Bibi Slippers
Op die swartbord
Na Anne Sexton
’n Meisie wat skryf voel te veel,
vol voorgevoelens, so ’n gesukkel.
Asof siklusse en elandbiltong en hekel
haar nie kan volmaak nie; asof baarmoeders, brooddeeg
en doeke nooit genoeg was nie.
Sy dink mos sy ken resepte vir sterre.
’n Skrywer is eintlik ’n celebrity sjef en
Boklam, ek is daardie vrou.
’n Man wat skryf weet te veel,
te veel toorkuns en toertjies.
Asof ereksies en koagulante en polonie
hom nie versadig nie; asof masjiene en galjoene
en oorpluisies nooit genoeg was nie.
Hy maak boomgom van tweedehandse meubelolie.
’n Skrywer is eintlik ’n skelm en
Skaapnek, jy is daardie ou.
Geen ooghare vir onsself nie,
ons haat selfs ons hoede en skoene,
maar ons is vasgekoek in mekaar, hoe kosbaar.
Ons hande is ligblou en dierbaar.
Ons vier oë is vol verskriklike gebare.
Asof een van ons nooit genoeg was nie …
Ons sal trou en alle kinders sal voor ons vlug.
Daar is nog te min monde om te kou aan die vreemde
oorvloed van ons gebak-en-brou.
Bibi Slippers
*Hierdie gedig is uit Bibi Slippers se debuutbundel wat in November 2016 by Tafelberg verskyn, en word met vergunning van die uitgewer geplaas.
Hudson
Vroegoggend laat ek hierdie
fotostroom my vat, ry die wit
water van die beeld. Soveel
om te sien, soveel mense se
prente, soveel hashtags om
ons dae te reduseer tot
soeker-vriendelike terme en
soveel soekers wat wil sien
wat jy vir #ontbyt gehad het
en saam met wie jy #slaap.
X-Pro II
Die aand toe ek my eks
sien maar maak of ek
hom nie sien nie en besef
dit was altyd alles leeg en
hy is nie eintlik só mooi nie
neem ek graffiti in ’n donker
steeg af wat sê “WAKE UP
TO THE SUN.” Sommer so,
sonder ’n flash.
Sierra
Dieselfde aand sien ek ook
die mooi ou van wie ek hou,
maar maak of ek hom nie
sien nie. Dis moeilik want
hy’t pienk tekkies aan en
almal kyk vir hom, maar ek
slaan my oë af na my skerm,
druk knoppies, lyk besig,
neem ’n foto van my voete.
Amaro
Ek’s die tipe vrou
wat slegs met een hand
aan my fiets se stuur vashou.
Die ander klou aan my foon
en die oomblikke wat so vliet.
Minute, kilometers, oggende –
alles waai soos hare agter my uit
terwyl ek trap en aan jou kuite dink.
Ek moet eenvoudig áls onthou.
My “Sunscreen song” vir skrywers
my sunscreen song om jou deur die dal van dodelike skrywersblok en skrywerlike doodsondes te dra:
Dames en here, maar veral skrywers van die klas van 2012, gebruik woordeboeke.
As ek vir julle net één brokkie raad kan gee om aan te klou, dan is woordeboeke dit.
Die langtermynvoordele van woordeboeke word bevestig deur literatore en ander kokkedore, terwyl die res van my raad geen meer betroubare basis het as my eie onvasvoetige omswerwinge nie. Ek sal hierdie raad nou uitdeel.
Geniet die gevoel van onskuldige genoegdoening wat jy sal ervaar as jou eerste skryfsels “klaar” is. Of toemaar wat. Jy sal nie daardie gevoel van onskuldige genoegdoening verstaan voordat dit te laat is, en jy nooit weer sal dink dat enige skryfsel “klaar” is nie. Maar glo my: 20 jaar van nou af sal jy terugkyk na daardie skryfsels en met ’n begrip wat jy nie nou sal kan voorsien nie, besef hoe vrot daai pennevruggies werklik was.
Tog is jy nie so dom as wat jy dink nie.
Moet jou nie bekommer oor waar jou volgende idee vandaan sal kom nie. Of bekommer jou, maar besef ook dat bekommernis omtrent so effektief sal wees soos om ’n woordsom op te los deur na ’n windpomp te staar.
