Marlene Erasmus
JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK
1.Jy het nie geleef tot jy buite geeet het nie
’n Mandjie, ’n kombers… en ’n diep menslike behoefte om net vry te wees.
Iewers, lank gelede, moes iemand genoeg gehad het van formele eet-tradisies. Van klokslag-etes, stywe tafellopers, servette wat soos swane moes lyk, en messe wat altyd regs moes wees. Daardie iemand, dalk ’n stil rewolusionêr met sy sak brood onder die arm, het besluit: Kom ons vat ons kos buite toe. Weg van plafonne en protokol, weg van die druk om regop te sit. Weg van stil wees op die verkeerde tyd en van “pasop vir jou klere.”
Dis moeilik om met sekerheid te sê waar piekniek regtig begin het. Die Franse het in die 17de eeu die term pique-nique gebruik – iets soos “pik en knibbel,” of “bring-en-deel” begin en ja, dit het gewild geword toe hulle hul tuine oopgemaak het vir ontspanne saamwees. Maar as jy mooi dink, is piekniek waarskynlik baie ouer as Franse finesse. Ek glo dis ’n oerinstink.
Dit sit in ons menswees, in daardie eenvoudige drang om kos en saamwees te deel in die buitelug. Miskien het dit reeds begin toe iemand in die oertyd sy stukkie vleis oor die kole gerooster en met ’n ander gedeel het, sommer so sit-sit onder die sterre. En daar, op ’n klip of ’n lap, het hulle saam geëet en iets ontdek: Eet smaak anders buite. Sagter. Meer eg. Jy eet stadiger, luister beter en lag makliker.
Piekniek is in sy wese nie pretensieus. Jy hoef nie iets spesiaal te hê nie. ’n Paar toebroodjies, ’n kombers, ’n koeldrank of koffie in ’n fles. En tog verander dit in ’n fees -juis omdat daar geen verwagting is nie. Dis juis dít wat so bevrydend is: jy mag mors, jy mag lê en lag met ’n krummel op jou wang. Geen stoele. Geen etiket. Net die wind, die geselskap en die sagte asem van tyd wat stadig beweeg.
Dit is waarom piekniek altyd meer as net eet is. Dit is ’n ervaring. ’n Ritueel van ontvlugting. ’n Klein rebellie teen die gejaag van die lewe. Wanneer laas het jy lank stilgesit sonder jou selfoon, sonder jou horlosie, sonder ’n agenda? Piekniek maak dit alles moontlik.
Dit is ook die plek waar generasies mekaar vind. Waar oumas konfyt op roosterbrood smeer en kleinkinders met rooi wangetjies agter balle aanhardloop. Waar die tannie met die sonhoed daai koue hoender uithaal wat almal jare later nog onthou. Waar iemand altyd die plastiek mes breek, maar niemand gee regtig om nie.
Piekniek leer ons dat kos nie net vir die maag is nie, maar vir die hart. Dit is herinneringe op servette, stories in koelhouers en nostalgie wat ruik soos vars brood en warm koffie. Dit is waar jy iemand se oë regtig raaksien, sonder filters.
En ja — soms is daar miere. En die wind waai die servette weg. En iemand mors die limonade. Maar dit hoort daar. Dis deel van die loslit-lekkerte.
As die son begin sak en jy jou goed bymekaarmaak, is daar altyd daardie laaste blik: kinders wat moeg en vol koek sit en giggel, ’n kombers vol broodkrummels en daardie gelukkige moegheid van ’n dag buite. Jy ry huis toe met stof op jou klere, maar geluk en vrede in jou bors.
Want piekniek, liewe leser, is nie net kos op ’n kombers nie. Dis hoe ons weer leer asemhaal. Dis hoe die lewe – vir ’n rukkie eenvoudiger voel.
’n Mandjie vol beloftes van môre. ’n Slukkie vryheid. ’n Stil viering van alles wat regtig saak maak.
So, pak daardie piekniek-mandjies …
©MarleneErasmus
30/06/2025