Die Sprokie
Liewe Celeste,
Ek kan ook my brief begin soos’n sprokie. Eendag lank lank gelede het iemand die boneteller se brief gelees. Daardie feëtjie was êrens, iewers ver weg in ‘n land wat my briewe met geduld kon voorlees. Die sprokie is tog anders want dis nog in my leeftyd. Hierdie fabel is ‘n verhaal van Hosa-radio en ‘n boneteller, wat waar geword het. Die beginpunt van die fabel is jaar en twee maande gelede. Die mooi hoofstuk het nou gebeur.
Ons het verlede Maandag ‘n moerse verassing gehad toe Theo en Silvia daar by die werk opdaag. Dit was nou ‘n groot verrassing vir my en Stoffie. Dit was nou lekker om die mens agter die stem van Hosa te ontmoet. Hulle was mense in ‘n ver verre land. Hulle het luisteraars die wêreld oor. Selfs agter die ystergordyn van Rusland en die bamboesgordyn van Rooi Sjina. Dit was melktertdag van Suid Afrika en ons kon egte melktert van ‘n Boerevrou vir hulle aanbied.
Die nag is nog nag. Dis Afrika se nagmusiek op sy mooiste. Die roep is ‘n roep af van die gebaande weë. Die jakkals huil hier anderkant die spoorlyn. Sy roep dra my siel in sy verlangewereld in. Hy is een van die naggeselsers. Hy vertel stories omdat hy stories is. Hy vertel uitvoerig oor sy verlange en blydskap en hartseer. Ek hoor en ek gesels saam. Daar is ‘n korrelasie tussen sy geroepe en my gedagtes. Jakalse is die juwele van die Afrika-bos se nagroepers. Hulle stem word al stiller.
Afrika word eensaam gemaak met gewere en slagysters. As ons nie die owerheid en mense leer om respek vir die wildlewe te toon nie, dan kan ons ikabod skrywe aan Afrika en sy ruimtes en wild en my naglikse geselse met die natuur. Ons twee is altwee natuurwesens. Ons is altwee na aan die aarde. Afrika is nie Afrika sonder die naggeselsers nie. Daar is ‘n hartseer in sy roep. Die roep neem my siel na ver plekke. Sy roep vat my na die ver paaie van my kinderdae op die plaas en die kuiers op Soutpan en Vetleegte en Geelhoutkop en die bosveld.
Ek het ook geleer om te kyk na die klein diertjies soos miere, krieke, springkane, akkedisse en koggelmanders. Ek het by hulle geleer van weervoospellings en haelstorms. Ek het vir Hans Kachelhoffer al soveel kere gewaarsku teen haelstorms en stormweer. Dit is alles in die geluide en bewegings van hierdie kleinspoordiertjies.
As die grasveldwitjies begin swerms maak en in die swerm met mekaar flankeer voorspel dit storms. Die lugdanse het ‘n patroon. Hulle bondel saam en doen passievolle lugskou-uitvoerings. Dit rig my verbeelding. Die beeld is ‘n vertoonstuk, maar daar is iets soekend om begryp te word. Die lug is dor en die son is warm. Hulle speel mooi in die vertoning. Die vlerke dans word afgerond. Iets het die ewewig versteur van net te vlinder nie. Iets moet die ewewig herstel. Al wat die ewewig kan herstel is reën. Hulle weet dat die reën binne ‘n dag sal kom en daarom is hulle vasgevang in die dans van die vlindevlerke. Die kennis is vasgevang in die vlerkedans. Elke gebeurtenis en beweging
het ‘n wye betekenis van miljoene jare se genetika. Daar is ‘n voorspelling wat die waarheid sal word. Daar is ‘n raaisel wat gestel en opgelos moet word. Dit beteken net een ding. Dit gaan lank reën. Dit gaan sous. Dit is meer as eendag se reëndans. Daar is ‘n motief wat ‘n paralel vind. Die dikbas en witgat sal blom en hulle kan nou paar. Toe ons by Cerneels Riekert in die bosveld gaan kuier het, het ek vir Stoffie gewys hoekom die grasveldwitjies so bly was. Op die erf was ‘n witgatboom vol blomme en hengske klomp grasveldewitjies al om die boom.
Ek is al oor die sewentigste jaar en die bene kan nie meer loop waar dit al geloop het nie. As die vier mure van die kantoor vir my te veel word kon ek altyd wegvlug na die Karoo of Suidwes of Vrystaat. Afrika is aan die verbygaan soos ons dit geken het. Ek het ver paaie geloop en jy was deel van baie voetspore. Soms het dit goed gegaan en soms het die lewe plek-plek geknou. Die pad was ook vol mooi en ook die moeite werd. Tussen die lag en die trane het ek geleef en beleef.
Die reen laat my plaas toe verlang as ma pannekoek bak. Die hele leeftyd ervarings tuimel in die nag in my gedagtes.
Ek onthou as ma en die tannies pannekoeke bak, met basaars. Dit was soos ‘n baletvertoning. Dit was fyn aksies en bewegings. Hulle was kunstenaars met pannekoek bak. Wel hier is nou niemand vir daai vreugde so in die nag kan bak nie.
Mag jou week mooi verloop.
Liefde
Pa.