Etna Wepener
BRONSKLAS
September 2022 – Snelheidsprojek
2.Dagboek
tyd se pen griffel dagboekverhale
hoofstukke in bloednotules geïnk
kernwoorde as dagdruppels uitgedink
papierlyne gevul met mylpale
wie is werklik die een wat ink laat vloei
in unieke verhaal wat daagliks groei?
Etna Wepener©️
Oktober 2023 – KORT projek
1.Fier
F I E R staan ek
selfs in my moeë lê
Etna Wepener
November 2023 – OOP projek
1.My somervrugte
my mandjie bars bont
met somervrugte
sappige soetsels
gebore uit lentebloeisels se pastel
nóú kleurwiel baldadige bolwange
in natuurspens se palet
luukse pluksels
wat my sintuie van sonseën en reën vertel:
onder poeierwange van pruime
lê blinkpoets se purper
songoud nektarienvliesies
spog bespat met vermiljoenblos
die handvol aromaryp piesangs
lê lepel in gesproete geel
een spanspeksfeer se koraalvlees
is tartend versteek onder dikvellige vaal
ʼn tandem tandknarsappels
skree saam in skelgroen
my versadige mandjie gekroon
met ʼn dragtige druiwetros
watertandgeskenke
uit die gul groeiseisoen
ʼn skatkis sierade
wat my somerlus suikersoen
Etna Wepener ©️
(3)