Ek ry so bietjie na die suide en op Livingstone se roete.( Deel 1)
Die werklas het so bietjie gedruk en ek wou net so dag of wat wegbreek en my gebied waaroor ek gevlieg het beter leer ken. Ek het baie uit die lug gesien en baie plekke en diere waarvan ek nie bewus was nie en watergate want die gebied was nie gekarteer soos dit moes wees nie. Ek het die staat al so baie genader om beter kartering te laat doen maar hulle het net gese dat die grond daar was en kaarte kon dit nie verander nie. Die sentrale Kalahari van Botswana is groot en enige mens kon daar verdwaal om nooit weer gevind te word nie. In 1978 was dit n ongerepte wereld sonder die enkele paaie en die jong land het alles wat hy gehad het in die suide gesteek waar die meeste mense gewoon het. Die ander gebiede sou maar vir eers moes agterwee gelaat word. So het ek op n bakkie in die Nxai panne afgekom wat vasgeval het en dit was net die mense se geluk dat ek hulle kon uitsleep want hulle was naby dood van honger en dors. Die panne was baie bedrieglik, hulle het droog gelyk maar as jy n ent ingery het, het jy bykans vir ewig vasgeval en daar sou jy in die hitte baie gou n fossiel word. Die naaste bome was baie myle ver en skaduwee was net dit wat jy self gemaak het.
Omdat Botswana n ou Britse protektoraat was, was daar baie navrae oor die tog van Livingstone vanaf Kuruman na die valle. Volgens my eie navorsing is die valle lank voor hom ontdek deur Carolus Trichardt wat Louis se seun was en n bekende grootwildjagter was. Hy het nie dagboek gehou nie en was ongeletterd maar sy vader het n dagboek gehad en in sy moeder se aantekeninge vertel hy van die groot waterval. Vertel dit vir die Britte en jy sal hoor dat dit nie die waarheid is nie. Die staat se opdrag was om net vanaf Thomas Baines se Kremetarte die roete te volg volgens die dagboek en om te kyk of so n roete gery kon word met bakkies en of n pad moes gebou word om die navrae aan aandag te gee. Suid in die rigting van Kuruman sou hulle vanaf die suide dek. Ek het geweet dat dit of studente of n mens uit ons land sou wees wat die werk sou moes doen, ek was reg. Dit was baie meer droog suid van die Makgadikgadi panne en hulle sou moes oor Orapa werk waar water met rooi in hoofletters geskryf word. Ek was dankbaar dat die noordelike deel aan my toegewys was, water was meer volop.
John Gleeson was weer sy ou self en baie beter maar hy kon nog nie draf om Jeannie se bene te beskou nie en ek moes met twee bakkies ry en daar sou moes geslaap word en my boesmans sou moes saamgaan. Hulle kon rigting hou en ek glad nie. Ek het vir Jan Hugo die hoof van die boesman, projek saam genooi en hy was baie gewillig en toe Bruce hoor dat hy saam gaan is ons op die ou end met drie bakkies weg om die roete te gaan opvolg. Daar was nou bekende bakens vir ons soos Rooigrond en Lekgrond en baie ander name en ek en Luka het my kaart gaan invul soos ek wou ry en hy sou te alle tye weet waar ons was. Drie bakkies kon ook breek en ons kon nie hier gestrand word nie. Ons bakkies was almal leeu proef en het almal ekstra diesel tenks in gehad wat bykans 200 liter gehou het en ek het nog 100 liter per bakkie laat saam ry. Dit was 4×4 wereld en die cruisers was nie lig op brandstof nie. Daar was plekke wat nie water gehad het nie en ons sou moes water saam ry. Dit het n dag se voorbereiding gekos want dit was 260 myl net deur die veld met geen paaie nie en alles moes gepak word vir die wis en die onwis. Jeannie was baie goed met die klas van dinge en Katwindi en Temba ook terwyl Luka maar soos ek net n dromer was, hy was n baie goeie dromer en hy was n meester jagter. Min mense kon die veld beskryf soos hy en die diere se gedrag na maak en voorspel.
Luka het my die ses plekke waar daar aas was vir Piet se luiperd gaan wys en hy het saam gery met sy seer voete wat nou na brandspritis geruik het. Rondom die boomstamme was skoon gevee en ek kon hom mooi die spore verduidelik. Voorvoete is baie groter as agter voete en soos hy sy naels skerp maak kon jy die afstand meet met jou hande teen die boom. Die diepte van die naels het ook baie sin gemaak en ook soos hy opgespring het in die boom kon die diepte van sy agtervoete amper sy gewig weg gee. Ons het hulle maar so beoordeel en hy het my die skuilings gaan wys wat nie meer as sewentig meter was nie. Daar was bykans te veel luiperds in die Chobe en ek wou net nie weer in n “blind” sit en wag vir n kat om sy opwagting te maak nie, ek het dit werklik al te veel gedoen. Ek was net tevrede dat hy op sy missie uit was en ek kon weg glip vir n paar dae. Ek en Jeannie het min van mekaar gehad en ons het lanklaas lekker gesels en ons was nou amper op n familie toer met haar vriende en ook my vriende. Luka en Katwindi moes vir Piet sy luiperd laat skiet en ook n leeu as hy eers weer kon ordentlik loop.
Ek wou vir John Gleeson en sy dokter en kamera man saam neem en ons sou met my stasiewa ry en my boesmans met die twee ander bakkies en die voorbereiding was nogal iets wat moes fyn beplan word. Ek sou sommer langs die pad n volstruis skiet en hy het eintlik baie goeie vleis gehad en ons sou braai en net rustig wees. Sy het in elk geval vir alles voorsiening gemaak. Sy was so tuis in Afrika soos ek baie male wou droom om te kon wees. Om te ry deur die veld was nogal baie vermoeiend want die bakkies was nie die aangenaamste nie, hulle was hard op n man se lyf. Met die gekletter van Jeanie en John en sy bewaakers het dit tog vinniger gegaan en ek het baie wild gesien en ook die baie “roans” waarvan ek werklik niks geweet het nie. Ek het die veld en sy diere geniet en baie mooi olifante gesien en gewonder wanneer die uitskiet in Rhodesie sou stop. Die olifant getalle in Botswana het werklik kommerwekkend toegeneem en as ons nie by die Wankie konsessie ook uitdunning gedoen het nie sou ons probleme met oorbevolking gehad het. Ons het sestien renosters gekry en Bruce het hulle afgeneem. Bruce en Jan Hugo se vrouens was ook by en dit het dit net meer aangenaam gemaak.
Livingstone se geskiedenis is aan almal bekend en die feit dat hy sy lewe gewy het om slawerny te stop en om die Woord van God by die inheemse bevolking van Afrika te verkondig. Daar was nie slawe ontvoer uit Botswana so ver ek kon uitvind nie want daar was nie n naby genoeg roete na die hawens toe nie. Hy wou na die oorspronklike lande van slawe uitvoer gaan en wou sien of die Zambesi bevaarbaar was of nie en dit het die tog na die noorde veroorsaak. Hy was getroud met die sendeling Moffat se dogter wat by Kuruman was en die Britse regering wou n dokumenter maak oor sy lewe. Die gebied vanaf Baines se Kremetarte tot by die Valle was bekend maar daar sou moes deur die veld getoer word met die filmspan. Thomas Bain het al in 1862 die bome geskilder en moes ook maar te perd en te voet die gebied besoek. Dit was mooi by die sewe bome en daar was water naby maar daar was baie leeus en hulle was ongeskik. Livingstone het in November die Valle ontdek so hy moes in die winter getrek het want hy is Julie al by Kuruman weg en dit was in 1855 en in 1980 wou die Britte n pad he wat al op sy roete geloop het om die 125 jaar te vier. Hulle sou daarvoor betaal maar dit het nooit gerealiseer nie. Dit was die doel van my ondersoek.
Omdat leeus so n probleem was in die suide en veral ten noorde van die Nxai panne moes daar elke aand voorsiening gemaak word vir leeus. Ons was te veel om in die bakkies te slaap en die eerste aand het ons by die Kremetarte geslaap en ek en Jeannie het op een se dwars stam ons bed gemaak. Die boesmans het met swart haak takke rondom en tussen die voertuie toegemaak maar dit sou nog steeds nie die leeus keer om te probeer nie. Dit was volmaan en in Botswana is dit helder, jy kan bykans n boek lees met volmaan. Ek en Jeannie het eers gebraai, die jong volstruis se steaks was lekker en sy het vir ons brood gebak in die swart pot met heuning wat Jas uitgehaal het. Die boesmans het n groot vuur gemaak tussen die voertuie en ek het my geweer by my in die boom gehad. Vure het nie leeus afgeskrik nie en dit was die rede hoekom so baie boesmans nie in die reservate wou woon nie. Leeus was eerder gelok deur vure en veral die reuk van braaivleis het hulle en hienas gelok. Ons het lank om die vuur gesels en omdat ek moeg was het ek met die geweer in die boom op die bree dwars stam gaan nes skop en Jeannie het gevolg. Dit was n baie bree plat stam en ek kon bykans n huis bou op die stam wat so vyf meter hoog was en tien meter van die bakkies af was. Ek het geweet dat die leeus sou kom want ek en Jakkie en Kabous het net na ons begin het in Botswana hier leeus geskiet. Dit was ook hier waar die wyfie op Rob se bakkie se neus gespring het.
Die nag geluide was vir my altyd mooi en ek het die satalietfoon geneem en my ouers gebel. Ons het lank gesels oor dit wat ouers maar met hulle seun oor praat en Jeannie wou ook kekkel. Sy het n bree prentjie geskets waar ons was en waar ons sou slaap en my Ma het weer vermaan oor die gevaarlike goeters wat rondloop in Afrika. Het sy maar geweet sou sy nie geslaap het nie. Ek het my kollig aan die bakkie gekoppel met lang drade om darem as dit moes wees te kon lig hoewel ek baie mooi kon sien. Die ander het almal in en op die bakkies geslaap en die boesmans rondom die vuur. Die jakkalse het geraas en hienas het geroep en my lyf was seer van die stampery van die bakkie en ek het ingesluimer en vir Jeannie gehoor asem haal hier langs my. Dit was net so voor twaalf en die maan was effens oos en heeltemal vol en ek kon die hiena sien voor Bruce se bakkie, sy skaduwee het hom weggee. Hulle was later drie en het begin om aan die takke te trek en ek het die lig aan gesit om hulle te verjaag. Hulle rooi oe het soos vuurballe in die lig gelyk en hulle het getjank en n ent weggedraf. Hulle geraas het die jakkalse laat huil baie naby ons en ek het geweet dat die leeus weg was want hulle sou nie geraas het as daar leeus was nie.
