Elna Kruger
BRONSKLAS
Maart 2023 – OOP projek
3.Ma Marthie
Stof is die mens
tot stof sal hy terugkeer,
die mens gaan tot niet
as hy sy laaste asem uitblaas.
Vandag kom ons finaal groet
as ons netnou see toe gaan
en dit wat oor is van ma
in die see te ruste lê.
Tog is dit met absolute sekerheid
wat ons in ons harte weet-
ons herinneringe aan tye saam
aan alles wat ons verbind
sal nie saam vergaan.
In ons onthou
sal ma altyd daar wees
waar ons gistermooi vind
as ons wete lang paaie
in die verlede loop.
Daarom groet ons nou
mag Ma gelukkig wees
waar Ma by ons Vader is
Elna Kruger
April 2023 – KLUG projek
3.Verraad
Trots begin die kwikstertjie paar
stokkies, grassies, donsies opgaar
stewig word die nessie gebou
om hul kosbare eiertjies te hou.
In die takke sing Piet my vrou
juigend oor die nes, sopas gebou
skelm lê sy haar eiertjie daar
vir kwikstertjie om te bewaar.
Piet my vrou broei eerste uit
weet instinkief, niks mag sy grootword stuit
kwikstertjie eiertjies word uitgestop
hy kla en kerm
nooit genoeg kos in sy krop.
Die kwikstertjie paar vlieg verward rond
hulle kleinding, groot en baie gesond
die grootste teken van verraad
deur Piet my vrou in die nes gelaat.
Elna Kruger
Junie 2023 – Winter projek
1.Haikoe (Misrypkoue)
misrypkoue klee
verlate vrystaatvlaktes
in winterkaros
Elna Kruger
*Misrypkoue
Eervolle vermelding:
Haikoe (Winterhaikoe)
winternagweemoed
koue verlatenheid gryp
wurg sielevrede
Elna Kruger
*winternagweemoed
September 2023 – OOP projek
1.Die stem van die oseaan
Hoor jy die magtige dreuning
wanneer die oseaan sy stem verhef,
met golwe wat wyer en hoër kring
die kuslyn met mening tref?
Talle parke, geboue en paaie
swig voor die verterende krag
as die watermassa met kolke en draaie
die mens koggel en uitlag.
Jy mensekind wat my verniel
my vul met jou oorskiet en gemors
jy vernietig my innerlike siel
en dit stuit my teen die bors.
En net soms tydens springgety
en die maan in al sy glorie verskyn
sal my wraak op woeste golwe ry
jou onaantasbaarheid laat verdwyn.
©️ Elna Kruger
SILWERKLAS
Oktober 2023 – KORT projek
3.Dis al
Dis jy,
dis ek,
dis al.
Elna Kruger