Jan en die seil regatta
‘n Mens sou dink dat ‘n ou van Jan se portuur lomp en stadig is, maar dis nie waar nie. Jan is ‘n ratse, vinnige man wat enige ou sal aanvat, en jare terug toe ek hom leer ken het was hy ‘n aktiewe sportman. Jan was ook nie altyd so groot soos hy nou is nie. Desjare het Jan aktief aan sport deelgeneem, en ook nie sommer so nie, hy was vasberade en gedissiplineerd. Jan was die voorsitter van die boksverenigning, ‘n afrigter by die gimnasium, ‘n tennisspeler van formaat, en hy het ook seilbote geseil en aan regattas deelgeneem. Eintlik was die seilbote Jan se gunsteling en hy het provinsiale kleure in seiljagvaart gehad.
Miskien moet ek nou eers hier verduidelik dat dit nie seilbote soos die in die hawe is waarvan ons hier praat nie. Nee, ons praat van “Sonnet” en “Tempo” en die tipe ding. Hulle is klein, baie klein, tweeman-bootjies wat mens op ‘n dam of ‘n vlei seil. Die kuns is in die behendigheid van die manne, om daai klein bootjie net so te kry dat hy die wind net reg vang en optimum spoed kan bereik.
Jan en sy spanmaat, ene Pieter Poggenpoel, (ek dink dit was sy naam) het elke naweek saam geseil. Dis nou in die jare toe Jan in die Kaap gewoon het. Daar naby Muizenberg is ‘n vlei en die manne het naweek op naweek daar gaan uithang. Ek self het partymaal saamgegaan, die vuur aangesteek, die vleis gebraai, die manne met energiedrankies en dies meer gepamperlang en die sonskyn geniet. Jan en Pieter was bobaas seilers gewees. Die Tempo waarmee hulle geseil het was ‘n pragtige hout boot met deursigtige vernis afgewerk en blinkgevryf. Die Seile was spierwit met ‘n groot rooi nommer 585 op die hoofseil. Pieter moes die lyn bepaal en die hoofseil se hoek ten opsigte van die wind beheer. Jan se werk was om die voorseil te beheer en ook as teengewig vir die boot as dinge te ver begin kantel teen die wind. Hy moes ook die bolseil beheer, maar die word net gebruik as hulle wind af seil.
So gaan seil Jan en Pieter elke naweek, en skryf in vir elke moontlik regatta en dinge vorder, en die manne raak goed en klim die punteleer en raak bekend as bekwame seilmanne. Eers hoor ek hulle het deurgedring tot klubkampioenskappe en toe hou ons ‘n braai, sommer daar langs die water, en toe is dit streekskampioenskappe. Hulle is uitgevat in brille met rekke en tekkies met gate en handskoene sonder vingers en helderrooi en oranje reddingsbaadjies, al te kleurvol en mooi in die Kaapse suidooster. Die bote lê skuins en die maste buig onder die spanning, maar Pieter stuur hom soos ‘n meester en Jan hang aan ‘n kabel om te verhoed dat hulle omslaan. Die aand word die provinsiale spanne vir elke klas aangekondig en hulle is toe een van die vier spanne wat die Westelike Provinsie gaan verteenwoordig in hul klas. ‘n Maand later suiker ons toe almal op na Midmar in Natal, want dis waar die Kampioenskappe gaan plaasvind oor die tydperk van vier dae.
Vir die eerste drie dae is Jan en Pieter bo aan die puntelys en ons weet dis nou ‘n uitgemaakte saak dat hulle die regatta gaan wen en dus automaties hul springbokkleure sal kry. Ons is almal baie opgewonde en ek kan die spanning en opwinding in my vriend se oë sien.
Die oggend van die vierde dag breek aan, en die manne is oorgehaal en gereed. Die toeter blaas en die bolseile span en dit werskaf vir ‘n vale, en daar trek hulle, om die eerste boei en terrug en weer ‘n keer. Net toe dinge nou na ‘n einde se kant toe staan gaan lê die wind. Hy gaan lê soos ‘n lui hond en daar is nie eers ‘n ribbel op die water nie. Almal wag gespanne, mense kyk na die wolke, soek weervoorspellings op satelietfone, maar die wind is weg. Daar is ongeveer een honderd meter oor, Pieter en Jan is voor, maar almal se seile hang pap en almal dryf. Die spanning is ondraaglik.
Skielik is daar ‘n geweldige ontploffing en almal kyk hoe Pieter en Jan se bolseil lig en die boot vorentoe beur. Weer ontplof dit en weer beur die boot vorentoe, nader aan die wenstreep. Ek gryp ‘n verkyker om te sien wat aangaan. Teen die mas sien ek hoe Jan gebukkend staan en bietjie “force” toepas, ek sien hoe Pieter die seiltoue intrek en toe sien ek hoe die bolseil weer ‘n keer lig en oomblikke later kom die gedonder oor die water aangerol na Jan laat loop het.
“Wat gaan aan, hoe seil daai ouens?” vra iemand hier uit die skare om my.
“Dis Pieter en Jan,” antwoord ek vinnig, “Hulle gaan wen! WeePee jou lekker ding!” en ek gooi my arms in die lug. “Janee mense, my vriend Jan, hy kan nie net seil soos ‘n champ nie, maar nou poep hy vir die WP!” roep ek hard uit en glimlag breed soos mense lag en handeklap vir my vriend Jan, kampioen op so baie vlakke.
© Grootvissie
Augustus 2017