Erika Viljoen (Alkallie)
BRONS KLAS
Julie 2018 – Oop projek
1.Skimme van tyd
Soms
wanneer lig se vuurtong
oor jou lippe oker,
deur die skanse van jou kilheid breek –
ek vir ’n oomblik (of langer)
my vlerke kantel
teen die hitte van jou son –
wil ek glo die dag het gekom
dat jy my broosheid sal toemaak
en my vir ewig
in jou diepste geheimenisse
sal toelaat,
ek sonder huiwer
my vlug uit ons winter
kan aanpak –
jy my met ope arms sal ontvang
en sê: jy het my lief
of is my hoop
(soos skimme van tyd)
ook maar net
teen jou glans
relatief?
© Alkallie
2.Transkripsies
so vertroebel ons oor tyd,
in transkripsies van my smart –
letsels wat steeds skryn
teen die grein
van jou hart
©Alkallie
3.Moedertaal
Gestroop tot saad:
só omgord ek jou.
in weefsel en bloed
aan my toevertrou –
geykte denke, woord word taal,
diachronies
‘n unieke verhaal.
Op die wieke van die wind:
só herhaal ek jou.
uitgepluis, bedink –
ontkiem jy vrylik
deur my lippe,
op papier
ink
© Alkallie Viljoen
Augustus 2018 – Haikoe projek
2.Swyg (Haikoe)
ek verswyg jou naam
in geskrifte van my leed –
net die spasies weet
Alkallie
September 2018 – Spyse vir die siel projek
1.Wanneer stilte holtes keep
nog ‘n dag hang –
gestroop van tyd,
verlore sekondes vang
‘n biggeltraan van selfverwyt
dis soos die wind wat skimme najaag –
koersloos deur seisoene val,
wat vlees ook (willoos) ‘n skynbeeld behaag
en só die gees se getye vergal
maar immer yk die hunkering
na spyse vir ‘n verminkte siel
die heimwee na verinniging
vind slegs in rus, volkome asiel
dit is dán wanneer stilte in die hart holtes keep –
versugting bakhand met engele vlerksleep
Alkallie Viljoen
SILWER KLAS
Desember 2018 projek
Eervolle vermelding:
Gister se onthou
my lief
die nagte raak nou langer
en die dae gooi laslappies
op die paadjies
waar ons eens geloop het
soms as oggendkou’ se verlange
hoendervleis oor my lyf,
skryf ek vir jou ’n brief
vertoef ’n oomblik
in die hitte van ons argief
want êrens in ’n kas
tussen motte en ’n jas
lê ons drome weggesluit,
met net geroeste stiltes wat getuig
dat daar eens’n somer was
en soms (net soms) ruik ek jou lag
soos dit huppel
deur die witgerypte nag
en ek wonder:
as gister se onthou
jou langs die pad na môre kry,
of jy (soos ek) ’n wyle sal vertoef
of ongestoord net aanhou ry…
Alkallie (Erika Viljoen)
Januarie 2019 Projek
1.Tanka 3
ontwortel my stem
uit dié brakland se boesem,
verwoord my drome
teen ‘n hemelkroon van glas –
dat ek opnuut wéér kan sien
©Erika Viljoen
3.Tanka – 1
nostalgie hang pers
teen gister se horison
laventel hoopvol
tot neo-wit beloftes
wat kantelvlerk na die son
©Erika Viljoen
Februarie 2019 projek
1.Die siel van ‘n digter
ek weet ek moet gaan,
al smag my siel (in bardo)
na ‘n vleeslike bestaan –
soepel vingers
om kwynende gedagtes vas te pen,
warm lippe, om jou te verseker –
ek het jou hart geken
(dat jy kan verstaan)
as ek met ‘n paragon traan
my diepste hunkering
finaal met jou deel
want dood se lang skaduvingers
lok my uit,
oortuigend-wetend van tyd
wat saam met my kosbare woorde
deur die uurglas val
en klewend aan my korreltjie lyf
’n laaste ode
in die aandwind vir jou skryf
Alkallie
April 2019 Humor projek
1.Die pouse
ek darteldans die veertigs in –
noú gaan my lewe mos begin,
vol pittigheid en stoutigheid –
spieël ek my status: prima steak
terstond plonk my euforie tot ‘n halt
toe die eerste hittegolf my slat –
Pappie moet in die boosdoos bly,
tot die kinders is skielik bang vir my
in die nagtelike uur
skrik ek wakker van die vuur,
kole sweet kruip van my krop
verby my oksels tot my kop
komberse af en dan weer op
jammerlappie op my kop,
bepeins ek wat is fout met my-
perdalks daar’s pes in die pastei
dokter sê ek oordryf nou sommer,
drink ‘n pil en hou op kommer –
voordat jy vir jou kan kry
is hierdie pouse ook verby
ek traan my lot by ‘n vriendin
my depressiesessie wil net begin,
toe sy ‘n ander bom laat val:
“Suster, jy is nog lank nie mal!”
Manlief het die Corvette sindroom,
‘n nuwe haarstyl en vogroom –
hy dink hy is ‘n donderdaan
met sy turbotjor – ‘n regte kapokhaan
ek giggel-lag my skete weg –
hierdie pouse is tog nie so sleg nie –
ek bly nog steeds ‘n prima steak:
volmond wyn met ‘n tikkie stoutigheid!
(c) Erika Viljoen