Ek moes ingesluimer het en dit is snaaks maar na so n lang tyd in die bos dan is dit asof n mens n ekstra sintuig ontwikkel wat jou waarsku as iets nie reg is nie. Ek het die kombers op Jeannie gegooi en die ses leeus voor die bakkies gesien . Hulle was baie nuuskierig en kon nie by die voertuie kom nie maar kon as hulle wou oor die takke op die neuse spring en dan die boesmans bykom. Ek het die drie figure langs die rooi Hardekool kole sien le onder die komberse en Jas het opgestaan en hout op die vuur gegooi. Hy was altyd die beste boesman wat ek gehad het en ook intelligent maar hy het nie geweet van die leeus nie en net instinktief opgetree. Die leeus was nader as tien meter en met sy aanhoudende murg been pyp rook sou hy hulle nie ruik nie, ek kon hulle bo in die boom ruik. Die sterk reuk van pens mis en die leeu reuk waarvoor ek so vele honde gesien lam word het. As die suid ooste wind gewaai het dan was die nagte koud en ek het die koue loop van die Rigby geneem en meteens het n koele kalmte oor my gespoel. Ek was so lief vir die geweer en het sy vermoens geken en ek kon elke leeu sien en net die gelag van die hienas en die jakkalse in die verte het my aandag afgetrek. Dit was n prentjie wat soos daglig vandag nog voor my afspeel. Ses nuuskierige jong mannetjies en n hele spul mense wat vas slaap en die nagaap bokant my wat net sy bek geklap het en gepie het en vir my wou wys wat gebeur. Hulle kon in die boom kom want baie leeus kan boom klim, ek was reg en so paraat soos ek maar kon wees. Verder in die boom op het n neushoring sy nes gehad en die nagaap het hom ook wreed versteur, hy het ook begin bek opsit. Ek het gehoop dat daar nie mambas of ander lelike goeters sou wees nie en weer my aandag op die leeus gevestig. Langs my het Jeannie omgedraai en op haar beste diep asem gehaal. Ek het besluit dat ek in volle beheer was en net die prentjie sou geniet en met my sou saam dra so lank ek kon. Hulle het gaan ruik waar Jas die pot en rooster skoon gemaak het en het die lippe gerys en die plek natgespuit en so bietjie stof geskop. Ek was so gewoond aan leeus en kon hulle gedrag bykans lees soos die boesmans.
Meteens het my hele lewe vir my begin sin maak. So vele nagte het ek in koshuis slapeloos kamers gele en net die deure gehoor wat tok-tok in die wind in die lang gange en my bekommer oor more se wiskunde toets of eksamen en gedroom oor Afrika en sy glorie. Hier was ek waar ek so graag wou wees en ek was meteens so gelukkig soos wat ek nog nooit was nie. Ek was twee jaar in Botswana en het die wereld en sy mense en sy diere geken en hier was ses leeus so mooi soos n Kalahari mannetjie kon word en hulle was tien meter van my af. Die swart maanhare in die volmaan en die grasie was vir my so mooi soos enige iets wat ek nooit oor gedroom het nie. Ek het weer oor die Rigby gestreel en geweet dat daar altyd iets van my in Afrika sou wees of agterbly al sou ek ook waar gaan in my lewe. Ek was verlief op die wereld en dit was werklik ware liefde. Ek het gebid en Dankie gese vir drome wat na so vele jare soos n legkaart in mekaar gepas het. Ek het die leeus met die liefde van prof Fritz aanskou en besef hoe geseend ek was. Hulle was besig want leeus is maar nagdiere en hulle het geruik dat daar nog braaivleis moes wees. Ek het my kop onder die kombers ingesteek en my pyp opgesteek en vir my koffie gegooi en weer die koue geweerloop gevoel en ek was rustig. Hulle het nie van my geweet nie want die rook het in die sterk wind reg oor my rug gewaai. Langs my het Jeannie dit gedoen wat sy die beste kon doen, alles in oormaat, ook as sy geslaap het. Die vuur van Jas het opgevlam en hulle het in hulle slaap weg geskuif, salig onbewus van die leeus. As ek vandag n dokumenter kon maak van die aand sou dit sekerlik n prys gewen het. Afrika het vir my sy mooiste mooi gewys en dit op n volmaan nag ten noorde van die Nxai panne.
Die leeus het my gefassineer en ek het gewonder hoeveel daar moes wees want ons het bykans alle jong mannetjies geskiet wat ons kon en hier was ses wat bykans in hulle glorie was. Werklik reuse Kalahari mannetjies waarvoor enige jagter sy siel sou voor ruil en hulle was n so n mooi kondisie en dik gevreet maar steeds die opportuniste wat leeus maar altyd is. Ver in die weste en agter my het leeus gebrul en dit het die jakkalse dadelik laat tjank en die hienas laat “hooeeep” en ek het geweet dat die manne betree op ander manne se gebied. Daar was so veel wild en veral gemsbokke en kameelperde en ek kon my skop dat ek nie by die watergat gaan slaap het nie want daar was ook drie groot Kremetarte. Ek het gewonder wat die manne in die bakkies sou gese het as hulle gesien het hoe die leeus probeer om die takke weg te trek en hulle die bakkies probeer merk het. Die spore sou sy eie verhaal vertel as dit sou lig word. Ek het die warm koffie op my gestort en op die geweer en byna my posisie weg gegee, tog het ek geweet dat diere maar min in bome kyk. Ver na die suide het het n trop begin brul en ek het geweet dat die ses hulle sou antwoord want hulle was baie en sou mekaar beskerm. Die ses was net die regte groep om n oorname te kon doen en die trop mannetjies sou een of nader tyd uitgedaag word. Hulle moes iets gevang het en die aasvoels sou my wys die volgende more en hulle het die brul van die ver af trop begin beantwoord met n vreeslike lawaai.
Die eerste was die boesmans wat soos katte die Kremetart uit gehardloop het na my toe en bewend langs my kom sit het met hulle komberse nog by hulle. Jan Hugo en Bruce se bakkies het geroer en binne in die stasiewa het die Amerikaners soos n trop honde op mekaar begin trap. Ek kon hoor hoe John skree dat hulle moes die episode op film moes kry en Jeannie het het stokstyf lang my kom sit bewend onder die kombers. Weer het ek die koue loop gestreel en die lawaai was bykans oorverdowend. Ses leeus wat by jou brul was iets om te hoor en ek het op my horlosie gekyk en gesien dat dit net na drie was. Ek het my tabaksak vir die boesmans gegee en hulle het bewend begin rook. Jas het eerste gepraat en sy stem was bewend en pleitend. “ Kapitane, kiet die reeus seblief, hy gaan ons kom eet. Hulle sal niks doen nie Jas en ek het my patrone vergeet voor in die bakkie, loop haal hulle gou asseblief.” Hulle het na mekaar gekyk en begin loer hoe hulle kon hoer op in die Kremetart. “ Nooit reeu gaan eet! Ek gaan nog klim. Toemaar, ek sal hulle skiet as hulle lastig raak.” Die leeus het bly brul en die jakkalse en hienas het tjankend pad gegee en die trop het hulle uitdaging aanvaar en ek kon hulle hoor nader kom. Die ses mannetjies sou self die gevegs terrein kies en is brullend en met n stof skoppery stadig in die rigting van die trop wat vanaf die Nxai panne gekom het. Ek sou graag die geveg wou sien maar was dankbaar dat die leeus vir eers weg was. Ek het bykans niks geslaap nie en probeer insluimer maar die opwinding by die bakkies en die vuur was te veel en ver weg kon ek later hoor was n leeugeveg aan die gang en ek het geweet dat dit n oorname sou wees. By so n geveg sal die wyfies hulle mannetjies beskerm met alles wat in hulle was en die wat nog gesoog het sou vlug met die kleintjies. Eintlik n baie wrede ding vanaf n menslike oogpunt gesien. Die ou uitgebyte mannetjies sou die geveg verloor en baie swaar gewond sou dit ook hulle einde beteken en sou die hienas hulle opvreet.
Dit het lig geword en ek het nog probeer slaap maar die geraas van mense was te veel en ons het begin ry in n noordoostelike rigting soos die kaart van Livingstone voorgestel het. Ver het die aasvoels sien draai en sirkel en ek het die bakkie se neus in die rigting gedraai.
7 Maart 1978