Die grootste probleme met jou boek of gedig gaan waarskynlik dinge wees wat nooit eers by jou bekommerde brein opgekom het nie, die soort ding wat skielik op bladsy 792 kop uitsteek terwyl jy jou dertiende koppie groen tee vir die dag drink.
Gebruik elke dag minstens een woord waarvan jy die betekenis moes naslaan.
Sing.
Moenie roekeloos met ander se skryfwerk omgaan nie, en moenie mense toelaat om roekeloos te wees met joune nie.
Flos.
Moenie jou tyd met jaloesie mors nie. Somtyds skryf jy 1 000 woorde op ’n dag, op ander dae net drie. Ons kan nie almal Antjie Krog wees nie. Die wedloop is lank, en oplaas is sy jou enigste teenstander.
Onthou komplimente wat jy kry, maar moet ook nie die kritiek vergeet nie. Probeer verbeter sonder om jouself en jou stem te verloor. As jy kan uitwerk hoe om dit reg te kry, sien ek jou by die oorhandiging van jou Hertzogprys.
Hou jou ou opstelle, maar gooi jou afkeurbriefies van uitgewers weg.
Strek. Nee regtig. Strek. Skrywers wat te lank stilsit en vergeet om op te staan en te oefen, ontwikkel probleme met hulle bene. Regtig. Strek.
Moenie skuldig voel as jy nie weet in watter genre jy tuishoort nie. Die mees interessante skrywers wat ek ken, weet teen bladsy 22 nog glad nie watter tipe boek hulle skryf nie. Party van die heel interessantste skrywers wat ek ken, werk dit nóóit uit nie.
Maak gereeld back-ups en laat jou printer dan en wan diens.
Koop ’n goeie kantoorstoel. Jy sal later dankbaar wees.
Miskien sal jy gepubliseer word, miskien sal jou boeke nooit die lig van ’n boekwinkel sien nie. Miskien sal jy pryse wen, miskien nie. Miskien sal jy mense in trane hê met jou aanvaardingstoespraak vir die Nobelprys vir letterkunde, of dalk sal lesers aanhou om vir jou hate mail te stuur oor die manier waarop die hoofkarakter in jou laaste boek dood is. Wat jy ook al doen, moet jouself nie te veel gelukwens nie en moet jouself ook nie te veel afkraak nie. Jou keuses is 50 persent toeval, en dit is waar vir almal. Behalwe mense wat “Choose-your-own-adventure”-boeke lees. En skryf.
Geniet die internet en gebruik dit op soveel maniere as wat moontlik is. Moenie bang wees om idees te steel nie, maar maak seker dat jy jou bronne aandui. Dit is die duurste les wat jy sal leer as jy vergeet.
Lees, al het jy nêrens om dit te doen behalwe in die badkamer nie.
Lees die voorleggingsriglyne, selfs as jy nie beplan om hulle te volg nie.
Moenie romanses lees nie. Dit sal jou net vies maak om te weet die skrywers maak meer geld as jy.
Leer ken jou literêre voorsate. Jy weet nooit watter lesse daar in Sewe dae by die Silbersteins opgesluit is nie. Wees gaaf met jou medeskrywers. Hulle is die enigste individue wat verstaan waardeur jy gaan, en waarskynlik die enigste mense wat jou boek gaan lees.
Verstaan dat gunsteling-boeke kom en gaan, behalwe vir die kosbare paartjies waaraan jy vir altyd moet vashou. Maak seker dat jy hulle gereeld weer lees, want hoe ouer jy word, hoe makliker sal jy vergeet wat dit in daardie boeke was wat jou in die eerste plek tot skryf gedryf het.
Woon minstens een maal in Johannesburg, maar trek voordat jy al jou beste idees in die verkeer verloor. Woon minstens een maal in Kaapstad, maar trek voordat jy vet word van al die gratis kos by boekbekendstellings.
Reis.
Aanvaar sekere onveranderlike waarhede, soos: Skryfwerk sál afgekeur word. Swakker boeke as joune sal uitgegee word. Jy sal ook oud word, en jou skryfwerk sal uit die mode gaan. En wanneer dit gebeur, sal jy fantaseer dat jou skryfwerk nooit afgekeur is nie, dat swak boeke nooit gepubliseer is nie, en dat skrywers hulle uitgewers respekteer het.
Respekteer jou uitgewers.
Moenie van enigiemand verwag om jou skryfwerk te lees as jy nie self wil lees nie. Miskien sal jy ’n best-seller skryf. Miskien sal jou gedigte vir skoolkinders voorgeskryf word. Maar jy weet nooit wanneer iemand die volgende 50 Shades of Grey skryf nie.
Moenie te veel aan die slot karring nie, of teen die tyd dat die boek by die uitgewer land, lees dit soos ’n begrafnisbrief.
Wees versigtig na wie se skryfraad jy luister, maar wees tog maar geduldig met dié wat raad verskaf. Raad is ’n vorm van nostalgie. Om dit uit te deel is ’n manier om jou swakste pogings uit die snippermandjie te verwyder, die spelfoute reg te maak, oor die clichés te tippex en dit dan op te dis vir meer as wat dit werd is.
Maar vertrou my oor die woordeboeke.
** Die “Sunscreen song” se woorde is oorspronklik deur die rubriekskrywer Mary Schmich geskryf en in die Chicago Tribune gepubliseer as “Wear Sunscreen”. Die teks is wyd op die internet versprei en verkeerdelik toegeskryf aan Kurt Vonnegut. Die liedjie is in 1999 deur Baz Luhrman opgeneem, met Schmich se toestemming. Sy ontvang tantieme. Bron: Wikipedia.
Bloukraanvoël
Met apologie aan Bukowski
daar’s ’n bloukraanvoël in my blindederm
wat nie wil weggaan nie. ek sal hom wys.
ek sal sê: kom uit daar, jy mag nie in my
nesmaak nie. ek sal hom uitskop voor hy
hom te diep inskrop, ek sal sy vere pluk
en van hom ’n verestoffer maak ek sal al
hierdie voorgevoelens daarmee wegvee.
ek weier om vir hom woonplek te gee.
ek sou al my blindederm kraanvoël en al
laat uithaal het as ek dit kon bekostig, as
my mediese fonds dit wou betaal maar
hierdie kondisie is nie op hulle boeke nie.
nou sit ek daarmee: ’n bloukraanvoël in my
blindederm en my goeie voornemens.
mix tape
1. Klou
Porcupine-ology. Antler-ology. Car-ology. Bus-ology. Train-ology. Plane-ology. Mama-ology. Papa-ology. You-ology. Me-ology. Love-ology. Kiss-ology. Stay-ology. Please-ology. Let’s study class, let’s study class. Sit down.– Regina Spektor
ek wil my hande om
’n kaktus of turksvy
vou ’n anemoon in my
mond hou ek wil jou
ek wil jou
ek wil in ’n doringboom
slaap met ’n ystervark
in my arms ek wil leer
hoe om jou hoe om jou
ek wil ’n professor word
in die wetenskap van stekels
ek wil jou doringappel
doringpeer stadig maar
seker afstomp seekastaiing
stekelrog dennebos
ek wil jou ek wil jou
bot hê en onskerp
armadil-akkedis
meidoring lawanaald
as dit onmoontlik is
sal ek wil sag raak
myself spons maak
sodat ek aan jou
aan jou kan klou
sonder gevaar
van ’n steekwond
deur die long
Die eerste afvallige
op die eerste vrydagaand
was daar ’n moerse office
party in die hemel. niemand
kan meer veel daarvan onthou
nie maar almal weet dat daar tequila
was en dat iemand met iemand
seks gehad het in ’n besemkas
daar is baie kak gepraat
om bakke vol kaaskrulle, die raad-
saal was ’n dansvloer en die CFO
het ’n rep gemoer. die sekretaresse
het doosdronk op ’n tafel uitgepass
en die bure het die cops gebel
om te kla oor die geraas
tot vandag toe wil niemand erken
dat dit hy was wat die knoppie gedruk het
toe god kaalgat en vrot van die drank
op die fotostaatmasjien gaan sit het nie
Lucifer is egter sonder uitbetaling
afgedank
Ondersoek na die aard van obsessie met spesifieke
verwysing na die polkakol-kunswerke van Yayoi Kusama
bespikkelgetik is Yayoi Kusama
van lotjie gestippel en kolleversot
haar kamer haar klere haar tafel
haar lot is alles geheel bepolkagedot
kolvolop kolheelwat kolveel kolvol
en nimmerpunt keelvol of gatvol gekol
die son is ’n kol en so ook die maan
kolgek haar gedagtes kolsinnig haar waan
soms polkagefolter soms polkabedroef
nou polkabefoeterd dan polkabeproef
vermaard is Kusama weens kolkêns praktyk
haar roem is kolmenig en kolligverryk
en kolwerk haar roeping al werk sy haar siek
haar kolkuns al keer teen haar polkapaniek
polkamoeflering in polkakollig
eers polkaberoemd toe polkaberug
en wankelend-wysie-af, sonderling, laf
’n polkadel dans op die rant van die graf
vetroostend en nutteloos heel sonder sin
die polkapatrollie kol ewigheid in
haar trippe haar huile haar grootste
genot is alles vir altyd bepolkagedot
bespikkelgetik is Yayoi Kusama
van lotjie gestippel en kolleverset
uit “Tweede lewe: Outobiografie”
i.
Begin mens by geboorte of
moet jy verder agteruitloop
vir die oorsprong van jou storie?
Agteruit tot in Bloemfontein
en verder tot in Oktober tot in
die lavalampagtige baarmoeder
dan dieper in en verder terug
na die kartondoos voor my ouers
se bed waarin Ben (die mak lam) slaap.
Agteruit van die kansel af by die kerk-
deur uit tot by hul eerste uitgeruilde woorde
in twee rigtings agteruit na onderskeie
eerste asems na twee baarmoeders
verder eksponensieel agteruit
tot in die ewigheid?
Of begin mens eenvoudig
by ’n fotostaat
van ’n geboortesertifikaat?
emoji in die skriptorium
daar is niks heilig in my nie, tog voel
ek in my dronkenskap vandag die ene
monnik: my kamer ’n klooster, jou stilte
’n klok wat al om die uur beier.
dis tyd vir introspeksie en meditasie
stip studie van ons kommunikasie:
’n emoji-dialoog meer ondeursigtig
en dubbelsinnig as die boek Obadja.
ek ontsyfer ons versierde WhatsApp-teks
soos ’n raaisel, analiseer my: “resiesperd
heuningpot,” en jou antwoord: “dolfyn pyn-
appel. dolfyn. dolfyn dolfyn. pynappel.”
oningeligtes sal aanneem dis verspot
dié piktogramme van riete, ballonne
en roomkleurige ramme, maar ons maak
op die vloeibaarheid staat om gelyktydig
mét en verby mekaar te praat. in emoji
kan ons dinge sê sonder om onsself
tussen klipmure van sin vas te keer.
dis nou dinge soos “hart appel” wat miskien
mag suggereer dat ek iets voel in die nadraai
van ons onverwags sondeval. of nie. “skaap
weerlig” kan dalk iets impliseer oor sagtheid,
onmiddellikheid, intensiteit of ewigheid, maar
andersins verwys dit dalk net na jou aandete
en die onweer wat op pad is. “sneeuhaas wit-
rot gedagtewolk.” “hopie boeke. poedel wurm”
“glimag.” “golf.” ek skryf elkeen sorgsaam neer
omdat die doemprofete ’n digitale donker-eeu
voorspel waarin ons data ondeurdringbaar gaan word.
dis vir die nageslag dat ek ons gedagtewisseling
transkribeer: “opblaasvis.” “haasgesig. stortkop.”
“peer.” wanneer die sagteware soveel verouder
het dat ons fone artefakte word en ons voice notes
onhoorbaar, sal iemand darem nog hierdie notas
kan lees en probeer interpreteer.
wat van ons sal oorbly is “sestig snye pizza.”
“sonbesie. shiba inu.” “nukkerige panda-gesig.”
“bisep.” “suggestiewe eiervrug.”
15 instagram-gedigte
Normal
ek wil ’n ander lewe hê, een wat meer
soos Instagram is: volkleur, vierkantig
geraam, geredigeer. gemaklik-vervelig
en ergonomies maar verslawend.
ek soek ’n lo-fi lewe sonder voor of ná,
verlang net na die vrede van dié ingelegde nou
saam met jou, hoe lank kan jy jou pose
bly hou?
