DIE SWART HINGS
Liewe Celeste,
Dankie vir die inligting oor die rotsgravures. Ek het dit baie geniet. Ek weet jy was nog op skool toe ons Rhodesdrift besoek het. Op Rhodesdrift is daar rotstekeninge en rotsgravure op dieselfde rots. Ek weet nie of mens dit iewers anders al aangetref het nie. Die plaas vorm nou deel van die Maphungubwe reservaat. Dis ‘n park wat oor die grense van Suid Afrika, Zimbabwe en Botswana strek.
Die uitstappie van jou, saam met die Ramblers Club, was toe nie so erg nie. Die drie ure se stap en lesings gee het jy toe tog oorleef. Ek is bly dat jou asem daardie berge op en berge af kon hou en dat jy dit saam met die klomp so geniet het. Dit is vir my lekker as jy jou kennis so mooi deel met ander groepe. So bemark jy Natal, die Drakensberge en jou werk
Ek besoek Kaapsehoop nog gereeld om oudits te doen. Die klimaat is koel weens die hoë ligging en die temperatuur is, meestal tot 5 grade Celsius koeler as Nelspruit en die omliggende dorpe soos Ngodwana.
Die dorpie versinnebeeld ‘n bietjie van die ou delwers geskiedenis van die Agtien-tagtigs in die geboue en kamers. Hier is soveel dinge met stukkies nostalgie van vervloë jare. In die laat 1870’s is daar goud ontdek en duisende prospekteerders het die Laeveld binnegestroom op soek na goud. Kaapsehoop was deel van hierdie goud stormloop en is ou geboue van daardie dae steeds hier. Hier is die grootste goud spoelklip ontdek en daarom die storm loop. Daar is vandag nog steeds mense wat met hulle pannetjies goud soek.
Die delwers het geglo dat net die duiwel hier by Devils Contour, tussen hierdie bisare rotse kon woon. Die Devils Contour het toe vir die Boere Die Duiwel se Kantoor geword. Oom Paul het nie van die onchristelike naam gehou nie. Omdat die berg vele kere ‘n wolkbedekking het, soos Tafelberg, het ‘n klompie Bolanders dit toe Kaapschehoop herdoop. Die naam het Oom Paul toe aanvaar.
Die omgewing is welbekend vir sy troppe wildeperde. Een van die mooiste perde, vir my, was daardie swarthings. Die perd het langs die pad gewei en is deur ‘n bakkie raakgery en sy agterlyf is baie beseer. Ek het toe maar die hings se storie op papier uigeskryf.
DIE SWART HINGS
Berig in die Ngodwana Advertiser:
“Die bekende swart hings van die wildeperdetrop van Kaapsehoop is die naweek deur ‘n bakkie raakgery en beserings aan sy bene opgedoen; ‘n Veearts wou die wonde ondersoek en het gepoog om die perd uit te sit. Die perd het op die rand van ‘n afgrond gestaan toe die vee-arts hom met die pylgeweer geskiet het. Die swart hings het oor die hoë afgrond gestort nadat die pyl hom getref het en is dood. “
Ek is die swart hings. Ek smag om te onhou.
My trop se geskiedenis strek oor die honderd jare van vryheid. My voorgeslagte was die vervoermiddel van die delwers en van soldate en van Sappi. In die begrafplaas op Kaapsehoop is daar mense wat gesterf het aan malaria, bilharzia en party van te veel jolyt en baklei.Toe die goudstormloop en die Tweede Vryheidsoorlo verby was, het hulle ons, perde, daar agter gelaat om vry te wees. Ons trop het in die 1950’s nuwe lede gekry toe Sappi perde gebruik het om die hout aan te sleep. Ons lewe saam met die bedreigde blouswaels (waarvan daar nog net tien broeipare hier gevind word.)
Ons was voorheen net aan die Here se lot oorgelaat. Ons is Sy perde. Ek het koelkop in die erge weer van tierende donderstorms, fluitende windstorms, felle haelstorms gebly. Ons het die erge droogtes oorleef, omdat ons deel van die natuur was wat alles geken en beleef het. Ons het perdesiekte epidemies oorleef, omdat Hy ons behoeder en vee-arts is. Ons was die Here se perde wat sonder toom en saal en teuels, titelvry hier geleef het. Daardie lewe was genotvol, verruklik, bedrywig en soms skrikwekkend. My verlange na my aarde bly onversadig, dit trek deur my siel.
Wie is jy? Die mens wat Sy werk wil oorneem? Julle het hierdie vryheid van my trop die afgelope tyd hokgeslaan met voer, en ons geannekseer met name. Wie het gelieg oor die mens se hulp en vriendelikheid? Ek het hierdie aarde lief., hierdie aarde is heilig: my trop, lug, son, herfs, spruite, watervalle, gras, grond.
Die wêreld het ‘n vreemde gedaante vir ons die afgelope aantal jare geword, met julle leuen van vriendskap. Ek probeer dit ontsyfer. Ons probeer dit verstaan. Daar was net ‘n groep van ses inwoners op Kaapshoop so vyftien jaar terug. En wat het gebeur? Toe vind die nuwe goudstormloop plaas. Ek het hierdie trop jaloers lief gehad en julle het hulle met allerhande slim planne en mooi maniertjies vasgebind. Dit is die ontdekking wat ek toe gemaak het: Julle doop ons met julle naamregisters, soos ‘n Wild Baby,en ek word ‘n Alpha. Dan word ons mos die eiendom van die individu en die gemeenskap.
Julle lok hulle uit die vryheid van die veld met die slinkse planne en vernietig die vryheid van hulle bewegings. Om die toeris te lok, word al hierdie planne gelieg sodat julle die beursies kan vul. Julle wil ons red sodat ons vryheid gebonde word aan die besoekers en julle beursies. Dit roei ons uit. Daar is ‘n drang van selfbehoud wat ek hier binne dra. Ons
word die agterryers van die Don Quijote Mammon. Ek probeer net pleit dat julle moet redelik en verantwoordelik wees teenoor my trop. Ek weet dit is seker amper onmoontlik by die meeste mense. Namate die Eie Ek in julle samelewing groei, word julle deel van die patroon van anneksasie van die vryhede.
Daar is een soort lot wat julle mense nie moet onderskat nie: die die lot van ‘n trotse hings wat sien wat met sy trop gebeur. Ek sluk verwoed aan hierdie bitterhede. In hierdie tuimelende dekade het die mens letsels op die trop gelaat: rasende ysterperde jaag in bonsende ritmes hier verby en kannetjies en plastiek word uit die ysterperd se bek gespoeg. My geboorteland word nou ‘n vreemde land.
Ek was die tropleier. Hier het my lewe gegroei, gebot en vrugte gedra. Ek kon aan die trop geloof, hoop en liefde gee. Hier tussen die prehistoriese, bizare rotsformasies, was dit vir ons ‘n perdehemel. Ek was die trotse vader van vele vullens met die mooiste merries om my. Ek het elke geringe ding in hulle lewe saam beleef en raak gesien. Alles om hulle het vir my saak gemaak. Dit is soos dit altyd is en soos dit altyd moet wees. By my het die trop vashouplek gekry. Vir my was die lewe net eenvoudig ‘n uitnodiging om ten volle te lewe, hier op die hoogtes van wat julle Kaapsehoop noem. Ek het lief. Dit omsluit my hele wese.
Julle het my seker ook Salomo gedoop omdat ek so vele merries gehad het, maar julle sou julle verwonder het met die deernis jeens hulle. Party van my geliefdes was jonk, impulsief, met die drifte nog effens ongevorm, baie jonk, maar met pragtige lenigheid. Ander was kennisryk met passie en vuur en soms ‘n oormaat van selfvertroue en as ons een word is die bloed dreunend in my ore in ‘n grenslose oorgawe.Om my was hulle los en nie so gebonde soos julle hulle nou wil bind. In my het die trop vashouplek gekry.
Alles lyk helder en geskoon. Ek voel soos die aarde.Ek het uit die rotse beweeg na twee van die merries. Ons het besluit om langs die pad te wei, want die afloop reenwater verskaf altyd ‘n lekker grasbedekking langs die ysterperd se roete.
Dan die ysterperd. Sy skerp oë verblind my. Ek ervaar sy brute krag wat teen my skop.
Ek wat alom bekend was vir my perdekrag, is totaal magteloos teen hierdie ysterperd se perdekrag. Hy is jaloers op my merries. Hy skop hulle baie kere dood. Ek struikel en vlug met ‘n slakkepas desperaat vir my veiligheid.
Alles is seer teen my lyf. Dit duur ure van sukkel-sukkel voortbeweeg om my weg van hierdie plek van die geveg tussen ysterperd en myself te kry. Die ysterperd is dood, want sy runnik is stil en sy helder oë wat so skerp in die nag brand, is dood. Ek het hierdie geveg met ‘n groot verlies gewen. My trop is nou minder en hulle, die mense, sal hulle dalk wil verder wreek teenoor my en die trop
Daardie nag was lank en vol pyne, wat oor my hele lyf strek. Die dag wat volg was pyn-oor-hele-liggaam-dag. Die trop het hulle by my geskaar om my te beskerm teen die volgende aanslag van die mens.
Die rotse en klipstappels was deel van my lewe. Daardie aand het die rotse en klipstapels vir my soos die agterste deel van Hades geword, sirkels, kruise, paralakse, lyne, en die rotse word gloeiende wit marmer van die poorte van die doderyk..Dit het ‘n skielike angs in my los gelaat en ‘n groot onsekerheid. Dan breek dit hier binne los en ek runnik. Daar is angs in my runnik. Belewenisse keer tot my terug in ‘n laaste illusie. Die ontnugtering is galbitter binne my. Ek kyk op na die maan en die sterre en my hele liggaam bewe. My keel se spiere trek saam. Die angs en skielike eensaamheid maak my wêreld klein. Ek is vir daardie oomblikke nie meer langer myself nie. Ek is hartstogtelik aan hierdie wereld gebonde. Ek wil leef.
Ek is totaal alleen tussen die verwronge poorte van die doderyk vasgevang en ek wil hier die lewe ontrafel. Ek sien elke geringe ding raak, ‘n ligte windjie dwarrel blare om my heen, soos dood, die gehawende blaartjie wat daar dwarrel het gesterf. God in alles? Alles God? Die onrus het binne my gaan lê, die illusie verdwyn. Om my die mooi van rotse in die maanlig. Ek lewe nog.
Dagbreek..
Effense lig.
Skaduwees stort uit die etse.
Die rotse woel hulle beeld uit die skemer los. ‘n Kapokhaankraai sluit die nag af en sukkel om die dag oop te roep.
Die dag is traag om heeltemal te breek en sien te word.
Ander beelde kry nou gestalte. ‘n Perd, ‘n man, ‘n vrou.
Die man en vrou staar my aan. Die vyand se stem probeer paai, maar dit is ‘n voorslag met pekel aan. Sy woorde praat by my verby.
Die son ontbloot alles op die wêreld. Dit breek die dag en beelde uit die duister en die skemer los. Die oggend is klam oor Kaapsehoop.
‘n Perd as ‘n baken voor ‘n afgrond wat onrustig in die grond kap. Sy vel blink en sy oë skyn met die vuur van lewe om te lewe en te laat lewe.
Hulle moes hulle planne slinks beraam het.
Ek wil omdraai, ek talm, ek is vasgekeer.
Daar is ‘n dowwe woede teen hierdie mense wat hier binne my brand. Die vreemdeling het ‘n gifpyl in ‘n ysterkoker gelaai. Die pyl klief tot in my siel.
Kantel, kantelende afgrond. God, leen hierdie swart hings vlerke asseblief.! Ek sien gesigte: God, geboorte, gras.
Die Here gee my vlerke. Die Here maak my vry van swaartekrag, Hy red my, van hierdie aanslag. Iewers moet ek afspring, oor die wye oop aarde, verwring oor ‘n afgrond, met sy ysterpyl wat aan my hang. Daar is ‘n gordyn om my. Die aarde drink my leeg. Hulle draai my flenter liggaam om.
Ek word gebore in hemelse grasvlaktes – met God. Ek vlieg galoppende oor die aarde , vry van swaartekrag, met Sy vleuels wat hy aan my bied. Dis wild en pragtig.
Hoor julle die vreemde gallop elke aand? My gees wei ongeskonde nou elke nag in die wêreld van julle Kaapsehoop. Snags dan reis ek, ongebonde, op die vleuels van die wind in die nag se skaduwees in die melkweg rond.
En ek en God glimlag oor daardie mense wat, in die nag se bouvallige modderdrome, wurg in hul geldwoestyn, en na paaseiers daar soek wat pik, daar by die kolesak-oase van die melkweg.
Mooi dag vir jou verder,
Liefde
Pa.