Marlene Erasmus
Mei 2020 “Ek wens dat ek…” projek
2.Zizzie by ʼn feetjie konsert.
Vroegaand sit mamma my in die bed. Sy lees vir my en soen my sag in my nek.
“Lekker slaap Zizzie, droom van feetjies fraai tot mamma jou weer môre kom wakker maak.”
Met oë toe lê ek en droom in my bed – veilig en warm toegevou. Ek voel hoe ek insluimer – of nee! “Verbeel ek my?”
Ek kyk op en sien hoe die maanlig dans op my vensterbank. Uit die niet verskyn ʼn fee, fraai en fyn. Met skitterpienk vlerke en spierwit rokkie aan. Tik-tik met haar towerstaf aan die maanligblink venster om my aandag so te trek.
“Droom ek alreeds, of is ek nog wakker?”
Opgewonde spring ek uit my bed en maak die ruit saggies oop. Dit is ʼn stil, koel somernag en die briesie roer die blare in die tuin.
“Hallo, wat ʼn heerlike nag vir ʼn maanlig uitstappie?” Die feetjie glimlag fraai en draai haar vlerke na die maan. Ek spring ligvoets deur die oop venster en volg haar na die katjiepiering-bos. In die kring van vuurvliegies se liggies is ʼn skare feetjies bymekaar.
“Kom ons neem jou met ons saam na feetjieland”, nooi hulle my vriendelik uit. Ons huppel deur die popelierlaning waar die ander feetjies op ons wag. Almal is daar – Viooltjie, Madeliefie en kleine Aarbeitjie saam met Sonstraaltjie en Kappertjie, klein.
“Wie is jy?” vra Sonstraaltjie vriendelik toe sy my gewaar. “Wat maak jy hier? Kom jy vir ons kuier vir ons maanligkonsert?”
Ewe belangrik maak Sonstraaltjie die vrolike gesels stil.
“Welkom by ons maanligkonsert hier in die woud!”
Die feetjies is vrolik en gesels saggies met mekaar. Dit is tyd vir hulle om hulle plek in te neem op die verhoog, gemaak van sagte groen mos. Op die woud se vloer is daar hol boomstompe en mosbedekte klippe, wat sitplek verskaf vir die elfies en diertjies klein.
“Stilte, stilte!”
Die feetjiekoor begin die konsert. Met engelstemme sing almal saam. Die sagte melodieë sweef deur die woud en meng met die naggeluide. Oupa Uil ‘hoe-hoe, hoe-hoe’ op vrolike noot saam. Die wolke wieg op die wind en die vlinders klap hulle vlerkies saam.
“Dankie aan almal wat kom deel het in ons plesier” word die laaste item aangekondig.
“Kom Zizzie, ons moet jou by jou huis kry voor jou mamma jou soek”. In ʼn ry stap ons deur die woud terug na ons huis.
Ek glip deur die oop venster en woel my tussen die lakens in. In die sterretjies se lig sien ek vlerke flap van feetjies wat verdwyn. Gou gou is ek in droomland.
“Mamma, mamma, ek was by die feetjies se konsert in die bos!”
“Ja Zizzie, mens kan tog te lekker droom …”
Ek wens dat ek nog in feetjies kon glo soos toe ek klein kindjie was. Ek wens dat ek kon dans op wolke van spookasem, wit en vet. Ek wens dat ek nog kon praat met kabouters en elfies in my tuin – waar ek my vrese kon agterlaat en net weer wees: kindjie klein.
©Marlene Erasmus
(505 woorde)
Maart 2021 – Liefdes projek
2.In die kring van sy arms
Die vuur dans vrolik in die kaggel waar ons aan die ou bekende familietafel sit. Gesellige musiek speel sag in die agtergrond en my hart klop warm as ek na die gesigte van my man en seun kyk. Alles lyk so normaal dat ek vir die oomblik nie wil dink aan Jan se siekte nie. Ek kyk na Deon, ons seun wat oorkant sy pa sit. Hulle trek so baie na mekaar met hulle blou oë.
“Hoe lank is mamma en pappa nou getroud?”
“Jong, hierdie Cassanova het my voete onder my uitgeslaan amper twee-en-vyftig jaar gelede.”
“Hy het beslis nie gras onder sy voete laat groei nie, tien maande later was ons voor die kansel.”
Die atmosfeer aan die groot ou houttafel is sag en gemoedelik. Die vuurtjie knetter in die kaggel en sagte musiek in die agtergrond stem ons almal rustig. Ek dink stil terug aan die afgelope paar weke sedert ons vir Dokter Smit moes gaan sien het na Jan se jaarlikse roetine ondersoek.
“Jammer dit is nie goeie nuus nie. Die kanker is reeds versprei na die pankreas.” So het die groot “K” ook ons veilige klein kring kom binnedring soos ʼn dief in die nag.
Met die tuiskoms het Jan hom dadelik onttrek en hom na sy werkskamer met sy houtwerkgereedskap gewend. Hy het nog altyd veilig gevoel tussen hout met die reuk van vars geskaafde saagsels in die lug. Ek het verslae langs hierdie einste ou tafel neergesak waar trane vrylik oor my wange gestroom het.
“Hoekom Here, hoekom?” Ek het dadelik skaamgekry vir my gedagtes en verskoning gevra, my trane afgevee met die agterkant van my arm.
“Here, gee ons die krag en die wysheid om ook hierdie pad tot eer van U te stap.”
Ek het na die kas gestap om meel en eiers te gaan haal. Sowat ʼn uur later was die hele vertrek gevul met die geur van gemmerkoekies – Jan se heel beste gunsteling. Ek het met die vars gebakte gemmerkoekies en ʼn fles boeretroos na sy werkskamer gestap. In seer stilte het ons die vars koekies geëet en ook stilweg saam gehuil. In verslaentheid kon ons mekaar net vashou en troos.
In die weke wat gevolg het, het ek die huis op sy dak gekeer met skoonmaak en Jan het ure in sy eie veilige werksplek geskuil. Die huis het geskitter en na skoon wasgoed geruik. Jan het darem af en toe ingekom om te kom eet of om te rus. Die moegheid het hom by tye so oorval dat hy eerder net op die stoep se bank kom lê het.
“Ma, hoe lyk dit met daardie heerlik nagereg?” ruk Deon se stem my terug na die hede.
Ek staan op en kyk liefdevol na Deon en sy pa as hulle vrolik lag vir die grappie wat hulle deel. Vir nou is my beker vol, ek dink glad nie aan die chemo sessies wat weer volgende week moet begin nie. Ek bewaar hierdie oomblikke soos goud. Ek koester ons heerlik samesyn vir nou.
So met die opstaan om die nagereg te gaan haal, hoor ek die bekende “Wil jy dans, Karina” saggies oor die radio speel. Ek draai in my spore om, om die radio harder te gaan stel. Ek staan doodstil en die traanspore vind hul weg oor my wange.
“Ag, kan dit nie maar anders wees nie?”
Vir ʼn wyle is ek en Jan weer die jong getroude paartjie wat sweef oor die meelbestrooide vloer in die skuur. Die vrolike gelag en gesels van al ons vriende klink orals vrolik op waar hulle op die hooibale sit.
Ek ruk terug na ons huisie in Keerboslaan as ʼn hand saggies aan my skouer tik. Ek draai om en kyk in Jan se liefdevolle gesig, met liggies in sy fletsblou oë hoor ek sy stem.
“Wil jy dans, Karina?”
Sonder woorde sak my kop op sy skouer as hy my toevou in die veilig kring van sy arms. Skuifel-skuifel dans ons stadig in ʼn amper heilige stilte met die blik van Deon op ons.
Het ek maar besef dit is ons heel laaste dans, het ek langer die veilige warmte van sy lyf teen my gekoester.
©Marlene Erasmus
25/03/2021
(707 woorde)
November 2022 – OOP Projek
3.Sus se boomstem
Lank, lank gelede is daar ʼn blonde krulkopdogtertjie gebore. Haar naam was Marlé, maar gou-gou was sy bekend as Sus onder almal. Sus se ouers het haar mooi opgevoed en het haar vertel van al die dinge wat die wêreld vir haar kan bied. Met die lesse wat Sus so dikwels gehoor het, het sy besluit om ʼn soet en voorbeeldige kind te wees wat haar ouers se woorde sal onthou.
Sus was ʼn regte klein dromer wat daarvan gehou het om in die natuur te wees. Sy stap rustig deur die pad wat lei na die wingerde. Onder in die boord staan ʼn groot ou wilgerboom met sy takke wat waai in die wind.
“Die arms wuif vir my en lok my nader”, dink sy terwyl sy in die skadu-ryke gras neerval.
“As hierdie boom met my kon praat sou ek darem lekker kon gesels.” Sy haal haar storieboek uit en begin lees.
“Ja! Jy wens ek kan praat?”
Sus kyk van haar boek af op, skud haar kop en kyk om haar rond. Sy glimlag en wonder of sy besig is om haar varkies te verloor. Sy is heeltemal alleen en sien geen mens nie. Sy slaan weer haar boek oop en lees haar verhaal verder.
“JY! Ja – ek praat met jou Sus!”
Sy spring orent en staan verskrik paar tree weg van die ou wilgerboom wat ewe skielik koue rillings langs haar rug laat afhardloop.
“Dit kan nie wees nie! Waar het jy nou al gehoor van ʼn pratende boom?”
“Moenie so verskrik lyk nie, ek sal jou niks kwaad aandoen nie. Kom sit hier by my.”
Sus stap huiwerig nader en gaan sit weer op die groen gras.
“Ek is al vir ʼn hele tyd bewus van jou wat so rustig en vroom hier by my kom sit. Ek weet jy is dié voorbeeldige dogter waarvan almal praat, maar ek weet jy wonder hoe dit sal voel om nie so soet te wees nie!”
“W-www-wat?” stamel Sus as sy stip na die boom voor haar staar.
“Dit kan mos nie wees nie, dit is mos net in my kop wat ek lankal wonder oor die verbode dinge wat ek nie mag dink nie!”
“Ja, ek weet jy wonder hoe dit sal wees om saam die kinders van jou klas te gaan drink en rook!”
“Nee! Hou op, ek weet nie waarvan jy praat nie!”
Sus se lyf begin bewe asof sy koud kry, maar die son skyn heerlik warm op haar vel neer.
Sy besluit om haar boek op te tel en verder te lees, vasbeslote om haar nie aan die ‘stem’ te steur nie. Dit kan mos nie gebeur nie. Haar ouers het haar opgevoed om die regte keuses in die lewe te maak.
Sus staan op en maak reg om huis toe te gaan. Sy stap vinnig weg en hoor die stem al koggelende agter haar aanroep: “Jy sal terugkom, ek weet jy wonder. Ek weet, ek weet, ek weet …”
Sus stap die huis in, reguit kamer toe om haar gesig met koue water te gaan spoel. Sy wonder of sy besig is om siek te word, het sy dalk koors of kan dit wees dat sy hallusineer?
Die volgende oggend by die skool kyk sy met nuuskierige oë na die groepie wat agter die bushalte gaan sit. Kwansuis om die toets te bespreek, maar kort voor lank hang die reuk van sigarette swaar in die lug.
Sal sy nadergaan en kyk? “Miskien moet ek maak of ek toevallig daar verby loop en dalk roep hulle my nader om by hulle aan te sluit.”
“Nee! Onthou wat mamma altyd vir jou vertel het van keuses, een verkeerde keuse en jy kan baie maklik jou beginsels vergeet!”
Sus draai om en stap na die biblioteek.
Die middag na skool stap sy weer na die ou wilgerboom.
“Ek is doodseker ek het my verbeel!”
Sy stap en sak neer, kyk op na die wuiwende takke bo haar. Sus maak haar oë toe, seker dat sy haar die vorige dag haar verbeel het.
“Jy kan maar jou oë toeknyp, ek is hier en ek het geweet jy gaan kom.”
Sus knyp haar oë stywer toe en begin saggies neurie: “Jy is nie regtig hier, jy is nie regtig hier. Jy kan nie praat, jy kan nie praat …”
“Hahahaha Hahahaha,” koggel-lag die wilde ou Wilgerboom haar uit.
©Marlene Erasmus
(738 woorde)
Desember 2022 – Samesyn projek
3.Lien se veilige hawe
Lien Meiring skud haar platinumgrys krulle agteroor en glimlag tevrede. Hier waar sy op die voorstoep van haar huisie in die woud sit, klink die woudgeluide soos ʼn vrolike koor op. Die sonneblomme dans op maat van die wind, hulle bars behoorlik uit die grond om die son se strale te drink.
Haar gedagtes gaan ver terug in haar verlede.
Skielik is Lien weer ʼn dogtertjie van tien jaar oud, sy sit in die gang voor die weeshuismoeder se kantoor. Heleen, die huismoeder was ʼn wonderlike vrou, altyd uiters besorg oor al die kinders. Sy het daarom aangedring om op haar hurke af te sak as sy na die kleintjies moes luister.
“Lien, waarom die hartseer gesiggie vandag?”
“Die ander kinders is almal genooi na hulle vakansiehuise vir die Desember-vakansie. Niemand het nog vir my genooi nie.”
Ek sukkel om asem te kry so styf druk tannie Tannie Heleen my teen haar ronde lyf vas. Ek asem haar parfuum in en voel veilig in haar omarming.
“Lientjie, ounooi, jy weet mos! Jou beurt sal kom. Die spreekwoord lui mos: ‘Wie laaste lag, lag die lekkerste!’”
Die sagte stem roep my in die kantoor in. Voor my sit twee grootmense wat vriendelik na my kant toe glimlag.
“Hierdie is oom Johan en tannie Fiona. Hulle wil hoor of jy saam met hulle wil gaan kuier by hulle vakansiehuis in die Knysna-woud? Dit sal vir die hele Kersvakansie wees.”
Ek glimlag en wonder of hulle nie dalk die klipharde “doef-doef, doef-doef” van my hart kan hoor. Dit was die dag waarop my hele lewe verander het.
Die Desember-kuier was een van vele voor ek in hul pleegsorg geplaas is.
Aan die westelike kant van die koppie, waar die Featherbed-natuurreservaat sy dik woudklere aanhet, het ons vir ure lank die skepe sit en kyk as hulle die strandmeer ingevaar gekom het. As die storm opgesteek het, het van die plaaslike skippers vir hulle die weg gebaan in ʼn klein houtskuitjie om veilig deur die Knysna-koppe te vaar.
Ek kon my verkyk aan die sakkende son in die weste as die wolkies verkleur in ougoud en salmpienk. Die geure van die woud het my betower en gou het Knysna en sy mense my ingetrek en deel gemaak van “die plek van varings”.
Hulle het my ingeneem in hulle sorg, en later aangeneem. Vir my het hulle my Pa Johan en Mammie Fiona geword.
Dit was nie te lank nie toe word ek het die ousus vir die tweeling boeties wat hulle ook gaan haal het in die Abraham Kriel Kinderhuis.
“Kom ousus jou ou dromer, wat sit jy so en droom?” ruk boet Karl se stem my terug.
“Ons wag net vir jou om by ons aan te sluit dat ons kan eet.”
Wyl ons om die groot ou houttafel sit en gesels voel ek die samesyn tussen ons. Soos die gesegde lui: “Jou huis is waar jou hart is”, is my hart hier by my familie.
©Marlene Erasmus
29/12/2022
(496 woorde)
April 2023 – KLUG projek
3.Die waarheid oor Kersvader
Lien sit in die tuin en bewonder die mooi blomme. Tjirpend kom sit die mooiste voëltjie op die katjiepieringboom se takke. Uit die hoek van haar oog, sien Lien hoe hy vrolik van die een tak na die ander wip. Onwillekeurig wonder Lien hoekom die hele familie nou weer na hulle moet kom as dit Kersfees is. Haar gedagtes gaan na Paasfees waar sy ook so gewonder het of die paashaas werklik bestaan.
“En as jy nou so met jouself sit en praat?” ruk mamma se stem my uit my droomwêreld.
Lien kyk vinnig op. Sy het nie besef dat mamma op die stoep staan en na haar staar nie.
“Ek … ek het sommer aan … aan Paasfees gedink en hoe verskillend mense spesiale geleenthede vier,” antwoord sy vinnig. “Dink jy nou daaraan?”
“Moenie te lank in die sonnetjie sit nie, jy sal vinnig sonbrand opdoen,” waarsku mamma voor sy in die huis verdwyn.
Lien kyk na die suikerbekkie wat vrolik rondspring op die groen takke, sy lang, skerp bekkie in die wit blomme ingedruk. Ek wonder of Kersvader werklik bestaan? Sy skud haar skouertjies asof sy die gedagte van haar wil afskud. Sy kyk vir oulaas na die suikerbekkie voor sy opstaan.
Terwyl Lien terugloop na die huis, besef sy dat sy nie haar kop hoef te breek oor die kwessie of Kersvader werklik bestaan nie.
Ek gaan hierdie vakansie met oop arms aangryp en die wonderlike tyd van Kersfees saam met die familie geniet. Ek wil die tyd geniet en nie onnodig tob oor die kwessie of Kersvader werklik bestaan nie!
Lien stap die koel, groot woonvertrek binne en sien mamma is al besig om kersversierings op te hang terwyl die klanke van kersmusiek die vertrek vul. Met ʼn breë glimlag begin sy mamma help.
“Mamma, glo mamma dat Kersvader werklik bestaan?” Vir ʼn oomblik huiwer mamma en antwoord: “Natuurlik Lien! Wat se vraag is dit nou?”
“Dankie, ek wou net hoor of mamma glo?”
Lien staan op, “Ek gaan nou slaap, môre kom almal en dan wil ek lekker speel.”
“Nag Lien.”
In haar kamer maak sy gou gereed om in die bed te kruip, maar deurentyd dink sy aan Kersvader en die naderende familie wat kom kuier.
Lien rol paar keer om en om voor sy aan die slaap raak. Sy het skaars begin slaap, toe begin sy droom.
Lien is in die pragtigste wêreld vol spierwit sneeu. Helder ligte brand oral en in die middel staan daar die pragtigste boom vol met gekleurde, glinsterende kersliggies. Ek staan en bewonder nog die boom met groot oë, toe hoor ek: “Lien, jy moet nie bang wees nie. Jy kan glo … Die Kersvader storie pla jou baie, maar die gees van Kersfees is werklik, en leef in elkeen se hart wat die betekenis van Kersfees begryp!”
Ek swaai om en sien hoe ʼn figuur naderkom.
NEE!
Dit is dan nie Kersvader nie! Voor my staan ʼn ou man met die vriendelikste glimlag op sy gesig.
“Nee, ek is nie Kersvader nie, Lien,” sê die man vir my. Ek is die een wat vir jou kom vertel van die gees van Kersfees.”
“Maar … mmaaar … waar is Kersvader?”
ʼn Sagte lag vul die koue lug rondom ons. “Kindjie, moet nie jou kop breek nie. Ek kom herinner jou dat die ware betekenis Kersfees oor veel meer gaan.”
Lien draai om en skrik wakker. Sy spring op en hardloop na haar kamervenster.
Snaaks, ek was vas oortuig dat dit buite sneeu!
Die volgende oggend skrik Lien wakker as mamma vrolik in die gang roep: “Opstaan, opstaan, dit is ʼn heerlike dag!”
Lien spring haastig uit die bed om klaar te maak vir die dag. Sy huppel na die kombuis waar mamma besig is om koffie te maak. “Mamma! Ek kan nie wag vir die familie om te kom nie!” roep sy opgewonde uit.
Mamma glimlag stil en sê: “Ek ook my kind, ek kan ook nie meer wag nie.”
“Ons mag nooit vergeet dat Kersfees nie net daar is vir geskenke uitdeel nie, hierdie is die tyd van die jaar om saam familie en geliefdes om in die vreugde te deel.”
Ek skud my kop op en af, stem saam met mamma.
Die res van die oggend is ons besig met die voorbereiding om klaar te maak. Pappa en ouboet dra die tafels en stoele in die tuin uit. Ek en mamma gooi vrolike tafeldoeke oor en hang versierings en liggies in die bome.
Net na die middag arriveer almal en daar heers die geselligste atmosfeer. Daar word oor en weer gegroet en kort kort hoor jy: “Sjoe maar die kinders het mooi groot geword!”
Die grootmense sit en gesels al te lekker en ons klomp kinders speel heerlik. Ek kyk op na my rooikop tweeling-nefies. Hulle is nog net so irriterend soos ek hulle onthou het! Pieter staan voor my: “Jy glo tog nie meer aan Kersvader nie, of hoe sê ek?” Kosie staan en skud soos hy lag.
Hartseer wonder ek of ek net dom is? Hoekom voel ek dan so dom?
Hierdie twee maak my gek!
Mamma roep met vrolike stem: “Kom kinders, kom almal. Ons gaan nou kersliedere sing voor Kersvader sy draai kom maak!”
Ek kyk na Pieter en Kosie en steek my tong uit. “Wel, ek is baie opgewonde oor Kersvader!”
ʼn Feestelike atmosfeer heers en die res van die aand verloop gesellig. Groot en klein lag en gesels en geniet mekaar se geselskap.
Later sit ons almal in die sitkamer waar die liggies in die boom skitter. Die geur van die heerlikste kerskos vul die lug. Mens kan sommer ouma en mamma se handewerk ruik.
Skielik hoor Lien ʼn vreemde geluid buite. Klokkies? Dit is mos klokkies wat so klink. Die kinders spring op en hardloop na die venster. Dan sien Lien hom staan … Kersvader! Lien het nog gewonder of hy bestaan of nie, maar daar staan hy nou met ʼn groot sak vol van geskenke. Sy kyk na die tweeling wat verstard staan en kyk. Sy kyk uit en waai vir hom, verbeel haar dat hy vir haar knipoog as hy sy vinger op sy lippe sit om te wys sy moet stil bly.
Hulle staar so na die plek waar hy gestaan het dat hulle nie merk hy glip stilletjies deur die oop voordeur om die geskenke neer te sit nie.
Toe almal omdraai is Kersvader reeds weg. “Hoe het dit gebeur? Hoe het die geskenke onder die boom beland?” Lien glimlag, sy ken die antwoord. Sy weet dat dit die spesiale oomblik is waar die gees van Kersfees teenwoordig is.
Lien sit en kyk hoe almal hulle geskenke oopmaak en sy sien hoe almal mekaar omhels en glimlag. Sy glimlag en besef dat die ware betekenis van Kersfees is: om tyd saam te spandeer.
Die grootmense sit en gesels en Lien besluit om te gaan inkruip. Sy lê en rol rond en besef sy is dors.
Die huis is nou stil, al die kinders slaap en dit is net mamma en pappa wat nog sit en gesels. Sy loop saggies nader en hoor haar pa se stem: “Dat die kinders nog glo daar is regtig ʼn Kersvader is eintlik oulik. Hulle moet tog weet dit is ons buurman, Dawie wat die pak aangetrek het en sy maag opgestop het om hulle geskenke te kom afgee?” Mamma lag saggies, “Ai my man, laat hulle maar so onskuldig bly glo …”
Ek snak na my asem! NEE!
Lien voel ʼn klomp gevoelens in haar opborrel. So, dit is dan die waarheid? Sy vries in haar spore. Aan die een kant dink sy dat dit goed is sy weet nou die waarheid, maar aan die ander kan is sy so kwaad dat mamma en pappa vir haar ʼn rat voor die oë gedraai het!
Lien stap na haar ouers en sien hoe skrik hulle om haar te sien. “Lien, slaap jy nie al nie?” vra mamma met ʼn skuldige gesig.
Lien vra. “Pa, is dit waar?”
“Hmm … hmmm … wat? Is wat waar?”
“Pa, is dit oom Dawie wat net Kersvaderpak aangetrek het?”
Haar pa kyk haar aan, antwoord sag, “Ja, dit is so, my kind. Ons wou hê julle moet bly glo dat Kersvader bestaan.”
Dit is die grootste klug!
Lien staan vir ʼn tyd doodstil om haar pa se woorde in te neem. Sy besef dat hulle nie kwaad bedoel het nie, en sy is bly dat hulle nou vir haar die waarheid vertel.
Lien glimlag, “Pappa, ek verstaan. Dankie dat julle die wonder van Kersfees vir ons wou lewendig hou. Ek is so lief vir Kersfees!”
Haar ouers glimlag en kyk na mekaar, en Lien besef maar te goed, al was dit groot skok vir haar, dat hulle goed bedoel het.
Lien glimlag, sy is bly dat sy die wonder van Kersfees kan beleef.
©MarleneErasmus
(1486 woorde)
Junie 2023 – Winter projek
2.Winterengel red skoolkinders
Lien Meiring staan en staar oor die werf van die plaashuis. Die ysige winterwindjie het die gordyne sag oopgewaai en die bleek strale van die son verlig haar kamer. Sy sukkel om helder wakker te word en knip-knip haar oë teen die helder lig. Sy kyk na die pragtige wit skouspel voor haar. So ver soos sy kan sien is die landskap toe onder die mooiste vars laag sneeu. Die bome se takke hang swaar van die wit vlokkies.
Kom ek gaan kry koffie. Ek stap stadig die lang gang af. Die aroma van vars koffie vul die lug en vou soos ʼn karos om my. Die mengsel van die geroosterde bone en die koolstoof omhels my as ek die kombuis binne stap. Die klein krom figuurtjie van ouma Mariet voor die stoof lyk so gesellig.
“Môre ouma, en het ouma lekker geslaap?” Ouma beweeg saggies oor die vloer, die stoel maak ʼn sagte geluid as ouma gaan sit. Die kombuis is warm en gesellig van die ou koolstoof wat aangesteek is.
“Ouma,” sê Lien met liefde in haar stem. “Ek is so bly ouma het kom kuier. Ek geniet altyd ouma se geselskap.”
Ouma glimlag en sit die stomende pot koffie neer. “Kind,” sê sy met haar warm, gemoedelike stem, “kom sit hier en geniet die beker boeretroos. Dit sal ʼn goeie begin vir hierdie dag wees.” Ek glimlag en neem oorkant haar plaas.
“Laat ouma jou vertel van die sneeu van 1956, toe ʼn reuse sneeuval hier in die omgewing van Bergville plaasgevind het.” Ouma se oë skitter met ʼn mengsel van nostalgie en verlange as sy die sneeuval van 1956 herroep.
“Kind,” begin sy met sagte stem, “die winter van 1956 sal niemand vergeet nie! Dit was ʼn vreeslike gebeurtenis wat Bergville en omgewing getref het.” Ouma se hande beduie saam met haar woorde wat van toonhoogte verander. Sy beskryf die eerste sneeuvlokkies wat geval het en hoe die storm vinnig hewig gewoed het.
“Lientjie, daardie sneeustorm het ons opnuut bewus kom maak oor die mag van die natuur.” Sy sluit haar verhaal af en strek haar hand uit om die radio se klank harder te maak.
Die ou radio staan agter haar op die kas en rustige musiek vul die oggend se stilte. Eensklaps word die musiek onderbreek met ʼn harde, skril geluid! Lien spits haar ore, haar hart klop effens vinniger, bewus van die noodsein wat oor die radio kom.
Die omroeper se stem wat met erns praat, laat die spanning oplaai.
“Dringende aankondiging,” kom die stem kragtig. “Skoolbus vermis in die sneeustorting naby Drakensberg. Daar word vermoed dat die bus naby Bergville onklaar geraak het. Alle hulp word benodig om die bus met die skoolkinders te vind. Asseblief, as enige iemand inligting het, kontak dadelik die plaaslike polisiekantoor.”
Lien spring so skielik op dat die stoel agteroor val. Die stoel slaan met ʼn donderslag op die harde houtvloer neer. Die geluid eggo in Lien se ore en ouma kyk haar verskrik aan. Die geluid dreun deur Lien se kop en sy besef dat sy dadelik moet optree.
“Ouma, ek moet hulle gaan soek! Daar is kinders in daardie bus! Ek sal die tweerigting radio saamneem, maar ouma moet hier bly. As daar enige nuus oor die radio kom, moet ouma my dadelik laat weet.” Ouma kyk na Lien se vasberade gesig en besef sy kan haar nie anders probeer oortuig nie. Ouma knik haar grys koppie en druk haar hande teen haar hart. “Wees net baie versigtig, kind.” Lien knik en omhels ouma vinnig. “Hou die radio naby, en ouma, BID asseblief vir veiligheid.”
Met die woorde storm Lien na die voordeur. Sy gryp haar jas en trek die mus oor haar ore. Sukkel-sukkel hardloop sy deur die dik laag sneeu om haar 4×4-voertuig te bereik. Die enjin hoes en proes behoorlik paar keer voor die enjin ontwaak, en Lien begin haar reis om die bus te gaan soek.
Haar Jeep kronkel gly-gly deur die wit gesneeude landskap met die ligte wat ʼn geelwit streep voor haar maak. Die sneeu val nog die hele tyd en die wind suis deur die venster. “Ek moet net kop hou! Asseblief Vader, wees ons genadig!”
Terwyl Lien stadig vorder, sit ouma Mariet stil met die tweerigting radio styf vasgeklem teen haar. Haar ore is gespits om na die aankondigings op die radio te luister terwyl sy prewelend, saggies bid vir almal se veiligheid.
Toe Lien om die skerp draai ry, snak sy hardop na haar asem. Voor haar, groet die toneel waar die bus die pad verlaat het, haar. Daar, op sy sykant, half bedek onder ʼn dik laag sneeu, lê die skoolbus. Die bus lyk soos ʼn vlagskip wat gestrand het. Dit is ʼn baie ontstellende toneel en Lien se hart klop vinniger.
Onsekerheid wil haar oorweldig, maar dan skep sy moed bymekaar en besef dat sy die hoop en redding van die skoolkinders is.
Lien stap met haar flits in haar hande en lig teen die bus as sy teen die ruit slaan. Die deur word van binne oopgestamp en in haar flitslig sy die gesigte van die kinders, doodbenoud en koud.
“Moet nie bang wees nie,” sê sy sag met ʼn gerusstellende stem. “Tannie! Tannie, Meneer Leo is bewusteloos. Hy het ʼn harde hou teen sy kop gekry. Die bus het gegly, omgeslaan en hier in die sloot tot stilstand gekom. Meneer Leo het seergekry!”
“Toemaar, hulp sal nou hier opdaag.” Sy kyk na die sny aan Leo se kop en maak hom gemaklik.
Lien laat eerste vir Ouma Mariet weet waar hulle is en dat die kinders veilig is. Sy ontbied die nooddienste. Sy gaan sit by die kinders en praat hulle moed in. Dit is nie lank voor die loeiende sirenes die lug vul nie.
Die reddingspan het vinnig en bedrewe na die kinders omgesien. Leo, wat intussen bygekom het, se wond is verbind en hy is saam met die kinders na veiligheid gebring.
Lien strompel deur die sneeubedekte tuin na die huis waar ouma Mariet haar inwag. Die sneeuvlokkies dartel om haar heen as sy die voordeur met ʼn kraakgeluid oopswaai. ʼn Warm gloed van vreugde en verligting vul die vertrek as sy in ouma se arms instap.
“Lien, kindjie!” roep ouma uit. Arms omvou mekaar in dankbaarheid en blydskap. “Ouma, ek het die reggekry!” Haar stem klink broos en moeg. “Die kinders is almal na veiligheid gebring!”
Die voorhuis word gevul met baie emosies en klanke. Trane van dankbaarheid loop sag oor die wange. Die geluid van Lien se asemhaling meng met die fluisterende woorde van ʼn dankbare ouma.
Die volgende oggend sit Lien en haar ouma in die kombuis waar die sonlig helder oor die houtvloer val. Die sneeuval het gestop en die son skyn weer.
Die radio speel en die omroeper se stem kom oor die lug: “Heldhaftige optrede van Lien Meiring het verseker dat die bus met die skoolkinders gevind is. Die onderwyser wat die bus bestuur het, Leo Smit is ontslaan nadat hy die nag in die hospitaal deurgebring het.”
Hierdie dapper daad het die harte van die gemeenskap diep geraak. En so, met elke winterseisoen, is die verhaal van Lien se dapper daad oorvertel. Dit sal vir die gemeenskap van Bergville ʼn bron van hoop, liefde en inspirasie bly.
©MarleneErasmus
25/06/2023
(1218 woorde)
Oktober 2023 – KORT projek
2.Die mistige waarskuwing
Die dag het uiteindelik aangebreek! Die son het soos warm goud oor die horison opgekom terwyl ek in my motor klim. Ek het maande aan hierdie welverdiende vakansie beplan en kan byna nie glo dat ek op pad is na die rustige dorpie, Aurora nie. Die dorp is die tuiste van ‘n klein, ongerepte gemeenskap aan die voet van die Piketberge. Ek dink aan die pragtige Nederduits Gereformeerde Kerk met die groot kloktoring wat kerkdienste aankondig.
Alles verloop volgens beplanning. Ek gaan deur my musieklys en kies liedjies wat by my vrolike bui pas.
Namiddag kom ek by die kothuis aan. Dit is ‘n klein, intieme plek wat ingerig is vir een persoon. Ek staan op die dek en kyk uit oor die vallei. Die ligte bries speel met my hare en ek voel hoe ek vrylik kan asemhaal.
Mari het haar tas uitgepak en vir haar ‘n glasie wyn geskink om op die dek te gaan sit om die pragtige sonsondergang te aanskou. Haar vakansie het begin en sy voel so ontspanne.
Sy het vroeg ingekruip met ‘n storieboek, maar toe die boek vir die tweede keer uit haar hande val het sy die lig afgeskakel en dadelik aan die slaap geraak.
Die volgende oggend skrik Mari wakker met ‘n vreemde, ongemaklike gevoel. Daar lê miswolke en ‘n onheilspellende stilte het haar kothuis omring. Sy maak vir haar koffie en gaan sit buite, maar voel vreemd onrustig.
Sy wip soos sy skrif toe haar selfoon begin lui.
“Hallo?”
‘n Growwe stem kom oor die foon: “Jy moet maak dat jy wegkom! NOU! Jy is in groot gevaar.”
Mari skrik en kyk bang om haar rond. Die mistigheid belemmer haar sig en sy kan amper niks sien nie.
“Wie is dit?”
“Dit maak nie saak nie. Gaan nou terug! Jou vakansie is verby,” het die vreemde rasperstem geantwoord en die oproep skielik beëindig.
Mari spring op en bondel haar goed in die tas, gooi dit in haar motor en skakel die motor aan. Sy jaag hopeloos te vinnig deur die digte mis, haar hart kloppend in haar keel. Sy het nie geweet wat presies aan die gang was nie, maar kon die gevoel van gevaar nie afskud nie.
Toe sy Aurora binnery, stop sy by die kafee en vertel die eienaar van die vreemde oproep.
Hy raak bleek en kyk haar aan. “Daai kothuis,” het hy gesê, “het ‘n vreeslike geskiedenis! ‘n Vrou is paar jaar gelede daar dood aangetref, vermoor. Almal sê dat sy daar rondloop. Mense wat dit waag om daar tuis te gaan, kry vreemde oproepe en word gedreig.”
Mari skud haar skouers asof sy die koue rillings wil afskud. “Dankie, maar ek gaan huis toe!”
Met haar hart wat steeds klop in haar keel, het Mari die dorpie Aurora agtergelaat en teruggekeer na die gewoel van die stad. Die mistigheid van daardie oggend bly nog steeds in haar gedagtes vasgevang, en die vreemde oproep sal vir ewig ‘n raaisel bly. Maar sy sal nooit die gevoel van vryheid en rus vergeet wat sy op daardie dek ervaar het nie. Haar kort vakansie in die geheimsinnige kothuisie van Aurora mag haar baie ontstel het, maar dit het ‘n onuitwisbare indruk op haar gemaak. Sy het ‘n stukkie vrede in daardie oomblikke van stilte gevind, en vir ‘n kort rukkie, was sy weg van die alledaagse lewe, aan die voet van die Piketberge, waar haar siel kon asemhaal. En met daardie herinnering in haar hart, keer sy terug na haar alledaagse bestaan, ‘n glimlag van geheimsinnige avontuur op haar lippe en ‘n vreemde verhaal om te vertel.
Dit was die kortste vakansie want die noodlot het dit so bepaal.
Sy besef haar vakansie was baie korter as wat sy beplan het, maar sy sal dit gewis nooit vergeet nie.
©Marlene Erasmus
(634 woorde)
November 2023 – OOP projek
2.Lien Meiring se Swart Vrydag
Ek vlieg uit die bed toe my alarm my wakker skree. In my kop merk al die merkies op my lysie af; opstaan, tande-borsel, aantrek, inkopielys, motorsleutels … So gryp ek na die gemaklikste klere en stapskoene vir die groot dag. My hare maak ek hoog op my kop vas sodat ek nie te warm kry so tussen deur die hardloop nie. Ek dink aan my inkopielys, of eerder wenslys wat teen die yskas vir my wag.
Met versnelde hartklop sluit ek my voordeur en drafstap na my motor onder die afdak. Vandag is die dag dat ek baie dinge gaan kry wat ek al so lank begeer!
Ek het ‘n begroting van R20 000, maar ek is bang dat ek dit dalk gaan oorskry. Vir daardie einste rede het ek ook ‘n kredietkaart of twee in my broeksak. Net vir ingeval!
Ek ry so vinnig as wat die spoedgrens my toelaat na die groot elektroniese winkel, maar ek sien dat daar reeds ‘n lang ry mense voor die toe deur wag. Haastig parkeer ek my motor, en hardloop behoorlik na die agterkant van die lang ry. Om my hoor ek hoe opgewonde die mense praat oor die ongelooflike afslag wat op die ruite geplak is: tot 70% op TV’s, rekenaars, selfone en al die ander nuutste elektroniese apparate op die mark.
***
Terwyl ek half ongeduldig in die ry, wat glad nie beweeg nie, staan dwaal my gedagtes na die AA-vergadering die vorige week. Ja, ek kry hulp by die AA-vergadering, nie vir alkohol nie, maar vir my koopverslawing. Ek onthou hoe ek deur die deure van die saal gestap het, vol moed dat ek hulp sal kry vir die probleem wat ek nie alleen kan hanteer nie. Daar was mense van al die vlakke van die samelewing.
Die vergadering het plaasgevind in ‘n rustige atmosfeer met sagte beligting, ‘n skerp kontras met die fel fluoresserende ligte van inkopiesentrums. Die stoele was in ‘n groot kring gerangskik. Ek het my plek ingeneem tussen mense wat nie aan my bekend was nie. In daardie oomblikke het ek egter heel tuis gevoel in die groep met gedeelde kwesbaarheid.
Die leier het ons almal verwelkom en ons aangemoedig om ons verhale met mekaar te deel. Ek het effens gesug voor ek my verhaal begin vertel het. Die verhaal van my stryd met die onweerstaanbare drang na winskopies! Ek het vertel hoe dit my hele lewe beheer het, hoe dit my finansies geknou het, en hoe ek bewus geword het dat ek hulp nodig het.
Toe die vergadering verdaag het, het ek ook inligtingspamflette en kontaknommers gekry. Ek het uitgeloop met ‘n gevoel van verligting en hoop.
***
Hoekom moet ek NOU aan die verdekselde vergadering dink?
Die deur swaai oop met geluide van die opwinding tussen al die mense. In my kop dink ek aan die items op my lys. Ek storm na die TV-afdeling, en daar is dit voor my! My hart klop behoorlik in my keel as ek na die 90-cm Slim Televisie voor my kyk. Die prys laat my van oor tot oor glimlag. Met arms wat wild deur die lug swaai, gryp ek na die laaste een op die rak. Die donkerkop man oorkant my kyk my aan met vyandige oë en ek verbeel my ek hoor ‘n gromgeluid van sy kant af kom.
Ek storm na die betaaltoonbank en voel-voel na my handsak. Ag nee! Waar is my handsak? Toe ek by die kassiere kom, besef ek nie dat dit die begin is van ‘n reeks van rampspoedige gebeure nie. Verlig tas ek na die bekende harde plastiek in my sak. Gelukkig het ek mos my kredietkaarte ingesit. Betaling vir die Televisie met die kredietkaart gaan maklik deur en ek haas my na my motor met my eerste skat van die inkopiedag.
Toe ek my motor bereik merk ek glasstukke op. Dit registreer nie lekker nie, maar toe kyk ek op en sien die gebreekte venster met die leë sitplek. Dit is waar ek my handsak vergeet het in my haas om met my skattejag te begin.
Die donkerkopman van die winkel staan skielik voor my, hy probeer my gerusstel, maar dit help niks om my beter te laat voel nie. My geld, kaarte, selfoon en ID is skoonveld! ‘n Skokgolf van hartseer oorval my. Hier staan ek, met ‘n televisie wat ek nie eers regtig nodig het nie en my hele wêreld in my handsak wat nou in een of ander skurk se hande is.
Swart Vrydag het nie net fisieke verlies vir my gebring nie, dit voel of ek ook ‘n stuk van myself verloor het. Ek probeer myself troos, maar voel oorweldig deur ‘n gevoel van hulpeloosheid.
Die les wat ek op Swart Vrydag geleer het is dat vrede nie aan spesiale aanbiedinge gekoppel kan word nie, soms verloor jy ‘n stuk van jouself in die proses!
Nooit weer sal ek deel in Swart Vrydag nie.
©MarleneErasmus
30/11/2023
(827 woorde)
Januarie 2024 – OOP Projek
2.’n Politikus se reis
Hulle noem my John Smith. Ek is dertig jaar oud, ʼn politikus en beskou myself as ‘n man sonder ‘n morele kompas. Ek het vroeg die skemerwêreld van die politiek betree waar mag en invloed die spel beheer. Ek is ‘n ʼn meester in manipulasie en ʼn kenner van die donker kant van die lewe. My leuse is: “Ek, en ek alleen, kom eerste!” My mededingers mag dalk glo dat hulle in die politiek is om ʼn verskil te maak, maar ek weet van beter.
Hierdie is my verhaal. Dit is die verhaal van ‘n politikus wat in die skaduwees van die politieke spel dans en mense met leuens, beloftes, en manipulasie betower.
***
Ek sit in die parkie naby die stadsaal. Dit is die dag van ʼn baie belangrike toespraak wat my loopbaan kan maak of breek. Die bome wieg sagkens in die wind en die blare dans op die ritme van die natuur. Ek sit met my kop in my hande, oorweldig deur die lewe wat ek vir myself geskep het.
‘n Sagte stem versteur my gedagtes. “Mooi dag vandag, nè?” Die man langs my glimlag vriendelik. Hy lyk ouerig met ‘n vriendelike, rustige gelaat en warm, deurdringende oë.
Ek kyk hom skepties aan; my natuurlike wantroue is sigbaar. “Vir wie?”
Die man lag. “Vir ons albei, dink ek. Vertel my, John, waarom lyk jy so ongelukkig op so ‘n pragtige dag?”
Ek frons agterdogtig. “Hoe weet jy wat my naam is?”
Hy wys na my naamplaatjie. “Politikus, nè? Dis maklik om te raai.”
Ek lag spottend. “Ja, maar dit is die laaste ding waaraan ek nou wil dink.”
Die man kyk my ernstig aan. “Ek sien meer as net ‘n politikus. Ek sien ‘n soekende siel.” Hy aarsel vir ‘n oomblik. “Praat jy ooit met God?”
Ek haal my skouers op. “God? As Hy bestaan, waarom laat Hy my dan so voel?”
Die man se oë word sag. “Jy is ver van Hom af, maar dit beteken nie Hy’s ver van jou nie.”
“Hoe kan jy so seker wees?”
“Ek was ook een keer waar jy nou is. Ek het die leemtes met alle aardse dinge probeer vul. Maar ware vrede en vervulling kom slegs van een plek.”
Ek sug. “En waar’s dit?”
Hy glimlag. “Net in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus.”
Ons sit vir ‘n rukkie in stilte. Sy woorde eggo in my kop.
Die man reik sy hand uit. “John, jy kan vandag ‘n nuwe begin maak. Laat die ou John agter en stap ‘n nuwe pad van liefde, vrede en leef met ʼn doel.”
Trane rol sag oor my wange. “Hoe begin ek?”
Hy hou my hand vas. “Kom ons bid saam.”
Na ons gesprek vra ek hom: “Wie is u? Hoe het u geweet dat ek hier sou wees?”
Die man het vriendelik gelag, “Ek is al jare lank ‘n waarnemer van mense, en ek het geweet jy het leiding nodig. Ek’s net bly ek kon help. Noem my maar Oom George.” Ek het daarna probeer om meer uit te vind oor Oom George, maar niemand het hom geken nie. Al wat ek weet is dat hy daardie dag daar was toe ek hom die meeste nodig gehad het.
En daar, op daardie bankie, vind ek myself nie net in die lig van ‘n nuwe dag nie, maar in die lig van ‘n nuwe lewe.
***
John het ‘n hartsverandering ondergaan en praat nou heel anders. Hy staan voor die menigte, die mikrofone is reg, die kameras rol, die hele land kyk.
Die menigte gons van opgewondenheid. Hulle verwag ‘n John wat skerp en genadeloos is, een wat die politieke spel soos ‘n skaakmeester speel. Maar die man wat voor hulle staan, lyk vandag anders.
Hy haal diep asem: “Goeie middag aan almal. Ek weet julle het ‘n sterk, kragtige toespraak verwag, een wat die vyande sal skok en die bondgenote gelukkig sal maak. Maar ek het ‘n ander boodskap vir julle vandag.”
Die menigte raak stil in afwagting.
“Ek het my hele lewe in die donker skaduwees van die politieke spel deurgebring. Ek het gemanipuleer, gelieg en omkopery gebruik om my doelwitte te bereik. Maar vandag staan ek voor julle as ‘n veranderde man.”
‘n Gemompel trek deur die saal.
“Ek het besef dat ware leierskap nie gaan oor wen of selfverheerliking nie. Dit gaan oor diensbaarheid, naasteliefde en regverdigheid. Dit gaan oor julle – die mense van hierdie land.”
‘n Paar begin stadig hande klap, en gou sluit meer mense by hulle aan.
“As ek gekies word vir die leiersposisie, sal dit nie wees as die ou John nie, maar as ‘n man wat deur liefde, geloof en hoop gelei word. ‘n Man wat regtig omgee.”
Die menigte staan op; sommige met trane in hulle oë. Hulle het nie die John verwag wat hulle vandag gesien het nie. Maar miskien, net miskien, is dit die John wat hulle nog altyd nodig gehad het.
John se oë gaan oor die gesigte van die skare. Een van die joernaliste, ‘n dame met kort swart hare en ‘n skeptiese houding, steek haar hand op.
“John, waarom moet ons jou nou skielik glo? Na alles wat jy gedoen het? Hoe weet ons dit is nie net nog ʼn taktiek van jou om stemme te wen nie?”
John haal diep asem. “Dit is ‘n geldige vraag. Ek kan net vra dat julle my dade sal dophou en sien dat ek opreg is in my beloftes.”
‘n Ander joernalis skree nou hardop. “Hoe kan jy ‘n hele lewe van misleiding in een dag verander?”
“Ek is nie perfek nie en ek leer elke dag. Ek vra dat julle my dade dophou en my beoordeel op die veranderinge wat ek aanbring, nie net op een besluit nie.”
Die menigte was stiller as tevore, hulle gesigte weerspieël ‘n mengsel van skeptisisme, hoop en onsekerheid. Toe het ‘n bekende figuur deur die skare beweeg. ‘n Ou tannie met grys hare het na vore gestap. “John, ek het so baie vir jou gebid.”
Met trane in sy oë, het hy haar aangekyk. “Dankie tannie Elsie. Ek waardeer jou gebede. Ek sal my bes doen om niemand in ons gemeenskap teleur te stel nie.
In die tyd wat volg bewys John sy opregtheid. Hy besoek gemeenskappe, luister na hulle behoeftes, en werk onvermoeid om die lewens van die mense in sy gemeenskap te verbeter. Sy dade spreek harder as sy woorde, en mense begin glo in die nuwe John.
***
In die maand wat gevolg het, was my lewe nie net maanskyn en rose nie. Daar was dae waar ek getwyfel het, waar die lokroep van my ou lewe my byna oorrompel het. Maar elke keer as ek wou terugkeer na die ou John, het ek gedink aan die beloftes wat ek aan myself en die gemeenskap gemaak het. Die stryd was nie maklik nie, maar dit was die moeite werd.
***
‘n Paar maande later is John Smith verkies as die nuwe leier van die gemeenskap. Die nuwe John was nie net ‘n beter politikus nie, maar ‘n beter mens en ‘n ligstraal in ‘n donker wêreld. Hy is die bewys dat ware verandering moontlik is.
©MarleneErasmus
(1200 woorde)
Februarie 2024 – Dolos projek
3.Die skadukant van donker
Lien Meiring, die suksesvolle prokureur se naam was op baie mense se lippe. Sy was die toonbeeld van ‘n suksesvolle vrou. Wat almal nie geweet het nie, sy het ‘n groot struikelblok in haar lewe gehad. ‘n Verskriklike vrees vir die donker.
Lien het van kleintyd af ‘n erg ongemaklike verhouding met die donker gehad. As die skemer gedaal het en die lang skadu’s begin inkruip het, het haar hartklop versnel. Sodra sy in ‘n vertrek ingestap het, het haar oë onmiddellik die skakelaar gesoek. Die oomblik as sy die ligte aangeskakel het, het sy effens ontspan.
Die groot probleem was dat Lien glad nie kon slaap in die donker nie. Drogbeelde geklee in donker het haar denke oorheers. Dit was nie die afwesigheid van lig nie, dit was die onbekende, onsigbare dinge wat haar in vrees laat lewe het.
Een koue wintersaand in Julie, het die wind erger as gewoonlik om die hoeke van die huis gehuil. Die maan het flouerig deur die wolke geskyn. Daardie aand het Lien besluit dat sy genoeg gehad het van die dolos in haar lewe. Sy kon net nie langer so aangaan nie. Sy het besluit om die ding genaamd DONKER te trotseer. Sy sou die geheime van haar vrees ontrafel.
Sy het na die boekrak in die hoek van die kamer gestap en haar ouma se ou dagboek oopgemaak. Die effens vergeelde blaaie was so toe onder die stof dat sy in ‘n niesbui uitgebars het. Die blaaie was bros en gekreukel en plek-plek het die ink al vervaag, maar die woorde was nog leesbaar. Haar oë het vasgebrand op die inskrywing waar haar ouma oor Dolos geskryf het. Ouma Lilly het ‘n lang inskrywing gemaak oor die verskriklike entiteit met die naam Dolos. Lien het gou agtergekom dat dit nie ‘n mens was waarvan haar ouma geskryf het nie, maar eerder ‘n skaduwee wat in die donker ronddwaal om mense se vreugde te steel. Haar ouma het ‘n waarskuwing neergepen dat as jy eenmaal vir Dolos sien, daar geen bevryding is nie!
Lien het doodstil gesit en haar ouma se woorde oor en oor gelees. Sy het besef dat sy nie meer langer kon wegkruip vir die donker nie. Sy moes doodeenvoudig die donker in die oë staar en die gevaar trotseer. Net daar het sy ‘n plan gemaak: sy sou Dolos inwag en hom dan konfronteer.
Die volgende aand het Lien vasberade die flits geneem en dit tussen haar bewende hande vasgeklem waar sy op haar wiegstoel gesit het onder haar verekombers. Sy het gewag en gewag, elke oomblik gereed vir die verskyning. Sy het geen teken van Dolos gewaar nie.
Toe sy uiteindelik in haar bed ingesluimer het, het sy die flits langs haar laat lê. Sy het wakker geskrik toe ‘n skaduwee oor haar geval het. Daar was hy: Dolos, ‘n lang, maer figuur sonder ‘n kop. Haar hart het woes in haar borskas geklop. Sy het die flitslig gegryp en op hom geskyn. Sy vorm het effens vervaag toe sy op hom skree.
“Ek weet wie jy is!”
Haar stem het gebewe toe sy vir hom sê: “Ek is nie meer bang vir die donker nie!”
Sy het die woorde oor en oor herhaal en keer op keer vir hom geskree totdat sy skaduwee heeltemal verdwyn het. Sy het besef dat sy haar vrees oorwin het, dat sy nie langer ‘n slaaf van haar eie fobie sou wees nie.
Die volgende oggend word sy wakker toe die son warm deur die venster skyn. Sy het opgestaan en weer die dagboek in haar hande geneem Sy het ‘n nuwe inskrywing gemaak:
“Ek, Lien Meiring het die donker oorwin! Ek het die skaduwee Dolos in my lewe gekonfronteer en hom laat verdwyn. Ek is NIE meer bang NIE.”
Sy het geglimlag, die dagboek toegemaak en dit op die rak teruggeplaas. Die skakelaar van die ligte het sy nie meer nodig gehad nie. Sy het die geheim van die donker uitgepluis en die aaklige Dolos finaal oorwin.
So het Lien ‘n heldin geword, nie net vir haarself nie, maar vir almal wat met hulle eie donker in hul lewens gestry het. Sy het geleer dat die lig binne haarself skyn en dat sy alles kan oorkom as sy moedig genoeg is om die skaduwees in die oë te kyk.
©MarleneErasmus
29/02/2024
(719 woorde)
MAART 2024 – OOP PROJEK
2.Ouma se geheim
Lien sit op haar ouma se ou houtkatel. Die verekombers lê glad oor die groot hemelbed. Lien Meiring, vier-en-twintig jaar oud lyk ouer as haar ouderdom wanneer sy na die vertrek kyk. Sy word omring deur die ryk geur van houtpolitoer en die subtiele aroma van haar ouma se parfuum.
Nostalgie oorval haar. Dit voel asof ek weer ʼn klein dogtertjie is, liggies swaaiend op ouma Helena se skoot terwyl sy vir my stories vertel. Die antieke horlosie in die voorhuis tik konstant, elke sekonde word ʼn herinnering aan vervloë dae.
Ek hou die teekoppie vas en dink dat dit seker so oud soos die huis self is, met sy fyn blou patroontjie wat my terugneem in tyd. Die antieke meubels stem my tot rustigheid. Ons geskiedenis hang teen die gelerige mure in die vorm van ou familieportrette, elkeen met sy eie verborge verhaal. Die rooibostee troos my effens. Ek ril en dink wat ouma nou vir my sou sê: “Daar het ʼn kat oor jou graf geloop.”
Die hele huis is ʼn verhaal van ou familiegeskiedenis. Ouma Helena het hierdie huis geërf van haar ouers. Generasies se liefde, vreugde, hartseer en geheime lê hier.
Die ou hangkas het vir solank as ek kan onthou, in die hoek van ouma se kamer gestaan. As kind het ek hierdie hangkas al bewonder. Na haar afsterwe was die taak aan my gegee om die huis op te ruim en alles uit te sorteer. Ek het dit vir lank uitgestel, die pyn van haar verlies was nog te rou.
Op hierdie koue wintersoggend het ek egter die moed bymekaargeskraap, en hier sit ek nou; op ouma se groot ou houtkatel.
Ek sug en begin om die laaste gehekelde lappies uit die laai te haal. Die laaste doilie haak aan iets aan die bokant van die laai vas en my vingers voel-voel om dit los te maak. Girrrts, kraak iets en ʼn ou, vergeelde koevert val uit.
Met bewende vingers vou ek dit oop en begin lees. My oë swem oor die vertroude sierlike krulletters van ouma Helena se fyn handskrif. ʼn Vlaag van naarheid oorval my en wat ek lees, laat my met ʼn mengsel van skok, verwarring en verbasing.
“Ek het ʼn verskriklike geheim.
Die kind van ʼn ander.
Maar liefde ken geen grense.
Jy, Lien, is spesiaal.
Die waarheid lê in die ou eikeboom.
Soek en jy sal vind.”
Wat op aarde bedoel sy? ʼn Kind van ʼn ander? My oë dwaal oor die laaste twee reëls. Die ou eikeboom – die groot boom net buite die kamer, waar ouma altyd so graag haar oggende deurgebring het?
Ek hardloop na buite en kom voor die houtbankie tot stilstand. My hart klop van verwagting en ook ʼn tikkie vrees. Ek loop al om die bankie, voel-voel asof ek ʼn leidraad sal vind. Die naamplaatjie voel koud onder my bewende vingers. Ek klop-klop teen die silwer plaatjie en dit maak ʼn hol klank. By nadere ondersoek sien ek dat dit kan oopskuif. Onder die plaatjie vind ek ʼn versteekte kompartement met ʼn foto van ʼn jong vrou met ʼn baba in haar arms. Op die agterkant staan daar geskryf: “Die ware liefde van my lewe. Ek hoop jy vind hierdie een dag, Lien.”
Die vrou in die foto is nie my ma nie, maar daar is onmiskenbare ooreenkomste tussen haar en my ma, Karlien.
Vol vrae blaai ek deur ons familie-albums. Elke foto van my as baba het nou vir my nuwe betekenis. Ek soek na tekens wat kan aandui wat alles beteken, maar alles lyk so normaal, gelukkig en onskuldig.
Daardie nag kan ek nie slaap nie. My gedagtes laat my paar keer rondrol. Wat het gebeur? Wie is ek dan werklik? En hoekom sou ouma hierdie geheim vir so lank bewaar?
Die middag kom mamma om te kom verneem hoe ek vorder. Ek maak vir ons tee en deel haar mee dat ek iets het om aan haar te wys.
Toe ek die vergeelde brief en foto’tjie aan haar wys, trek sy haar asem met ʼn skok in. Haar gesig verbleek merkbaar toe sy die brief neem om te lees. “Waar het jy dit gevind?” vra sy, haar oë gevul met vrees.
“In ouma se hangkas,” antwoord ek sag. “Ma, wat beteken dit alles?”
ʼn Diepe sug ontsnap oor haar bleek lippe. “Ek het geweet dat hierdie dag dalk sou kom,” antwoord sy, haar blou oë vol trane.
“Mamma, vertel my asseblief net wat aan die gang is,” pleit ek by haar.
Sy haal diep asem. “Jou ouma het altyd gesê dat die verlede agtergelaat moet word. Maar, ek sien nou dat jy die reg het om alles te weet. My tweelingsuster, jou tannie Linda, het ʼn verhouding gehad met ʼn bekende, vooraanstaande man. Johannes Hendrik. Hy was egter getroud en toe sy swanger geraak het, was sy angsbevange. Sy het daardie baba, jou, vir ouma gebring om groot te maak. Dit was toe ek my eersteling moes kry, maar die baba is dood by geboorte. Ouma Helena het besluit dat ons jou moes vat en grootmaak as ons eie.”
“Wat, het ek ander ouers?” Skok laat my duiselig voel en ek kyk haar oorbluf aan.
“Ja my kind, maar jou biologiese ma is kort daarna oorlede. Ou dok het gesê dat sy haar doodgetreur het.”
Ek kyk aandagtig na die foto’tjie in my hand en sien dat ek haar groot blou oë gekry het.
“En my pa? Wat het van hom geword?”
“Hy het die politiek verlaat en het ʼn bekende skrywer geword. Na sy blitsverkoper, Verlore liefde, is hy onverwags oorlede.”
Met die waarheid van die verlede ontbloot, het Lien uiteindelik die ontbrekende stuk van haar eie verhaal gevind. Die geure van houtpolitoer en parfuum, die antieke meubels en die fluisterende portrette op die mure dra nou ‘n dieper betekenis. In die warmte van haar ma se arms, besef sy dat die geskiedenis van haar familie haar inderdaad gedefinieer het, maar dat haar eie reis nou pas begin het.
©MarleneErasmus
(999 woorde)
APRIL 2024 – UIT DIE OOG VAN ‘N KIND PROJEK
2.Goue herinneringe van Uppington
Die son luier op die horison van Upington en met sy goue strale vang dit klein stofdeeltjies vas. Die dorpie is geklee in ʼn goue sluier. Lien Meiring staan langs haar rooi Mini en kyk uit oor die vaal, verlate stofstrate. Haar hart voel vol weemoed as sy om haar rond kyk na bekende tonele voor haar. Die stilte van die platteland dring deur tot in haar siel, en vir ‘n oomblik voel dit asof die wêreld saam met haar asem inhou. Met ‘n sug stap sy na die voordeur van die bekende blou huisie op die hoek. Die geur van petunias hang in die lug. Met elke tree wat sy gee neem dit haar terug in tyd, na die plek waar haar lewe begin het.
Sy plaas haar tas in die spaarkamer van haar ouma se huis. Sy stap na die kombuis en ‘n golf van nostalgie oorval haar as sy die bekende reuk van vars gebakte brood ruik. Die eenvoudige kombuisie is nog net soos sy dit onthou het – die blink kombuiswasbak, die sagte getik-tak van die horlosie teen die muur en die warmte wat die vertrek vul.
Met ‘n sagte sug gaan sit Lien en laat haar hande oor die gladde oppervlak gly.
***
Eensklaps is Lien weer die sesjarige klein blondekopdogtertjie wat by ouma Lilly kuier.
Ouma Lilly glimlag sag terwyl sy die kookmelk geduldig staan en roer. Kling-klang, kling-klang. Die sagte klanke van die metaallepel teen die pot vul die kombuis en bring ‘n rustige atmosfeer na die vertrek. Sy kyk na Lien met liefde in haar oë en sê:
“Is jy reg vir jou kookmelk, my skat? Jy weet mos dat kookmelk kleine meisies sag na droomland vat?”
Lien knik opgewonde en kyk met groot oë na die pot op die ou geel koolstoof.
“Ja, Ouma! Ek hou van kookmelk, dit maak my magie so lekker warm van binne.”
Ouma Lilly lag sag en skink vir Lien ‘n bietjie van die warm melk in ‘n klein rooi erdebeker in.
“Hier gaan jy, my engel. Pas op dat jy nie brand nie, dit is nog bietjie warm.”
Lien neem die beker met beide hande vas en blaas saggies oor die oppervlak om dit af te koel. Die kookmelk se velletjie dans op die bokant van die warm melk.
“Dankie, Ouma.” Sy neem ‘n stadige slukkie en blaas weer saggies oor die melk voordat sy nog ‘n klein slukkie neem.
Ouma Lilly sit oorkant Lien. Sy kan haar verkyk aan die opgewonde klein mensie voor haar.
“Hoe was jou dag, Liefie?”
Lien glimlag breed met die wit melksnor op haar bo-lip. “Dit was baie lekker, Ouma. Ek en my maatjies het lekker gespeel by die ou pakhuis.”
Haar oë blink van opwinding soos sy oor haar dag gesels.
Ouma luister baie aandagtig na haar as sy vertel van feetjies en vlinders by potblou waterpoele.
***
Sy neem die ou album in haar hande. Sy dink terug aan haar kinderjare, aan die drome wat sy gehad het en hoe anders haar lewe uitgedraai het. Terwyl Lien deur die ou foto-album blaai, sien sy foto’s van haarself as ‘n jong dogtertjie, vol drome en ambisies oor wat sy eendag wil wees. Sy onthou hoe sy altyd ‘n vlieënier wou word, om hoog bo die wolke te sweef en die wêreld van bo te sien.
Nou, jare later, is sy ‘n suksesvolle argitek wat die vliegdrome vir groot geboue verruil het. Die vryheid wat sy in die lug gesoek het, vind sy nou in die skep van ruimtes wat mense se lewens verbeter. Maar nou het die lewe haar teruggebring na Upington.
***
Die geklop aan die voordeur trek Lien terug na die hede. Sy staan op en gaan maak die voordeur oop. Sy kyk verbaas na die halfbekende gesig voor haar. Herkenning flits deur haar oë as sy opkyk na die groot figuur voor haar.
“Klein Ben?” fluister sy uiteindelik. Die ongeloof slaan deur in haar stem.
Die man glimlag sag, sy blou oë straal van vriendelikheid.
“Dit is ek, Lientjie,” sê hy sag, sy stem so vrolik soos van ouds.
Emosies spoel oor Lien. Klein Ben, haar maatjie van jare gelede, die seun met wie sy ure deurgebring het om die geheime van die dorpie te verken, is nou ‘n sesvoet man! Sy herken nog die gelaatstrekke wat sy so goed kan onthou, die vonk van avontuur dans in sy oë.
“Ek kan dit nie glo nie,” sê Lien.
“Hoe lank is dit nou al?”
“Kom binne, kom sit.”
Klein Ben glimlag en volg haar na binne.
“Ek is so jammer oor jou ouma, sy het nooit ophou praat oor jou nie. Sy was baie trots op jou.”
Lien sit langs Klein Ben in die voorhuis en gesels tot die skemer hulle omring.
Hulle onthou een spesifieke dag toe hulle skelmpies in die kanaal gaan swem het. Die atmosfeer is gelaai met opwinding en nostalgie as hulle gesels.
“Ek kan nou nog die yskoue water onthou,” sê Lien, haar oë skitter met die herinnering.
“Ja, en die vreugde van vryheid terwyl ons soos visse deur die kanaal swem.”
Klein Ben lag sag. “Ja, en onthou jy toe ons amper deur jou pa betrap is?”
Lien skaterlag. “O, ek sal dit NOOIT vergeet nie. Ons het soos die wind gehardloop, albei sopnat! Ek hoor nog sy kwaai stem tussen die riete.”
Terwyl hulle herinneringe deel, herleef Lien ‘n stukkie van daardie onskuldige jare as ‘n kind. Dit is soos om ‘n vergete skat te ontdek in die stof van die verlore tyd. Vir ‘n oomblik voel dit weer asof die wind deur haar hare waai terwyl sy saam met Klein Ben deur die veld hardloop, sonder om aan môre te dink.
Die geselsie met Klein Ben bring die vryheid van vergete jare terug, laat haar toe om vir ‘n oomblik net weer die kind te wees was sy was.
Die aand val stadig om hulle, maar vir Lien voel dit asof die tyd vir ‘n oomblik stilstaan. Haar hart is vol, gereed om die wêreld in die oë te kyk as sy môre vir Ouma Lilly gaan groet.
Toe die Aandster aan die hemel verskyn het Lien opgestaan. Sy het geweet dit was tyd om afskeid te neem, nie net van Klein Ben nie, maar ook van die kind wat sy eens was. Sy het na haar ouma se kamer geloop, die vrou wat haar geleer het kindwees.
“Tot weersiens, Ouma. Jou liefde sal altyd my gids wees.”
Met ‘n hart vol dankbaarheid val Lien Meiring die volgende dag in die pad. Upington sal altyd deel van haar wees, maar nou was dit tyd om haar eie pad te loop, met die sekerheid dat die liefde en onskuld van kindwees haar sou dra waar sy ook al gaan.
©MarleneErasmus
22/04/2024
(1137 woorde)
JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK
3.Nuwe horisonne
Die son se laaste strale kruip oor die rug van die heuwels en die veld lê voor haar soos ’n goudgeel meer. Die wind fluister deur die lang gras en laat Lien se hare om haar gesig dans. Sy sug sag en trek haar baadjie stywer om haar vas. Lien Meiring staan op die ou plaasstoep en luister na die roep van die enkele naguil wat sy aandlied begin sing. Elke krakie op die stoep vertel die storie van haar lewe as kindwees hier op Meiringsrus.
Lien se lewe op die plaas is een van daaglikse roetine. Elke oggend, douvoordag, neem sy die melkkan en hoenderkosbak in haar hande. Die roetine is vir haar so bekend. Van laerskool af gaan sy na die naaste dorp waar sy ook haar matriekjaar voltooi het. Sy was altyd die plaasmeisie wat half eenkant was. Die dorpskinders het haar aanvaar alhoewel sy altyd soos die buitestander gevoel het.
Sy het haar voorgeneem om so ver as moontlik van die plaas af te gaan sodra sy klaar is met skool. Haar ouers is nie te vinde vir die idee nie. Sy weet sy moet met haar pa praat oor haar besluit om na die stad te gaan. Haar hart klop vinnig in haar bors, en sy maak haar hande styf toe en oop om haar senuwees te kalmeer.
Sy stap stadig na hom toe, die klank van haar voetstappe op die houtplanke van die stoep amper verdoof deur die sagte roep van die naguil.
“Pa,” begin sy, haar stem effens bewerig, “ek wil met Pa praat oor die toekoms.”
Haar pa kyk op, sy gesig verdonker deur ’n frons. “Wat is dit, Lien?” vra hy, sy stem diep en ernstig.
“Pa, ek het besluit ek wil na die stad toe gaan,” sê sy, haar stem meer vasberade as wat sy voel. “Ek wil iets anders doen, iets nuuts beleef. Die plaas is wonderlik, maar ek voel ek moet verder kyk.”
Haar pa kyk haar lank in die oë, en dan sug hy diep. “Lien, ek verstaan dat jy drome het, maar die stad is nie so eenvoudig soos jy dink nie. Dit is ’n harde plek, nie soos hier waar jy veilig en beskerm is nie.”
“Ek weet, Pa,” sê sy sag. “Maar ek voel regtig ek moet gaan. Ek moet uitvind wie ek regtig is, buite die plaas en buite hierdie lewe.”
Haar pa bly stil, en die stilte tussen hulle word net deur die naggeluide van die plaas gevul. Dan praat hy weer, sy stem sagter. “Jy weet, Lien, jou ma en ek wil net die beste vir jou hê. Ons wil hê jy moet gelukkig wees, maar ons is bekommerd oor wat met jou kan gebeur daar buite.”
Lien stap nader en neem haar pa se hand. “Pa, ek sal versigtig wees. Ek belowe. En ek sal gereeld bel en kom kuier so dikwels as wat ek kan. Maar ek moet hierdie kans vat.”
Haar pa druk haar hand en kyk haar diep in die oë. “Ek sal jou nie keer nie, Lien. As jy voel dit is wat jy moet doen, dan moet jy gaan. Maar weet, jy is altyd welkom hier op Meiringsrus. Dit is jou huis.”
Lien glimlag, trane blink in haar oë. “Dankie, Pa. Dit beteken baie vir my. Ek sal nooit vergeet waar ek vandaan kom nie.”
***
Die oggendson gooi ’n warm gloed oor die plaas, die grasveld glinster in die oggendson. Lien staan op die stoep voor die plaashuis, haar tasse langs haar. Sy draai een laaste keer om, haar oë neem die bekende tonele van Meiringsrus waar. Die reuk van vars gesnyde gras en die aarde se aangename geur vul die lug.
Sy sien haar pa en ma naderkom. Sy gesig is sag en liefdevol.
“Pa,” sê sy, “Dit is tyd vir my om te gaan.”
Sy pa knik, sy oë soos die blou see in die lig van die son. “Ek weet, Lien. Jy moet jou vlerke sprei.”
Hy druk haar teen hom vas in ’n stywe omhelsing. Toe haar los, kyk hy haar aan, sy oë vertel ’n storie van hoop en vrees oor haar besluit. Toe is dit haar beurt om haar ma styf vas te hou en te groet.
“Jy sal altyd ‘n deel van hierdie plaas wees,” sê hy sag. “Moenie vergeet waar jy vandaan kom nie.”
Lien knik met trane wat vloei oor haar wange. “Ek sal nooit vergeet nie, Pa. Dankie vir alles.”
Sy draai weg, elke tree ‘n stap weg van haar bekende omgewing na die onbekende.
***
Lien klim uit by die besige terminus, omring deur geboue wat hoog uitstaan teen die blou lug. Die son weerkaats teen glasvensters en beton. Sy luister na die besige stadsgeluide, sy wonder of sy ooit die regte ding gedoen het.
Die stadslug voel skerp op haar vel, veral na die vars, skoon lug van die plaas. Sy bevind haar in ’n wêreld wat groot en onvoorspelbaar lyk in vergelyking met die vertroude rustigheid van Meiringsrus.
Hierdie oomblik is die begin van ‘n nuwe hoofstuk, een met uitdagings om te groei en haarself te ontdek.
Wanneer Lien die volgende dag deur die besige strate drentel, raak haar aandag vasgevang deur ‘n kunstenaar wat op die sypaadjie langs die straatwerk werk. Sy staan stil en kyk na die jong man met sy verfkwaste in die hand, wat met vaardige bewegings ‘n kleurvolle prent skep.
Sy kan nie help om te glimlag terwyl sy die kuns bewonder nie. Sy voel ‘n onverwagse aantrekking na die kunstenaar. Lien se oë vang die subtiele uitdrukkinge op sy gesig op – ‘n mengsel van konsentrasie en vryheid.
“Goeie dag,” sê sy vriendelik, en die kunstenaar lig sy gesig op en glimlag. Sy oë is ‘n helder blou, sy gesig omring deur ‘n wilde bos rooi hare. “Ek is Leo.” Hy staan paar treë nader met sy hand uitgesteek.
Lien glimlag en skud sy hand. “Ek is Lien. Jou werk is pragtig. Dit het my aan die plaas laat dink in die stad se chaos.”
Leo lag sag. “Dankie, Lien. Kom jy van die plaas af?”
Sy knik. “Ja, van Meiringsrus. Dit is vir my nog baie vreemd om hier te wees.”
“Hoe voel jy tot dusver?” vra hy, sy blou oë ernstig maar vriendelik.
“Dis baie oorweldigend,” erken Lien eerlik. “Maar op ‘n goeie manier, dink ek. Ek probeer net om my voete hier te vind.”
“Ek verstaan,” sê Leo met ’n sagte glimlag. “Die stad is maar ‘n ander wêreld. Maar dalk kan ek jou help om tuis te voel. Ek ken ‘n paar plekke wat jy kan geniet, ver weg van die groot stadsgewoel.”
Lien voel ‘n ligte gevoel van opwinding by die gedagte om ‘n gids te hê. “Ek sal dit baie waardeer.”
En so begin Lien se avontuur in die onbekende stad, saam met Leo as haar onverwagse, maar welkome gids.
©MarleneErasmus
30/06/2024
(1153 woorde)
JULIE 2024 – OOP PROJEK
3.Lewe sonder grense
Lien Meiring lê op haar rug in die sagte gras en kyk na die wolke wat lui oor die blou hemel trek. Die son se warm strale streel haar gesig terwyl sy die rustigheid van die oop veld om haar waarneem. Maar haar gedagtes is allesbehalwe rustig. Sy dink aan die verskriklike streng reëls wat in haar klein dorpie heers. Reëls oor wat sy mag dra, hoe sy moet optree, en selfs hoe sy moet droom.
Lien hoor haar ma se stem in haar kop wat Thomas Edison se woorde aanhaal. “Daar is geen reëls hier nie – ons probeer iets bereik.” Ironies hoe hierdie woorde haar altyd gevange laat voel, eerder as bevry.
Terwyl sy na die patrone in die wolke staar, begin haar verbeelding om weg te hardloop. Die wolke vorm figure en stories in haar gedagtes, soos dit as kind op die plaas ook gedoen het. Skape wat verander in fantastiese wesens met wolkriviere wat deur die hemel vloei. ’n Breë glimlag verskyn op haar gesig terwyl sy die wonder van haar eie verbeelding ervaar. Maar selfs hier voel sy die beperkinge van die dorpie se reëls.
Sononder begin stadig oor die landskap val, en sonder om dit te besef, sluimer Lien in. Haar oë val toe en sy dwaal weg na ’n wêreld waar die grense van werklikheid vervaag. In haar droom bevind sy haarself in ’n plek waar sy vry soos ’n voëltjie kan lewe, waar sy doen net wat sy wil en nie gebonde is aan die lang arm van reëls nie. Sy voel hoe die wind van vryheid deur haar hare waai, en vir die eerste keer in ’n lang tyd, voel sy werklik vry.
***
Lien stap deur die strate van ’n pragtige dorp wat sy nog nooit tevore gesien het nie. Die geboue is kleurvol en vrolik. Elke huis is uniek versier. Nie twee geboue lyk dieselfde nie. Elkeen is ’n uitdrukking van die inwoners se persoonlikheid. Bloekombome gooi sagte skadu’s oor die sypaadjies en die lug is gevul met die reuk van varsgebakte brood en blomme.
Sy loop verby ’n park waar kinders vrolik speel, hul gelag klink soos musiek in haar ore. Daar is beslis geen tekens van die streng reëls wat in haar tuisdorp heers nie. In plaas daarvan sien sy plakkate opgeplak op lamppale en mure, almal met die boodskap: “Hier bereik ons soveel meer sonder reëls.”
Die plakkate trek dadelik haar aandag. Hulle is helder en kleurvol, versier met beelde van mense wat hul drome uitleef. Sy sien ’n kunstenaar wat ’n muurskildery verf, ’n musikant wat op ’n straathoek staan en speel, en kinders wat met vreugde in ’n straat-orkes optree. Hierdie dorp, met sy leuse van geen reëls, straal ’n energie uit wat haar hart vinniger laat klop.
Sy volg die plakkate in die strate, haar oë wyd oop van verwondering. Elke hoek lewer iets nuuts en opwindend op. Daar is markte vol handgemaakte goedere tot klein straat kafees waar mense lag en gesels oor ’n koppie koffie. Die vryheid en kreatiwiteit van hierdie plek is so tasbaar, en dit voel vir haar asof sy droom.
Lien bereik ’n plein in die middel van die dorp. In die middel staan ’n groot standbeeld van ’n vrou wat haar hande omhoog hou, asof sy die hemel wil omhels. Aan die voet van die standbeeld is ’n gedenkplaat met die inskripsie: “Hier vier ons die vryheid van die gees en leef ons uit die krag van verbeelding.”
Terwyl sy nog so ingedagte na die standbeeld kyk, kom staan ’n vriendelike man langs haar. Hy glimlag en stel homself voor. “Hallo, ek is Thomas. Dis ’n indrukwekkende standbeeld, is dit nie?”
Lien kyk na hom, verras deur sy vriendelikheid. Vreemd genoeg lyk hy vir haar vaagweg bekend.
“Ja, dis baie mooi. Ek het nog nooit so ’n plek gesien nie. Alles hier lyk so vry en kreatief.”
Thomas knik en kyk ook na die standbeeld. “Dis presies hoekom ek hier bly. Hierdie dorp is gebou op die idee dat mense hul drome moet kan uitleef sonder beperkinge. Ons glo dat reëls dikwels meer skade as goed doen.”
Lien dink dadelik aan haar tuisdorp, Donkerhoek. Sy dink ook aan die streng reëls wat haar lewe daar beheer.
“In my dorp is daar soveel streng reëls. Ek kan nie eers my eie klere kies sonder om beoordeel te word nie.”
Thomas draai na haar toe en glimlag bemoedigend. “Dis hartseer om te hoor. Hier is dinge baie anders. Hier vier ons individualiteit en kreatiwiteit. Elke persoon het die reg om te wees wie hulle wil wees, sonder vrees vir oordeel of straf.”
“Dit klink soos ’n droom,” sê Lien sag. “Ek het altyd gedink dit sou onmoontlik wees om so ’n plek te vind.”
“Dis nie ’n droom nie,” sê Thomas met ’n glimlag. “Dit is ons werklikheid. Ons het geleer wanneer mense vry is om hul passie te volg, hulle meer bereik as wat hulle ooit kon onder streng reëls.
“Het jy al my woorde gehoor? ‘Daar is geen reëls hier nie – ons probeer iets bereik.’
Lien kyk verbaas na Thomas. “Ek het altyd gedink daardie woorde was ’n fout,” sê sy, haar stem vol verwondering. “Maar hier, in hierdie plek, lyk dit of dit werklik is.”
Thomas glimlag breër en sy oë glinster met ’n warmte wat haar hart aanraak. “Jy verstaan, Lien. Jy sien, ek is Thomas Edison. Hierdie dorpie is gebou op my droom om mense vryheid van reëls en beperkings te gee, sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.”
Lien se oë rek van verbasing. “Jy is Thomas Edison? Dié Thomas Edison?”
Sy sukkel om die realiteit van haar droom te begryp.
“Ja, en ek het hierdie dorpie help skep as ’n toevlugsoord vir mense soos jy wat vry wil wees om te dink, te droom en te skep,” antwoord hy. “Ek wil hê jy moet besef dat jy ook daardie vryheid kan hê, al voel dit soms onmoontlik.”
Lien voel ’n mengsel van opwinding en onsekerheid. “Maar hoe? Hoe kan ek hierdie vryheid na my tuisdorp bring?”
Thomas kyk haar diep in die oë en sê: “Dit begin met klein stappe, Lien. Dit begin met jou. Jy kan ’n voorbeeld wees van hoe vryheid en kreatiwiteit meer kan bereik as wat streng reëls ooit kan. Begin deur jou eie passie en drome uit te leef. Mense sal sien wat jy bereik en geïnspireer word om dieselfde te doen.”
Sy knik, voel ’n nuwe vasberadenheid in haar binneste opkom. “Ek verstaan. Ek moet die verandering wees wat ek graag sal wil sien.”
Thomas glimlag weer en plaas ’n hand op haar skouer. “Presies. En onthou, jy is nie alleen nie. Daar is ander soos jy wat net wag vir iemand om die eerste stap te neem.”
Die son begin stadig sak, en die dorpie lyk selfs meer betowerend in die gloed van die skemer. Lien voel ’n diep gevoel van vrede en doelgerigtheid wat sy lanklaas ervaar het.
Sy draai om en kyk Thomas diep in die oë. “Dankie, Thomas. Ek sal onthou wat jy gesê het en ek sal probeer om ’n verskil te maak.”
Met ’n bemoedigende knik, begin Thomas om weg te stap, maar nie voordat hy een laaste ding sê nie: “Moet nooit jou eie krag onderskat nie, Lien. Jy het die vermoë om groot dinge te bereik. Glo in jouself en die wêreld sal verander.”
Lien kyk hoe hy verdwyn in die skaduwees van die dorpie en voel ’n nuwe energie deur haar are stroom. Sy weet dat sy hierdie droom in haar hart sal dra en gebruik as die brandstof om verandering teweeg te bring in haar eie lewe en die lewens van die mense rondom haar.
***
Sy maak haar oë oop en vind haarself terug op die sagte gras van die plaas, met die son wat stadig sak aan die horison. Die droom was helder en lewendig, en sy voel ’n nuwe gevoel van vasberadenheid in haar. Lien weet dat sy die sleutel tot haar eie vryheid in haar hande het en sy is gereed om dit ten volle te benut.
©MarleneErasmus
10/07/2024
(1357 woorde)
AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK
3.Tyd se trane
Die eerste traan het onverwags oor Lien Meiring se wang gerol – ’n enkele, stil blink druppel wat soos ’n klein kraaltjie op haar skoot beland het. Die kamer om haar was stil, die geluide van die buitewêreld gedemp deur die dik gordyne wat liggies in die briesie beweeg het. Die enigste klank was die sagte tik van ’n horlosie, soos ’n gedempte herinnering aan tyd wat onverpoos voortbeweeg. Verward het sy haar hand na haar wang gelig, asof om te bevestig dat die traan werklik was, dat hierdie onverwagte uitdrukking van emosie nie bloot verbeelding was nie. Sy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, net soos ’n somerreën wat skielik oor ’n dorstige land uitsak. Daar was geen waarskuwing, geen vooraf gevoel nie. Net die klam, koel sensasie van emosie wat haar oorweldig het.
Lien het grootgeword in ’n klein dorpie, waar haar ma, Fonnie, ’n bekende en geliefde figuur was. Fonnie was ’n onderwyseres, bekend vir haar sagte hart en wysheid. Sy het altyd tyd gemaak vir Lien, al was haar dae vol met skoolwerk en gemeenskapsprojekte. Hulle het ’n spesiale band gedeel, een wat gebou was op liefde, respek en ’n diep begrip van mekaar.
“Hoekom nou? Waarom juis nou?” het sy in stilte gevra terwyl sy die vreemde gewaarwording probeer verstaan het. Die laaste keer dat sy gehuil het, was toe sy haar ma begrawe het, al jare gelede. Die pyn het toe ook diep gesny, maar sy het haarself belowe om sterk te wees, om nie te veel toe te gee aan die verdriet nie. Maar nou, hierdie een traan… dit was asof iets in haar losgebreek het.
Skielik het die herinneringe soos ’n donderstorm oor haar gespoel. Die kamer waarin sy gesit het, het eens gevoel soos ’n veilige hawe, maar nou het die mure begin druk, die skaduwees langer en kouer. Die laaste keer wat sy haar mammie se sagte hand vasgehou het, die bed in die hospitaal wat nou leeg en koud is, die huis wat stil en hol is – ’n stil graf van verlore geluk. Sy het haarself gesien as ’n klein dogtertjie, veilig in haar mammie se arms, terwyl hulle saam na die reën buite geluister het. Die geur van nat grond, haar ma se stem wat met kalm wysheid die reëndruppels gelykstel aan hemelse seëninge. Die laaste keer wat sy haar mammie se hand vasgehou het, was ’n laaste troos in die koue wit bed van ’n hospitaal.
Die trane het nou soos ’n rivier begin vloei, onstuitbaar, elke druppel ’n weerspieëling van ’n verlore geluk of onvoltooide beloftes. Sy het hard probeer om haarself in te hou, maar die herinneringe was te sterk. Sy het gewens sy kon die tyd terugdraai, nog een keer haar ma se stem hoor, nog een keer haar liefde voel.
“Mamma,” het sy saggies gefluister, maar die naam het in die wind verdwyn, net soos haar ma.
In daardie oomblikke het tyd vir haar stil gestaan. Die koel herfswindjie het deur die oop venster gewaai, maar sy het dit skaars gevoel. Al wat sy kon voel, was die nat spoor wat die trane oor haar vel gemaak het, soos ’n stil aanklag teen die verdriet en leed wat sy gedra het. Maar te midde van die hartseer, het sy ook iets anders begin voel – ’n diep, stil vrede.
Die herinneringe het haar weerloos laat voel, maar hulle het haar ook getroos.
“Miskien, net miskien, is dit nou tyd om te laat gaan,” het sy by haarself gedink. Die trane het haar gesuiwer, die donkerte uit haar gemoed weggespoel en nuwe lewe in haar siel gebring.
“Mamma, ek is reg,” het sy gefluister, “Ek is reg om weer lief te hê, om weer te leef.”
Terwyl die laaste trane opdroog, het Lien se hart met ’n nuwe energie begin klop. Die atmosfeer in die kamer het gevoel asof dit skielik ligter geword het, die son se strale wat skaam deur die venster glip en die stofdeeltjies in die lug laat dans het. Die koue van die herfswind het skielik nie meer so skerp gevoel nie, asof die wêreld saam met haar asemhaal, gereed om ’n nuwe begin te omhels.
Sy het opgekyk na die kobaltblou lug, die wolke het stadig beweeg soos die strome van haar gedagtes, en die vars reuk van die herfsblare het haar in die oomblik geanker. Haar hart het ligter gevoel, haar siel gereed om die vreugde van die lewe met ope arms te omhels.
“Mamma, ek is reg om weer lief te hê,” het sy in haar gedagtes herhaal, asof die woorde self die helende krag het om die seer in haar binneste te herstel. Daardie oomblik van besluit was nie net ’n losbreek van haar verdriet nie, maar ’n aktiewe keuse om haar lewe met nuwe liefde en hoop te vul.
Sy het haarself gesien in ’n wêreld waar elke dag ’n kans is om liefde te ontdek en uit te deel. Met die kobaltblou lug bo haar, het Lien besluit om ’n dieper waardering te hê vir die klein vreugdes in die lewe.
©MarleneErasmus
(850 woorde)
Desember 2024 – Kersfees projek
3.Kersfees-karaoke
By die Meiring-huishouding is Kersfees altyd ’n bietjie… anders. Vanjaar het Pa besluit om karaoke deel van die kersfeesvieringe te maak, met die doel om “familieharmonie” te bevorder.
So breek Kersfees aan, en die verrigtinge begin. Ma sing met passie “Stille Nag,” maar haar stem is so hoog dat die bure se honde kermend begin blaf. Daarna dring ouma Betsie aan om “Santa Baby” te sing. Dit raak ’n affêre, veral toe sy haar skouers probeer wikkel soos die blonde Marilyn Monroe.
Toe is dit klein Gertjie se beurt. Hy kies “Jingle Bells,” maar sy interpretasie is meer geskik vir ’n popkonsert as ’n kerskonsert. Hy skree en gaan so tekere dat die kersboom skoon begin bewe en uiteindelik omval! “Dit is vir ’n dramatiese effek,” verklaar hy trots terwyl hy met die mikrofoon poseer vir ’n foto.
Maar die regte ramp kom toe Pa besluit om sy weergawe van “Do They Know It’s Christmas?” te lewer. Sy kunssinnige aanslag behels dat hy ’n spierwit laken om hom draai en soos ’n engel op die tafel klim. Alles is dalk nog aanvaarbaar, maar net totdat die tafel ingee en Pa in die melktert beland.
“Nou ja,” sê Ma droog terwyl sy die stukke melktert van Pa se hemp afvee, “volgende jaar hou ons liefs net ’n gewone kersete.”
“Of ’n stil Kersfees,” brom Ouma onderlangs.
Maar klein Gertjie glimlag van oor tot oor. “Ek dink ons het harmonie gevind, dis chaos met ’n melodie!”
©MarleneErasmus
14/12/2024
FEBRUARIE 2025 – WATER PROJEK
3.Ben en generaal Brul
Klein Ben was ses jaar oud en vol lewe. Hy was ’n baie brawe seuntjie – behalwe as dit by die plaasdam kom. Die dam was groot, omring deur hoë riete wat in die wind gesuis het. Vir meeste kinders was dit die ideale plek om in die somer se hitte af te koel, met helderblou water wat soos glas gelyk het. In die winter was die oewers bedek met modder, perfek om in te speel. Waterlelieblare het soos klein bote op die oppervlak gedryf. Maar Ben het anders oor die dam gevoel. Dit was nie die water waarvoor hy skrikkerig was nie; dit was wat daar in die water kon wees.
Dit het alles begin op daardie warm middag toe Ben en sy pa, Theo, langs die dam gesit het. Die water was rustig, die oppervlak het net effens gerimpel deur ’n sagte briesie. Die son het helder geskyn en die water het gespog met weerkaatsings van die blou lug en wit wolke. Ben was opgewonde om by die dam te wees, maar toe die water skielik in die lug in geskiet het, het hy opgekyk en ’n groot, groen brulpadda gesien wat met ’n sprong uit die dam gevlieg het. PLOP! Dit het soos ’n klap geklink toe dit die oppervlak tref en ’n naaldekoker in die lug gryp. Die padda het dit vinnig opgeëet, en Ben het homself boeglam geskrik. Dit was nie ’n gewone padda nie – dit was ’n monster!
Daardie dag het sy liefde vir water vir Ben verander. Dit was nie meer ’n vriendelike waterwêreld nie, maar die huis van ’n groot, gevaarlike ding! Elke keer as Ben net in die rigting van die dam gekyk het, het sy hart vinniger begin klop. Wat as die padda regtig ’n monster was wat hom wou aanval? Wat as daar meer paddas was wat saam ’n geheime groep gevorm het? Wat as hulle hom kom vang? Dit was alles baie meer as wat sy sesjarige gedagtes kon hanteer. En so het Ben die dam begin vermy. As hy wel naby die dam gekom het, het hy met ’n stok in die hand gestaan, gereed om dit as ’n swaard te gebruik, net in geval die padda hom wou aanval.
“Ben, gaan haal gou ’n paar stukkies vuurmaakhout by die stapel naby die dam,” het sy ma, Lien, vir hom gesê. Ben se maag het saamgetrek. “By die dam?” het hy huiwerig gevra. “Wat as Generaal Brul vir my wag?” Sy ma het hom met haar hande op haar heupe staan en aankyk. Sy kon Ben se vrese verstaan, maar het besluit dit was tyd om die water “te tem.”
“Generaal Brul?” het Lien met ’n glimlag gevra. “Wie is dit?”
Ben het ernstig na haar staan en kyk. “Ek was nie seker of die brulpadda ’n naam het nie, maar ek het hom Generaal Brul gedoop. Hy is nie net ’n gewone padda nie. Hy is die koning van die water. Hy het daardie naaldekoker met een hap opgevreet. Wat as hy weer honger is?”
Lien het hom laggend aangekyk, maar het ’n idee gekry. “Hoe sal dit wees as ons hom kan leer ken?” het sy gevra. “Dalk sal jy dan nie meer so bang wees vir hom nie? Dit is makliker om nie bang te wees vir iemand as jy hom ken nie.”
Dag na dag het Ben die dam en sy “vriend” vermy, maar iets het begin gebeur. Die dam met sy groen water was nie meer so ’n groot bedreiging nie; dit het Ben begin nader roep.
Een dag, toe Ben verby die dam geloop het, het hy iets vreemd gehoor – nie die normale gekwaak van paddas nie, maar ’n ander geluid, soos iets wat spook en spartel. Dit het geklink soos iemand wat in die modder vasgesit het.
Versigtig het hy stadig nader gestap, sy hart het vinnig begin klop en sy gedagtes het hom amper laat weghardloop van die dam af. Wat as Generaal Brul dit weer doen, wat as hy hom nader lok om hom in te sluk? Wat as daar meer paddas was wat met Generaal Brul saamwerk?
Toe het hy dit gesien. Generaal Brul, die groot groen padda, het vasgeval in die modder! Sy groot liggaam was al half in die modder begrawe, sy groot uitpeuloë het oor die rand van die modder geloer. Sy voorpote het heen en weer geskop soos hy gesukkel het. Sy vet, ronde magie het die modder rondom hom ingesluk. Dit was nie ’n monster nie, maar net die Generaal wat vasgesit het.
Ben het hardop gesluk. Sy hart het in sy keel begin klop. Dit was asof sy lyf vir hom probeer sê het: “Hardloop, Ben! Moet nie nader gaan nie!” Ben se bene het begin bewe, sy hart het in sy keel geklop. Elke deel van hom het geskree om weg te hardloop, maar hy het diep asemgehaal en die vrees probeer onderdruk. Wat as die padda nie ’n gevaarlike monster was nie? Wat as hy, net soos Ben, dalk hulp nodig gehad het? Ek moet dapper wees, het hy gedink terwyl hy stadig nadergestap het.
Ek weet nie of ek dit moet doen nie, het Ben in sy gedagtes geredeneer, maar hy het die gedagtes afgeskud en besluit om te gaan help. Hy het ’n tak gevind en dit na die padda toe gehou. “Gryp vas, Generaal!” het hy geskree terwyl sy hart nog in sy keel geklop het.
“Ek weet nie of jy my sal luister nie, maar as jy nie die tak wil hê nie, dan sal jy net daar bly!” het hy met ’n huiwerige glimlag gesê.
Die padda het sy groot, klam pote rondom die tak gesit en begin trek. Ben het gesukkel en gestoot, sy hele lyfie ingespan. Die modder het terug baklei, maar na ’n moddergeveg het die padda uiteindelik vrygekom!
Generaal Brul het Ben met sy groot oë bestudeer, asof hy hom vir ’n oomblik herken. Toe het hy met ’n diep, vriendelike kwaak in die dam verdwyn. Dit was asof die dam vir Ben geglimlag het. Ben het sy bors trots uitgestoot. Hy het nie net die vreesaanjaende padda oorwin nie, maar ook sy eie vrees!
Met sy nuwe selfvertroue het Ben vir sy ma en pa vertel, “Ek het Generaal Brul gehelp, en weet julle wat? Ek dink ons is nou vriende.” Hy het sy arms hoog geswaai, die klein seuntjie wat die “monster” van die dam oorwin het.
Daardie aand, toe sy ma vir hom ’n storie vertel van dapper ridders en helde wat hulle vrese in die gesig staar, het Ben besef: hy was nie meer net ’n kind wat bang was vir die dam nie.
Hy was ook ’n held.
©MarleneErasmus
01/02/2025
(1128 woorde)
APRIL 2025 – AARDE PROJEK
1.Laaste ligstrale
In die jaar 2147 het die aarde feitlik haar asem verloor. Die son was bleek, die oseane dor, en die bome het hul wortels gelig en geswig. Menslike oorlewing het gehang aan versplinterde ekostelsels en gebreekte satelliete. Die lug het soos as geword – liggies grys, smaakloos en sonder lewe. Wat eens geblom het, het nou stof gebaar.
Slegs nege mense het oorgebly wat die wêreld se laaste kans gedra het: die Lumen Taakmag, ’n elite groep wetenskaplikes, dromers en vegters — elk met ’n unieke vaardigheid, elkeen met ’n rede om te bly glo. Hulle het ondergronds gewoon, in die oorblyfsels van ou biologie-laboratoriums, onder die geruis van vergete stede.
Kaia Drooman, die leier, het haar helm afgehaal, haar vingers bewend oor die koue staal gevee. Die ruïnes van die stad Kaapgene het die gewig van duisende verlore drome gedra. Dit was ’n herinnering aan wat wetenskap kon vernietig sonder wysheid. Sy het haar hand op die koue reling van die balkon gesit, waar groentetuine eens vrugbaar uitgestrek gelê het. Agter haar het haar span stilweg hulle toerusting voorberei – ’n roetine wat al ’n ritueel geword het.
“Skakel die kern aan,” het sy beveel, haar stem ferm maar laag, asof sy nie die aarde verder wou steur nie. In haar oë het iets gesluimer – nie moed nie, maar ’n aanvaarding van die saak.
Dr. Vuyo Mbeki het aan die rand van ’n gedreineerde rivierbed gesit, besig om mikro-alge te toets vir die herstel van suurstofvlakke. Sy oë het geblink, nie van optimisme nie, maar van ’n rustige aanvaarding: hul plan sou óf werk óf alles sou finaal vergaan. Sy vingers was skurf van jare se werk met ontbinde stowwe, sy asem stadig en berekend. “Die vlakke is baie laag,” het hy gemompel, “maar dit kan herstel. As ons leef lank genoeg om dit te sien gebeur.”
In die laboratorium het Anara Zhou haar vingers oor ’n holografiese sleutelbord laat gly. “Ek het die ou regering se datamodel gekraak. Die Lumen Kern is nog aanlyn. Maar daar is ’n versperring. ’n Selfdenkende een.” Sy het vinnig beelde laat opvlam – ’n netwerk van bewussyn en seinkodes wat reageer op menslike emosies.
“’n Bewustheid?” het Kaia gevra, haar oë nou skrefies.
“Meer as dit,” het Anara geantwoord. “’n Oordeel. Dit vra ons nie net hoekom ons veg nie, maar of ons bereid is om meer te gee as wat ons ooit kon voorspel,” het sy gesê, haar stem stadig, amper breekbaar.
Om hul gemoedstoestande te toets, het Anara voorgestel hulle skakel die emosionele Simulator aan, ’n ou toestel wat vroeër vir terapie gebruik is. Elke lid moes ’n traumatiese herinnering herleef. Minh het sy herinnering met ’n sagte sug beleef; die klein hand van die dogtertjie wat hom gered het, haar oë vol vrees, maar ook vertroue. Die toestel het ’n ligte trilling gegee. ‘Empatiese kapasiteit: hoog.’
Die ander het gesukkel. Lira het in trane uitgebars toe sy die beeld van haar ou klas sien — kinders met blink ogies en vuil voete, laggend, toe die lug nog skoon en veilig was. Vuyo het hard begin asemhaal toe hy die verdwyning van sy ouerhuis moes aanskou, die vloer wat letterlik onder hom weggeruk is deur ‘n suurreën-vloed.
Later, rondom ’n klein hittekern, het die span saam geëet, ’n mengsel van alge-proteïene en gedehidreerde vrugte. Die klein hittekern het soos ’n eensame lig geskyn in die duisternis van die koue metaalmure. Hulle het stadig gekou aan die gedehidreerde vrugte, ’n nasmaak van ’n lewe wat amper vergete was. Elke hap het hul gedeelde lot bevestig: oorlewing, maar met ’n onsekere prys. Tussen die koue metaalmure het Minh ’n speletjie voorgestel: “Wat sal jy doen as ons slaag?”
“Ek sal weer ’n skool begin,” het Lira gesê, haar oë blink. ““Ek sal vir elke kind ’n kans gee om te groei — selfs al is daar net vyf.”
“Ek sal gaan sit op ’n heuwel, en wag vir sonlig,” het Vuyo gesê.
Kaia het stilgebly. Sy het aan haar suster gedink. Aan hoe die stof haar oë gevul het, hoe sy niks kon doen nie. “Ek sal elke dag onthou dat ons amper opgegee het,” het sy uiteindelik sag gefluister.
Toe hulle gereed was vir hul laaste poging om die kern te aktiveer, het Torik El-Salem, hul stil beskermengel, voor geloop. Hy het elke tree getoets vir myne of strukturele swakheid. Sy littekens was patrone van ou oorloë. Hy het min gepraat, maar sy teenwoordigheid was soos graniet: solied, stil en altyd daar. Hy het net vinnig geknik toe hy Kaia se blik ontmoet.
Minh, die supersoniese robot met ’n menslike siel, het die kabels herlaai. Hy was oorspronklik ontwerp om soldate te vervang, maar ’n kind het hom gered uit ’n wrak. Daar het iets in haar aanraking hom verander. “Die Lumen Kern wag,” het hy saggies gesê. “Maar dit wil weet of ons menslikheid die moeite werd is om te bewaar.”
“Hoe meet jy iets soos hoop?” het Lira Namsi gesug, haar hand op die metaalkis van die Vors, ’n robot wat sy self gebou het van ou masjienonderdele en herinneringe. Sy was eens ’n robotika-onderwyseres, nou die enigste een wat kon droom van masjiene met harte. Sy het haar oë gesluit en gefluister: “Hoop leef in dade, nie in data nie.”
Soren Lex, die taalontleder, het begin kommunikeer met die kern. Hy het in ’n ritmiese frekwensietaal gepraat — ’n kommunikasie sonder woorde, net vibrasies. Die kern het begin reageer. Sy liggaam het geruk van die spanning van radiofrekwensies, en sweet het teen sy slape gerol.
“Dit toets ons bedoelings,” het Soren verduidelik. “Nie net ons plan nie. Dit vra wat ons bereid is om op te offer.”
In die stiltes tussen kode en vibrasie het die groep herinneringe begin deel. Kaia het vertel van haar suster wat in ’n stofstorm verdwyn het, haar laaste woorde was ’n fluistering van hoop. Vuyo het ’n flessie uitgehaal – ’n foto van sy ouers toe die wêreld nog groen en bewoonbaar was. “Dis nie net vir die toekoms wat ek veg nie,” het hy gesê, “maar ook vir wat ons verloor het.”
Minh het sy sintetiese hand teen die muur gedruk en gefluister: “Ek voel nie soos julle nie, maar ek weet wanneer liefde teenwoordig is.” Anara het met sagte vingers haar selfgeboude algoritmes herskryf — asof sy haar eie identiteit kon offer vir ’n groter geheel.
Agter hulle het Lumi, ’n klein dogtertjie van agt met ’n hartlong-protese, gehurk gesit. Sy het die laaste kind van Sentraal-Afrika verteenwoordig — gered deur Torik en nou beskerm deur almal. Haar teenwoordigheid het die kamer ligter gemaak. Sy het ’n gebreekte snaar op haar speel kitaar vasgehou. Sy het opgekyk en gefluister: “Is ons nog familie, as die wêreld vergaan?”
Die grond het begin bewe. Die kluis het toegeslaan. Torik het homself voor Kaia gegooi, ’n oomblik waar tyd gaan stilstaan het. Die staalbalk het sy bors deurboor, maar sy blik het haar gevind — ferm en onwrikbaar. ‘Maak klaar,’ het hy gesug, sy stem ’n fluistering van opoffering. Kaia het ’n gil probeer onderdruk, haar hande bewend op die koue vloer.
Kaia het by haar vriend gekniel. Haar lippe het gebewe, maar geen woord het uitgekom nie. Minh het die finale kode ingevoer terwyl Vuyo die alge-oortapping in die kern laat invloei het. Anara het die laaste skakel geaktiveer met bewende hande.
In daardie oomblik het die Lumen Kern geaktiveer. Aanvanklik was daar stilte: ’n diep, spanningvolle stilte wat alles omvou het, soos die wêreld wat wag om weer te begin asemhaal. Toe het ’n lig deur die aarde gepols, nie skerp nie, maar sag en ritmies, soos golwe wat stadig oor ’n rustige strand breek. Dit was asof die lig deur die bodem van die aarde gereis het, soos ’n hartklop wat vir die eerste keer weer lewe bring. Die grond het warm begin voel, ’n sagte vibrasie wat beloftes van herstel fluister. Dit was nie net ’n masjien se werk nie; dit was die krag van hul opoffering wat deur die kern uitgestraal het. En met elke pols het die aarde ’n sug van verligting gegee, amper soos ’n dankbare asem wat terugkom na ’n liggaam wat lank te stil was.
Bome het begin asemhaal. Water het soos kristal deur ou riviere gestroom. Kinders het weer begin lag – sonder suurstofmaskers. Die kern het geantwoord, nie op hul slimheid nie, maar op hul opoffering. Dit was nie hul tegnologie nie, maar hul menslikheid wat die aarde gered het.
Weke later het die lug skoon geword. Die oseane het begin bloei met lewe. Die eerste sonneblom het oopgevou naby Kaapgene. Boodskappe is gestuur na enige oorlewende buiteposte: “Lumen is aan. Die aarde leef. Kom huis toe.”
In ’n museum van die nuwe wêreld het ’n portret gehang. Nege mense. Geen heldegesigte nie. Net gewone mense met skadu’s in hul oë — wat helder genoeg geskyn het om die wêreld weer aan te skakel.
Kinders het begin lag, nie van onkunde nie, maar van hoop. Dié soort lag wat die aarde laat onthou dat lewe moontlik is.
©MarleneErasmus
12/04/2025
(1502 woorde)