Hier is jou vriende die kinders. Jou vyande, jou kollegas wat maar al te vinnig ‘n storie aandra om in die hoof se goeie boekies te bly. Dis nou totdat Rien haar opwagting gemaak het. Haar man is pas oorlede. Sy is ‘n klein stukkende mensie wat eerder pouses in haar klaskamer spandeer. Ek draf trap op met ‘n stomende koppie tee.
Rien het my laat besef dat daar wel ware vriende is. Sy is ‘n ware omgee mens. In die oggende voor opening deel ek en sy ons pyne en skete. Ek kan my hart oopmaak teenoor haar. Sy oordeel nie. Sy probeer raad gee en troos wanneer ek ‘n pleister vir my siel nodig het. Sy praat nie uit nie. Sy weet onmiddelik wanneer daar fout is. Dan plak sy ‘n kein briefie teen my deur of stuur ‘n kind met troossjokolade. Sy deel my diepste geheime en hou dit in die kamers van haar hart. Ek vertrou haar met my lewe.
Rien het my weer in ware vriendskap laat glo. Sy het stadig maar seker my selfbeeld opgebou. My weer mens gemaak. Toe my man in die hospitaal beland was sy die een wat elke aand gebel het. Elke halfuur gevra het hoe dit gaan. Selfs toe hy ingestoot word teater toe was sy die een wat my in die nanag ure bygestaan het. Toe hy sy laaste asem uitblaas was sy daar. Sy het eetgoed aangedra en gehelp waar sy kon. Sy was soos ‘n skaduwee altyd naby my.
Somer word winter en ek vind nuwe liefde. Sy oordeel steeds nie. Sy verwelkom hom met ope arms. Sê reguit sy wens hy het ‘n broer gehad. In die personeelkamer kon jy die starende oë voel brand. Dan is sy die een wat hardop uiter “ek gun jou geluk my vriendin, laat die klomp snobs maar skinder.” Uit dankbaarheid vir haar egte vriendskap en omgee, sit ek elke oggend ‘n vars geplukte blom op haar stoel se sitvlak neer.
My oorlede man het altyd gesê vriende is soos klein hondjies. Hulle kef-kef en byt jou hakskene stukkend. Wanneer jy in die nood is sal jy wel uitvind wie jou regte vriende is. Sodra jy iets nodig het verdwyn hulle soos mis voor die son. Hou ‘n braai met dop en tjop, dan sien jy hoeveel vriende jy het. Hou ‘n bring en braai, dan maak hulle verskoning. Sannie se oor pyn en boetman moet die gras sny. Daardie werklike omgee mense wat jou bystaan deur al jou pyne, is ‘n luukse. Wanneer jy so iemand ontmoet moet jy klou aan daardie vriendskap.
So is dit ook met my en Rien. Die ja-woord word gevra en ek bedank uit my pos. Ons huil saam. Sy bly in Randfontein en ek trek Alberton toe. Tog bly ons vriendskap staande. Ons gesels nog gereeld en ruil nuus uit. Ek deel nog steeds my geheime met haar. Sy sal deel van my hart en lewe bly.
Een oggend vroeg vibreer my selfoon. Rien… “weet jy wat mis ek die meeste. Jou tuinblommetjie op my stoel.” Dit is hartswoorde. Nooit het ek kon dink dat daardie blommetjie soveel vir haar sou beteken nie. Dit was sommer net ‘n vervelige Afrikanertjie of Gipsie wat ek langs die pad gepluk het. Daardie onskuldige daad het soveel liefde vir ‘n ander beteken. What you give is what you receive. Nou stuur ek maar elke oggend ‘n kuberrosie vir haar. Wie weet hoeveel maande sy nog gespaar sal bly. Haar laaste dokters ondersoek was nie positief nie. Tot dan sal my blom sy pad na haar hart bly vind.
amanda DM
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek