Bosveldsiele
Liewe Celeste,
Dankie vir die boeke. Dit was puik keuses. Ons geniet dit terdeë.Jy weet ek is ‘n boekvraat en daarom is die hele huis al ‘n biblioteek. Ek is bly jou argiteks-tesis by Universiteit Kaapstad is geslaagd. Dis ‘n moerse prestasie. Veelsgeluk my kind. Ek is trots op jou. EK onthou dat die opregte plaasstoep altyd bokkoppe vertoon het en dat die buite-kombuis deel van die Boere-argitek se planne was. Jou oorle oupa Gert het al die buitegeboue op Nylstroom vir die Strijdom-museum gebou. Hy het ook die planne geteken en miershope van die plaas af aangery vir die bouery. Alles moes eg wees.
Ek het meestal vrede. Ek is ‘n optimis. Ek moet self besluit of ek myself, of ander, toelaat om my ongelukkig te maak. Mense is mense deur mense. Soos die Sotho sê Motho ke motho ka batho. Ek kyk eers of ek nie net, vir die oomblik van frustrasie, almal wil veroordeel nie. Dit is niks nodig nie. Die lewe is nog steeds mooi. Die aarde praat met my hier onder my voete en bo is dit die son, die wolke en die paar veerdiere wat iewers heen op pad is. Ek ervaar ‘n harterus, ‘n emosie wat buite bereik van woorde is. Dit is hoekom sielsvryheid so maklik hier kan wees. Geen frustrasie, soos julle stadsjapies, oor verkeer en daardie klas dinge nie.
Die bosvelders se siele is mooi. Hulle is plat op die aarde wesens. Hulle laat mens lag en huil. Hulle is nie in opposisie om te lewe nie en ook om te gee nie. Hulle is so taai soos oordentlike gebreide dik osriemme. Al gaan dit hoe sleg, hulle word nie kwaad vir die Here of vir mekaar nie. Tussen hulle gewone sinne is daar ‘n biblioteek van humor. Hulle kennis oor die bosveld verruim mens se visie en prikkel mens om beter op te let. Hulle verloor omtrent nooit hulle humeur nie. Sagte antwoorde keer die grimmigheid. Hier help almal met alles as daar nood is. Hulle omgee is vasgelê in hulle lewenservaringe. Ek moet alles met almal deel. Hulle bel my om te sê die Nyl loop weer by Nylstroom en o gonna ek wens dat dit breeeeeed moet loop, ‘n vlakte vol van die Nyl, die veldblomme gaan nou sy tapyt uitgooi. Kom kyk. Waar is Gert? Attie bel my. Die mopanies is mosaïk geverf, as gevolg van die droogte. Die veld is mooi gekleur al is dit nie goeie nuus nie.
Ek wil nooit ophou werk nie. Ek wil nie al die mooi en die drama mis nie. Ek lewe tussen hulle en hulle lewe tussen mekaar. Moet nie met hulle skoorsoek nie. Die ou komando- en weermagopleiding vloei nog in hulle bloed. Toe Ockie en sy huisgesin deur moordbende aangeval was, was die hele Vlakte daar, vinniger as die polisie van die Ruwe Suid Afrika. Almal kon hulle boeke weg gevat het toe hulle geweet het ek kan nie meer sien nie, almal het my deur ‘n onsettende moeilike tyd gehelp. As Koos Roos gehelp moet word, dan stuur die boere trekkers om Koos te help. Van Koos gepraat. Anderdag kan jy dalk met Koos gesels, oor sy skoonma en haar oerkosse. Ek gaan vir jou ‘n kookboek van sy skoonma bedel. Ek verwag nie dat jy daaruit moet kook nie, maar sy is ‘n afstammeling van die Jerusalemgangers. Daai klompie siel-swerwers ken jy beter as ek.
Ek het my hare, die bietjie wat oor is, laat skeer. Die kind is wraggies toe Oorle Oubaas Will, se kleinkind. Jy ken hulle ook goed. Hy was mos ‘n Duitse Immigrant, een van my eerste kliënte. Hy het my baie dinge vertel as ek en hy Glue wyn daar op die plaas sit en drink en moerse sigare rook. Ursula se teekoppies was vir my en jou oorle ma so vleiend en weelderig. Hulle het in 1952 na Suid Afrika ge-emigreer. Hy het hierheen gekom as dieselwerktuigkundige.
Dit was seer stories oor hulle eie lewens oor der jahren 1939 – 1945 en die see-rit na die unbekanntes Land in Afrika. Daar was baie dae ‘n groot heimweë na sy land en sy mense, na sy Heimat. Die oorlog het steeds in sy denke geboer. Hy en Ursulla se trou sertifikaat het die S S embleem van die hake-kruis gedra. Ursula en oubaas Will het baie woorde oor die oorlog gehad, veral oor Rusland en hoe sy daar, met behulp van ‘n Russiese offisier ontsnap het. As ons kuier, dan het ons al die oorlog uit die gemoedere gekuier. Hulle vriendelikheid was onweerstaanbaar.
Hy wou altyd graag groot boer. Op 74 jarige ouderdom, het hy by my ingewaai en die advertensie gewys. Ons moet vir hom tog ‘n groter plaas koop. Aber es stimmt doch volkommen. Hy wou nog altyd ‘n stukkie van die bosveld vir homself ook hê. En droogtes? In diesem Bosveldland regnet es gewönlich, het ek vir hom gesê. Ek het sy drome in besigheidsplanne omskep. Ons het die groot plaas vir hom gekoop met fondse wat hy van Landbank verkry het. Die leningstermyn was 20 jaar gewees. (Sy kinders het nooit geglo dat pa daardie groot lening op sy ouderdom sou kon kry nie. Sy twee seuns, Jurgen en Kersten het gelag toe ons die aansoeke gedoen het. Dit was ‘n groot lening vir daardie jare. Gerhardus ewige optimus en der alte Mensch, het Her Jurgen hom op my en Her Freidrich Will se doen en late uitgelaat.)
Sy droom het tog waar geword. Hy het goed geboer en ses jaar later was die plaas met behulp van sy varkboerdery en stoetbeeste ten volle betaal. Hulle lewens was so vol mooi. Hoe heerlik was die lewe en die tyd nie op die plaas vir hom en Ursulla nie. Die lewe van die gisters het uit hom gegroei en dit het alles mooi en sonder enige kompliksasies vir hom geword. Hy het geglo dat die Kaap is Hollands, want das Rind ist im Kral.
Baie swewers en swerwers besoek die Waterberge. Hier wil hulle weer dalk liefde en geluk en vryheid vind. Die berge en warmwaterbronne is die kommoditeit. Luister na hulle gesprekke. Hulle gesels diep ding oor die bosveld en sy mooi. Van Hanglipberg af, daar naby Sterkrivier,vlieg die swewers deesdae, met hulle stukkie plastiek-vlerke, tussen arende, aasvoëls, valke en ander hemelwesens, soos engele dalk ook. Niks gaan vir die oog en siel verlore, as mens daar hoog oor die aarde sweef nie. Die bosveld is altye ‘n mooi wêreld, van onder op die aarde tot bo in die lug.
Jan Indiaan, van Woestalleen was gister hier. Die winde skep vir die lugswewers logistieke probleme. Jan-Indiaan het my vertel wat al gebeur het. Daar is groot vlermuise wat daar van Hanglip af oor die Bosveld vlieg en tussen sy lemoenbome land. Dis vreemde vlieënde voorwerpe. Jy moet die vlerke mooi span en reg bestuur anders land jy en jou sweeftuig tussen Jan-Indiaan se lemoenbome. Dit het al gebeur en Jan-Indiaan sou maklik hierdie vreemde insek met sy drie-sewe-vyf of die dertig-nul-ses tot niet wou maak.
En wie is Jan Indiaan en Woestalleen? In die 1960’s het Jan ‘n plaas, daar naby Middelburg, Transvaal, gekoop, Jan was nou nie van daai gewone Boereseuns nie. Jan se vel is donker. Hy het ‘n moerse poniestert gehad. Die sterk hare het tot op sy middellyf gehang. Met sy haakneus en pikswartponiestert lyk hy asof hy uit ‘n cowboy fliek stap as Geronimo. Dis waar Jan Indiaan se naam vandaan kom. Omdat Jan so gelyk het, was hy nie welkom in die wêreld van Broederbonders en Heregevormde gemeentes nie. Die lewe was so alleen dat hy sy plaas en maatskappy as Woestalleen gedoop het, want die lewe was woes om te kan boer en stoksielalleen omdat niemand die Rooi Indiaan kon aanvaar nie.
Ek het Jan Indiaan se testament opgestel. Een van die bepalings is dat die bobbejane sy bene en as moet erf. Sy bene en as gaan in die klowe in die berg gestrooi word. Hy wil onder hulle gaan spook soos hy met hulle lewenslank moes spook daar tussen die mielies, toe hy geleef het. Hulle moet geen rus verdien met sy bose gees tussen hulle nie.
Mooi dag verder
Liefde
Pa
Kopiereg voorbehou
GF Rossouw