Jongste aktiwiteit:

Marlene Erasmus
vir

Marlene Erasmus

Lees meer oor Marlene Erasmus

JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK

1.Jy het nie geleef tot jy buite geeet het nie

’n Mandjie, ’n kombers… en ’n diep menslike behoefte om net vry te wees.

Iewers, lank gelede, moes iemand genoeg gehad het van formele eet-tradisies. Van klokslag-etes, stywe tafellopers, servette wat soos swane moes lyk, en messe wat altyd regs moes wees. Daardie iemand, dalk ’n stil rewolusionêr met sy sak brood onder die arm, het besluit: Kom ons vat ons kos buite toe. Weg van plafonne en protokol, weg van die druk om regop te sit. Weg van stil wees op die verkeerde tyd en van “pasop vir jou klere.”

Dis moeilik om met sekerheid te sê waar piekniek regtig begin het. Die Franse het in die 17de eeu die term pique-nique gebruik – iets soos “pik en knibbel,” of “bring-en-deel” begin en ja, dit het gewild geword toe hulle hul tuine oopgemaak het vir ontspanne saamwees. Maar as jy mooi dink, is piekniek waarskynlik baie ouer as Franse finesse. Ek glo dis ’n oerinstink.

Dit sit in ons menswees, in daardie eenvoudige drang om kos en saamwees te deel in die buitelug. Miskien het dit reeds begin toe iemand in die oertyd sy stukkie vleis oor die kole gerooster en met ’n ander gedeel het, sommer so sit-sit onder die sterre. En daar, op ’n klip of ’n lap, het hulle saam geëet en iets ontdek: Eet smaak anders buite. Sagter. Meer eg. Jy eet stadiger, luister beter en lag makliker.

Piekniek is in sy wese nie pretensieus. Jy hoef nie iets spesiaal te hê nie. ’n Paar toebroodjies, ’n kombers, ’n koeldrank of koffie in ’n fles. En tog verander dit in ’n fees -juis omdat daar geen verwagting is nie. Dis juis dít wat so bevrydend is: jy mag mors, jy mag lê en lag met ’n krummel op jou wang. Geen stoele. Geen etiket. Net die wind, die geselskap en die sagte asem van tyd wat stadig beweeg.

Dit is waarom piekniek altyd meer as net eet is. Dit is ’n ervaring. ’n Ritueel van ontvlugting. ’n Klein rebellie teen die gejaag van die lewe. Wanneer laas het jy lank stilgesit sonder jou selfoon, sonder jou horlosie, sonder ’n agenda? Piekniek maak dit alles moontlik.

Dit is ook die plek waar generasies mekaar vind. Waar oumas konfyt op roosterbrood smeer en kleinkinders met rooi wangetjies agter balle aanhardloop. Waar die tannie met die sonhoed daai koue hoender uithaal wat almal jare later nog onthou. Waar iemand altyd die plastiek mes breek, maar niemand gee regtig om nie.

Piekniek leer ons dat kos nie net vir die maag is nie, maar vir die hart. Dit is herinneringe op servette, stories in koelhouers en nostalgie wat ruik soos vars brood en warm koffie. Dit is waar jy iemand se oë regtig raaksien, sonder filters.

En ja — soms is daar miere. En die wind waai die servette weg. En iemand mors die limonade. Maar dit hoort daar. Dis deel van die loslit-lekkerte.

As die son begin sak en jy jou goed bymekaarmaak, is daar altyd daardie laaste blik: kinders wat moeg en vol koek sit en giggel, ’n kombers vol broodkrummels en daardie gelukkige moegheid van ’n dag buite. Jy ry huis toe met stof op jou klere, maar geluk en vrede in jou bors.

Want piekniek, liewe leser, is nie net kos op ’n kombers nie. Dis hoe ons weer leer asemhaal. Dis hoe die lewe – vir ’n rukkie eenvoudiger voel.

’n Mandjie vol beloftes van môre. ’n Slukkie vryheid. ’n Stil viering van alles wat regtig saak maak.