Mayfair
ek’s die tipe vrou wat slegs
met een hand aan die stuur
vashou wanneer ek fietsend
na ’n oomblik jaag, die ander
klou aan my foon, heeltyd in
gereedheid tog bewus van wat
ek altyd alreeds mis terwyl ek
trappend aan jou kuite dink,
die nagedagte van my hare agterna
Valencia
julle twee van wie ek die regte
name nie ken nie wat so sorgeloos
in mekaar se lense lag en vakansie
hou in Spanje en altyd fiets
reis, ek volg julle oral ek voer
myself julle foto’s. al is dit winter
hier en donker, is my oggende
vol mango’s
Earlybird
oogkontak is die ergste
as jy eerste opdaag, niemand
ken nie en vasgekeer voel tussen
vreemdelinge. moenie vlug nie,
help is here: improviseer deur dié
lifehack te probeer: lyk besig met
jou oë na jou skerm afgeslaan,
vroetel met jou selfoon se toetse,
neem ’n foto van jou voete
Lark
die beste feed op Instagram is
@HotDudesWithKittens en ja,
dis aantreklike kerels en katjies –
IN DIESELFDE FOTO. genius!
dis als wat mens in die lewe
begeer in die palm van jou hand,
minus die admin van ’n emosionele
band of stink katsand. net jammer
dat data so donners duur is
Toaster
Toaster is ’n tech-entrepreneur se troeteldier,
’n labradoodle na wie die filter vernoem is.
meer as 5 000 mense volg vir Toaster op Twitter,
hy tweet meesal “w00f”. soms wonder
ek wat fout is met die wêreld, soms
toast ek my foto’s en hardloop stertswaaiend
en kwylend die trop agterna
Nashville
sien was glo in 1928 toe Buddy die gidshond
in Nashville arriveer, die eerste leihond in Amerika
Buddy lei die visionére blinde Frank Morris rond
en maak hom vry, veral van die lui kêrel
wav vroeër sy oë was en so vinnig verveeld
geraak het met die tweedehandse kykery
1977
dubbele moordenaar Gary Gilmore se korneas
is ná sy teregstelling op twee ontvangers oorgeplant
sou hulle nog sien na byna veertig jaar? flits daar
ooit voor die oë ’n onbekende beeld verby, ’n bord
vol steak en aartappels, onaangeraak, ingebrand
op DNS, dié polaroid-skoot van ’n laaste maal
Moon
ek geniet die oomblik van on-
sekerheid wanneer ek na ’n foto
op Instagram kyk en nie weet of
dit Ruby Rose of Bieber is
wat pose nie.
ek hou van hulle
vloeibaarheid:
ou na vrou na man na maan na an-
drogene eendersheid: ’n genderlose
dubbeldosis James-Dean-Jolie-geit
Brannan
selfs ’n begaafde spioen en spoorsnyer
soos ek kan nie uitmaak waar jy vandag
was nie. jy het die plek opsetlik só geraam
dat dit onmoontlik is om te eien. ek bly uit-
gesluit en staan alleen, staar onbegrypend
na die woord bo die deur wat as enkele
leidraad dien: BOYS
Willow
op ’n lekker dag vir boomklim
besoek jy ’n bos maar pleks
van klouter pluk jy jou iPhone uit,
los ’n klankspoor met die sluiter
tot by die plek waar ’n stomp
jou staptog stuit. wat as
daar niemand was om die boom
wat omgeval het af te neem nie?
Walden
ek het na die woud gegaan want ek wou
met opset lewe soon Thoreau,
aan’t uitkyk vir dinge wat gesien kan word,
en veral ook afgeneem. ek het teruggekom
want die selfoonsein was up to shit en
daar was nie wi-fi nie en ek het begin
doodgaan van FOMO
Hefe
ken jy die see, meneer, of net
die mak blokkies kleur wat
daarvoor instaan hier? ken jy
die koue of net die foto’s van
water in die diepste bloue wat
oor die skerm stroom? ken jy
die donker en sy vriend die
dood? of net hierdie kiekies
van ’n kerkhofmuur?
Rise
moenie slaap nie, kyk! drie vaal swerms
flikker in oggendlig verby die venster, agter
die gordyne duif hulle saam: ’n af-
gekapte vlerk wat steeds gevlieg kry,
ontsnapte kettingbende musieknote.
moenie dink nie, druk! só fotografeer jy
die vlug van voëls wat gesinchroniseerd versplinter,
die laaste fladdering
van ’n versamelnaam
Inkwell
ek weier om te sukkel met woorde
as ek op Instagram kan poetry maak
met ’n swipe, ’n tap, en ’n vintage filter.
my foto van Juan se voet in ’n Converse
high top is een enkel poësie,
bitch. om te suffer vir jou art is old hat.
#aintnobodygottimeforthat