SV Peterson
Die vreemde
Vertroue was trots en sterk op sy gelaat,
Sy treë, gespierd en vry: En toe hy nader kom, toe wou ek praat,
want honger het ek hom beny! Maar toe sy oë op my klere val,
die flenters en die vuil
aanskou, — toe weet ek: dit is helgroen gal
wat in sy oë skuil.
Opeens was ek nie honger meer, en weg
die branding van my dors; —
Ek vloek hom, — hy met sy geboortereg:
Sy blonde haar; sy breë bors!
En toe die aandwind opstaan, gloei die as
van bitter opstand weer;
Maar in die leegte, waar my honger was, —
daar voel dit rou en seer…
Bede
Laat dit dan wees, o Heer, dat ek
‘n disend jaar gelee teen God
en mens gesondig het . . .
dan weet ek nou, op U bevel
is hierdie skurfte blootgestel:
In watter dieptes, stankbesmet
en met verrotte slym besmeer
het ek nie self daar versleg,
dat self U, Heer, van my moes wyk . . .
my nie wou reinig van die slyk?
Laat my dan soos Lasarus
tevrede wees, met streling van
elk honger honde-tong;
dan weet ek tog dis U besluit,
die vloekstraf van ‘n donker huid.
As dit U straf is, dat ek so
Moet ly, dan wil ek swyg, o Heer;
Leer my berusting dan;
Laat my dan maar my kruisweg gaan,
Tot waar ek voor die donker staan . . .
Roepende stemme
“Die beker loop oor, Heer,
hoe lank nog, hoe lank?”
Alle Hemele bly stom
soos ‘n rots met geen klank
“Hoe dof word die oë,
die lig is aan sterwe . . . !”
En tog word die daglig
nie daarom bederwe.
“Visioene van rose
verdor soos die blare . . .?”
Ag klein die verlies,
gemeet met die jare.
“Die stromende trane
getuie van wee!”
‘n Klein bietjie sout
is nog lank nie die see.
“Vervloek so ‘n setel
van dwingelandy!”
Wat weet dan ‘n mensekind
daarvan, soos jy!
Slotsom
Sug ek nog om septer,
Streef ek nog om te kroon?
Dis uitvaartsdag
Nog môre dalk,
En ‘n grafskrif my tot kroon.
Buig dus voor Pilatus;
Kniel voor Golgota!
‘n Weinig nog
Die kruisweg dalk
En ‘n weinig nog te dra
Blonde hare en blanke huid,
Kan kroon, kan septer mee?
(Die lyksdraers trap ‘n dodemars uit)
Die donker wag vir jou, vir my, al-twéé
Die Loper
Nie meer die hoë dunk van dié
Wat vining hom vooruitloop nie.
In so ‘n wedloop mòèt hy faal
Om selfs die geringstes in te haal.
Mens ding wie-weet, vergeefs nog nie mee;
En moet jou beurt gewonne gee.
Nou hoor hy stap-stap agter hom
‘n Menigte wat nader kom, –
En druis dit by sy wete in:
Die sleeptou kan my nog oorwin!
Hy loën die lopers op sy spoor,
En trap die trap van diè
DIE MERK
Net enkeles luister
Hoe hy, hoog en sterk,
Sy stem in toorn verhef
Oor so’n Kainsmerk;
Die veles, sonder
Woord, en sonder hoop,
Laat maar die water Gods
So oor Gods akker loop;
En ander skater
Lank en luid op straat,
Of skinder simpel woorde
Oor die man wat praat.
Die Veles
Hulle leef op skuld tot Vrydagaand,
en tot die einde van die maand;
Gaan goed gekleed, soos wie-weet wie
trakteer mekaar op simpatie;
Ontspan by voorkeur in die fliek,
dans dol op radio-musiek;
Sing luidkeels Sondae in die kerk
vloek roekeloos Mandae by die werk
Doen siektes op,
en word gesond –
gaan tog maar more weer te grond;
Teel kleingoed by die tros, en stort
g’n traan oor wat van hul gaan word!
Die jare gaan,
die jare kom;
hulle mors die tien gebooie om –
Trek kort op sestig pensioen,
en raak met God en mens versoen.
Bergies
‘n wolhaar-wolfhondreun, ‘n teef,
‘n tingerige optelslet:
drie dinge wat hy dierbaar het.
Teen die berg in ‘n taaibos saans,
lyf-aan-lyf en knipmes-gevou,
lê die honed, die vent, die vrou.
Vroeg-voordag aas hy appels
uit ‘n munisipale vullisblik,
kuier windskeef voort, en in sy skik.
Die teef is dik-met-kleintjies,
en soos hy bereken, loop die wyf
al soveel maande met die lyf.
“Sy sal moet Home toe,” mymer hy,
en sug gedagtig by die troos,
“Salvation Army is kosteloos.”
Kinderland
Sou daar in my wonderwêreld
soms nog kinders kaalvoet klouter
opdraand teen die taaibosrand?
Pluk hulle bessies, skilpadbessies,
donker-rooies, bruines, géles,
nou nog in my kinderland?
Geur dit nog van peperbossies
en renoster- waar die aarde
ooplê teen die hemelrand?
Hoe verleë dool ons dikwels
mymerend deur die verre strate,
Moeg van stad en stadskoerant;
Hunkerend tussen die skare
eenling, eensaam in ons wese,
ver van huis en kinderland!