Jongste aktiwiteit:

Pieter Mostert
vir

Pieter Mostert

Lees meer oor Pieter Mostert

Desember 2024 – Kersfees projek

3.Eensaam en alleen

Vir baie bejaardes is Kersfees na my mening ’n tyd van groot hartseer. Soos vir die moeder wat netjies aangetrek, in die voorportaal van die ouetehuis sit en wag dat haar kinders haar kom haal. Senuagtig vroetel sy met haar verrimpelde hande in haar skoot. In haar handsak het sy twee geskenkies, netjies toegedraai. Sy het regdeur die jaar ’n groot deel van haar pensioen gespaar om die geskenkies vir hulle te kan koop.
Verlangend en hoopvol staar sy na die deur, maar geen kind of kraai wat haar kom haal nie. Hartseer vee sy ’n traan weg, staan moeisaam op en verlaat die voorportaal, om eensaam en alleen Kersfees in haar kamer te vier.
Menige kinders laai hul bejaarde ouers in ’n ouetehuis af en vergeet van hulle.
Waar is jóú bejaarde ouers hierdie Kersfees?

—————————————————-oo00oo——————————————————
©Pieter Mostert
(Silwer)
[Woordtelling = 137]

 

APRIL 2025 – AARDE PROJEK

1.Gebreekte skakels

Bekend is die spreekwoord: ‘n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. As ek praat  van ‘n ketting van die aarde, dan bedoel ek ekologiese-ketting. Met die skepping van lewe op die aarde, het God, na my mening, ’n volmaakte ekologiese-ketting vir die voortgesette versorging en instandhouding van die aarde uitgewerk. Daarna het Hy die mens geskape uit die stof van die aarde en die mens aangestel as Sy rentmeester op aarde.
God se opdrag aan die mens was, en is nogsteeds, om die aarde te bewerk en te bewaak met behulp van die ekologiese ketting wat Hy vir die volhoubaarheid van die aarde uitgewerk het, om as riglyn te dien wat die mens in sy bestuur van die aarde moet volg. Ek moet egter toegee dat agnostici of ateïste hul eie siening en geloofsoortuigings oor die aarde en sy welstand hou. Gevolglik leef hulle volgens hul eie oortuigings om harmonie met die aarde te kan bereik. Maar dit nou daargelaat. Ek kyk na die problematiek waarmee ons te kampe het, vanuit ’n christelike gesigshoek.
Al wat die mens moes doen was om híérdie deur God-uitgewerkte ekologiese ketting, (ekologiese sisteem), vir die aarde te bestudeer en instand te hou. Nou kan jy vir jouself oordeel of die mens by hierdie opdrag van God hou, en of  hy reeds van hierdie skakels gebreek het en steeds voortgaan om hulle te vernietig? Waaruit bestaan hierdie Godgegewe skakels in die ekologiese ketting van die aarde?  Laat ek verduidelik.
Alle plante en diere wat in ’n pesifieke habitat, bekend as ’n bioom,  leef en dus ’n bepaalde biotoop op die aarde beset, verteenwoordig ’n belangrike skakel in die ekologiese ketting van die aarde. Die mens is veronderstel om toe te sien dat hierdie skakels, waarbinne die omgewingstoestande van sodanige aard is dat dit ’n natuurlike leefplek (habitat) bied vir sekere spesies, soos onder andere voëls, te versorg en in stand te hou, om sodoende die voortbestaan van die aarde te verseker. Nou is dit so dat die lewensgemeenskap, wat die mens insluit, van ’n bepaalde biotoop, voortdurend eise vir die behoud van sy skakel in die oorlewingsketing stel.
Elke spesie op die aarde het ’n spesifieke funksie te verrig in die ekologiese ketting van die aarde. Sy tolleransievermoë bepaal die behoud van sy skakel, waarin die mens natuurlik as rentmeester, ’n kardinale rol vervul. Of moet ek eerder sê nie vervul?
Wat is die sleutel tot versterking van hierdie ketting? Net een woord naamlik harmonie. Versteur die harmonie in een van die skakels en dit het ’n nadelige invloed op al die ander skakels in die ketting en dus die voortbestaan van die aarde. Die mens is veronderstel om te sorg dat daar nie uitermate spanning op ’n spesifieke skakel in die ketting geplaas word nie, sodat dit nie breek en algehele uitwissing in die gesig staar nie.
Die skrikwekkende wyse waarop die mensdom aanwas, asook die tegnokratiese industrialisasie tesame met die kommerwekkende toename in armoede, voedselvoorraad en die vernietiging van natuurlike hulpbronne, het ongelukkig reeds verskeie skakels in voormelde ketting gebreek, terwyl van die ander skakels onder groot spanning verkeer.
Die skakel wat die meeste onder geweldige spanning verkeer is besoedeling van die aarde. Voorts is daar ook geweldige spanning op die skakels van gronderosie, vergiftiging van die aardbodem en daarmee saam die uitwissing van plante en diere.
Ek persoonlik, het ’n liefde en deernis vir die aarde en in besonder die ekologie, asook ’n liefde vir voëls. Dus sluit ek hierdie meningstuk af met die volgende gedig oor Rüppelse Aasoël wie se skakel gebreek het en hy uitgesterf het:

Gebreekte skakel

Ek soek na jou swewend
aan die koepel van die hemelblou
maar ek sien jou nie meer daarbo nie

jy wat so volmaak geskep was
met jou oranjegeel snawel swart
washuid en deurdringende bleekgeel oë
ek mis jou, jy met jou lang kaal nek wat donserig
grysgroen kol-kol gevlek ligpers verander
wanneer jy opgewonde raak

ek sien nie meer jou geskubte veremantel
met spierwit rande wat blink soos diamante
in die spieëls van die son

nou kan ek jou nog net op ’n foto bewonder
lof toeswaai in my poësieboek
of jou op die Internet gaan soek

jý; eens pragtige Rüppellse Aasvoël
wie het jou skakel gebreek uit die ketting
van die Skepper se ekologiese plan?
——-oo00oo——-

Ek nooi jou vandag uit, liewe leser, om met nuwe oë na die aarde te kyk en te sorg dat jou bestuur van God se ekologiese ketting in lyn is met die opdrag aan jou as rentmeester, bewerk en bewaak … voorkom dat die God se ekologiese ketting breek.
        —————————-ooo0000OOO0000000—————————–
©Pieter Mostert [Aantal woorde = 772]

 

 

3.Die aarde — Deur die oë van Digters

Digters het na my mening ‘n uitnemende ‘sinestesie-oog’ vir die deernis en prag van die aarde waarvan hul deel is. In die woorde van die Amerikaanse digter, Emily Dickinson: “O, ongeëwenaarde aarde, ons onderskat die geleentheid om op jou te woon!” As elke mens kan leer om vir ‘n oomblik stil te staan en met, of te wel, deur die oë van ‘n digter na die aarde kyk, sal hul meer bewus word van die kosbaarheid van die aarde wat onder ons rentmeesterskap staan.

Die digter, Eugène Marais, beskryf in sy gedig Winternag, die aardse skoonheid van ‘n hoëveldse winternag, deur gebruik te maak van “subtiele klankskoonheid en metaforiese krag”. Voorts kom Marais se siening oor die natuur, (aarde), baie sterk na vore uit sy gedigte oor die Boesmans waarin hy aantoon dat daar ast’ware ‘n hegte band tussen die mens en natuur, (aarde), is, en dat die primitiewe mens hul nie gedistansieer het van dit wat eg aards is nie. Bykans al Marais se gedigte spreek van die natuur se prag en skoonheid.

Verder kom sy siening oor die natuur dan ook duidelik na vore uit sy bekende gedig ‘Die dans van die reën’, waar hy die reën deur middel van personifikasie as ’n vroulike danseres voorstel, wat die natuur tot ‘n groot dans oproep. “Die dansmotief bring samehang in die gedig, wat ‘n gevoel van viering en onderlinge verbondenheid binne die natuurlike wêreld oproep. Die beelde wat Marais in die gedig gebruik asook die ritmiese trant waarin dit geskryf is, laat die klem val op die unieke skoonheid en diversiteit van die Afrika se pragtige landskap.” 

Dan was daar die digter C.L. Leipoldt wat gejubel het oor die prag en skoonheid van die aarde. Dít kom veral na vore uit sy gedig ‘Oktobermaand’, waarin hy hom vereenselwig met koggelmandertjies, goggatjies, die miertjies, ens.  In ’n Hand vol gruis uit die Hantam, raak hy weer digterlik oor die “geil lusern in die laagste landjie”, en ruik die “keurbos” oral om hom. Aardse dinge soos ’n geil lusernlandjie in die laagte en ‘viooltjies in die voorhuis’ was vir hom die “beste dinge.

Elizabeth Eybers weer raak liries oor die Sonneblom in een van haar gedigte en ook die fluit van die Piet-my-vrou in ’n ander.

Jan F.E. Cilliers (1865 – 1940) spreek weer sy siening, na my mening, oor die aarde uit in sy lang gedig ‘Die vlakte’, waarin hy soos volg begin:

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe oor waat’re geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort … ”

Dit is nou bykans 85 jaar later en ek voel genoop om, as digter wat besorgd is oor die aarde, my hoof in skaamte te sak in my volgende Fragment-Pastiche: ‘Elegie’, aan Cilliers:

Elegie
my droom verdof in die stof
geblus my rus ontstellend onrusbarend

uitgestrek uitgerek verstoord
oor my breedte uitgeskuif

berge rommel plastiek saai paniek
afgeskuif op my bodem frommel

stootskrapers  rommel oor my boesem
skeur kettingsae in flarde my binneste

afval uit die onheilsdal het in my skoot geval
geslagte en geslagte geweldadige magte
stortreën kernafval in die sloot van my skoot

sus vrees onrus oor wat my lot sal wees …

Die digter T.T. Cloete, wys weer in sy gedig God: die digter, daarop dat:

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak.” (Driepas, 1989).

Die liedjieskrywer, Pieter van der Lugt, spreek weer sy kommer uit oor die ekologiese toestand van die aarde onder die titel ‘Nuwe aarde’.

Die talentvolle kunstenaar, Nataniël sing sy Liedjie getiteld ‘Sy is al wat ons het’.

“Moeder aarde draai haar om uit die son se ergste brand
En sy droom van digte woude en haar oë waai vol sand
Sy soek na haar kinders maar hul dans nou met musiek
langs duisend vuil riviere en berge van plastiek.”

Wat ’n riller boodskap is hierdie een van Nataniël nie?

Om metafories-mooi oor die aarde te dink, dig en skryf moet digters met ‘sinestesie-oë’ die aarde getrou bly.

Is jy getrou aan die aarde?
—————————————–oo00oo———————————-
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 782 ]

                                      Bibliografie

  • Eybers, Elizaheth. Rymdwang. 1987.  Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Marais Eugène N. 1959. Dwaalstories. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamede gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.<
  • Opperman, D. J. 1974. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
  • Sewall, Richard B. 1974. The life of Emily Dickinson (Deel I). London: Faber & Faber.

MEI 2025 – OOP PROJEK

1.Ekologiese les uit die Boesman legend van die groot Arend en die seun van die wind

Boesman-mites en legendes is ’n ryk en diepgaande versameling van mondelinge oorlewerings. Hierdie mondelinge oorlewerings van hulle is oor baie jare heen van geslag tot geslag oorgedra.
Die ideologie, of te wel die lens waardeur die Boesmans hul wêreld beskou, insluitend die spirituele oortuigings wat hulle huldig, kom duidelik na vore uit stories wat hulle in die aande rondom die vuur vertel.
Tydens my navorsing oor die Boesmans was ek veral diep geraak deur die besonderse verbondenheid wat hulle met die natuur het, en steeds handhaaf. Die Boesmans se sienswyse ten opsigte van die natuur spreek uit die wyse waarop hulle by die natuur ‘inskakel’. Hulle beskou hulself as deel van die natuur, en nie as bo die natuur verhewe nie.
Laasgemelde kom duidelik na vore uit die gesprekke tussen my en ’n Boesmanleier in die Kalahari in die Noorde van Botswana. Uit hierdie gesprekke van ons het ek ononwonde tot die diepe besef gekom dat daar tradisioneel, en nogsteeds, ’n diepe kosmiese eenheid tussen die Boesmans en die skepping, spesifiek die natuur, bestaan.
[Ek noem net terloops dat ek tans besig is om ’n boek in ‘Boesman-patois-afrikaans’ te skryf, waarin ek die gesprekke tussen myself en Buks Appelblaar, in verhaal- / storieformaat opneem. Ek bied dan ook sodanige gesprekke in die vorm van ’n reeks kortverhale op INK se webblad vir projekopdragte aan.]
Die Boesmans se persepsie van wilde diere, asook hul geestelike ervarings en benutting van die natuur in hul allerdaagse stryd om oorlewing, sónder om die natuur te beskadig, kom op ’n treffende wyse uit voormelde stories / verhale na vore.
Ek was telkens sprakeloos-verstom by die aanhoor van die Boesman-stories rondom die vuur in die aande. Dit het my tot die besef gebring dat daar ’n diep geestelike- en simboliese konnotasie heg, aan elkeen van die stories / verhale, wat aan my vertel was.
Boesman-mites is nie net “stories / verhale” nie. Dit is inderdaad lewendige vertellings waarin moreel en etiese lesse opgesluit is, ryk aan simboliek, emosie en wysheid. Daarbenewens het hulle op ‘storie-wyse’, hul trotse geskiedenis, wat spirituele waarhede bevat, van geslag tot geslag oorgedra.
Vanweë my eie besorgdheid oor die ekologie, die verantwoordelike bestuur daarvan, en my belangstelling in roofvoëls, was ek veral geïnteresseerd in die Boesmans se siening oor roofvoëls soos valke en arende.
Die Boesmans beskou valke en arende nie net as gewone gevleueldes nie, maar wel as wesens waaraan hulle ’n geestelike verbondenheid heg, waaruit die simboliese asook die praktiese waarde van veral die arend, uitstaan.
Vanuit die gesigshoek van die Boesmans is arende en valke spesiale wesens wat krag en vryheid simboliseer. Die mening word gehuldig dat arende en valke vanweë die feit dat hulle, veral arende, hoog bo in die lug vlieg, as verbintenis met die geesteswêreld in die hemel dien, waar die gode woon. Daar is byvoorbeeld geglo dat wanneer ’n Boesman ‘n droom oor ‘n arend of valk gehad het, dit die een of ander belangrike teken of geestelike leiding inhou.
’n Verhaal wat my egter baie geïnteresseer het, is die Boesman-legende van die arend en die seun van die wind, omdat daar vir ons as rentmeesters van God se skepping, ’n diep ekologiese les te leer verskuil is. Ek deel graag daardie verhaal met die leser.
Baie lank gelede, toe die diere nog met mense kon praat, was daar ’n jong Boesmanseun wat ure lank na die blou-blou hemel bokant hom gestaar het. Hy het gewens dat hy ook kon vlieg soos die arende wat daar hoog bo in die lug sweef.
Daardie Boesmanseun was die seun van die Windvrou, wat die wolke oor die duineveld en die vlaktes geblaas het.
Op ’n dag het ’n massiewe Breëkoparend uit die lug neergedaal en op ’n verweerde stomp op die hoogste duin in die Kalahariwoestyn gaan sit. Die Boesmanseun het die arend gesien en besluit om na hom toe te stap en sy wens teenoor die arend uit te spreek. Miskien kan die arend hom dalk help om sy wens om te kan vlieg te verwesentlik, het die seun by homself gedink. “Daardie groot arend het tog sekerlik toegang tot die die gode wat in die hemel woon,” het hy hardop vir homself gesê.
Toe daardie Boesmanseun uiteindelik by die arend uitkom, was hy verbaas om te verneem dat die arend lankal reeds bewus is van die seun se begeerte om te kan vlieg. Die arend sê toe vir die Boesmanseun:
“Voordat jy kan vlieg, en die Kalahari vanuit die lug daar bo kan sien, moet jy eers leer wat dit beteken om ’n jagter van die lug te wees.”
Die seun het ingestem, en die arend het hom op sy rug geneem. Hulle het oor die duine gevlieg, oor droë vlaktes en die uitgestrekte duineveld van die Kalahari.
Dit was ’n absolute wonderlike ervaring vir die seun. Hy het gesien hoe wildsbokke in die gras skuil, hoe ander roofvoëls oor aas baklei, en hoe klein voëltjies roep as gevaar naderkom.
Vir ses dae lank het die Groot Arend vir daardie Boesmanseun elke dag iets nuuts geleer, soos onderandere:
Hoe om te sien sonder om ’n woord te uiter;
Hoe om geduldig te wag sonder om te haat; en
Hoe om te jag sonder om ekologiese verwoesting te saai.
Na sewe dae het die arend vir daardie Boesmanseun gesê:
“Nou weet jy wat dit beteken om ’n jagter van die lug te wees. Jy is ’n seun van die wind én van die aarde. Gaan leer nou ook jou mense om met oë van bo te kyk — met wysheid en sonder gierigheid.”
Hierna het daardie Boesmanseun na sy mense teruggekeer, en het hy ’n groot Boesmanleier geword. Tot vandag toe sê die ouer Boesmans “Wanneer jy ’n arend oor jou sien vlieg, kyk mooi — dalk bring hy ’n ou wysheid terug.”

Wat ’n ekologiese-les is daar nie in hierdie verhaal opgesluit nie?

Wees waarnemers van die natuur, en doen daardeur praktiese kennis op oor die gedrag en doel van elke dier, spesifiek roofvoëls, in die ekologiese ketting wat hulle vervul. (Alhoewel die Boesmans soms vere of dele van arende gebruik het vir tradisionele doeleindes (soos versiering of rituele), het hulle dit met groot respek gedoen en nooit onnodig gedood nie.)

Gebruik dus die natuur op verantwoordelike en respekvolle wyse, soos die Boesmans.
———————————–oooo00oooo——————————————-
©Pieter Mostert
                                             Bronne
• Coetzee, A.J. 1995. Afrikaanse volksverhale en mites. Kaapstad: Tafelberg.
• Mostert, P. Mondelinge onderhoud met Buks Appelblaar gedurende 2023.

 

JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK

3.’n Ekologiese piekniek in die Kalahari

Op ’n heerlike lentedag in die Kalahari, het ’n groep diere besluit om ’n ekologiese piekniek te hou. Hierdie besonderse piekniek is geïnisieer deur die versamelvoëls.

Ek was in die bevoorregte posisie om vanuit ’n wildskuiling die diere se piekniekbedrywighede deur die lense van my verkyker dop te hou en te dokumenteer. Wat ’n wonderlike ervaring was dit nie gewees nie!

Elke dier moes iets saambring om te eet. Dis mos waarvoor piekniek staan? ‘Elkeen bring iets saam’. Ja! maar, in hiedie geval voorsien elke dier uit ʼn bepaalde bioom, kos vir die piekniek aan ’n ander dier.

Die piekniekgangers het bestaan uit onder andere die volgende diere:
• Bobbejane;
• ’n Jakkals;
• ’n Kameelperd;
• ’n Dwergvalkie;
• Koringvoëls;
• Meerkatte;
• ’n Renoster;
• Skoenlappers;
• Versamelvoëls;
• Verskeie insekte;
• Vlakvarke; en ’n
• Vlermuis.

Ek deel vervolgens graag my waarneming en verwondering van hierdie diere se ekologiese piekniekbedrywighede met die leser.

Die versamelvoëls het besluit dat die mees geskikte plek vir hul piekniek tussen ’n reuse ou kremetart- en ’n kameeldoringboom op die duineveld sal wees.

Die vraag wat in my kop bly maal het, was: Waarom juis ’n kremetart- en ’n kameeldoringboom uitkies as ’n ekologiese ‘piekniekterrein’?

Wel, die kriteria vir die kies van die piekniekterrein was soos volg:
• Daar moes ’n boom wees wat skaduwee maak in die skroeiende Kalaharison, waaronder hulle veilig kan voel en rustig hulle piekniekmaal kan geniet;
• Dit moet ’n boom wees wat ook as waterbron kan dien om die genooide diere se dors te kan les; en
• Laastens moet die boom ‘piekniekgangers’ deurlopend ook van piekniekvoorraad kan voorsien, hetsy deur vrugte, blomme of blare te dra.

Die reuse ou kremetartboom was die enigste boom in die duineveld wat aan al hierdie kriteria voldoen. Die kremetartboom is inderwaarheid meer as net ’n plant. Dit is ’n lewens ondersteuningsisteem vir die diere as piekniekgangers. Laasgemelde blyk duidelik uit die onderskeie diere se deelname aan hierdie ekologiese piekniek.

Die bobbejane eet die boom se sade en versprei dit dan weer.

Met hul knielende ‘soektoere’ grawe vlakvarke met hul snuite wat soos stofsuiers werk, op soek na wortels, knolle en insekte. Terwyl hulle die grond omdelf in hul soektog na voorraad, ‘spit’ hulle ast’ware die grond weer om. Dít het dan weer tot gevolg dat saadontkieming makliker plaasvind en plantegroei sodoende bevorder word. Maar vlakvarke versamel nie alleen piekniekvoorraad nie.

Dit is hier waar die versamelvoëls inkom. Hulle speel nie maar net die rol van ‘piekniek organiseerders’ nie. Terwyl vlakvarke die grond omdelf in hul soektog na kos, kom die versamelvoëls nader om saam te smul aan die wurms en goggas wat ontbloot word. Hulle eet insekte wat hulle vind naby waar ‘n vlakvark die grond omdolwe.

Van die versamelvoëls sit ook op die vlakvarke se lywe en eet parasiete soos bosluise en vlieë van hul velle af. Sodoende raak die vlakvark ontslae van irriterende parasiete, terwyl die versamelvoëls kos vir hul piekniekmaal kry.

Die volgende oomblik stap ‘n renosterbul uit die bos. Die renoster besluit om onder die ou kremetartboom rond te snuffel. Aan die voet van die boom is minerale en sout in die grond, wat die boom se wortels uit die grond opgetrek het.

In die proses smul hy sommer ook aan ’n klein struikie en ’n kolletjie gras, wat in die skadu van die boom groei, want onder groot boom is die grond ryk aan voedingstowwe. Dus ’n heerlike piekniekmaal vir hom onder die ou kremetartboom. Maar dit is nie al nie. ’n Jakkals kom al agter die renoster aangedraf. Hy snuffel-snuffel aan die renoster se ou mishoop. Binne is kewers en sappige larwes, piekniekvoeding vir hom.

Skoenlappers fladder uitgelate van blom tot blom en bestuif sodoende die plante.
Muggies en wurms breek afval. Sodoende hou hulle die grond van die piekniekterrein gesond.

Die termiete belug weer die grond van die piekniekterrein, en word in die proses self kos vir voëls en meerkatte.

Teen laatmiddag begin die kremetartboom se groot wit blomme oopmaak en ’n vlermuis kom aangevlieg. Sy taak is om die blom te bestuif terwyl hy die soet nektar opslurp as sy piekniekmaal.

Wat die keuse van die kameeldoringboom betref is daar ’n paar interessante dinge wat na vore kom.
• Die versamelvoëls het ’n reuse nes in die kameeldoringboom gebou uit stokkies, gras en doringtakke. Dit lyk vir my kompleet soos ’n ‘stad’ vir voëls, wat van strooistene in die kameeldoringboom gebou is.
• Binne hierdie nes, wat tot 100 pare versamelvoëls kan huisves, is daar kamers en gange, koel kompartemente en warm slaapruimtes, met goeie isolasie teen die hitte, en selfs reënwateropvangs in sekere holtes.
• Wat egter wonderlik is, is die feit dat ander spesies ook welkom is om hulle ekologiese ‘pieknieknes’ te bewoon.
• In die buitenste gedeelte van die groot strooidak het ’n dwergvalkie vir homself ’n nessie gemaak. Hy jag vir miere, kewers en muise in die omliggende duineveld. Laasgenoemde is dus sy kos vir die piekniek.
• Bo-op die nes sit twee koringvoëls wat los grassade uit die nes ‘steel’. Dít dien dan ook as hul piekniekvoorraad.
• Onder die boom waarin die versamelvoëls se nes gebou is lê uitgevalle eiers, kosreste en dooie kuikens. Dit dien dan as die meerkatte se kos.
• Die meerkatte is ook skoonmakers van die piekniekterrein in die sin dat hulle afval verwyder wat moontlike siektes kan veroorsaak.
• Die kameeldoringboom ontvang weer sy piekniekvoorraad van die versamelvoëls se nes in die sin dat die mis van die voëls die grond bemes rondom sy stam, en as die nes ou word en afval, voed dít weer die boom.

Dít alles inaggenome is die rede waarom die diere die kameeldoringboom as deel van hulle piekniekterrein gekies het.

’n Kameelperd kom deur die duineveld aangestap, al smullend aan die blare van die bome rondom die piekniekterrein. Elke keer as die kameelperd die blare afruk, val klein insekte en blaarvreters af grond toe, waar hulle maklik bekombare kos vir insekvretende diere is.

Die interaksie tussen die kremetartboom, kameeldoringboom en die verskillende diere, (piekniekgangers), is ‘n voorbeeld van ekologiese interafhanklikheid wat hul piekniekvoorraad betref.
Ten slotte: Hierdie besonderse ekologiese piekniek van die diere, in die hart van die Kalahari, se dade spreek harder as wat woorde ooit, vir die mens sal kan sê.
——————————–ooo00ooo———————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1039]
                                                      Bronnelys
• Carruthers, V., 2001. The Wildlife of Southern Africa: A Field Guide to the Animals and Plants of the Region. Cape Town: Struik Publishers.
• Hockey, P.A.R. Dean, W.R.J. &. Ryan P.G. 2005. Roberts Birds of Southern Africa (VII Ed). Trustees of the John Voelker Bird Book Fund, 9 Churh Square, Cape.
• Skinner, J.D. & Chimimba, C.T., 2005. The Mammals of the Southern African Subregion. 3rd ed. Cambridge: Cambridge University Press.
• Van Wyk, B. & Van Wyk, P., 1997. Field Guide to Trees of Southern Africa. Cape Town: Struik.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Pieter Mostert het ‘n nuwe publikasie gemaak