Jongste aktiwiteit:

Oom Toeka
vir

Oom Toeka

Liewe Celeste,

Ek is bly jy het die week in die Drakensberge oorleef. Ons kon vir ‘n week niks gesels nie. Ek was maar bekommerd omdat jy op jou eie daar moet rondgaan, soos Indiana Jones, opsoek na nog verlore skakels.

Daar is een van die dinge waaroor ek steeds in vervoering raak en dit is daardie herinneringe van my kinderdae op die plaas. Veral die beeskraal. Ek kan daardie tye met soveel gevoel verklaar en beleef en daaroor gesels. Ek is ‘n eenkant mens. Die plaas het aan my daardie beskerming gebied, waarna ek gesmag het. Ek is ‘n gewone boeremens in my alledaagsheid. Daar is vrede vir my gemoed. Dit is vrede waarna ek , wat ekke boneteller is, na streef. Daar het ek die beskutting van die plaas en jou ouma se liefde gehad.

Daar kon ek stories hoor. Daar kon ek in vrede lewe. Hier het mens geleer om die waarde van die natuurlike dinge te leer. Hier was die lekkerste aande. Hier was die beste storievertellers. Daar was die storievertellers in my kaalvoetdae. Daar was die Boesmanstories van Kleinpiet , Kleinpiet, wat saam met my die beeste moes oppas. Ek het al vir jou van sy Boesman stories vertel. Daar was jou oupa en Oom Toeka. Oom Toeka het ‘n onverfyndheid in al sy stories rondgedra. Daar was ouderwetsheid in sy stories en geselse. Sy idiome was, Waterberg se gesels-idiome. Dit was baie gemoedelik gewees. Die plaas het ook vir my sekere beskermings gebied en veral die beeste en die kraal, saam met David Davies en L M Radio.

Ek moes ook stories vertel. Dit was moeilike stories. Hier kon ek vir Kieries, Daantjie, Pottie en Vliegie, probeer leer. Hulle het vele Saterdae, van die dorp af, die plaas besoek. Hulle wou somme en Shakespeare se King Lear en Britse gedigte verstaan. Ek kon King Lear leer hoe maak Shakespeare met ons Boere OOrlog. Ek kon King Lear help ontrafel met my plaas-kettie woorde. Ek kon die Britse gedigte in Afrikaans laat klink en verstaan. Ek kon hulle somme 1 2 3 verduidelik. . Ek wou hulle leer om die veld te verken en hoe om met ‘n kettie te skiet. Die kettielês en veldlês was die lekkerste, maar hulle het pateties daarin gevaar.

Oom Toeka se stories was vol kinkels en kabels, maar die taal was ongeraffineerd gewees. Almal, wat luister, word deel van die dwaalstories in die verhaal. Die veelheid van sy verhale, word tot ‘n sinvolle eenheid gesnoer deur die dominante rol van die verteller. Die luisteraars hang aan sy lippe. Alle verhale het ‘n innerlike samehang van menswees in goeie maar meestal swaar tye. Sy vertellings was altyd objektief. Hy was nooit die held van die verhaal nie. Hy was net toesighouer oor die lewensdrama, wat hy aan ons oorvertel het. Dit is die lotgevalle van mense se lewe, wat tot ironiese verwesenliking gedoem is Dit is die menslike worstelinge, in elke nuwe moderne omgewing.

Daardie onverfyndheid, tesame met oom Toeka se ryke verbeelding, het van hom ‘n uistekende en van die beste storievertellers gemaak het. Vir my was oom Toeka ‘n woorde- en storiekunstenaar in eie reg. Dit is juis daardie gemeensaamheid met die familie en die plaas, tesame met die beskutting, wat die aansmeer spoegies, vir die vroëe kinderjare, se sere gebied het, wat dit vir my ‘n onvergeetlike stukkie aarde gemaak het. Hy was gewone Boeremens in sy alledaagsheid. Daardie storieverteller het ‘n outentieke geselstrant in sy vertellinge met unieke beeldende beskrywings van elke situasie. Hy was deel van die storie, maar as kyker en waarnemer. Hy het die siel van die gebeurtenis beleef en intens as menswees ervaar. Hy het uitgeblink in die ongedwonge verteltrant van die storiemeesters. Hy was die spontane meester-verteller.

Niemand in die familie het gerook nie, behalwe Oom Toeka met sy pyp en Boxer of Horseshoe tabak. Dit het so lekker geruik. Ek wou mooi stories vertel. Soos ek vir jou al vertel het, het Ouma het aan elke swerwer of boemelaar altyd kos en slaapplek aangebied. Hulle het almal gerook. Hulle het almal van die mooiste stories vertel. Hulle was meestal verlore siele van die Tweede wêreldoorlog. Hulle stories het vanoor die hele Europa en Afrika gekom. Rokers is die beste storievertellers. Daar, by die kraal Het Kleinpiet vir my eerste zol gedraai, toe ek nog nie vyf was nie. Die zol was van droë beesmis gedraai en ek het my vrek gehoes. Dit het aaklig geproe en ek kon nie glo dat ouens van rook hou nie. My kykers het soos vuur gebrand en dit stink aaklig, soos gras wat brand en nie soos Oom Toeka se pyp nie.

Toe Oom Toeka weer kom kuier het, het ek plan gemaak. Ek wou die egte regte zol draai. Ek het van oom Toeka se sterk pikswart Horseshoe tabak, uit sy mooi horseshoe sakkie gedeps. Kleinpiet het die perfekte zol met daai twak en stuk bruinpapier gedraai. O genadetjie tog. Ek het dronk geword van daardie op-die-nugtermaag-zol.

My voete en my lyf was nie meer bymekaar gewees nie. Dit voel asof ek die aarde verlaat. Ek is op my eerste road trip. Ek het nog erger gehoes, as die beesmis zol. Maar ek het op ‘n trip gegaan wat my lekker laat voel het. Ek het my oë styf toegeknip. Dit voel en lyk asof ek die aarde verlaat het. Ek voel so mooi en lekker dat my ma en Kleinpiet en ek myselwers nie nou sal kan erken nie. Ek was His Masters Voice, vir ‘n wyle. Ek het tot vir die beeste, daardie yskoue winter, warm gesing, toe ek daardie vroeg-oggend vir die huis gemelk het. David Davies van LM Radio kon my gebruik om Fats Domino nog die beste te laat klink, met ‘n bosveldsong, vol blues en vol horse-shoe ritme en horison verlange. Dis tog wonderlik hoe ‘n mens kan terugkom aarde toe as die zol se krag uit is. My keel het nie, maar ek het splinternuut gevoel.

Die plaas was my storiebiblioteek. Dit was vertellinge wat nou verlore is. Dit het nooit papier toe gegaan nie.

Die bosveld het altyd sy mooi. Dit het nou die bruidspakkies van drolpere, die bloed van die koraalbome, goue trosse van soetdorings, die rein trosse van die witapiesbome, met oseaan-wolke wat op die horison hulle seile uitspan oor die blou van die bosveldhemel

Die plaas was my leerskool van kleinspoordiere en veerdiere en grasse en bome en grond en reenwolke.

Ek mis die plaas hier tussen die koue mure van die kantoor. Ek is in die asem van Afrika. As my asem eendag opraak sal dit tussen die kranse en die aalwyne wag. As die aalwyne blom, dan sal my asem, saam met die bosveldasem, oor Waterberge en die Springbokvlakte, sweef tot daar waar die visarende huil.

Miskien moet ek weer iewers Kleinpiet gaan soek en by oom Toeka gaan Horseshoe deps vir ‘n zol.

Miskien moet ek weer kraal toe. Ek het asem nodig. My asem is so min deesdae. Die zolle het sy tol geëis.

Liefde

Pa.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed