Epimetheus
BRONSKLAS
JULIE – Oop en nuwe projek
Eervolle vermelding
Masochisme is ‘n wintergewas
Wat is dit wat jou
pelgrimagtig laat terugkeer
na my toe –
Keer op keer
terug na my arms
wat instinktief wag
om te verstrengel en versmoor;
Na my bloederige hande,
en skerpgeveilde naels
waaronder die vrot vlees
van ons vorige gesprek steeds gis;
Na my koue, kliniese woorde
wat doelgerig met chirurgiese
akkuraatheid oopvlek
en ontbloot;
Na hierdie donker
moerashart van my
wat insluk en verteer
en waarlangs beendere
van al jou goeie intensies
nog lê?
Wat is dit wat jou laat uitreik
om my nou nog te probeer raak,
om die hel agter my oë
te kalmeer,
om jou dowwe spieël
voor my stukkende gesig in te skuiwe
sodat ek moet sien wat jy sien:
Iets nog werd om te red…
Wat is dit wat jou
so noukeurig laat vergeet?
Jy behoort minder nalatig
met jou hart om te gaan.
Epimetheus