So, pak daardie piekniek-mandjies …

©MarleneErasmus
30/06/2025

JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK

2.Vertikale tyd

Mens hoor dikwels mense kla dat tyd so vinnig verby gaan. Dan dink ek dat ek my tyd wil vat soos mens ’n lekker warm brood eet: stadig, met smaak en respek, amper met ’n gebed. Want vir my is daar oomblikke waar ek my tyd in heilige samesyn spandeer en ek noem dit vertikale oomblikke. Dit is die tyd wat nie net deur jou vingers glip nie. Oomblikke wat bly luier in jou hart, nie in die besige skedule van ’n dagboek nie, maar in die binneste. Hierdie is nie gewone tyd in die menslike sin nie, dit is heilige tyd.

Ek het dit besef toe ek vanoggend Psalm 90 lees: “Want duisend jaar is in U oë soos die dag van gister as dit verbyskiet…” Die vers is al baie gehoor, gelees en selfs ook gesing. Maar vandag het dit my stilgemaak. Nie net stil van buite nie, maar van binne. Dit is toe ek die vers nie net verstaan het nie, maar ontmoet het.

Vertikale tyd gebeur nie wanneer die horlosie sy gewone gang gaan nie. Dit is juis wanneer die horlosie irrelevant raak. Asof tyd self ook terugstaan en luister. Dit is wanneer God nie net in die Skrif is nie, maar in die oomblik. Dan besef jy: hierdie is nie net tyd nie – dit is teenwoordigheid.

Ons sien tyd ook in die klein dinge:
Wanneer jy in stilte bid en voel jy is nie alleen nie, al is jy die enigste mens in die vertrek.
Wanneer jy ’n vers begin skryf en jy besef: jy het nie die woorde gaan soek nie, die woorde het jou gesoek.
Wanneer jy ’n reuk ruik, of ’n foto sien, en iets van lank gelede kom terug soos ’n vriend wat jou besoek.
Wanneer jy iemand omhels en jy voel nie net hulle arms om jou nie — jy voel hul stille begrip.

Dit is die tyd wat nie verbygaan nie. Dit is tyd wat stilstaan – nie in stagnasie nie, maar in betekenis.

Die Bybel praat van kairos ook, nie net chronos nie. Jesus sê: “Die tyd is vervul.” Hy bedoel nie ’n dag op die kalender nie. Hy bedoel: nou is die oomblik. Die regte oomblik. Die heilige een. Die een wat nie weer kom nie, maar wat bly omdat dit by God hoort.

Ek dink ons moet weer leer hoe om tyd te sien. Nie net op ons foon of kalender nie, maar in mense se oë. In die stilte van die nag. In die oomblikke waar niks groots gebeur nie, maar iets ewig gebeur. Vertikale tyd is nie vir prestasie nie, dit is vir teenwoordigheid.

Hoe leef ’n mens in daardie tyd? Ek dink jy vertrou net. Jy jaag niks na nie. Jy hou jou hande oop. Jy bly gevoelig vir die fluistering wat nie in woorde kom nie. Jy gee erkenning aan daardie oomblikke, en jy deel dit met ander. Want daardie soort tyd hou nooit op nie, dit dra ander mense saam.

Ons is maklik vasgevang in take en reëls. Maar ek leer: wysheid groei nie net in kennis nie, maar in ontmoetings.

Vertikale tyd leer ons om te ontvang. Om te onthou. Om stil te wees sonder om te vrees. En om die Ewige raak te sien in die gewone.

Mag ons leer om die soort tyd te sien wat nie op ons horlosies staan nie. Die soort tyd wat nie net verbygaan nie, maar wat ons raak en ons herinner in Wie se hand tyd is.

©MarleneErasmus
31/07/2025

AUGUSTUS 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK

2.Jou huis is waar jou hart is

Ek het daardie huis nooit besit nie, maar vir jare het dit soos myne gevoel. Vir ses jaar het ek daar gewoon, ’n plek van stilte na ’n lang dag, ’n kombuis waar ek my gunsteling disse voorberei het, ’n stoep waar ek die seisoene verby sien rol het. Maar dit was nie net die mure of die dak wat dit ’n veilige hawe gemaak het nie. Dit was die lewe wat ek saam met my mense daar gebou het: troues in die tuin onder wit tafeldoeke en vrolike blomme, kleinkinders wat vir die eerste keer deur die voordeur kom, verjaarsdae waar die tafels vol ballonne linte en koek gestaan het.
In die grasdak-lapa het ons soveel keer gebraai, stories gedeel tot laatnag. Langs die swembad het ons kinders en kleinkinders se gelag die lug gevul. Ons het waatlemoengevegte gehou en piekniek op die lowergroen gras, wat nou nog ’n glimlag optower.

Dit was ’n huis vol siel en liefde, net ’n leë dop toe ons daar ingetrek het, maar gaandeweg het dit my ons eie paradys geword.

En toe, op ’n grys dag vol reën, het daardie oproep gekom. My hand was nog in gips ná ’n operasie, my lyf nog broos en pynlik. Die eienaar se stem het verskonend begin, maar die woorde het hard geval: daar is mense wat die huis kom besigtig, wat moontlik wil koop. Ek het by die tafel gesit, die reuk van reën swaar in die lug. Ek het gevoel hoe die mat onder my voete uitgeruk word.

Toe die bevestiging later kom dat ons moet trek, het ek net stil begin huil. Ek het op my bed gesit, ontsteld en met soveel vrae. Hoe beskryf jy die gevoel om jou veilige hawe te verloor? Nie net ’n dak nie, maar die plek waar jy vreugde en pyn beleef het, waar jy vriende gevoed en kleinkinders geniet het? Vir my het dit nie gevoel asof iemand nie net ’n huis verkoop nie, maar die hartklop van my lewe.

Eers was dit ontkenning van uitstel met die pakkery en nuwe plek soek. Die dae daarna het gevoel soos ’n warboel van kartondose en moedeloosheid. Hoe pak mens ’n hele bestaan in bokse? Hoe vat jy lag, trane en herinneringe saam? Ek kon skaars my eie hand gebruik, nou moes ek nog my hele lewe oppak!

En tog, tussen die chaos, het ek een troos gevind wat my gedra het. Elke oggend, voordat ek enigiets anders aangepak het, het ek rustig met my koffie in die tuin gaan sit. Hulp van die kinders het gehelp om die herstel te bring. Saam het ons orde aan die dag gelê.

Elke klein handeling van uitsorteer en verminder het my deur die dae gedra. Dit was genoeg om mee te begin.

Van daar af het ons die roetine uitgebrei: bokse is netjies gemerk en ’n notaboek het ’n lys van die inhoud. Ons het uitgegooi, uitgedeel en minder gemaak. Die chaos van nooit uitsorteer het ons elke dag in sy greep gehou. Elke aand het rooisbostee ons lywe getroos, al het die kombuis in kartonne verdwyn. Elke dag was ’n klein oorwinning, wat keer dat ek heeltemal weggevoer word.
Die dag toe ek uiteindelik die sleutels moes teruggee, het ek weer deur die mooi groen tuin gestap. Ek het die grenadella tussen my hande gehou en dankie gesê vir die voorreg om te kon plant na hartelus. Die vloere was skoon gevee, die huis leeg en die kamers vol eggo’s. Ek het my hand teen die deurkosyn gelê, swaar van emosie en tog ligter as weke tevore. Ja, ek het gehuil, maar dit was trane van afskeid én van dankbaarheid. Want ek het geweet: herinneringe verdwyn nie saam met die huis nie, hulle leef voort in my hart.

Nou, meer as ’n jaar later, leef ons in ’n nuwe ruimte: ’n kleiner huis, met ruimer asem van vrede. Hier sit ek smiddae op die bankie in my tuin en kyk hoe die perde kom water drink. Ek luister na die voëltjies wat baljaar in my waterfontein onder die ou witgatboom. Die chaos van toe voel ver weg – soos ’n storm wat uitgewoed het, maar sy spore in my siel gelos het.

Ek verstaan nou: orde kom nie net in bakstene en ’n bekende adres nie; dit kom van die roetines en die vrede wat jy skep waar jy ís.

Ons is dolgelukkig hier in ons nuwe paradys. Die huis is beskeie in grootte, ryk in rus en eenvoud, lê die anker steeds in die klein handelinge: ’n tuin wat floreer, ’n beker tee, voëltjies wat hul vlerke in die fontein bad.
En ek besef: uit die grootste chaos kan nuwe ritme groei – soos vars gras ná ’n veldbrand.

©MarleneErasmus
24/09/2025

(792 woorde)

 

NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK

1.Slaap, jou wondersoete ding!

Daar kom ’n stadium in ’n mens se lewe waar slaap nie meer jou eie bedmaat is nie, maar ’n kieskeurige besoeker wat kom wanneer hy wil en dan boonop bly net so lank soos wat hy daarvan hou. Die ironie is, ek het hom vroeër jare nie juis waardeer nie. Ek het my oë gesluit en die wakkerwees-wêreld het verdwyn soos mis voor die son. Nou, aan die ander kant van sestig, moet ek hom hof maak soos ’n skaam geliefde. Met geduld. Met beloftes. Met warm melk en mooi woordjies van ondersteuning. En dikwels loop hy nog steeds verby my venster, soos ’n buiteperd in die ope velde.

Snags lê ek meestal doodstil – nie omdat ek so kalm is nie, maar omdat al my gewrigte hul eie taal praat wanneer ek te veel beweeg. Hulle kan vir jou ’n behoorlike gesprek voer! Die kamer is donker en die stilte hang soos ou klere teen my hangkasdeur. Ons kombers, lankal vertroud met die vorms en bulte van ’n lyf wat sy eie verhaal vertel, vou sagkens oor my heupe. Ek probeer doelbewus asemhaal, diep en rustig, soos voorgeskryf op aanlyn artikels. Daar waar die jonger garde my wil kom leer en vertel wat om te doen … Maar my gedagtes is wawydwakker, helder soos die sterre in ons droë Namibiese hemel.

Dit is vir my so eienaardig: deur die dag sukkel ek om te onthou. Ek stap kombuis toe en vergeet hoekom ek daar is. Ek blaai deur die televisiekanale en vergeet wát ek wou kyk. Maar as die maan hoog staan, word my brein ’n argivaris van alles wat ek ooit nog moes onthou: resepte van 1972, die naam van die Engelse onderwyser wat altyd “Mamma Mia” gesê het, die rekening wat ek Dinsdag moes betaal het en natuurlik: die vraag of ek onthou het om die stoof af te skakel. Dit is nie dat ek oor sekuriteit bekommerd is nie — dit is net dat ek weet, as ek opstaan om te kyk, sal die nag se rus soos ’n voëltjie wegvlieg en nie weer terugkom nie.

Intussen word my kussing gedraai, gedruk, gevou en omgekeer! Op dié koel kant. Op die ander koel kant. Totdat daar geen koel kant meer bestaan nie. Langs my snork my wederhelfte soos ’n kettingsaag wat al dekades getrou balke saag. Ek het al voorgestel dat ons Eskom daarvan bewus moet maak — dalk kan hulle hom in diens neem. Soos dinge nou staan, sny hy genoeg hout vir ten minste drie woonbuurte.

Ek luister na sy asemhaling – die ritme skerp en raserig, en vir ’n oomblik voel ek vreemd tevrede. Ons is al saam so lank dat selfs sy gesnork deel van die geheime klankbaan van ons bestaan is. Party niggies het herinneringe van romantiese musiek en sagte woorde. Ek het herinneringe van asemhaling wat klink asof iemand ’n trekker aanskakel daar in die verte. Maar hierdie is óns musiek, en dis goed genoeg.

In my soektog na slaap het ek alles probeer wat oumas, dokters, familie en onlangse gesondheidswebtuistes voorstel. Kamille tee – wat goed werk, mits jou blaas bereid is om die nag saam met jou te spandeer. Laventeldruppels op die kussing – dit is mooi vir die eerste uur; daarna ruik die kamer soos ’n apteek wat besluit het om parfuum te vervaardig. Meditasie, maar ’n mens kan nie in vrede asemhaal as jy jou eie asem monitor soos ’n brandalarm nie. Na drie minute het my rug gepraat, my voete gesing, en my senuwees het besluit die oefening is nie vir mense met ervaring nie.

Slaappille werk ook, maar bring ’n mens in die gevaar van vergeet. Want as jy vergeet dat jy een gevat het en weer een neem, word jy die volgende oggend wakker op die stoep, in jou pantoffels, met die koerant onderstebo en ’n halwe broodrolletjie wat jou hond jaloers aangaap.

En dan breek die nuwe dag aan. Die lig stort oor die tuin soos melk oor ’n koppie se rand. Die duiwe staan klaar gereed vir hul eerste vergadering van die dag, en ek sit met ’n koppie koffie op die stoep. As ek gelukkig is, vang ek bietjie son op my arms. As ek nog gelukkiger is, sluimer ek binne paar minute in. Die koffie loop dan in ’n dun strepie oor my bene af – ’n soort ‘badge of honour’ vir ’n nag van wakker lê.

