Jongste aktiwiteit:

Gym stories
vir

Gym stories

Hoofstuk 1:

Met deurmekaar hare en slaap wat halsstarrig in die hoeke van my oë hang, betrag ek myself in die vollengte spieël, kort duskant kraanoopdraaityd in die stort. ‘n Heimwee kom vat my aan my hart en ek dink in prentjies. Ek hoor die rol van die film, die af-en-toe kraak van plastiek en ek sien die merkies op die 8mm film wat voor my afspeel……ek en my pa by Margate se strandmeer.

Atleties, aantreklik en die bultende spiere op sy byna vetlose maag, met ‘n James Dean kuif wat die aanslag van die seebries uitstaan. Ek voel sy groot growwe hand wat my driejarige een teer vashou en ek voel veilig…by hom en met my swemring stewig om my middel, perdjiekop en al. Die beelde vervaag en die realiteit grynslag vir my anderkant die spieël, want hier waar ek staan smaak dit vir my ek het toe nooit die ou swemringetjie afgehaal nie, maar ingesluk.

Ek knip my oë, en kyk weer maar ek misgis my nie. Dit doughnut wat ek laasweek geëet het, het weer sy oorspronklike vorm gekry en horisontaal lêplek bo-op my heupe kom kry. Ek voel nie meer veilig nie, en duik agter die stortgordyn in en soebat die lou water om die drogbeelde van flussies weg te was. Water steur haar nie aan my nie, en elke vee wat ek oor my swemringlyf gee, word ‘n aanklag in bloedige hoofletters. Ek droog my af en gaan soek ‘n wye hemp in my kas, wat vandag sal moet buite hang, as ek die gymnasium gaan besoek.

Ek teken op die gestippeldes met swier en determinasie, terwyl die reuk van warm chloor my neusgate brand en die gesug en gesteun van drawwende, trappende mede-swemring-wesens my ore vul. Ek verstaar my aan die tegnologie en probeer alles inneem terwyl die oorgretige verkoopsman my in hole invat waar mede-doughnut vretendes behaaglik in hitte op houtbankies sweet. Handdoekloses met vetvrye maagspiere paradeer tussen toesluitkaste rond, en trekkerbinneband-inslukkers krimp ineen op die liegende skaal in die hoek.

Ek het my nuutste Mr Price Sporthempie en -broekie van sagte wapperende materiaal aan, en beskou die knoppe op die hardloopmasjien. Ek mik vir die vetverbrand opsie en siende dat ek veldkind is, en ure en myle agter vee en wild aangedros het, bang ek nie om die vlak van intensiteit te beproef to naby sy uiterste nie. Ek druk die “Laat gaan” knoppie en met meelewing tel ek saam die sekondes af tot ek die beweging onder my voetsole gewaar. Dit gaan ‘n bietjie vinniger as wat ek ek aanvanklik beplan het, maar die jong dingetjie met die hoppende poniestert, en die sweterigheid wat behaaglik op haar kale, pompende skouers lê, maak dat ek geen verstellings durf doen nie. Sy loer dan ook so af en toe hier na my nommers se kant toe. Die gradiënt verander en ek verskuif onbeplan my blik van spartelendes in die swembad, na die staalkonstruksie wat die dak in plek hou. Ek sien hoe die skermpie my verlaat en ek skuif al hoe meer na die agterkant van die masjien toe. Ek mik om te gryp na die handvatsels voor my, toe die Afrika-vrou met die voeding vir ‘n woonbuurt, al armstappend na my kant toe loer. Ek maak myself
bymekaar en besef al wat vir my en my ego oorbly, is om hierdie gebulte te teenvoeter met ‘n draffie. Ek loer na die skerm, maar hy wys dit gaan nog ‘n wyle wees voor die volgende vallei en ek span elke krag, spier en stukkie wil in om oor hierdie heuwel te kan kom… (Word vervolg)

Hooftsuk 2:

Ek sien haar in haar mooiste rok, sy glimlag vir my en sy trek die sluise van my traankliere saggies oop. Sy haak gemoedelik by my in en fluister saggies : “Dad ek is baie lief vir jou.” Die kerk se deure swaai oop en die orrel bulder ‘n romantiese stuk uit een of ander nagtelike droom. Die vroue “oe” en “aa”, en snesies verhinder grimeerstrepe om te vorm. En dan sien ek hom staan, deftig uitgevat in ‘n pak klere wat glad nie by my gevoel vir hom pas nie. Hy staan die baadjie netjies vol, skouers en bo-arms beur teen die materiaal, die hemp wys duidelik die goed gevormde lyne van sy borskas en die gordel om sy heupe kleef soos ‘n handskoen aan sy smal midderif vas. Hy kyk na haar, en dan na my…..en dan greinslag hy terwyl hy my op en af betrag. Sy blik huiwer ‘n paar oomblikke op die swemtjoepie wat ek met ‘n onderbaadjie probeer wegsteek het. Sy glimlag verbreed en dan koggel hy my met sy oë as hy weer na haar kyk.
O vaderlandsliefde! Amper kletter ek van die opdraende masjien af. Ek gryp na die handvatsels om my balans te hou, en ek is terug in die realiteit. Ek verbeel my Mama Afrika greinslag ook vir my onbeholpenheid, maar ek steur my nie meer aan haar nie. Op hierdie masjien sal ek bly tot die donkies huistoe kom of die perde horings kry. My dogter is nou eers in gr 12, en maar nog net 18 jaartjies oud, maar vandag sweer ek, as sy die dag trou, sal geen jafel vir my op en af kyk en greinslag nie. Ek kry my gedagtes bymekaar net toe die masjien sy eie kunsmatige afdraende vat, en ek bietjie makliker kan “treadmill”. Ek formuleer my besluit: Ek sal oefen tot ek omval, maar ek SAL beter as my skoonseun op sy troue lyk!!

Met die nuwe determinasie, voel die laaste 10 minute nie meer so lank nie. Ek dryf met my bene teen die opdraendes op, hou nie meer aan die handvatsels vas nie, kan selfs af en toe bietjie sport op die skerms kyk en die stortvloed van sweet van my wenkbrou wegvee.

My asem jaag meer as wat ek sou wou gehad het, of sou wou hê hoppende poniestert moet hoor, maar ek is klaar ge-20-minute-treadmill. Ek buk onseremonieël oor die waterfontein se tuitjie en druk die knop, maar die uitwaartse lug uit my longe, verhinder my om te sluk. Ek hergroepeer en kry darem ‘n paar slukke water in. Met wapperende kleertjies tree ek nader aan die los-gewigte-afdeling. Daar staan ‘n man met ‘n bolyf soos Atlas, en sy twee skouerknoppe maak aardbolletjies vanself. My mond wil half oophang, tot ek sien dat hy eerder sy bene kan gaan inruil vir tandestokkies as om te probeer staan. Onder sy kniebroek balanseer twee allermintige klein beentjies die yslike bolyf. Net daar besluit ek dat my lyfwys geensins beperk gaan word tot ‘n baadjie en ‘n hemp nie, my bene sal in my broek soos pilare in die godetempels lyk, as ek armgehaak saam met my dogter altaar toe stap.

Op die oomblik van my besluit, kreun ‘n kind met deurmekaar hare by my verby, eers die een knie grond toe, dan die ander een, en in sy jonkmansarms hang twee gewigte wat sy kneukels wit maak. Ek bekyk die spulletjie so, en besluit dis die oefening wat my bene soos terebinte van geregtigheid gaan laat lyk. Ek stap kordaat met sweetlappie oor die skouer, na die rak toe, en kies vir my ‘n paar gewigte wie se nommer min of meer by my ouderdom en my skaaltelling gaan pas. Voor my lê ‘n heerlike blou mat uitgestrek wat wag om geknie te word. Ek tree vorentoe, en laat sak die linkerknie sommer tot amper op die grond, ek het nie tyd vir speel hier nie! Die plan is om orent te kom, en weer die regterknie ‘n kans te gee, maar skielik is iets nie deel van die beplanning nie. Die beweging van sak en regopkom, is versteen in tyd en ewigheid. Dit voel of my boudspiere enige oomblik gaan wegbreek soos ‘n verskrikte brahmankoei, en op die bankie langsaan gaan sit. Ek probeer weer, maar dis asof my knieskyf ook wil koers kies weg na die waterfonteintjie toe. Ek probeer beelde van die grynslaggende skoonseun oproep as motivering, maar die enigste resultaat is die bewuswording van krampe in my wit kneukels.

Na ‘n vinnige opname van wie in my rigting kyk, laat val ek toe maar die twee 25kg gewigte en beur orent. Duidelik was my selfvertroue groter as my krag. Ek gaan bêre hulle toe maar, en val vir twee gewiggies wat heelwat kleiner is. Die eerste tien treë gaan aansienlik maklik, totdat die instrukteur hier langs my praat, en begin raad gee. Ek doen drie stelle van 12 passies per been, en net voor ek finaal my balans verloor en kop eerste in die gewigte duik, buk sy af en neem die twee liggewiggies uit my gewitte kneukels. Ek kom orent en wonder bo wonder, staan ek regop en ons beweeg aan na die beendrukmasjien.

Al wat ek kan sê is dat ek groter moeilikheid gehad het om verby die swemtjoepie asem te haal, as wat dit was om die gewigte met my bene te lig. Vir die wat nie weet nie, jy lê half skuins op jou rug, en bene in die lug gaan haal jy die gewigte met jou voetsole van die rak af, wat gemonteer is op ‘n plaat. Dan laat sak jy jou bobene tot op die borskas en jy druk weer die gewigte terug na hulle blyplek. Dis dan nou juis met die afkomslag wat my swemringetjie opblaas soos ‘n sirkustent hier tussen bobeen en borskas. (Word vervolg).

Hoofstuk 3:

Die gevoel wat ‘n mens kry as die wekker om 6h00 afgaan, en jy weet jy kan waarde toevoeg aan jou lewe, is een waarvan ek baie hou. En soos die wekker haar deuntjie kerm maak ek my oë stadig oop en dit dring deur tot my: Die gym roep my!

Ek hoor die voëls baljaar by my kamervenster, en ‘n skelm windjie fluit saggies om die hoeke van die voorstoep met sy uitbundige gasvry-trappe. So met die afgooi van die duvet, besef ek dit eers: Daar’s ‘n ander man saam met my in die bed. Ek sien nie sy kop nie, maar sy bene lê verseker waar myne gisteraand nog was. Ek skrik en wil weghardloop, maar dit smaak my hy lê my van die heupe af vas. Ek voel, en die vel voel soos myne, selfs die moesie op die bo-been is ook daar, maar binnekant voel ek niks. Tussen die skok- en ontnugteringsgolwe deur begin my brein stelselmatig die impulse registreer. Ek be-opdrag die ander man se bene om van die bed af te swaai en hulle luister vir my. Het jy al die deurpriemende pyn van ‘n skeelhoofpyn vanuit jou bene gevoel? Ek dog die trane was my skoon van die bed af. Liewe leser, laat ek jou vertel, dis ‘n ander pyn as ‘n latswaai sessie in die hoof se kantoor. Dis ‘n morele, anti-sosiale, wil-nie-meer-leef-pyn.

Ek kry nie opgestaan nie, want my bene wil nie, en aan die anderkant wil my boude ook nie meer sit nie. Al die trots wat ek opgebou en gekoester het, omdat ek so gemaklik my kuite kon oefen op die “Calfraise” masjien, verteer in een oomblik in die poel van brandende pyn. Ek kry nie platvoet getrap nie, dan skrou my kuite ten hemele. En my boudspiere vreet in my heupbene in. Ek staan, ek (probeer) strek, maar geen genade onbeskryflik groot word aan my en my lyf bewys nie. Ek maak dit op my toonpunte, tot in die badkamer, om myself te bejammer in die spieël. Toe hoor en voel ek haar:….. Moeder Natuur roep in geen onduidelike terme in haar nommer twee stem.

Met die hulp van die handdoekreëling skuifel ek so voel-voel na die wit troon met sy gapende opening. En dit tref my hierdie kontrepsie kom net tot by my knieë, ek sal moet neerdaal na sy vlak toe. Ek loer oor my skouer na die medisynekas en soek vir iets wat die Moeder se roepstem sal stilmaak vir ‘n dag of twee, maar helaas, Disprin en Brooklax sal dit nie hierdie keer doen nie. So kerm en kreun ek op en af die troon…..die tyd stap aan. “Kan Oom môre so 7h00 hier wees, dan help ek Oom so bietjie met die ander spiergroepe” het sy op haar heel onskuldigtse glimlag vir my gesê. Ag en sy is so mooi, dat ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd nie ontplof het oor die aanspreekvorm nie. Nou, hier waar ek staan en pyn, verbeel ek my ek het haar ‘n Sneeuwitjieheks-lag gesien lag in die spoelende water van die troon. Of was dit eerder die Heks-van-Endor-bakkies van my skoonseun-wannabe wat ek gesien het? Kan nie onthou nie, maar ek wil weet: Hoekom staan ek hier in pyn? Hoekom lê ek nie in my bed en teks ‘n verskoning van gevorde spierverstuwwing aan my vennoot nie. Nou staan ek hier, wapperende lappies in die hand, en ek sien uit om haar te sien!

Broeklappie vereis laag buk en rek en strek, en dit kreun en steun vir ‘n vale. Net voor ek kop eerste in die bad beland is oefenbroek aan en ek waag om skoene en kouse by die uitrusting te voeg. Het ek al genoem dat die sirkustent ook halfpad opblaas deesdae as ek laasgenoemde kledingstukke wil aantrek? Maar tussen asemsoek en pynvlakke reduseer, kom ek orent, en bestaar my ontblote swemringetjie, deurmekaar hare en vol geslaapde ogies. En toe kry ek vir myself bitterlik jammer. Stap raak al klein bietjie beter soos die spiere warmer word, maar niks kon my voorberei vir die gasvrye trappies by my voordeur nie. Ek mik soos ‘n trapsuutjies op ‘n warm teerpad, en net voordat ek my voet neersit op die volgende trappie, dan skiet die pynvlakke ten hemele, en probeer ek maar weer die ander been. Die woorde wat tussen my knersende tande ontglip het, is nie vir ‘n kleuterskoolkonsert bedoel nie. Ek draai dwars en hou met altwee hande aan die trapmuur vas, maar selfs dit word ‘n dissektering van my geduld en moed. Tweede laaste trap van onder af, gewaar ek mos die swart sak met my skoon klere, handdoekie en skeergoed aan die bo-punt van die trap. Toe praat ek wyd en ver met myself.

Uitklim by die gym was ‘n storie van ‘n ander aard. Ek verwens my bankbestuurder, prokureur, huisdokter, sielkundige en die dominees van die groot kerk onder in die straat net daar en dan, omdat hulle meer as ek verdien en sulke lekker, hoë karre kan bekostig en ek nie. Om uit my sedanmotor se gemaklike, laeprofiel sitplek uit te kom, sou my maklik ‘n hedendaagse danskompetisie laat wen het, en niemand sou eers ‘n wenkbrou gelig het as ek op die gestremde parkering sou staan nie. Maar ek is uit, kar gesluit, sak oor die skouer en daar trek ek.

Weereens glimlag sy vir my sag en liefdevol, en hoe meer ek probeer regopstaan sonder om die vuurvlamme in my spiere te reflekteer, hoe meer glimlag sy vir my. En dan sien ek hom in haar oë – snyerspak, gordel, blink skoene, lapelruiker en hy lag en greinslag en hy skater. Ek volg haar soos ‘n lam ter slagting na die opdraende-hardloop-masjien, ek baklei myself tot bo, en met die laaste klanke van Trumpet’s Voluntary wat wegsterf in my ore, druk sy die knoppies heelwat sagter as ek die vorige dag. (Word nie vervolg nie) – Sus moet nog eers skool klaarmaak.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed