Ronnie
BRONSKLAS
Maart 2019 projek
2.Reddingsspan
Kom Boetie, kom en maak tog gou
ek sluit die kamerdeur!
Sy vrees die rook wat hul omvou …
die bekende dagga geur.
Sy is nog net tienjaar oud
en hy word eersdaags ses,
maar sy is deeglik ingesout,
ken elk oorlewingsles.
Kom, Boetie, kom, kruip gou hierin,
jy’s veilig in die kas.
As hul die kamer binnedring
sal ek jou mooi oppas.
Die deure klap en mense raas
sy ken die klank van drank,
en van mans wat steun en blaas
en hul lywe se dwelm stank.
Die man skop oop die kamerdeur
“Waar’s my poppie?” vra hy dronk.
Saam walm sterk die dagga geur
wat aansteek woede vonk.
Sy skop en skree en byt en krap
en hoor sy kreun van pyn.
Verwoed gee hy ʼn harde klap
haar kop tref die kosyn.
*
Die konstabel strompel lakenwit
by die voordeur uit
Liewe Here, begin hy bid
maar woorde hardloop uit
Die speurder kyk met moeë oë,
skud verstom, geskok sy kop.
Hoe raak mens nie diep bewoë
by ʼn kind so doodgeskop?
Wat hoor hy daar? ʼn Skuif? ʼn Snik?
Wie skuil daar in die kas?
Met pistool getrek, dodelik gemik
kyk hy in bang oë vas.
Kom Boeta, kom jy’s veilig nou,
paai hy die bange kind.
Sy het die monsters weggehou,
tot redding hom kon vind.
*
As ek vanaand my Bybel lees
en stil word voor my God
gaan ek in ootmoed en met vrees
weer herroep die groot gebod.
Vergewe my koue hart O Heer,
die wegdraai van my kop,
as ek hoor of sien O Heer
hoe die wêreld iemand skop.
Maak my minder bang O Heer
om te help waar ek kan.
Laat ek altyd onthou O Heer
ek is ʼn lid van U reddingspan.
*Gebaseer op AG Visser se “Sneeuwitjie van die veld”
Kom ons twee gaan die kalfie soek,
Ons tweetjies, ek en jy,
Die beeste het daar in die hoek
Die hele dag gewei.
Die weer word dik, die windjie sny,
En ons moet niks versuim,
Want as die kalfie buite bly,
Sal hy vannag verkluim.’
Sy was ‘n kind geen twaalf jaar oud,
Pas sewe jaar was hy;
Maar albei reeds teen warm en koud
Deur armoed al gebrei.
So loop die twee die bultjie oor
En op al langs die vlei.
Dán sien hulle iets wat roer daar voor,
Dán iewers weer opsy.
Die wind gaan lê, en saggies daal
Sneeuvlokkies wit en rein.
Al verder steeds het hul gedwaal
Weg van die huisie klein.
Maar toe die sneeu so vinnig val,
Begin klein broertjie huil;
Toe het hul teen die sloot se wal
‘n Tyd lank eers moet skuil.
En later, toe die bui bedaar,
Was alles wit rondom.
‘Waar is die huis nou, sussie, waar?
Hoe sal ons daar weer kom?’
Met moeë voetjies loop hul snel
Al met die slootjie langs,
Met ogies waarin trane wel,
En hartjies vol van angs.
‘Ag, Here, wys ons waar’s die huis,’
Het Racheltjie gebid;
Maar bo was net die wind wat suis,
En onder alles wit.
Al in die rondte ‘t hul geloop,
Al minder word die krag,
Twee kleintjies sonder gids of hoop
Verlore in die nag!
*
Koud kom die man tuis uit die veld.
‘Waar is die kinders, vrou?’
‘Genade, man,’ roep sy ontsteld,
‘Is hulle nie by jou?’
‘Was hulle dan nie by die kraal?’
Vra hy van skrik oorstelp.
‘Dan is hul in die veld verdwaal –
Ag, liewe Here, help!’
Vergeefs gesoek die ganse nag
En vure aangesteek.
Hul moes maar handewringend wag
Totdat die rooidag breek.
En toe van nuuts af aan weer soek.
Ou Jonas sny die spoor
Al langs die vlei tot in die hoek,
Daarna die bultjies oor.
‘Hoekom is hier een spoor nou net?’
‘Hoe kan die baas so vra?
My arme nonnatjie … sy het
Die kleinbaas hier moet dra.
Sy loop al in die rondte om
Net soos die skaap wat maal.
Die witmens … hy is baie dom …
Die witmens … hy verdwaal!’
Nou het ou Jonas iets gewaar;
Hy luister en hy loer:
‘Die uitgeholde miershoop daar –
Wat is dit wat daar roer?
Hy lewe nog, klein Hendrikkie,
Hy’s binnekant nog warm …
INKOSI2 het die nonnatjie
Gebêre in Sy arm.
Hy het haar met Sy kleed bedek …
Sy voel nie meer die kou.
Sy’t al haar kleertjies uitgetrek
Die Kleinbaas te behou!’
*
O wonder dat ‘n hart so warm
Nie al die sneeu kon smelt –
‘n Hart wat sig so kon erbarm
Alleen daar op die veld!
Wanneer jy, Afrikanerkind,
So heerlik voor die vuur
Sit luister na die winterwind
Daar buite, koud en guur;
Wanneer jy van die dade leer
Van menig dapp’re held,
Vergeet nie Racheltjie de Beer –
Sneeuwitjie van die Veld!
Ronnie
April 2019 Humor projek
3.Die Nagmaal
Nagmaal is ʼn gewyde saak,
nie iets waaroor mens grappies maak,
maar daardie Sondag moet jul weet
sal ek nimmer nooit vergeet.
Ek het die nuwelinge gou opgemerk
waar hul ongemaklik insluip in die kerk.
Die pa en ma, dogter en seun.
stigtelik gaan sit een vir een.
Was Kleinboet nog nooit in die kerk
of was ou Belial aan die werk?
Ek sal seker nooit regtig weet
want hul weer sien kan ons vergeet.
Die diakens bedien die brood en wyn
die gemeente herdenk stil Sy pyn.
Dis stigtelik gewyd, soos dit moet wees,
ons herroep die bloed en gebroke vlees.
Uiteindelik is ons dors en honger stil
deur die sigbare tekens van Sy liefdeswil.
Diep onder indruk van die gewydenheid
het Dominee oor die gemeente uitgekyk
“Is iemand oorgeslaan?” het hy vir laas gevra
waarop Kleinboet uitroep “Ja Oom, ekke ja!”
In die geskokte stilte wat ons omvou
volg hy op met “waar’s daai waiter nou?”
Dit was nie bedoel as sakrament minag
toe elk siel in die kerk uitbars van die lag.
Ek glo ons Heer het ook ʼn humorsin.
Ek dink ook Hy kon nie sy lag bedwing.
Die Dominee het poging vir voortgaan maar laat vaar
die gemeente kon net nie hul gelag bedaar.
Ons Vader, weet ek, begryp dit goed
daar is mos vreugdelag in Sy reddingsbloed.
Dit het regtig gebeur vir die wat dalk wonder….
Ronnie