Jongste aktiwiteit:

Elna Kruger
vir

Elna Kruger

Lees meer oor Elna Kruger

September 2023 – OOP projek

3.Koekemakranka

Ek weet ouma was ‘n eienaardige onvoorspelbare tannie vol streke, maar hierdie vat die koek! In my hand is die vergeelde briefie in ouma se eie handskrif wat ek onderaan die een laai gekry het.  Ouma was eksentriek en nie ‘n tipiese ouma nie, maar ek was ongelooflik lief vir haar.

“Belowe my jy sal die hangkas uitpak! Dis lewensbelangrik, poplap! Belowe my!” My hand word krampagtig vasgehou terwyl haar oë myne vashou. Haar stem is pleitend en angstig. “Ek belowe ouma,” prewel ek hardverskeurend. “Hoekom …” my woorde verdwyn as sy weer praat. “Vergewe my…” en sy blaas haar laaste asem uit.

Ek staan voor die hangkas. Ek gaan dit moet uitpak voordat ons dit op die sleepwa probeer laai.  My man dink ek het een van ouma se varkies wat sy iewers verloor het, ingesluk om sulke besluite te neem. ‘n Lendelam outydse hangkas wat nêrens gaan inpas en boonop ekstra swaar is, is nie ‘n grap om te skuif nie. .

En nou praat ouma vir oulaas uit die dood met my! Koekemakranka! Dis wat op die koevert staan in ouma se handskrif. Gaan hierdie briefie my lewe verander? Met bewende hande en ingehoue asem maak ek die vergeelde krakerige briefie oop. Ek herken ouma se ferm handskrif van voorheen en weet dis geskryf voor haar Alzheimers vonnis.

Ek lees. Lees weer. Die briefie fladder grond toe, maar ek huil soos ek lag. Dis eers toe manlief aan my skouer raak dat ek reageer en die briefie opraap. Ek gee dit vir hom om te lees.

“Koekemakranka! Jou ouma! Ek het nie woorde nie. Ek weet sy was anders en onkonvensioneel Dink jy sy was ernstig?” Op die briefie staan:

Sê koekemkranka drie keer sodat jy die waarheid kan leer.

Wag tot na die kas se gerommel, dan sal ‘n deur oopskommel.

Kyk en leer en lees anders was dit alles tevergeefs.

Die waarheid is daarin opgesluit, al wil ander dit stuit.

Dalk sal julle beter verstaan waarom dit vir my gaan.

Steek weg wat jy kry, om lastige kommentaar te vermy.

Maar die opdrag? “Jou ouma het dit wragtig verloor.” Ek en manlief kyk vir mekaar en bars dan weereens in ‘n lagbui uit. My lag verander in ‘n snik, want ouma is dood en daar is geen antwoorde vir al my vrae nie.

En nou die briefie! Is dit waarvoor ons al die moeite gedoen het? Manlief trek my styf teen hom vas. “Jou ma en pa sal ook netnou hier wees. Kom ons sien die humor in die situasie. Ouma was nou een maal maar ‘n platjie en jy weet hoe ons altwee haar geniet het. Kom ons speel saam en onthou die ouma wat ons bevoorreg was het om te ken.”

Ek vee oor my oë om die trane af te vee en sluk. “Okay, kom ons sê die simpel woorde as afskeid.” Met ons hande gevleg staan ek en hy voor die hangkas terwyl ons nou proestend sê: “Koekemakranka, Koekemakranka, Koekemakranka.” Ons lag, maar bly stil toe ons ‘n gerammel uit die hangkas hoor.

“Wat de hel?” In my hart beaam ek manlief se woorde. Die hangkas swaai oop. Daar is ‘n vertrek voor ons. Die huis het ‘n geheime vertrek gehad! Versigtig stap ons in die studeerkamer in. Dis duidelik dat ouma baie ure hier deurgebring het. Ek stap na die lessenaar en tel die notas op. Dis ‘n manuskrip in ouma se eie handskrif! Daar is ‘n nota daaraan wat sê: Aan Mandie, my kleinkind en haar man Johan.

Ons sit later plat op die vloer terwyl ons die ongewone manuskrip van ouma lees. Volgens ouma is sy as jong meisie as slaaf verkoop aan ‘n boer en sy vrou. Sy het egter verlief geraak op hulle seun wat net soveel van haar gehou het. Die boer en sy vrou het nie die verhouding goedgekeur nie en haar in die vertrek gevange gehou. Daar het sy uit verveeldheid begin om verhale te skryf.

Die boer se seun het egter die geheime vertrek ontdek en gereeld gesteelde uurtjies saam met haar daar deurgebring. Koekemakranka was hulle twee se kode-woord. Hy het ook haar manuskripte na ‘n uitgewer gestuur en haar gehelp om so haar skrywersloopbaan te begin.

Ek trek my asem in. Ouma was ‘n bekende skrywer, nie net in ons land nie, maar ook oorsee! Gretig begin ek verder lees.

Na die seun se ouers se dood is hulle getroud en is my ma gebore. Ouma was bang sy ouers se familie gaan vir hulle probleme veroorsaak, daarom is die huwelik sowel as my ma se geboorte aanvanklik geheim gehou. Die seun of my oupa is egter kort daarna oorlede en ouma het heeltyd in vrees gelewe dat iemand navraag oor haar herkoms sou doen. Ouma het op die plaas aangebly, maar enige vrae oor hulle herkoms vermy.

Sy het die vertrek waarin sy opgesluit was omskep in ‘n studeerkamer. Die ingang deur die hangkas is behou want dit was haar veilige hawe en skrywersparadys.

Ek hoor stemme buite en ons gaan weer uit die studeerkamer uit. My ouers staan in die kamer en lyk geensins verbaas om ons uit die kas te sien kom nie.  My ma lyk eerder hartseer. “Ek hoop nie ouma het jou ook probeer oortuig van haar gevangeneskap in die vertrek nie?” My gesig laat haar sug. “Jou ouma het ‘n vreeslike ryk verbeelding gehad en was lief om te skryf. Sy het geglo sy is hierdie bekende skrywer, maar niemand het haar ernstig opgeneem nie. Glo my, vergeet daarvan en onthou die mooi van ouma.”

Pa gee ‘n kyk in die studeerkamer in. Öns gaan die vertrek verander noudat sy nie meer hier is nie. Dan kan al hierdie fabels tot rus kom. Ek dink nie daar is een storie wat neergeskryf is nie.”

Manlief gee my hand ‘n drukkie. Ons sê niks, druk net ouma se manuskripte en veral haar outobiografie styf in ons klere vas sodat niemand die kosbare dokumente kan vat om te vernietig nie.

 

Elna Kruger




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Sanette het n geregistreerde lid geword

  • Rosalee het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak