Jongste aktiwiteit:

Nuwe jagters en die begin van die museum versameling en n nuwe geweer
vir

Nuwe jagters en die begin van die museum versameling en n nuwe geweer

Die nuwe groep boesmans was werklik baie verrinneweer en Jan Hugo het my vertel dat dit gewoonlik die werke van toormanne was wat hulle beheer het. Katwindi het die groep raak geloop met hulle olifant skietery en het baie moeite gemaak om hulle by Nyati te kry. Ek het geweet dat Jeannie weer baie dae by hulle sou deurbring en veral aandag aan die kleintjies sou gee. Ek glo die hele Botswana se nomadiese boesmans het op die stadium al geweet dat daar hulp vir hulle by ons of Makuku was en dat net die mag van toordery baie weg gehou het van ons af. Ons het die vleis gaan aflaai by hulle en hulle was werklik baie bang en verskrik. Ons het nie n segsman gehad nie want ou Tsamma wat by ons was het eers weer die natuur gemis soos so baie van hulle maar was en is vort. Jas kon hulle verstaan en ook van die nonne en daar moes getolk word. Hulle het n vreemde dailek gepraat wat ons nie geken het nie.

President Kghama het nog baie noue verbintenisse met Brtttanje gehad, sy vrou was van daar afkomstig en ook sy swaer Peter Williams en hy het daar gestudeer. Daar was nog familie verbintenisse en hy het baie respek vir die Britte gehad. Hulle het ook sy land voor onafhanklikheid goed bestuur en het jaarliks nog baie geld daarin gesteek en hy was hulle dankbaar daarvoor. Hy was n goeie leier en as hy ons laat roep het, het ons vooraf geweet waarvoor dit was en wat hy wou bespreek. Hy wou vir my en Bruce Kinlock en Jan Hugo sien in Maun en het ons drie dae gegee voor die helikopter ons kom haal het. Peter Williams was by en ons het nie baie lank gesels nie. Hy het nie goed gelyk vir my nie maar wou van die boesmans weet wat ons hom oor breedvoerig ingelig het en ook of die wildgetalle groei wat ons oor positief was en laastens die eintlike versoek.

Die staat het geld bele in n nuwe taksidermie besigheid in Maun onder leiding van twee broers, hulle was Ken en Mel Oake vanaf Rhodesie. Hulle plek se naam was Game Studios en hulle was baie kunstig en het ook baie fotografie gedoen. Hy wou vir die Britte se een of ander museum n volle versameling van die spesies van Botswana skenk en ook vir sy eie land se museum in Gaberone. Daar sou begin word met die soogdier spesies wat al klaar baie soorte was en dan met die voels wat net in die Delta oor die 400 was. Dit sou n reuse taak wees en baie goeie koordinering vereis so dat daar nie dubbel gewerk sou word nie. Die spesies moes manlik en vroulik wees en ons het die taksidermis gaan besoek. Die besigheid was in sy begin stadium en het my nie beindruk nie. Die een broer was meer n beeldhouer en daar was baie werk geskep en opleiding gedoen maar hulle het n lang pad gehad om te loop om op ons land se standaarde te kon kom. Geld was nie n kwessie by die staat nie en hulle moes uitbrei en op datum kom. Hulle was wat my betref te klein en nie opgewasse vir die taak nie. Sy opdrag aan my was om opleidings personeel te werf uit ons land en te begin met spesies skiet. Ek moes dit ook so deur gee aan die ander safari konsessie houers. Dit was n bekvol en ek het besluit om eers net by ons te begin en dan uit te brei. Ons sou net baie goeie verteenwoordigers van diere skiet, nie rekords nie maar mooi diere en ons manne sou die kuipe lewer. Kabous se pa het drie manne gekry uit ons land en binne maande was die onderneming aan die gang, hulle het die meeste werkers in Maun gehad binne ses maande. Die president wou met renosters begin wat in die suide in n reservaat was en waar daar n surplus was, ek het hom aangeraai om met makliker spesies te begin. By my in die Chobe was ook renosters maar nie ekstra diere nie en hulle was uiters beskerm deur almal wat betrokke was.

Ons drie manne het in Maun by Riley’s geslaap die aand want dit het te laat geword vir die loods om te vlieg en vroeg die volgende more is ons terug na Nyati waar nuwe jagters vir my gewag het en soos die bespreking gedoen was, was dit Australiers wat vir my snaaks was. Hulle wou altyd net by die Linyati gaan jag en dit sou die eerste groep by my wees. Die rede het baie gou duidelik geword, Selby kon hulle nie akkomodeer nie en hulle het by my begin en sou by Jakkie eindig. Dit was die eerste groep jagters wat drie was, wat ek by Nyati gekry het wat nog nooit in Afrika was nie. Dit sou iets nuut wees en ek het die Aussies geken as harde mense wat kon skiet en nie bang was nie. Dit was n pa en en seun en n skoonseun wat almal vanaf Canberra afkomstig was. Jack en John Mullin en die skoonseun Henry O’Connor. Hulle was besigheids manne in die plastiek bedryf en nie soos gewoonlik lede van Kerry Packer se sport empire nie, maar het al baie in hulle land gejag. Ons het baie kliente van Kerry Packer hanteer. Hulle het nie gewere saam gebring nie en Selby het n paar 404,s en ook twee 3006,e gestuur. Dit sou genoeg wees tesame met my arsenaal. Soos gewoonlik moes hulle ons vraelys invul en ek sou dit bestudeer om op hoogte te kon wees van hulle vermoens en hulle leefwyses. Ek het werklik lank laas met jagters heel van voor begin en dit sou my aan die dink sit. Ek het tot laat die aand gewerk deur hulle vraelyste en het vroeg die more op my dek gaan sit en met my jagters die jag bespreek. Dit was n 21 dae jag en het baie spesies ingesluit en die geld sake met Selby was in orde. Ons sou begin soos altyd by die kleiner goed en soos die manne aangepas het opwerk na die groter diere. Hulle het later by ons kom sit en alles is breedvoerig verduidelik. Hulle was by ons nadat artikels oor die Packer jagte in hulle land verskyn het.

Soos gewoonlik was die diere by die watergat baie mooi en kon ons baie soorte en baie mooi trofees sien, tog was daar nie by die basis geskiet nie. Ek het n gekweste koedoe een dag daar geskiet en dit was al wat tot op datum geskiet was by die watergat. Die manne was gaande oor die verskillende soorte voels en die baie spesies wild en veral die jong goedjies wat by die troppe was. April begin die nagte koel word en ook die dae in Botswana en die wild word vroeer die middae aktief en later in die oggende. Xolile was steeds besig met my eie boesmans se opleiding om te skiet en te leer bestuur en die Boesmans het hom baie geniet. Hy sou n hele week net op een konsentreer en dan die vogende een neem.Ek was hom baie dankbaar, ek het nie die geduld daarvoor gehad nie. My ondervinding van die Aussies was die teenoorgestelde as die Amerikaners wat baie meer geweet het van Afrika as ek. Ons het n draai by die skietbaan gaan maak en hulle was op datum met hulle skietvermoe en ek het het besluit dat ons net die skyfie vertoning oor skootplasings sou doen en dan begin jag. Hulle het gehou van die 375,s en ook van Jeannie se 404 en ek het die 338 gehad wat ek bykans nog nooit gebruik het nie, hy het n teleskoop gehad wat vir Jack baie handig was, hy was n man van byna sestig en ek sou hom persoonlik onder my vlerk neem. John en Henry was jong manne, my portuur en het ook in digte plekke oopvisier geskiet in hulle land.

Ek wou sommer n paar rooibokke skiet vir ons en ek en Luka is saam met Jack met net een bakkie verby ons kamp in die rigting van Rooigrond en Katwindi en Temba het die ander manne geneem. Ek en Jack het al gepraat en hy het al waterbuffels in sy land met n 375 geklop en hy het gese dat hulle ook aggressief is en n paar jagters het al verhuis as gevolg van waterbuffels. Tog het hulle nie so veel koper gevat soos ons buffels nie en het die manne hulle met 30 kalibers aangevat wat volgens hom n fout was. Hy sou gou verhuis as hy Afrika se buffels met so n kaliber wou skiet. Dit was moontlik en is baie gedoen, maar daar was beter kalibers as dit. Die tsessebe het soos hulle altyd maar doen op die miershoop gestaan en ek het vir Luka en Jack gestuur met die 270 en die 404 en ek sou n misleidings plan met n ompad ry en agter hulle wees. Jack was n man van bykans sestig en ek wou hom maar die ver loop en bekruip spaar. Jas en Twenty was by my, Sixty besig om skool te gaan by Xolile. Daar was baie mooi elandbulle maar ek het Luka gestuur vir n tsessebe en hulle van die kant van die droe omaramba dopgehou waar ek die bakkie tussen die palms weggesteek het. Ek was seker so vierhonderd meter weg en sou met die bakkie baie vinnig deur die omaramba jaag as hulle my nodig gehad het. Dit was lekker om ander mense dop te hou as hulle gejag het en Twenty was by wat die skietstokke moes dra as dit sou nodig wees.

Die bul het nog op die miershoop gestaan en hulle het bekruip soos wat die meester Luka baie goed kon doen, die volgende oomblik het die bok verdwyn en het ek die nat skoot hoor klap en ons het nader gery. Wild het na al die kante toe gehardloop en ek het nog n nat skoot gehoor in die ry en Jas het gese “ dis laak” en ek het gewonder waarna hulle skiet toe die elandbul vlak aan my regterkant neerslaan met n stofwolk. Ek het by die bul gestop maar hy was dood en na hulle toe gery. Dit was werklik n uitsonderlike mooi eland bul en ons het by die tsessebe gekom en ek het vir Jack geluk gewens. Die tsessebe het hy met die 270 op minder as 100meter geskiet en toe die eland hom die kans gee en Luka die goedkeuring, het hy die met Luka se 404 geskiet. Met die 400grein agter die blad het hy nie meer as vyftig meter gegaan nie. Ek het Jack se kamera geneem en die fotos geneem na die beste van my vermoe toe Luka se dat hy al baie kliente afgeneem het, ek was nooit n kamera mens nie en hy het verder saam met my afgeneem. Daar was nie rolprent kameras nie en ook nie bandopnemers nie. Hy kon myne die aand leen as hy wou maar hy wou nie. Dit was n goeie dag vir Jack en ons het sommer vleis vir ons en die boesmans gehad. Ek was nooit mal oor tsessebe en rooihartebeeste se vleis nie, ons het hulle gebruik maar dit was by verre nie in die klas van eland en rietbok en rooibok nie. Ons het die eland met die wenas opgekatrol en die ander bok gelaai en is terug huis toe. Katwindi-hulle het twee rooibokke en n gemsbok geskiet en ons sou nie die volgende dag jag nie. Hulle het werklik baie mooi trofee’s geskiet en veral die een rooibok was uitsonderlik.

Jeannie het op die radio geroep, daar was n verrassing vir my by die basis, ek was baie nuuskierig van geaardheid maar sy wou niks meer se nie. Ek het haar probeer n paar maal maar sy was so geheimsinnig en ek het met die swaar vrag reg teen die weste son in gery na Nyati. Dit was Selby wat daar was, ons het gegroet en hy het gevra of hy kon oorslaap, hy was soos altyd welkom. Hulle het op die dek gaan sit en Jeannie het soos n stout kind om my gedraai, ek het geweet dat iets aan die broei was. Ek was in die slagstoor waar daar tot laat geslag sou word en sy het gese dat ek na pensmis ruik en my moes gaan skoon maak, dat Selby min genoeg daar kom en ek moes aan hom aandag gee. Ek is na my slaap kamer toe met haar en Selby wat my van bo af dopgehou het. Op my bed was n groot houtkis en dit was aan my geadresseer van John Gleeson, die man wat siek by my gekom het en byna gesond by my weg is. Hy het n spul geld onder my kopkussing gelos toe hy weg is en ek het hom per foon bedank daarvoor, hy was net so aangedaan soos ek toe ons laas gepraat het.

Ek het geen idee gehad wat in die kis was nie en vir Temba geroep om my te kom help met n hamer en die kis is oopgemaak. Bo-op was meer as 500 Rigby doppe en n hele paar honderd Barnes koeels en baie bande vir my bandopnemer en onder in n geweerkis wat ek gedink het leeg was. Ek het die kis oopgemaak, binne in was n Merkel dubbel 416, nie nuut nie, maar so te se nuut. Dit was my droom, ek kon van niemand n beter perstent as n dubbel 416 gekry het nie. Dit was die kaliber wat ek my siel sou op verwed en die wereld se vetroue in gehad het, hy het dit geweet. Ek het met die geweer gaan sit en was bykans lam, die emosies het soos warrelwinde deur my brein getrek, ek was bly dat ek alleen was, ek was dankbaar en ongelooflik hartseer. Daar was n pragtige brief by van John wat ek vandag nog het, hy was so dankbaar vir alles wat ons gedoen het, ek moes die geweer geniet, hy sou weer kom kuier. Daar was ook n sertifikaat van n geweer smid by wat 100 skote met die geweer geskiet het en ook die teikens op 50 en 80 meter. Daar was n patroonband by en n baie mooi jagmes. My trane het op die pragtige geweer geval, ek het my oe toegemaak en gebid. Ek het nie geweet wat ek moes bid nie, ek het Dankie gese en vir John gebid, die geweer geneem en na die klompie op die dek geloop. Hulle het my in gewag en Selby het gese dat hy geweet het ek sou huil. Ek kon my hande nie van die geweer afneem nie en was soos n stout kind. “ I’ve got three 416’s now Oom, apart from this one you can choose one for you. You told me it will be the only rifle that I would find in heaven, have your pick Oom. I will take the Rigby when I need it in future, mine is still doing good, enjoy your rilfes and life. Come Boertjie, have a whisky, you’ve been quite busy lately, there is this big Ausse hunt that only started today. Relax a bit and let’s talk rubbish, it’s been a while since we’ve been together and I am going home tomorrow. Let’s enjoy the night.”

Ons het die aand geniet en Maria en Temba het kos gemaak en ons het tot laat op die dek gesit en net gesels met mekaar en die jagters. Daar was goeie kos en vars groente en genoeg koue goed en ek kon nie vir John skakel nie, die tydsverskil was groot en Jeannie sou hom skakel en my roep. Daar is tot laat in die nag vleis gewerk en baie is by die boesmans afgelaai en hulle was baie dankbaar maar hulle toorman was nog in die veld gelos en dit het my en Jan Hugo gepla. Een mens sou moeilik oorleef en hy moes gaan soek word die volgende more. My mense was te moeg en het te laat gewerk en ek het met Jan gereel dat ons met twee voertuie sou ry en ek sou vir Xolile en Sixty saam neem wat die hele dag net geleer bestuur en skiet het. Daar sou van die wilde boesmans moes saam gaan om ons te gaan wys waar om te begin soek en Sixty sou moes tolk waar Jan nie verstaan het nie. Ek sou vroeg opstaan en die dubbel geweer gaan skiet en ons sou eers na oggendete met ons ryery begin as Selby op pad terug was. Ek wou die dubbel 416 se doppe eenkant hou van die ander doppe en het die aand 50 gelaai met 20 soliede koeels en dertig holpunt koeels en is vroeg die more saam met Luka skietbaan toe. Hy het n dubbel aanbid en was mal oor enige dubbel geweer en wou dadelik my 9,3 he wat ek nooit sou doen nie want Jeannie se pa het die geweer vir my gegee. Ek het swakker as die geweersmid wie se teikens ek gehad het geskiet maar kon n 2 duim groepering op honderd meter doen. Luka het swakker as ek gevaar en ek het geweet dat die geweer n nuwe aanpassing sou wees. Agter die V visier het hy n opslaan gaatjie visier gehad waarmee ek beter gevaar het as die V visier.

Ek en Jan Hugo het in n westelike rigting gery na waar die groep boesmans vandaan gekom het. Xolile het sy bakkie gery en hy en sy seuntjie saam met my en drie wilde boesmans het op die ander bakkie gery. Ons het gesels en die pragtige wild waardeer en ek het die nuwe dubbel gehad en my 6.5 en vir die seuntjie het ek n windbuks gekoop toe ek in ons land was. Hy het darem al n kwevoel geskiet en dit vir my kom wys, ek sou nie kla nie, hulle het my baie male wild gekos en was maar net n super grootte muisvoel. Die wereld het begin droog word en Jakkie se ouers het geboor op die Mababe vlaktes waar daar te veel water in die somer was en niks in die winter nie. Ons kon die spore van die trekkende groep boesmans volg en dit het reg wes in die rigting van die Delta gelei. Hier was baie mooi Kremetarte en hulle het ons gaan wys waar die skepsel agter gelaat was. Ons kon op sy spoor ry en later het een gedraf op die spoor en mekaar afgelos en Jan Hugo het gese dat hy al n ou man moes gewees het en nie ver sou gaan nie. Ons het hom na drie ure onder n Maroela gekry en hy was honger en verward en dors. Sy toorkrag was gebreek want sy mense het hom agter gelaat en hy was al n ou man en het soos n muishond gestink. Belangrik was dat hy effens Afrikaans kon verstaan en dit het hom dalk die magiese krag oor sy mense gegee. Jan het vir hom die reels verduidelik en ons het hom water en kos gegee wat hy verslind het met die paar tande wat hy gehad het en hom by die ander opgelaai en die terugtog aangepak.

Sixty moes op my dak sit en kyk vir varke want dit was n groot groep boesmans en varke het hulle baie gou laat ronde ribbes kry. Hulle het ook die vleis gerook oor stelasies met groen blare en dit sou lank hou. Hulle honde was ook in n baie swak toestand en ook die moes versorg en reg gedokter word. Ek het die ou man baie jammer gekry en gewonder wat van hom sou word want sy eie mense sou hom nie weer terug by hulle toelaat nie. Sixty het gestop en ek het met die dubbel drie varke bekruip wat teen die wind op die gras gewei het saam met hom. Ons kon tot so sestig meter van die naaste een kom en ek het hom geskiet en die ander twee het nader na my toe gedraf en hulle beide geskiet met een mis skoot. Sixty het gese dat die geweer met die pyp op wat in die bakkie was beter as die tweeloop was, hy het nie gemis nie. Dit het nie veel aan my selfvertroue gedoen nie want my een skoot was mis op veertig meter. Ek sou dit wel uitwerk vorentoe. Ek en die tweeloop sou nog n ent moes loop om mekaar te kon verstaan.

Ons het die ou boesman by die nonne gaan aflaai en ek het geweet dat hulle hom sou skrop soos hy nog nie geskrop was nie. Hy sou ingespuit word en sy vrot tande sou getrek word en hy sou anders lyk as ek hom weer sou sien. Baie van hulle het ek nie herken na so n sessie nie. Die varke se tande is afgesaag want Selby wou alle tande he en ek het huis toe gegaan en weer was Jeannie geheimsinnig en later sou dit uitkom. Sy en Jakkie en Kabous se vrouens wou vir drie weke oorsee gaan na haar mense toe. Ek kon dit verstaan, sy was baie lief vir Afrika maar het haar mense gemis en sy het geweet dat ek nie gou weer die VSA sou besoek nie. Hulle sou oor drie dae ry want dit het haar ouers se vliegtuig gepas wat hulle op Maun sou kom haal. Ek het n klomp velle gehad wat klaar gelooi was wat ek vir haar pa wou saam stuur en die taksidermie manne het dit vir my gepak en goed gekeur. Daar was omtrent vyftig volstruis velle in n paar kleure gelooi en ook vyf luiperds wat probleme gegee het. Een het vir Ben gebyt en die ander het n vrou gevang en nog drie wat ek moes skiet, werklik baie mooi velle wat hy in sy pels bedryf kon gebruik. Ek sou haar mis maar ons het mekaar die ruimte gegun en ek het die Australiese jag voor my gehad wat ek nie kon afskuif nie. Maria sou haar plek in neem om vir my te sorg en ek sou baie besig wees en het besluit om die beste van die mense se jagtog te maak. As n jag bespreek was vir 21 dae het ons dit gewoonlik klaar gemaak met n week wat nog oor was en wat die manne kon ontspan en die natuur geniet en nie so hard gejag het nie. Dan het ons in die natuur probeer ontspan en veral langs die rivier met die bote sou daar heerlik gerus word.

Daar was die museum episode wat ook voor my gele het en iets wat ek baie graag sou wou doen, dit sou na my jare in Botswana al trofee’s wees wat ek sou besit en dit sou die wereld se eiendom wees. Ek het besluit om dit so goed as moontlik te doen en aan te pak. Dit was n lang termyn taak en dit moes n sukses wees. As jy vandag in London kom by die Royal Museum, let mooi op na die bokke uit Botswana, baie van hulle het ek geskiet. Ek het hulle laas in Botswana gesien.

26 April 1978




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed