Jongste aktiwiteit:

Hennie Aucamp
vir

Hennie Aucamp

Drieankerbaai

‘n Koue wind het opgesteek
en vul die baai met mis
tot dit jou lyk of meeue
bloot dobbervlokke is.

Was hulle die aand teenwoordig,
kop onder vlerk gesteek,
toe Ingrid deur die wiere beur
en haar as offer breek?

Hoe kon hul weet, met oë toe,
skuimvlokke wat ook meeue is?
Die see stoot slissend oor die sand:
‘n Selfmoord is skoon uitgewis.

Die Groot Slang
(‘n herinnering aan Boesmankuns)

Die Hol Krans
op die plaas Leeuwkraal
was my eerste galery.
Dit het my geleer
wat palimpses beteken
en polichromeer en superponeer.

Onder oorhange geskilder
frenetiese mensies wat jag en dans
en ook veg
teen lang swart figure
met puntore
en bebloede asgaaie.

Daarnaas
en soms daaronder
die groot stil diere
die seekoei die eland die leeu
baksteenrooi pruimpers-en-wit okergeel

Eenkant
weggesteek en nog skaars verken
in wynrooi
op ‘n swart oppervlakte
die kluis van die mitiese Slang.

Wat was dit nou weer met dié oortjie-slang?
Soos ‘n vlam die oor
geplak teen sy stomp stoets kop
en die staan regop gelig
om beter te kan sien
sy domein te oorskou.

‘n Kruis op sy stert
om sy mag te bevestig
aan bok en mens
gekrom in aanbidding.

Maar algar
mens bok Slang
luister bevange
na die veraf geruis
van ‘n ster
van die maan
van die oudste planeet.

In die Hol Krans
van my jeug
tril luider die stilte
soos om my versamel
die Eindelike Kilte.

Die onvoltooide selfportret (1659?)

Die grondering is gedoen met bloederige rooie,
en uit dié verf rys reeds ’n skimportret,
nóg verf moes kom: ná dik impasto, dunner lagies:
wat het voltooiing dan belet?

Dié studie was van meet af anders:
klein van formaat; op hout geskilder, nie op doek.
Het Rembrandt teruggeskrik toe hy homself
in eie plasma wou gaan soek?

Rembrandt-selfportret, 1669
in die Mauritshuis, Den Haag

Onder ’n glinsterende hoofdoek, gedra soos ’n baret,
is hy oud en afgeskilferd en na binne gerig,
ingeraam deur grys lokke en ’n wit halsdoek;
en van links, onnabootsbaar, val die Rembrandt-lig.

Hy het gemoedsbewegings deurgrond, ook sy eie,
en die volle omvang van menswees gedek,
maar hier, in sy sterfjaar, skyn hy te vra:
“Wie, deur ondervinding verslyt, wie is ek?”

Die Verlore Seun: Rembrandt (1662)1
in die Hermitage, Sint Petersburg

Rembrandt het telkens teruggekeer
na Die Gelykenis van die Verlore Seun;
op pen, buryn en kwas gesteun,
’n stelling soms met wit gehoog of gelaveer,
sy toets afwisselend lig en swaar,
want dís hoe hy ’n teks vertaal
uit woorde na ’n beeldverhaal,
een wat hy sterk as wáár ervaar.

Soms is hy Seun, en somtyds Vader,
of beide, soos op die doek in Petersburg;
maar hier trek Seun en Vader terug:
omhelsing bring hul geensins nader.

Elk kyk vermoeid sy dieptes in:
te laat, te laat, vir weerbegin

Rembrandt-ets

Iets groots kan groei uit eers ’n skets –
die meester het ’n skerp buryn
wat dieper dring as plaat of pyn:
drie Kruise teen die Lig geëts.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed