Hennie du Toit
FEBRUARIE 2023 – BLOU PROJEK
3.3.My grootste verleentheid
My mens, was dit nou vir jou ‘n gedoente? Ek het altyd geweet hierdie koorsingery is nie vir my nie, maar nee, ek laat my mos deur ander ompraat. Nooit sal ek weer my gesig in die openbaar kan wys nie.
Dit alles het met ‘n weddenskap begin. Piet ken my en hy weet hoe vinnig ek op my senuwees kan raak tussen mense wat ek nie ken nie, en wanneer ek op my senuwees raak, gaan ek mos aan die sing. Dis nou nie gewone sing nie, opera sing, daardie sing wat die hoogste moontlike noot gaan haal en dan word daardie noot mos aangehou tot my asem uit is. Al moet ek dit nou self sê, ek het nogal ‘n lang asem en ek kan ‘n hoë noot vat. Per geleentheid het ek in my senuweeagtigheid ‘n glas laat bars. Miskien is dit die rede hoekom Piet gedink het die singery sal my goed doen.
Maar laat ek terugkeer na die begin. Toe juffrou De Jager mos aan die begin van die jaar vra wie wil koorsing, daag Piet my uit om vir die oudisie te gaan. Eers wou ek nie, maar ek ken tog die juffrou goed en nie een van die kinders is aan my onbekend nie. Juffrou De Jager is ook een van die juffrouens in wie se geselskap ‘n mens gemaklik voel. Dus het ek niks gehad om te vrees nie, senuweeagtig sou ek darem seker nie raak in haar teenwoordigheid nie. Geduldig, maar met sweterige hande, wag ek my beurt af. Ek was nie in die minste op my senuwees nie en slaag toe die oudisie loshande. Daarna het ek elke dag getrou gaan oefen, want ek wou seker maak dat ek elke noot op die regte plek inval. Ek het selfs saans voor myself in die spieë geoudisie. Hoe meer seker ek van myself geword het, hoe minder was die kans om senuweeagtig te raak.
Die eerste lied in ons repertoire was toe DIE STEM, van Nkosi Sikele tot by “ons vir jou Suid-Afrika”. Baie gou het ek dit baasgeraak en ek was baie seker van my saak met die sing en die uitvoering van die lied. Ons het nog ‘n paar ander goete, meer ligsinnige goed, ook geoefen, maar ons het die meeste klem gelê op die sing van die Stem. Hoe verder die oefeninge gevorder het, hoe meer op my gemak het ek gevoel. Om een of ander rede moes juffrou De Jager gedink het my stem is iets besonders, want sy het my eendag na afloop van ons oefensessie gevra of ek dit nie sou wou oorweeg om die laaste strofe van die Stem tydens ons optrede in die skoolsaal met die oueraand solo te doen nie. Ek het eers nie kans gesien nie en baie hard protesteer, en gerebelleer, maar sy het my verseker dat dit baie goed gaan sou gaan. Ek moes net op my woorde fokus en haar stip in die oë kyk tydens die uitvoering. Sodoende sou ek nie deur ander ontsenu kon word nie. Juffrou het gesê sy vertrou niemand anders met die sing van die solo nie. Dit het my nogal goed laat voel en dit het my geinspireer om die aanbod te aanvaar. So begin daar toe ‘n baie spesiale en persoonlike oefensessie saam met Juffrou. Sy kon aanvoel wanneer ek gespanne raak en dan het sy geweet hoe om na my te kyk en hoe om haar gesig te trek om my fokus terug te kry. En so breek die groot oomblik toe aan. Van die onderwerpe onder bespreking tydens die oueraand het ek nie veel ingeneem nie, want die hele tyd was die optrede en my solo in my agterkop. Dit sou na afloop van die oueraand gebeur. Toe die ouers ons, en veral vir my, na die tyd ‘n staande ovasie gegee het, het ek geweet die ys is gebreek. Alles het beter as verwag afgeloop en my selfbeeld het ‘n goeie hupstootjie gekry. Oornag het ek ‘n sangsensasie geword en ek kon Piet nie genoeg bedank dat hy my aangemoedig en uitgedaag het om koor te begin sing nie.
Toe gebeur twee weke gelede. Ons, en spesifiek my vertolking, van die Stem, het soveel opslae gemaak dat die dorp se kunsvereniging ons uitgenooi het om tydens die jaarlikse munisipale dinee in die stadsaal te gaan sing. Natuurlik kon dit net gebeur as ek die solis sou wees. Ek was baie opgewonde. Na my sukses van die afgelope tyd en die aandag wat ek veral van die meisies in my klas gekry het, sou niks my kon keer nie. Buitendien was ek en juffrou De Jager ‘n gedugte span. Die stadsaal was die aand volgepak met bekendes en onbekendes en dit het my baie senuweeagtig gemaak. Ek is badkamers toe om my senuweeagtigheid weg te sing en later by die groep aangesluit. Ek het besluit om net voor my te kyk en nie notisie te neem van almal in die stadsaal nie. Dit het nogal gehelp.
Uiteindelik het die tyd aangebreek en die koor is vorentoe geroep. Maar waar is juffrou De Jager? Ek het soos ‘n besetene rondgekyk, maar kon haar nêrens gewaar nie. Sonder haar sou ek dit nie maak nie. Ek moes in haar oë kyk terwyl ek sing. Toe kom die aankondiging van die seremoniemeester wat die res van die aand, en my toekoms, in ‘n nagmerrie laat ontaard het.
“Die afrigter en begeleier van die koor, mevrou De Jager, moes ongelukkig verskoning aanteken, aangesien sy laatmiddag ‘n redelike ernstige maagvirus opgedoen het. Ons verwelkom meneer Klaasens wat haar vanaand hier verteenwoordig.”
Ek het gevoel hoe ek in die grond wegsink, maar wat kon ek doen? Almal se oë was op my. Ek moes net deurdruk. Ek het my oë probeer toeknyp om niks te sien nie, maar dit het niks gehelp nie. Wel, wonder bo wonder het alles redelik goed afgeloop, maar toe ek daardie laaste paar woorde sing begin my stem al hoër gaan en toe haak my stem vas op die -ka van Afrika, seker dertig sekondes lank… en al die ruite in die stadsaal breek. Nooit ooit weer waag ek my aan enige lied nie, nie eens in die stort nie.
©HENNIE
1040 woorde
Maart 2023 – OOP projek
1.Idiome
My ma het altyd gesê ‘n mens moet die boompie buig terwyl hy nog jonk is, maar hoe gemaak as iemand aartjie na sy vaartjie? Dan help die buig seker nie veel nie. Die appel val mos nie ver van die boom nie. Maar ek kan seker nie bekostig om sy skandes aan die groot klok op te hang nie, want ons almal het mos maar geraamtes in die kas en woon in huise van glas. En my koring staan nog op die land. Maar tog, ek is nie een wat doekies omdraai en ‘n moordkuil van my hart maak nie. Daarom kan ek, sonder om te blik of te bloos, sy skandes van die dakke af verkondig en aan die groot klok hang, want die een se dood is mos maar die ander een se brood. Die doel heilig mos maar die middelle.
Maar kom ons begin die storie by die begin en pak die bul by die horings. Jan was maar die Benjamin van hulle huis en het met sy geboorte in die botter geval, want teen daardie tyd het sy pa al geld soos bossies verdien. Dis daarom dat hy besluit het om nie sy seun tussen die hoi-polloi, die houthakkers en waterputters groot te maak nie. Hy het altyd gestap asof hy ‘n laaistok ingesluk het. Maar elke gek het sy gebrek, want Jan senior se aand en môrepraatjies het nie ooreengestem nie. Hy het twee groot dorings in sy vlees gehad. Hy het gereeld die druiwekar gery en dan het hy sy lyf knipmes gehou. En ‘n ou bok like mos altyd ‘n groen blaartjie. So beland sy jas toe mos eendag in die wiel, toe hy lelik die kat in die donker knyp en sy was beslis nie ‘n katjie wat jy sonder handskoene aanpak nie. Dit was nie oor die hondjie nie, maar oor die halsbandjie, want sy, met haar haaitande, was normaalweg maar beskou as een van die Kreti en die Pletie. Maar liefde is blind en soms laat
dit jou te veel hooi op jou vurk neem. Met ‘n Judaskus, het sy hom vertel van die slang in die gras, of liewer die broodjie in die oond. Eers wou hy sy hande in onskuld was, en haar vertel dat sy van ‘n molshoop ‘n berg gemaak het, maar hy het besef die deler is net so goed soos die steler. Toe besluit hy om die hasepad te kies en soos ‘n groot speld te verdwyn. Laaste sien van die blikkantien? Nee, haastige hond verbrand sy mond, want Saartjie het besluit om die bul by die horings te pak en het die bom laat bars toe sy die nuus op die lappe bring. Sy het besluit om nie al haar perels vir die varke te gooi nie en het nie ‘n bang haar op haar kop gehad nie. Sy het besluit om hom kaal uit te skud. Eers het hy gedink daar sal dadels van kom, en dat dit nie in haar broek sit om hom ‘n gat in die kop te praat nie. Maar stille waters, diepe grond. Haar pen was in gal gedoop en sy was nie gister se kind nie. Hy moes sy hande diep in sy sakke steek. En sy het ook gesorg dat sy nie al haar eiers in een mandjie plaas nie. Hy was tussen die boom en die bas. Uiteindelik het hy tien jaar hardepad gekry. Daar in die tronk, het hy toe die lepel in die dak gesteek. Mense het van heinde en verre gekom vir die laaste eerbetoon. Jan was kwaad vir sy pa, maar bloed is dikker as water en hy het besluit om nie ou koeie uit die sloot te grawe nie. Jan se ma was egter met die helm gebore. Sy het ‘n rot geruik en sy het geweet as jy ‘n hond wil slaan, kry jy maklik ‘n stok. Sy wou nie slapende honde wakker maak nie, maar sy was vir lank lank van draad. Sy het ‘n rokie gesien en waar ‘n rokie trek is ‘n vuurtjie. Haar man moes maai waar hy nie gesaai het nie. Dit was Jan wat oor die tou getrap het en nie sy pa nie, en hy was nog skaars uit die dop. Hy was so slim soos die houtjie van die galg en het mooi die kat uit die boom gekyk voordat hy sy pa ‘n gat in die kop gepraat het. Maar elke hond kry sy dag en sy ma is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. En nou is Jan die een wat lang krokodiltrane huil.
En as ek nou maar die laaste stuiwer in die armbeurs kan gooi. Wees vir skelmstreke so bang soos die duiwel vir ‘n slypsteen. Die kool is die sous nie werd nie. En moet asseblief nie met ‘n ander se kalwers ploeg nie!
© HENNIE du Toit
Mei 2023 – OOP projek
2.Die hoenders op oom Piet se plaas
Gewoonlik is dinge baie rustig op oom Piet se plaas en verloop alles volgens ‘n goed uitgewerkte
roetine. Sy diere, sy werkers en almal wat hom ken, kan getuig van ‘n lieflike en rustige atmosfeer op
die plaas. Oom Piet boer nou al vir die afgelope 25 jaar met sy hoenders. Elke oggend, wanneer die
groot vragmotor, wat die vorige dag se eiers kom laai, deur die hekke ry, staan hy op. Gewoonlik is dit
dan nog nagdonker, want sien, hoenders is mos diere wat vroeg uit die vere is, en hy moet wakker wees
voor hulle opstaan. Hy drink sy eerste koppie koffie vir die dag en met die wegsluk van die laaste
slukkie, stap hy na die hokke, waar hy die een is wat die hoenders wakker maak, al driehonderd van
hulle.
Die lang rye hoenderhokke is oom Piet se trots. Hy het hulle almal self gebou, eers net een, en soos die
boerdery gegroei het, het hy meer en meer hokke en neste gebou. Dit is gemaklik ingerig, sodat die
hoenders die hele dag lank kan eiers lê. Daarom sorg hy ook elke dag dat alles skoon en netjies is. Drie
maal per dag word eiers uitgehaal, sewe-uur, elfuur en drie-uur, waarna dit gewas, sorteer en verpak
word, gereed om na die mark vervoer te word. Hierdie is elke dag se roetine, Maandag tot Sondag.
Vanoggend is dinge egter anders. Reeds voordat die groot trok deur die hekke ry, is daar ‘n andersheid
in die lug, ‘n onrustigheid wat oom Piet nie lekker verstaan nie en dit pla hom. Nog voordat hy
behoorlik wakker is en die ketel kon aansit, hoor hy ‘n groot onaardse lawaai en dit klink asof dit daar
van die hoenderhokke se kant af kom.
“Ek hoop nie dit is al weer ‘n paar rondloperhonde nie of slange.”
‘n Paar weke vantevore het drie honde daarin geslaag om in een van die die hokke in te kom en
gelukkig was daar werkers aan diens wat die honde kon verwilder voordat hulle enige skade kon
aanrig. Dit was egter deur die loop van die dag. Daar is nou niemand aan diens nie. By twee
geleenthede was daar slange in die hok wat eiers kom steel het en Piet vrees die ergste.
“Ek reken ontbyt sal maar vandag effe laat wees.”
Hy stap vinnig uit om te gaan ondersoek instel wat hy die hoenderhokke aangaan, maar is verras om te
sien dat daar geen hond of slang in sig is nie. Al die henne is al wakker en dit lyk asof hulle met ‘n
vergadering besig is.
Toe hy die deur oopstoot, is dit Hannetjie Hen wat hom amper uit die grond uit spring. Al die ander
henne, almal wat veronderstel is gereed te maak om hulle eiers vir die dag te gaan lê, sit in ‘n kringetjie
en staar haar aan. Dit is baie duidelik dat sy die middelpunt van alle belangstelling is. Oom Piet is stom
van verbasing en voordat hy mooi tot verhaal kan kom, begin Hannetjie met haar gekekkel en gekla. Sy
klink nie baie vriendelik nie en hits die ander aan terwyl sy verwoed haar vlerke klap.
“Kêkkelêkêkkelêkê, ek het iets om te sê.”
“Ja, ek luister.”
“Ons lê, ons lê ons lê, want dis mos soos julle dit wil hê.”
Oom Piet antwoord verbaas.
“Maar dit is mos soos dit behoort te wees. Dit is wat julle veronderstel is om te doen. Dit is waarmee ek
geld maak. Dit is my lewe!”
“Kêkkelêkêkkelêkê, presies net wat ek sê.”
“Nou wat is dan jou probleem, julle probleem?”
“Ons lê, ons lê ons lê, want dis wat jy wil hê. Maar dis nie wat ons wil hê. Dag in, dag uit sit ons en ons
lê. Dit maak ons moeg en pê. Ons slaap nooit, ons werk net en ons lê. Sodat jy kan geld hê. Maar wat
moet ons daarvan sê? Niks, net mooi niks kan ons sê.”
Al die henne spring op en af en skree agter haar aan.
“Kêkkelêkêkkelêkê, net hier om te lê. Kêkkelêkêkkelêkê, dis nie wat ons wil hê.”
Oom Piet is sonder woorde.
“Hoe verstaan ek jou dan nou? Dit is mos hoekom julle hier is. Nie waar nie? Om te lê.”
“Kêkkelêkêkkelêkê, dit is wat jy sê, maar nie meer gaan ons net lê. Dit is nie meer wat ons wil hê. Dismisbruik om ons heeldag net te laat lê. Ons gaan nie meer lê, omdat jy dit wil hê. Kêkkelêkêkkelêkê.”
Die klomp hoenders gaan erg tekere, erger as wanneer daar ‘n hond of slang in die hok sou wees en
oom Piet dink baie diep, terwyl hy met sy hand oor sy baard vryf. Hy kyk na Hannetjie en dan ook na
die ander hoenders. Dan skud hy sy kop. Die henne in die ander hokke het ook in die tussentyd begin
naderstaan en luister aandagtig waar hulle styf teen die draad staan. Sonder om ‘n woord te uiter, draai
oom Piet om en stap by die hok uit. Hannetjie spring op die hoogste punt wat sy kan kry om hom
agterna te staar en te sien wat hy gaan doen. Die ander henne raak skielik stil, want hulle wil ook graag
weet wat hy gaan doen. Ook hulle klim almal so hoog as moontlik om ‘n mooi uitsig te kry oor wat
aangaan.
Hannetjie sien hoe oom Piet in die rigting van die trokbestuurder stap, terwyl sy mense steeds besig is
om die vorige dag se eiers te laai. Dan gesels hulle by die trok se venster. Hannetjie probeer luister wat
hulle praat, maar dit is net te ver en oom Piet het die hok se deur agter hom toegetrek sodat sy hom nie
kon volg nie. Na sowat tien minute is oom Piet op pad terug en al die henne skarrel om weer op die
grond te kom. Rustig, soos hy altyd is, maak hy weer die hok se hek oop, stap in en druk saggies die
deur agter hom toe. Dan kyk hy na Hannetjie.
“Wel, wel, wel, ek het gedink oor wat jy gesê het en dit laat my dan seker met geen ander keuse nie.”
Hannetjie kekkel opgewonde. Sy is oortuig dat hulle die saak gewen het, maar dan sien sy hoe die trok
stadig nader beweeg.
“Dit is vreemd. Die trok kom nooit tot hier nie. Hulle laai net die eiers en dan ry hulle weer. Wat kom
maak hulle hier?”
Toe die trok net langs die hokke stilhou, klim drie mans uit. Hulle het sakke in hulle hande. Piet maak
vir hulle die hok se hek oop en stoot dit weer dadelik agter hulle toe. Dan praat hy weer.
“Soos ek sê, ek het dan seker geen ander keuse nie. Aan julle ongelukkigheid kan ek niks doen nie,
maar as ek nie meer by julle my eiers gaan kry, bly daar niks meer oor vir my. Dan moet julle maar
slagpale toe ry.”
Hannetjie skrik so groot dat sy van die vensterbank af val. Sy fladder haar vlerke en skree
“Slagpale, slagpale! Henne, hardloop vir die vale. Ons petisie moet maar wag. Dis beter om eerder
eiers te lê, as om te gaan vir slag.”
Alles is skielik weer rustig op die plaas en oom Piet is weer die baas. Hannetjie is nou versigtig. Nou
leer sy die ander henne.
“Wees tevrede met wat jy het, want môre braai jy dalk in jou eie vet.”
Hennie du Toit
September 2023 – OOP projek
2.Eendag lank gelede
Het julle al opgemerk dat al die kinderstories begin met eendag, lank, lank gelede. Presies wanneer was
lank, lank gelede? Ek het dit bietjie gaan navors en tot die volgende ontdekking gekom. Dit was baie
lank gelede. Dit was so lank terug dat google nie eens die antwoord kon kry nie. Maar toe kom ek op
die volgende staaltjie af en toe maak dit vir my sin.
Eendag, baie baie lank, lank gelede, net toe die aarde gemaak is, was daar ‘n ertjiepit wat begin groei
het. Dit het net gegroei en gegroei en gegroei. Die ertjierank het so lank en hoog gegroei dat die ertjies
in die wolke ingegroei het en hulle water somaar uit die lug uit gekry het en nie uit die grond nie. Die
ertjierank se stam was so dik soos ‘n groot kokerboom. Die peule was so groot soos branderplanke en
die ertjies so groot soos sokkerballe. Die voëltjies, die apies en die slange het heerlik saam gewei daar
bo in die wolke. Van tyd tot tyd het die apies per ongeluk die ertjies mis gevang wanneer hulle gespeel
het en dan het dit soos ‘n meteoriet op die grond geval en dan ontplof. Die dinosaurs en kameelperde
het die ertjies gevreet wat hoog bo in die rank gegroei het en die olifante het die blare met hulle slurpe
probeer buig. Die skape en beeste het die wat op die grond geval het, nadat die apies dit laat val het,
gevreet. Daarom was die ertjierank baie gewild en al die diere het hulle en binne en onder die ertjierank
tuisgemaak. Bo in die takke, net bokant die wolke, het Goliat en sy gesin gewoon. Aanvanklik het
Goliat ‘n klein huise op die rank gebou, maar soos die rank groter geword het het hulle al hoër die lug
in gestyg en het die huis al hoe groter geword. Goliathet later ‘n reus geword van al die groei saam met
die ertjierank.
Goliat se ma het onder in die bos gebly, in die land van die kaboutertjies. Sy was al oud, het aan
hoogtevrees gely en kon en wou nie meer teen die rank uitklim nie. Toe besluit Goliat se dogter, Goue
Lokkies, eendag om vir haar ouma onder in die bos te gaan kuier. Dit was ‘n ver pad daarom het sy haar
tassie gepak, twee ertjies saamgeneem vir die pad en een lekker ertjie wat sy in haar rugsak gepak het
vir ouma waarmee sy kon sop kook. Toe vat sy die rank af grond toe. Goue lokkies was baie lank
gelede onder op die grond en toe sy grond raak, besluit sy om van die ertie se saadjies langs die pad te
strooi sodat sy weer maklik haar pad terug sou kon vind, maar die voëls het dit opgepik. Dit het al
begin donker word en Goue Lokkies het begin koud kry. Hoe donkerder dit geword het, hoe banger het
sy geword. Daar bo, so naby die son, het dit nooit donker of koud geword nie. Gelukkig kon sy darem
haar ouma se huis se liggies in die verte sien. Terwyl sy nog so loop kom ‘n kaboutertjie daar verby en
vra haar waarheen sy op pad is.
“Na my ouma in die bos.”
“Het jy haar adres?” Sy gee aan die kaboutertjie die aanwysings en hy tik dit dadelik op sy GPS in.
“Sjoe, dit is nog baie ver en dit is gevaarlik daar buite. Wil jy nie by ons kom oorslaap vanaand nie?
Dan stap ek more saam met jou tot by jou ouma.”
Goue Lokkies was baie moeg en honger en maar te dankbaar neem sy die uitnodiging aan. Die
kabouter het ‘n mooi strooi huisie gehad waarin hy en sy drie boeties gebly het. Net toe hulle aansit om
te kom eet, hoor hulle egter die nare wolf buite.
“Kaboutertjie, het jy vir my bietjie kossies? Ek is so honger.”
Kaboutertjie een sê nee en toe word wolf so kwaad dat hy die huise omblaas. Goue Lokkies en die
kaboutertjies hardloop so vinnig soos wat hulle beentjies hulle kon dra, sodat wolf hulle nie kan vang
nie en in die proses verloor sy die mandjie wat sy vir haar ouma wou saamvat. Moses se ma het later
die mandjie opgetel toe sy Moses in die rivier wou gaan wegsteek. Baie later kom Goue Lokkies en die
vier kaboutertjies toe aan by die huis van die drie varkies, ‘n mooi houthuisie, en hulle kruip toe daar
weg.
Maar die drie varkies het net kos vir Pappa Vark, Mamma Vark en Baba Vark en kaboutertjie en Goue
Lokkies is baie honger. Daar stap toe voor die venster ‘n seuntjie verby met drie broodjies en twee
vissies en hulle koop dit toe by hom sodat almal genoeg het om te eet. Toe dit nog kouer word, stook
hulle die vuur in die kaggel. Toe wolf weer klop en probeer huis omblaas en hy nie slaag nie, klim hy
op die dak, val deur die skoorsteen en beland in die kokende pot water. So het kaboutertjie en GoueLokkies toe somaar genoeg kos ook vir die volgende dag en sy pak ‘n lekker groot kosblikkie vir die
tog na haar ouma. Die volgende oggend stap kaboutertjie toe saam met Goue lokkies soos hy belowe
het en kom by ouma se huis. Kaboutertjie groet en stap terug. Goue Lokkies het lekker gekuier en
lekker geëet by ouma, want sy ouma se huise was van sjokolade gemaak. Toe sy halpad teruggestap
het, word sy weer moeg en gaan lê onder ‘n boom om ‘n rukkie te gaan slaap. Terwyl sy slaap, kruip
skilpad stadig by haar verby. Toe Goue Lokkies haar oë oopmaak, sien sy vir Liewe Heksie daar
verbyvlieg op haar besem en vra of sy nie haar kan saamneen nie, want sy is baie moeg. Liewe Heksie,
willig in, maar stop eers by die naaste ATM sodat Goue Lokkies haar geldjies vir die terugreis kan trek
en betaal. En so kry nog ‘n kinderstorie ‘n gelukkige einde.
Hennie du Toit
JULIE 2024 – OOP PROJEK
1.Billy
Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, denimbroeke en geen skoene en is nie altyd gesteld op persoonlike higiene nie. Daar was letterlik net vier stelle klere in sy klerekas vir sy hele vier jaar op kollege. Hy is briljant en baie slim. Hy het ‘n gelowige geword terwyl hy op kollege was. In die straat oorkant die kollegekampus was die kerkgebou van ‘n baie netjiese en baie konserwatiewe gemeente.
Hulle wou ‘n bediening begin vir die kollegestudente, maar het nie regtig geweet waar om te begin nie. Een Sondagoggend daag Billy by die kerk op ― geklee in sy gewone T-hemp, denim, ongeskeer, sy hare wat wild staan en kaalvoet. Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap op soek na ‘n sitplek, maar die kerk was stampvol en daar was nie ‘n enkele sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede het kriewelrig rondgeskuif en ander het hom ongemaklik onder mekaar gefluister. Voor by die preekstoel besef Billie dat daar geen sitplek beskikbaar is nie, en hy maak homself toe op die mat tuis. Teen die tyd was die gemeentelede alreeds erg opgetrek oor die situasie en die atmosfeer so dik dat jy dit amper met ‘n mes kon sny. Juis toe merk die dominee dat een van sy gewese ouderlinge van heel agter in die kerk op pad is na Billy toe.
Die oubaas was reeds in sy tagtigs, met silwergrys hare en, soos altyd, netjies geklee in sy swart driestuk pak. Almal het hom geken as ‘n waardige, godvresende man en een wat jy altyd deur ‘n ring kon trek. Met sy kierie het hy statig en hoflik sy weg gebaan tot by die jongman daar voor die preekstoel. Die kerk was doodstil, behalwe vir die getik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë was vasgenael op die oubaas en die gemeentelede het skaars asemgehaal, want hulle het geweet die oubaas loop nie draaie as dit by reg en
verkeerd kom nie. Selfs die dominee het gespanne en in stilte gewag om te sien wat gaan gebeur. Toe die oubaas uiteindelik die jongman bereik, het hy sy kierie laat val, en stadig en met groot moeite op die mat neergesak, Billie met ‘n kopknik gegroet en effe uitasem gefluister:
“Nou sit jy darem nie alleen nie, boetman…”
Die gemeente se emosies het voelbaar opgewel en hier en daar het een ‘n traan afgevee.Toe die predikant uiteindelik beheer oor sy eie emosies kry, het hy opgekyk en gesê: “Wat ek vandag oor gaan preek, het julle môre dalk al vergeet. Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie…Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees…”
Hennie du Toit
SEPTEMBER 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK
2.Na die nag verrys die son
Al het Helgaardt die vonnis verwag, kom dit egter steeds soos ‘n doodstyding. Hy word skuldig bevind aan moord. Twaalf jaar tronkstraf word aangekondig. En daar, geboei, word Helgard uit die hofsaal weggelei te midde van uiteenlopende reaksies en emosies. Uit die hoek van sy betraande oog, gewaar hy sy elfjarige seun en kleuterdogter by sy skoonma, Hulle hele wêreld is in chaos
Hulle lyk bang en onseker, maar hy kan hulle nie in die oë kyk nie. Hoe kan hy? Wat sê hy vir hulle? Sy seun het hom verafgod. Hy was, as pa sy seun se hero, sy eie superman. Maar Superman was nog nooit ‘n moordenaar nie. Sy dogtertjie was sy poplap en skattebol en sy het veilig gevoel by hom en in sy arms. Elke aand het hy vir haar ‘n slaaptydstorie gelees en dan het sy rustig en kommervry in sy arm aan die slaap geraak. Hy was haar sekuriteit, haar alles. Hoe sou sy ooit kon dink dat hy haar ma sou doodmaak en dit terwyl sy dit met skok en ongeloof moes aanskou? Sal sy ooit weer in sy teenwoordiheid veilig kan voel? Sal sy hom ooit weer kan vertrou? Dan is daar sy skoonma. Die een wat in hom geglo het toe niemand anders wou nie, wat vir hom gebid het, wat hom as haar eie aanvaar het, kyk nou met ander oë na hom. Hy kan die teleurstelling op haar gesig sien.
Helgaard is kwaad vir sy pa wat hulle verlaat het toe hy nog nie eens ‘n volle jaar oud was nie. Daar en toe het alles reeds begin skeefloop, want ‘n seun het ‘n pa nodig. Hy is ook kwaad vir sy ma wat nooit streng genoeg opgetree het toe hy dit nodig gehad het nie. Dalk was sy te besig om die pot aan die kook te hou, om’ n lewe vir haar gesin te probeer aanmekaarhou, terwyl dinge binne haar uitmekaar geval het. Dan is daar die maatskaplike werker wat hom uit sy ouerhuis verwyder en kinderhuis toe geneem het, toe sy ma se nuwe vriend op die toneel gekom het. Die maatskaplike werker het belowe dat hy daar veilig sou wees, maar hy was nie. Daar het hy geleer baklei, nie omdat hy wou nie, maar omdat hy moes.
Maar die kinderhuis het hom nie net leer baklei nie. Daar het hy ook sy eerste kennismaking gehad met sigarette en dagga. Dit het hom kalmeer. In sy deurmekaar gemoed was seks die uitlaatklep, want dit het hom geliefd en in laat voel. En niemand het ooit sy innerlike aggressie en deurmekaar emosies aangespreek nie. Niemand het hom van gesonde verhoudings geleer nie. Toe ontmoet hy vir Annetjie terwyl albei nog in die kinderhuis was . Albei het geglo dat ‘n verhouding op seks alleen gebou kan word en die hunkering daarna het liefde oorskadu. Hulle het saam weggeloop. Twee kinders is later uit hierdie saamleefverhouding gebore. Maar selfs dit het nooit sy liefde aangewakker nie.
Namate die eise en verantwoordelikhede toegeneem het, het Annetjie hom begin irriteer, al meer en meer. Dit, sy werkspanning en sy aggressie het hom gelei tot daardie moodlottige punt waar hy haar vermoor het. Twaalf keer met ‘n mes gesteek. En vir elke messteek is hy een jaar gevonnis. Daarom haat hy homself.
Daar, in die gevangenis, het Helgardt met homself begin baklei. Hy kon homself nie vergewe oor wat hy gedoen het nie. Hy wou’ n goeie man en pa wees, maar kon nie daarin slaag nie. Wat moet sy kinders van hom dink? Wat vertel hulle vir hulle maats? Hoe maak hy reg met hulle? Hoe kyk hy weer hulle vriende in die oë? Binne hom borrel ‘n warboel van emosies, skuldgevoelens, mislukking, verwyte en diepe berou. As hy maar net kon regmaak waar hy verbrou het! As hy maar net die tyd kon terugdraai. As hy maar net oor kan begin. As hy maar net liefde kon ken. Maar hy besef dis te laat. Sy lewe is in chaos en daar bly vir hom niks meer oor om voor te lewe nie. Met bewende hande plaas Helgaard die tou om sy nek, die tou wat hy mef sy beddegoed gevleg het. Hy sien geen ander uitweg nie. Hy staan op ‘n stoel,’ n lendelam en wankelrige een, maar al wat hy in die hande kon kry. Hy voel aan die tou wat hy vasgemaak het aan die tralies voor die venster. Styf en kort genoeg. Sy spring behoort dit alles tot’ n einde te bring.
Maar dan gebeur die wonder. Voordat hy die tou behoorlik om sy nek kan kry, gee een van die stoel se pote mee. Hy val op die grond, seer maar hy lewe! En hy beleef selfs in hierdie poging sy mislukking en nutteloosheid. Hy sak in trane op sy knieë neer. Met perfekte tydsberekening kom een van die bewaardes om die draai en sien wat besig is om te gebeur. Helgaardt hoor die voetstappe en die klak van die sleutel in die slot. Hy verwag ‘n gevloek en geskree waaraan hy nou al so gewoond geraak het, maar inteendeel voel hy ‘n sagte hand op sy skouer. En dan die man in sy uniform wat langs hom op die grond kom stelling inneem. Sy stem is kalm en vol empatie. Vir die eerste maal beleef hy liefde en ware omgee. En daar, op die koue tronkselvloer, sit hy saam met hierdie engel, deur God gestuur, want daar word die Bybel oopgemaak en ‘n verlore sondaar buig voor die voete van die Meester. Helgaardt leer van die moordenaar aan die kruis, sy belydenis, sy vergifnis en God se genade. Hy leer dat geen sonde vir God te groot is nie. Hy leer wat ware liefde is. Hy leer dat die liefde van God alle verstand te bowe gaan en dat geen sonde of oortreding in die pad daarvan kan staan nie. Hy bid met oorgawe en trane. Sy chaos word sy triomf. Die einde van sy pad, word die begin van’ n nuwe roete. Sy winter word sy lente. Soos Paulus op die Damaskuspad sy omkeer gemaak het, doen Helgaard dit ook. En die grootste oorwinning is die vergifnis van homself, die vrede en vryheid ten spyte van sy gevangenisskap.
Hennie du Toit
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
1.Juandre
1330 woorde
Juandre pak die laaste paar stukkies van sy aardse besittings in ‘n tas wat hy by die kinderhuis gekry het. Ook die toksak het hy by die kinderhuis gekry. Dan plaas hy al sy bagasie op sy bed voor hy al die kantoorpersoneel wat hy die afgelope ses jaar baie goed leer ken het, gaan groet. Die volgende op sy lys is die terreinwerkers en almal wat daarvoor verantwoordelik was dat dinge op die terrein seepglad verloop het. Toe hy daarmee klaar is, wag hy vir sy huismaats om van die skool af te kom. Hulle is die laaste wat hy moet groet. Hy was nie vandag saam met hulle skool toe nie, maar hof toe.
Juandre verlaat die kinderhuis. Vir altyd. Dit is wat die hof vanoggend besluit het. Na sy pleegouers toe. Vir ‘n hoopvolle nuwe toekoms. Nooit hoef hy weer na die aaklige plek terug te keer nie. Nooit hoef hy weer in hierdie onpersoonlike kamer te slaap nie. Vir net effens meer as ses jaar was die kinderhuis sy huis en al was hy tog in’ n mate gelukkig daar, het hy dit nooit as sy tuiste beskou nie. Ouers ken hy nie, want sy pa het hom en sy ma verlaat toe hy nog baie klein was en sy ma het haar daarna aan drank oorgegee. Totdat die welsyn noodgedwonge ingegryp het en die hof besluit het dat kinderhuisplasing sy beste belang sou dien. Vir Juandre het dit gevoel soos die einde. Hy het sy graad drie jaar by die kinderhuis begin, en sy laerskoolloopbaan daar voltooi. Die eerste kwartaal van sy hoërskoolloopbaan is ook nou verby, al sluit die skool eers oor twee dae. Sy eksamen is afgehandel en die hofdatum is daarvolgens bepaal. Al is hy opgewonde en dankbaar, voel hy tog ook ‘n mate van hartseer en heimweë. Hy gaan sy maats mis. Hy gaan sy tannie mis, want sy het hom altyd spesiaal laat voel. Maar daar is ook die wat hy nooit gaan mis nie. Die boelies. Die wat sy goed gesteel het. Die wat hom by hulle moeklikheid probeer insleep het en vals beskuldig het.. Daarom, toe oom Karel en tannie Sybel, wat in die tussentyd in sy woordeskat en belewenis Ma en Pa geword het, by die kinderhuis opdaag om hom op te laai, verlaat hy die terrein met ‘n traan in sy oog. Die werklikheid het skielik oorweldigend geword.
Ook Sybel en Karel slaak ‘n sug van verligting. Die proses van pleegplasing het amper twee jaar geneem. Vorms, evaluasies, besoeke en dies meer. Aanvanklik, sowat vier jaar gelede, het hulle net naweek- en vakansieouers geword. Hulle wou vir een spesiale kind ‘n naweektuiste bied en daar is op Juandre besluit. Baie gou het die seun in hulle harte ingekruip en het hulle tot die besef gekom dat hulle meer as net vakansieouers vir hom wou wees. Hulle het hulle plan met die linderhuis en Juandre bespreek. Hy was dadelik inskiklik en die proses van pleegplasing is begin. Op ‘n stadium het dit beging lyk asof dit nie meer gaan gebeur nie. Maar hulle het deurgedruk en baklei tot die bitter einde. En vandag word Juandre amptelik hulle seun. Nooit meer hoef hulle hierdie pad te ry nie.
Karel en Sybel kon nooit kinders van hulle eie hê nie. Vir Sybel was dit amper ‘n doodsvonnis. Dit is seker die ergste pyn wat’ n vrou kan beleef. Die pyn, die onvermoë en die absolute magteloosheid waarmee hierdie tyding aangehoor moes word. Daarom is die realisering van hierdie pleegplasing vir hulle amper meer die verwesenliking van ‘n droom as vir Juandre en daarom is geen opoffering vir hulle te veel nie. Die vreugde om volwaardig ouers te mag wees, om elke aand hul seun te mag nag sê en elke oggend wakker te maak. Om saam so baie te doen.
Al ken Juandre sy nuwe ma en pa se huis soos die palm van sy hand, en al is daar alles in oorvloed, beleef hy die eerste dag nie soos hy verwag het nie. Dit is amper asof hy ‘n mate van skuldigheid beleef. Hy mag beweeg waar hy wil, sonder om vir alles toestemming hoef te vra. Die inhoud van die yskas is tot sy beskikking sonder dat hy skuldig hoef te voel. Die reëls van badtyd, etenstyd en pligte doen het nou totaal verander en hy kan met vrymoedigheid sy toiletware in die badkamer los. Hy word selfs toegelaat om te help met kosmaak en selfs om te besluit wat op die spyskaart moet wees, iets wat in die kinderhuis taboe was. Hy hoef ook nie enige van sy goed in sy kamer toe te sluit nie. En hy kan die hele dag met Baby, die boerboel speel. By die kinderhuis moes hulle middae al half ses in die huis wees, maar hier kan hy tot laat buite speel. En belangrikste van alles – hy kan in privaatheid die badkamer gebruik. In die kinderhuis moes hy tydens storttyd die badkamer met drie ander seuns deel.
Dit neem Juandre feitlik ‘n hele week om aan die nuutgevonde vryheid gewoond te raak, die wete dat hy nooit weer hoef terug te keer nie. Die privaatheid en ruimte doen aan hom wondere. Ook vir Karel en Sybel is daar meer kalmte en rustigheid. Daardie spesiale reëlings wat gemaak moes word, elke keer as hy vir ‘n naweek of vakansie uitgeneem is, spesiale toestemmings en goedkeurings wat nie altyd betyds opgedaag het nie en die soms ure se sit in die verkeer om seker te maak dat hy na sy kuier weer betyds by die kinderhuis opdaag. Daardie dae wat een van hulle verlof moes insit om hom te kan gaan haal of terug te neem.. Gelukkig is dit nou iets van die verlede.
Die eerste twee weke van Juandre se vryheid is agter die rug en so ook die eerste week van die nuwe skoolkwartaal by die nuwe skool het. Dit het goed gegaan met sy aanpassing, maar aan die begin van die tweede skoolweek kla Juandre van hoofpyn, hoofpyn wat, ten spyte van medikasie, nie weggaan nie, maar vererger. Sybel skryf dit toe aan die verandering in omstandighede en stel hom gerus, Nuwe skool, nuwe onderwysers, nuwe uitdagings. Sy verseker hom dit is normaal om so te voel. Maar drie dae later en ‘n hele houertjie Panado’ s verder is die hoofpyn steeds daar, amper erger as met dag een. En Sybel maak vir hom ‘n doktersafspraak. Aanvanklik word sterker pille voorgeskryf, maar toe dit ook nie die gewensde reaksie het nie, word Juandre vir verdere mediese toetse gestuur. En skielik word dit wat bedoel is om’ n gelukkige toekoms vir hierdie nuwe gesin te wees, hulle grootste nagmerrie. Want die toetse wys ‘n gewas in Juandre se brein. Verdere toetse bevestig dat die gewas kwaadaardig is.
Die gesin verwerk hierdie nuus met gemengde gevoelens. Juandre se verwagtinge en opgewondenheid oor sy nuwe ouers, die vreugde van die uiteindelike pleegplasing, die vooruitsig van’ n nuwe rolverdelings van ouerskap, en die hoop op ‘n beter lewe. Nou het hierdie opgewondenheid egter plek gemaak vir teleurstelling, hartseer en vrees. Weer is daar die magteloosheid, soos Sybel beleef het toe sy die eerste maal vrede moes maak met haar infertiliteit.
.
Sewe maande later ry Karel en Sybel weer deur die kinderhuis se hek, die hek waardeur hulle’ n paar maande tevore met soveel hoop en verwagting gery het. Die atmosfeer is somber. Die omstandighede is anders. Daar is hartseer in plaas van blydskap, teleurstelling in plaas van hoop, mislukking in plaas van triomf. Nie om finaal uit te neem. nie, maar om finaal afskeid te neem. Die diens word by die kinderhuis waargeneem, die plek wat vir jare Juandre se huis was, die plek waarvan hy so graag wou wegkom, die plek waar baie van sy vriende was.. En Sybel leer dat daar ‘n pyn erger as kinderloosheid is, die pyn om jou kind aan die doderyk af te staan.
Hennie du Toit