Die moegheid loop saam met my deur die huis, deur die dag, deur al my gesprekke. Ek en my vriendinne sit saam, gesels los en vas oor die wêreld en sy vreemde dinge. Een vertel ’n storie ’n buurvrou met ’n raserige hond. My brein besluit om vir ’n oomblik te rus. Sy praat, ek knik, glimlag en vang soms net die laaste drie woorde: “en toe sê sy…!” Ek antwoord “Dis ongelooflik!”, en hoop maar dit pas in by haar vertelling.

Selfs in die kerk is ek nie heel veilig nie. Die prediker se stem is strelend soos ’n rivier deur ’n dorre veld. Hy praat oor die skepping, oor die goddelike asem wat lewe gee en ek neem sy woorde ernstig op: so ernstig dat ek my kop oorgee aan ’n knik en ’n sagte, heel menslike harde snork. Die tannie langs my tik my hard met die Bybel op die arm en fluister: “Die Here wil jou wakker hê.” Ek glimlag net, maar ek weet: dit was nie spiritualiteit nie, dit was ek wat vir die gemeente sing.

Televisie kyk word ’n heel ander avontuur. Ek gaan sit vir my gunsteling sepie; word wakker by die weervoorspelling. Ek probeer dan die weer kyk, maar teen die tyd dat die temperatuur vir môre aangekondig word, slaap ek weer rustig soos ’n baba.

Maar, en hier is die interessante deel: met die tyd begin ’n mens vrede maak met hierdie vreemde ritme. Slaap is nie meer eenvoudig nie – nie soos in jou twintigs, wanneer jy gaan lê, slaap en opstaan in ’n sekere patroon nie. Dit word eerder ’n gesprek of ’n dans tussen jou en jou liggaam. Soms begin die dans te vroeg. Soms begin hy te laat. Soms kom hy eers as jy al lankal vergeet het van die dans.

Snags, wanneer die huis stil is en die maan die vloere silwer verf, sit ek regop en luister na die naggeluide. Dit is ’n soort stil uur, een wat jou nie straf vir wakker wees nie. ’n Mens onthou. ’n Mens dink. ’n Mens kyk terug sonder bitterheid en vorentoe sonder vrees. As die slaap my dan vind, is daar iets sag daarby – iets wat ek vroeër jare nie geken het nie. ʼn Soort stil dankbaarheid.

En as ek nie slaap nie? Dan rus ek steeds. Want rus is vir my meer as net slaap. Dit is oë wat stil in die verte staar, hande wat nie werk nie en ’n hart wat rustig klop.

Slaap kom, soos alle goeie dinge, wanneer hy reg is.

En wanneer hy uiteindelik wel sy arms om my vou, voel dit soos ou, bekende beddegoed en sagte dagbreek – ’n herinnering dat selfs die nag ook sy eie troos bring.

En so fluister ek, elke aand, sonder haas:

“Slaap, jou soete ding.”

Al kom hy laat. Al bly hy kort. Hy kom mos nog steeds — en ek is hier om hom te ontvang.

©MarleneErasmus
21/11/2025

(1238 woorde)

 

JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK

1.Die dag na my besluit

Een ding is baie seker: niemand praat regtig oor die dag ná ’n nuwe begin nie.
Ons praat. Maar praat oor die besluit self – daardie oomblik wat ons die besluit geneem het, met baie bravade, vol vuur en groot woorde, praat ons nie! Ons hou van die idee: nuwe jaar, en nuwe voornemens Maar die dag ná die besluit is ons skielik stiller. Onopgesmuk. Sonder fanfare.

Dit is ’n gewone oggend.

Die ketel kook nie ewe skielik harder omdat ek besluit het om nuut te begin nie. Die son kom steeds op dieselfde tyd op. En … my lyf is steeds net so moeg soos gister en die dag voor dit! En: ergste van alles, my hardnekkige huurders, het nie oornag hul tasse gepak en verdwyn nie.

En tog.

Iets voel vir my anders?

Ek sit op die rand van my bed en luister hoe die huis ontwaak. Dit is daardie uur net voor die wêreld regtig begin raas – wanneer motors nog min is en selfs die voëls nie so hard sing soos later in die dag nie. My voete soek die koue vloer, soos altyd. My hand soek die bedlampie se skakelaar. Alles nog net dieselfde.

Ek dink dit is mos hoe nuut begin eintlik moet lyk: nie soos iets wat met oorverdowende lawaai sy opwagting maak nie. Sulke drastiese veranderinge laat mens dalk net skrik en dit laat jou vergeet van jou nuwe idees.

Vir baie lank het ek geglo ’n nuwe begin moet ’n heeltemal vreemde, nuwe voel wees. Soos om jou asem uit te blaas na ’n lang asem ophou! Maar wat as dit eerder voel soos ’n nuwe verantwoordelikheid? Soos: dit is nou so, nou moet ek met my nuwe besluit begin saamleef. Ek moet hom my metgesel op my lewensreis maak.

Mens raak nooit ontslae van jou verlede nie. Jy kan nie net totsiens sê en van hom vergeet nie! Dit bly in jou menswees, in die laaie van jou geheue. ’n Nuwe begin is nie ’n spierwit nuwe uitveër nie. Dit is eerder ’n nuwe bladsy met die vorige hoofstukke nog vars in jou geheue.

Ek stap na my kombuis en kyk deur die venster. Ek maak tee. Rooibostee. Want sommige dinge troos ’n mens wanneer daar verandering plaasvind. Die koppie is warm teen my handpalms. Dit is ’n klein, aardse troos. Ek drink stadig. Die smaak van Rooibos vul my asof ek my liggaam moet oortuig: hier begin dit, maar daar is nog tyd om gewoond te raak.

Die waarheid is dat ek nog altyd bang was vir nuwe dinge, of nuwe ’n manier van doen. Bang vir die gevolge wat dit kan bring. Want wanneer jy ophou hardloop, hoor jy dinge skielik anders. Jy hoor weer jouself – jou eie stem. Jy hoor ook waar jy vir jouself gejok het. Jy hoor ook watter drome jy lankal opsy geskuif het, soos radio’s wat net in die agtergrond gespeel het.

Maar dalk is ’n nuwe begin nie om iets nuuts te word nie. Dalk is dit om terug te keer na iets van ouds wat jy verloor het toe jy te besig was om net te oorleef.

Ek dink aan al die kere wat ek gesê het: Later. Later sal ek rus. Later sal ek eerlik wees en mense vertel wat ek voel. Later sal ek begin leef soos iemand wat glo daar is nog baie tyd. “Later” het ’n lang skaduwee, en op ’n dag besef jy: later het net ’n gewoonte geword.

Om nuut te begin vra nie groot heldedade nie. Al wat dit van my vra is: wees getrou en gehoorsaam. Dit is daardie opstaan wanneer jy nog wil bly lê. Praat wanneer stilte eintlik die makliker keuse is. Dit is om te bly wanneer weggaan beter voel. Dit is beslis nie poëties mooi nie. Dit is prakties, en dit is ook bietjie uitputtend.

Maar dit is eg en reg.

Ek skryf my naam bo-aan ’n skoon, wit leë bladsy. Nie omdat ek iets aan ander mense moet bewys nie, maar omdat ek myself wil herinner: ek is hier. Vandag is dit my eerste dag van my nuwe begin. Dit is nie eers môre nie. Nie wanneer alles klaar reg en in plek is nie.
Vandag, met realiteit, twyfel en effens lae moed.

Die dag ná die besluit eindig sonder enige groot vuurwerke. Die son sak weer. Ek is steeds moeg, maar as ek my bedliggie afskakel, besef ek iets wat my verras: ek voel nie meer vasgeketting in gister nie.

Net verlig en vry.

En dalk is dit al wat ’n nuwe begin regtig is – nie ’n antwoord nie, maar nuwe spasie waarbinne ek nou leer asemhaal.

©MarleneErasmus
31/01/2026

(779 woorde)

 

MAART 2026 – HERFS/KAS P ROJEK

3.In die reuk van motbolle

Op oupa Koos se plot was daar een kas waaraan niemand sommer geraak het nie. Hy het nie in die voorhuis gestaan waar almal hom kon sien nie. Nee. Sy plek was agter in ’n skemer hoek van die huis. Gewone kaste hou klere en linnegoed. Maar om party kaste kom daar mettertyd ’n heilige stilte lê. Stilte wat oor jare nie ligter word nie, maar swaar bly.

In ou huise leer ’n mens gou van sulke kaste. Nie omdat iemand jou waarsku nie, maar omdat jy dit aanvoel. Oupa Koos se kas was vir my nog altyd daardie soort. Nie openlik verbode nie, maar tog nie vir elke oog bedoel nie. Sekere goed in ’n huis kry met die jare hul eie gewydheid. Jy weet dit lank voor jy weet waarom.

As kind het ek nooit geweet waarom daardie kas my so laat wonder het nie. Daar was niks besonders aan hom nie, tensy ’n mens verstaan dat party gewone goed oor jare iets van die mense rondom hulle begin dra. Miskien was dit juis die stilte daarom wat my laat wonder het. Nie die stilte van verwaarlosing nie, maar van iets wat te noukeurig bewaar is om sommer net vergete te wees.

Hy was ’n swaar kas, donker van lyf en geset in sy skemer hoek, nie net nog ’n meubelstuk in die huis nie. Die koperhandvatsels was dof en die hout op plekke glad van jare se aanraking. Uit sy nate het daardie bekende reuk van stowwerige motbolle gekom. Die ander meubels is gebruik, verskuif en gereeld afgestof. Maar hierdie kas het stil op sy plek gestaan. Hy het gevoel soos iets wat nie net bêre nie, maar bewaak.

Met die verloop van die jare het ek begin verstaan dat families nie altyd hul diepste hartseer begrawe nie. Partykeer word dit net versigtig in die donker gehou. Opgevou. Toegevou. Weggebêre waar dit nie te veel aandag sal trek nie. Miskien is dit waarom daardie kas my altyd laat huiwer het. Nie omdat ek geweet het wat daarin skuil nie, maar omdat ek lank voor die tyd al gevoel het dat sekere stiltes gewig het.

Die dag toe die kas uiteindelik oopgemaak is, het dit nie gevoel soos die oopmaak van ’n meubelstuk nie. Dit het gevoel soos die oopmaak van iets wat lank teen lig beskerm is. Die deure het swaar oopgegaan, asof die hout self gewoond geraak het aan toe bly. Die reuk het eerste uitgekom. Nie net die reuk van motbolle nie, maar ook daardie donker, droë reuk van ou linne, vergeelde papiere en jare wat sonder vars lug gelê het. Alles daarbinne was netjies, amper té netjies. Asof sorg self die laaste hand was wat daaraan geraak het. Dit was juis daardie orde wat my onkant betrap het. Want wanorde verklap verwaarlosing, maar netheid verraai iets anders: dat dit wat hier neergelê is, nie vergete was nie, net versigtig uit die lewe gehou.

Tussen die linne en ou papiere was dit juis die kleinheid van die goed wat my laat stilstaan het. Nie iets dramaties nie, maar broosheid self. ’n Enkele goue haarlok, versigtig bewaar. ’n Dokument, vergeeld en bros aan die kante, versigtig tussen ander papiere ingeskuif asof dit beskerm moes word. En toe, in oupa Koos se eie handskrif, woorde wat nie bedoel was om mooi te wees nie, net: “Voorkind.” In daardie oomblik het die stilte van die kas skielik ’n naamlose gewig gekry.

Die sertifikaat van Upington-Oos-hospitaal het die laaste donkerte oopgeskuif. Nie met groot woorde nie, maar met daardie koue, amptelike taal waarmee ’n dood op papier vasgelê word. Wat daarin bevestig is, het nie net ’n geheim blootgelê nie, maar ’n hartseer wat oupa Koos en ouma vir dekades saamgedra het: ’n kind wat vir aanneming bedoel was, maar nooit in iemand se arms beland het nie. ’n Lewe wat nog voor sy begin reeds uit die familieverhaal moes verdwyn, en toe in stilgeboorte geëindig het. Skielik was die kas nie meer net ’n plek van bewaring nie. Hy het geword wat hy dalk nog altyd was: die swygende hart van ’n verlies waarvoor daar in daardie huis nooit regtig woorde was nie.

Miskien is dit hoe sommige families met verdriet leer saamleef. Nie deur dit uit te praat tot dit ligter word nie, maar deur dit op te vou en tussen die gewone goed van ’n huis weg te bêre. Tussen lakens. Tussen winterklere. Tussen papier wat vergeel, maar nie verdwyn nie. Sedertdien dink ek anders oor ou kaste. Party bêre nie net wat van ’n huis oorgebly het nie. Party hou vas aan wat nooit heeltemal geleef kon word nie.

Die kas het nie net toegemaak nie. Hy het vasgehou.

©MarleneErasmus
18/03/2026

(784 woorde)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed