Jongste aktiwiteit:

Retha van Deventer (Pikettie)
vir

Retha van Deventer (Pikettie)

Lees meer oor Retha van Deventer

JULIE 2024 – OOP PROJEK

2.Fynste en voete

Die sagte, deurdringende reën kom in vlae oor die Kalahari-duine en swiep strale water teen die rondawel se vensters vas. Hierdie wegbreek is broodnodig. Hier in die stilte sal ek die uitgewers se smoele stil skryf. Hier sal Kesia haar missie voltooi tussen die sleutels van my skootrekenaar en die wit bladsy op die skerm voor my…

Die klop aan die rondaweldeur ruk my byna van my stoel af … verdomp! Met meer geweld as wat nodig is, ruk ek die deur oop. “Ja?!” my bars enkelwoordgroet vee die fyn vroumens amper van haar voete af. Sy herwin haar ewewig verbasend vinnig. Haar gitswart hare is effens klam. Met ‘n ewe grimmige “Jou kos is gereed, Meneer,” draai sy op haar vellies om en drafstap in die fyn reën terug in haar spoor na die hoofgebou. Ek kan nie help om die slanke heupe in die noupassende jeans agterna te staar nie. Dan moet Kesia maar eers wag. Ek voel die honger in my maag roer. ‘n Man moet eet ook.

Die reën gee my kans om die eetsaal te bereik sonder om soos ‘n nat hoender te lyk; nie dat dit hoegenaamd saak maak nie. Ek is hier om te skryf. Die eetsaal is relatief stil. Dit is duidelik nie jag- of hengeltyd nie. Teen die mure hang gemsbok-, springbok-, blouwildebees-, swartwildebees- en koedoe-trofeë. Ek stap na ‘n tafeltjie teen die venster en strek my lang bene met die nommer twaalfs behaaglik in die paadjie uit.

Die volgende oomblik is dit net porseleinskerwe, rys en afval waar jy kyk. Fynste het jou waarlik waar my van agter af kom bekruip met die kos! Ek spring orent en probeer Fynste ophelp. Haar bloedrooi wange en die hoekige terugtrek van haar skouertjies laat ‘n glimlag aan my mondhoeke pluk. Ek probeer die proes-lag onderdruk, maar slaag nie daarin nie. Duidelik dra dit nie Fynste se goedkeuring weg nie.

Sy ruk haar elmboog los, waar my hand gewillig probeer hulp verleen het. “Sit asseblief met jou voete onder die tafel, Meneer. Ek reël gou vir ‘n mop en ‘n nuwe bord kos,” Fynste se stem is ysig. Kon die verdomde kind nie kyk waar sy loop nie? Die opruim word sonder ‘n bohaai gedoen en binne oomblikke staan ‘n nuwe bord stomende kos voor my. Fynste se kleur is terug na normaal.

Die middagete verloop sonder verdere voorvalle.

Ek besluit om ‘n bietjie te gaan verken voordat ek teruggaan rondawel toe om my skryfwerk voort te sit. Die bewolkte weer maak dit draaglik om op hierdie Februarie-dag buite te wees.

Langs die eetsaal is ‘n braai-lapa. Ek volg die kronkelpaadjie wat aan die anderkant van die lapa, duine se kant toe loop. “As jy nie nóú start nie, steek ek jou sweerlik brand! Hoor jy, Gedrog?” dis Fynste se stem. Agter ‘n paar kameeldorings sien ek die kothuis en die Jeep genaamd Gedrog.

Ek stap nader en wou net teen die Jeep se deur klop, toe die einste deur met mening oopgegooi word en my van my voete af slaan. Ek land met ‘n hik op my agsterstewe. Die twee oniks oë pleit om vergifnis. Ek staan op en stof my af. “Maak oop die enjinkap,” brom ek voordat sy nog ‘n verskoning kan aanbied. “Ek sal regkom, dankie, ek ken Gedrog se nukke,” probeer sy walgooi.

Ek gaan trek die knip en maak die enjinkap oop. Liewe genugtig! Gedrog het beslis beter dae geken. Die battery-pole kort beslis ‘n skoonmaak. Ek tel ‘n kwartsagtige klip op en tik-tik liggies teen die pole. “Probeer gou weer, Fynste?” glip die naam saam met die bevel uit. Die Jeep se aansluiter word geswaai en sonder enige protes, is die enjin aan die loop. “Dankie, Voete!” kom dit van Fynste en voor ek behoorlik tot verhaal kan kom, verdwyn sy en Gedrog oor die duin.

Terug in die rondawel wag Kesia vir my… Ek verdiep my in die spanningsverhaal en die ure glip ongesiens verby tussen woorde, paragrawe en bladsye.

Die gedreun van ‘n “siek” ryding ruk my terug na die werklikheid. Die enjin klink behoorlik na ‘n helikopter.

Magtig!

Kesia word weer onderbreek deur Fynste. Waar ek van agter die skootrekenaar deur die venster kyk, sien ek hoe die Jeep in ‘n rookwolk tot stilstand ruk, reg voor my rondawel. Fynste spring parmantig uit en skop met mening teen die regtervoorwiel.

“Gedrog, jy laat my in die steek! Hoe kry ek nou al die kruideniersware by die kombuis? Petrus!” roep sy na haar kombuishulp. Ek staan op en stap nader. Kesia moet maar eers wag.

“Probleme?” vra ek.
“My naam is Klaradyn,” sê Fynste “en ja, Gedrog het 80km buite Upington begin met sy gehoes, maar ek kan julle nie honger laat gaan slaap nie en het toe maar deurgedruk om op die plaas te kom. Ek dink hy het nou finaal die gees gegee.”

Die reën sif weer sag neer en skielik is daar geen teken van snipperigheid nie. Ek kan sweer daar het ‘n traan oor die reën-nat wang geglip.
“Kom, ek help dra,” bied ek aan.

Sy kyk op en knik inskiklik. Blikemmer, dis nou ‘n geneuk, die meisiekind is besig om onder my vel in te kruip. Ons dra die pakkies kombuis toe.

“Dankie, meneer Schmidt,” sê Klaradyn toe ek omdraai om terug te stap rondawel toe.
“Deon, noem my Deon, asseblief?” ek wag nie vir ‘n antwoord nie. Daar is nog ‘n paar hoofstukke wat wag om geskryf te word.

Die alarm wat aandete aankondig maak my bewus van my eie stram skouers. Ek staan op en rek behaaglik uit.

Na ‘n vinnige stort, draf ek die paar meter na die eetsaal. By my tafeltjie gekom, kry ek ‘n nota: “Dankie vir die hulp vanmiddag, ek skep vir jou ‘n ekstra porsie malvapoeding in. K.” Die res van die aand word ek deur Petrus bedien. Ek betrap myself dat ek gedurende die ete op die uitkyk bly na Klaradyn. Tevergeefs.

Terug in die rondawel pak ek die laaste hoofstuk van “Kesia en die bruin koevert” met nuwe ywer aan.

Koffie, dis wat ek nou nodig het, Kesia se geheim is opgelos. Die liefde het oorwin. My uitgewers sal my vir ‘n wyle met rus laat. Ek klap die skootrekenaar toe nadat ek die dokument gestoor het.

Die briesie buite is koel, ek trek ‘n windjekker aan. Dis net na tienuur, die wolke het plek gemaak vir ‘n melkwegvertoning … die Kalahari is stil-dankbaar. My voete vind vanself die kronkelpaadjie oor die duin.

Ek wonder of Klaradyn nog wakker is?

© Retha van Deventer

 

AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK

1.Pandemonium in die glas-sfeer

DIE PROTAN, Sterjaar 8723, Dag 412, berig:
“Die hofsaak van die Kwanader, Zlotz, leier van die versetgroep OA4B (op al vier bene), vind plaas op sterjaar 8723, dag 416, in die glas-sfeer. Zlotz word aangekla daarvan dat hy versuim het om op twee bene in die openbaar te loop.”

Die swewende glas-sfeer, wat bo Wasp 96-bi en Wasp 97-bi wentel, is binne stersekondes vol gepak nadat die SS13-kanaal oopgestel is. Hier en daar arriveer nog ‘n hofganger via liggaamsverplasing.

Die regter, Kroat, afkomstig van die planeet Wasp 97-bi, neem stelling in. Hy draai sy enorme oë in verskillende rigtings. Sy denke is sy eie as gevolg van jare se oefening. Die hofgangers daarenteen gons behoorlik telepaties. Die Bizedders van Wasp 97-bi se veragting van Zlotz se wandaad ruis behoorlik deur die sfeer terwyl die Kwanaders, die vierbeniges, in verset sis.

Zlotz, vergesel deur twee bewaarders kom op twee bene die sfeer binnegestap. Sy ander twee bene is agter sy rug geboei met sterkristal. Die gesis neem toe. Die Kwanaders se agressie bereik breekpunt. Die regter lig sy linkerhand en wuif oor die skare. Dis plotseling stil.

Kroat beveel Zlotz telepaties om op te staan en die eed van waarheid teenoor die twee planete af te lê. Hy gehoorsaam deur sy linkerhand se vyf vingers op sy voorkop te plaas en die eed hardop af te lê.

“Sal Opperste Een asseblief die planete se klagsaak kom stel?” vra Kroat.

Opperste Een beweeg tot voor Kroat, buig laag en draai dan om.

“In die saak tussen die planete Wasp 96-bi en Wasp 97-bi versus Zlotz…” begin Opperste Een.

“Sssss!” dreun dit in die hofsfeer as die Zlotz-aanhangers hul misnoeë uitspreek. In antwoord telepateer die nie-aanhangers: “Barbare! Onopgevoedes swyg! Wyk!”

‘n Tweede keer wuif Kroat met sy hand oor die menigte.

Opperste Een vervat: “In die saak tussen die planete: Wasp 96-bi en Wasp 97-bi versus Zlotz word die volgende aanhangig gemaak: eerstens het Zlotz in die openbaar op al vier bene geloop. Tweedens het hy hom verset teen die versoek van Bizedder-geregsdienaars om op twee bene te loop. Derdens het dit aan die lig gekom dat Zlotz ‘n ondermaanse protesbeweging van stapel stuur om die planete se staat te ondermyn ten opsigte van die wet wat lui dat slegs op twee bene geloop mag word.”

Protesteerders wieg heen en weer en sis luidrugtig.

Die gesis word stelselmatig sagter en sterf weg.

“Laat die ondervraging begin, Opperste Twee,” beveel Kroat.

“Zlotz, het jy op vier bene in die openbaar geloop?” vra Kroat

“Sssss… ek het!” antwoord hy.

“Zlotz, ek herinner u daaraan dat u geen krutaal in die hof mag gebruik nie,” betugtig Opperste Twee hom.

“Tweedens het u die Bizedder-geregsdienaars verontagsaam toe hul u versoek het om op twee bene te loop?”

“Ek het, Opperste Twee,” antwoord Zlotz.
“Derdens is u die leier van die protesbeweging, OA4B, ten gunste van vierbenige beweging in stryd met die wet?”

“Ek is,” beaam Zlotz.

“Hoe pleit u?” vra Opperste Twee.

“Onskuldig op al drie aanklagte, Opperste Twee,” reageer Zlotz.

“Kan u aan die staat van die planete verduidelik waarom u in opstand is teen die wet?” vra Opperste Twee.

“Sssss!” ruis dit deur die sfeer.

Hierdie keer hou Zlotz self sy hand op om stilte te bewerkstellig.

“U Hoogste Kroat en alle Opperstes, ek het op geskrifte afgekom dat beide planete se wet onregmatig gewysig is in die sterjaar 3623,” vervat Zlotz.

“Kkkkk!” roep beide partye geskok uit.

Zlotz knik met sy kop en telepateer met sy verteenwoordiger om die multi-dimensionele skerm aan te skakel. Met sy oë verwissel hy die kubiese bladsye van ‘n manuskrip tot waar hy by die paragraaf kom waar gestipuleer word dat alle vierbeniges volgens wet verplig word om voortaan op twee bene te loop.

Vir ‘n oomblik tuur hy nikssiende deur die glas-sfeer na die sterrestelsel, dan blaai hy tot op die laaste bladsy waar die handtekeninge die wet bekragtig het.

Dit neem ‘n hele paar stersekondes vir die hofgangers om die fout op die bladsy te eien.

“Kkkkk!” roep die skare in ongeloof uit wanneer een van die kenners van antieke geskrifte se gedagtes telepaties rugbaar word.

“Sssss!” snak Kroat na sy asem. “Verskoning,” fluister hy gedemp. “Roep asseblief onmiddellik die President Hoofmoeder, Shlazei om as getuie te kom dien?” versoek hy.

“Kkkkk!” kom dit weer van die geskokte skare.

Die volgende oomblik word die glas-sfeer gevul met die silwer sterstof van ‘n liggaamsverplasing wat langs Zlotz akkumuleer. Die President Hoofmoeder van die twee planete staan na enkele stersekondes langs hom.

“Hoof- en enigste getuie, President Hoofmoeder, Shlazei,” kondig Zlotz se verteenwoordiger aan.

Kroat versoek Zlotz om te gaan sit.

“President Hoofmoeder, lê asseblief die eed van waarheid teenoor die twee planete af?” versoek Kroat.

Sy plaas die vingers van haar linkerhand op haar voorkop en lê die eed hardop af. Haar silwer mantel vou sag om haar wanneer sy haar arm laat sak.

“Getrou aan die wette van die planete sal ek, as hoogste gesag van die hof, persoonlik die vrae voorhou aan ons President Hoofmoeder, Shazei,” kondig Kroat aan.

Stilte daal tot in die diepste telepatiese vlak sodat jy sterstof kan hoor val.

“President Hoofmoeder, wanneer is u geskape?” vra Kroat.

“Ek het die maan sien opkom in die sterjaar 3624,” antwoord Shazei.

“Onmoontlik, die wet is geteken in sterjaar 3623!” flits dit deur Bizedders en Kwanaders se gedagtes.

“Op watter planeet is u geskape?” vra Kroat.

“Ek is gebore op op Wasp-97bi, regter Kroat,” telepateer sy.

“U is dus ‘n Bizedder?” vra hy.

“Ek is nie…” antwoord sy hardop.

“Kkkkk!” klink dit op deur die sfeer in geskokte uitroepe van beide Wasp-96bi en Wasp 97-bi hofgangers.

Kroat lig sy hand en die sfeer word stil.

“Wat is u nasionaliteit?” vra Kroat.

Die oomblik van waarheid verstom die hofgangers wanneer sy antwoord: “Ek is ‘n Sekpodei.”

Sy laat val haar mantel, sak af grond toe en staan op al ses haar bene.

Die skare reageer hardop: “Kkkkk!”

Dit neem Kroat ‘n wyle om tot verhaal te kom, die skare onder beheer te kry en sy volgende vraag te vra. Shazei staan op, trek haar silwer mantel aan en lig haar ken.

“Verduidelik asseblief u herkoms aan die hof?” vra die regter.

“Mag ek telepateer op die multi-dimensionele skerm, Regter?” vra Shazei.

“Gaan voort,” antwoord Kroat bot.

In breukdele van ‘n stersekonde flits ‘n liefdesverhaal van ‘n uitgeworpene van die sonnestelsel Zitsmikoz en Shazei voor die bewoners van die twee planete af. ‘n Kapsule wat wyd wentel om hul twee planete met ‘n uiters aantreklike wese daarin… die beeldskone Shazei wat sy baan kruis in haar verkenningstuig… die oomblik van bevrugting wanneer hul oë vir ‘n fraksie te lank in mekaar staar. Die geboorte van ‘n babadogtertjie met ses ledemate, hoe die moeder haar versteek, verdoesel in mantels en uiteindelik die volle verhaal van haar uniekheid vertel, flits helder op die reuse kubus wat in die middel van die sfeer sweef.

“My moeder se naam was ook Shazei, ek is haar ewebeeld, dit is haar handtekening op die wet. Sý het die wet geskryf voordat sy van my sesledigheid bewus was. Sy moes ons geheim ten alle koste bewaar omdat ek haar troonopvolger was. Sy het hierdie wet tot haar dood berou. Sy het my deurlopend herinner dat jou siel en psige nie bepaal word deur jou uiterlike nie. Sy was angsbevange dat, indien sy die wet sou herroep, daar ongemaklike vrae gevra sou word en ek my posisie as President Hoofmoeder sou verbeur. Ek regeer die afgelope 5099 sterjare beide planete suksesvol.. Ek het volgens my kontrak een sterjaar oor om te regeer. Doen met my soos u goed dink,” spreek sy die sfeer aan, nadat die laaste beeld op die skerm verdwyn.

Die glas-sfeer gons behoorlik. “Kkkkk,” kom dit geskok van die oposisie-party en “Sssss!” van Zlotz se aanhangers.

Kroat lig albei sy hande en die hofgangers kalmeer.

Kroat versoek Opperste Een en Opperste Twee om by hom aan te sluit. Hul vorm ‘n sirkel en draai hul linkerhande se palms na onder en regterhande se palms na bo om telepatering van buite uit te skakel. Die saak word bespreek en Opperste Een en Opperste Twee neem weer hul plekke in.

Regter Kroat vervat: “Dit is die finale besluit van die Opperstes dat Zlotz skuldig bevind word aan al drie klagtes teen hom…”

“Sssss!” jou die Kwanaders hom uit.

Met sy hand in die lug, om verdere onderbrekings te voorkom, gaan hy voort: “Dit is egter tyd vir verandering. Tyd om die wette te hersien en tyd om in vrede te lewe met hoe ons geskape is…”

DIE PROTAN, Sterjaar 8723, Dag 413, berig:
“Die hofsaak van die Kwanader, Zlotz, leier van die versetgroep OA4B (op al vier bene), het gister in pandemonium ontaard nadat regter Kroat Zlotz eers skuldig bevind het op alle aanklagtes en daarna kwytgeskeld het op grond daarvan dat die wet hersien moet word. Die Protan volg die storie en sal u op hoogte hou.

 

©Retha van Deventer, Augustus,2024.

(Woordtelling: 1500)

 

SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK

1.Die bloedroep

Die son staan stil oor die Kalahari-duine. Luka herwin sy bewussyn en kreun van die pyn. Hy probeer regop kom.  “Verdomp! Hier sit die klein, geel, geplooide mens nog steeds voor my,” prewel hy. Pyn dompel Luka terug in ‘n droomlose, genade-slaap.

 

Khoeb vee bekommerd met sy hand oor sy gesig. Wat maak die witman hier in die diep-duine? Die witman het net kom moeilikheid maak. Hy wat Khoeb is, moet nog drie keer die maan sien voordat hy by sy ma se vuur sal eet. Die veld is droog en kos en water is skaars. Sy velsak wou hy nie swaar laai nie … nou moet hy die witman se maaggeraas ook stil maak. Die gode maak nie mooi nie.

 

Die bossies moet hulle werk doen, die son gaan haal die maan. Khoeb gooi weer ‘n straaltjie vloeistof uit die volstruiseier oor Luka se gebarsde lippe. Luka se oë beur oop. “Kx’ā!,” kom dit van die Boesman voor hom. Hy beduie met sy hande, gevolg deur ‘n magdom klikklanke, dat Luka moet drink. Luka neem versigtig ‘n sluk van die effe bitter vloeistof.

 

“Waar de hel is ek?” sy eie stem klink skor in sy ore.  “Hoe lank lê ek al hier onder die kameeldoringboom?” Die Boesman kantel sy kop van kant tot kant en loop ‘n wye draai om Luka. Die witman se bloed roep boontoe. Khoeb begin gooi die bloedbevlekte spore toe met sand. Die aasvoëls het hoeka weer ‘n draai kom sirkel. Die jakkalse sal pla as die maan se tyd kom…

 

Die gedreun van ‘n 4×4 ryding skeur die Kalahari-stilte. Khoeb lê plat op sy maag en loer oor die duin met skrefies oë.  Die kameelkleur vierwiel met twee witmans het geen respek vir bos of dier. Khoeb se hart ruk as hy die skietstok in die passasier se hande sien. Jagters? Hy skuifel terug en draf gebukkend tot by Luka.

 

Die klikverduideliking word aangevul met geel hande wat ‘n stuurwiel naboots gevolg deur skietstok-aksie. Luka se verwilderde oë en poging om regop te kom vertel vir Khoeb dat die witman die aankomelinge vrees. Die bebloede man is in geen toestand om saam met Khoeb oor die duine te draf om te vlug nie.

 

Khoeb druk Luka plat en begin graspolle uitruk en oor hom gooi. Hy moet die witman wegsteek. Luka wil eers keer, maar besef gou sy kragte is te min. Luka, nou bedek met sand en graspolle se hart klop in sy keel. Khoeb grou vir homself ‘n holte agter die kameeldoring en krul homself daarin op.

 

Die ryding is nou baie naby. Luka kan homself nie keer om ‘n sagte swetswoord te uiter nie.  Dan is dit nou so, hulle gaan hom kry. Die grashamels beperk sy uitsig en Luka verskuif ‘n paar los spriete om beter te kan sien. Die voertuig se dreuning kom al hoe nader. Dan in ‘n oogwink verskyn ‘n bekende nommerplaat oor die duin. Luka kan sy oë nie glo nie. Hy gooi die gras van hom af om beter te sien.

 

“Pa!” roep hy so hard as wat hy kan toe hy die bestuurder eien. Khoeb vlieg orent en som die situasie blitsvinnig op. Die bloedman ken die witman met die skietstok. Die bloedman roep hom. Hy wat Khoeb is moet die skietstokman gaan haal. Die 4×4 is reeds in die volgende duine-straat, maar Khoeb se voete is springbok-rats en hy ken hierdie stuk aarde.

 

Die 4×4 kom in ‘n sandwolk tot stilstand. “Wat de josie soek die Boesman?” uiter Bart toe die klein, geel mannetjie ‘n paar meter voor die ryding in spring met sy hande waaiend in die lug. Weer word daar met gebare beduie. Khoeb draai in sy spoor om en begin draf. Hy loer oor sy skouer om seker te maak dat die groot-geraas hom volg. Verdwaas volg Bart die Boesman, is dit moontlik dat hy Luka gevind het? Lewe sy seun nog?

 

Onder die kameeldoringboom het Luka weer sy bewussyn verloor. Bart en Stefan, Luka se broer, tel Luka op en maak hom so gerieflik moontlik op die agterste sitplek.

 

“Pa? Die sindikaat?” vra Luka half deurmekaar. “Almal aangekeer, ou Seun. Net buite Kuruman is die eerste manne vasgetrek. Hulle het soos voëltjies gefluit tydens die ondervraging. Jou infiltrasie en speurwerk was uit die boonste rakke.

 

Die bliksems het jou behoorlik gepeper met die lood. Ek vertel jou later alles; ons moet jou nou net eers by ‘n hospitaal kry,” verduidelik Bart.

 

Khoeb se gesig verhelder toe Bart vir hom ‘n bottel yskoue water aangee voordat hulle vertrek.

 

“Die bloedman is nou veilig,” klik-praat Khoeb met homself. Hy gaan haal sy velsak uit die boom, wuif ‘n laaste groet en begin draf … sy ma se vuur wag.

 

(Woordtelling: 788)

©Retha van Deventer, September 2024 Pikettie

 

 2.Die uitstappie

Die groen reuk van mos en die bloedstollende gille vermeng tot ‘n kakafonie van ontwaking. Ek word nie wakker nie, ek skrik wakker.

Ek beur orent. Ek het waaragtig aan die slaap geraak hier onder die ruie varings en bome wat hemelhoog troon. Gille? Daar is dit weer! Bernard? Izak? Waar is hulle? Ek vlieg orent, voel vir ‘n oomblik van balans af en begin dan blindelings in die rigting van die gille strompel.

Ek hoor ‘n tak agter my kraak. Onwillekeurig stop ek en kyk om. Dan sien ek hom. Skaars drie meter van my af hang Bernard oor ‘n tak. Ek staar in afgryse na hom. Sy buik is oopgeskeur en sy ingewande hang aan flarde. Hy is vermink. Sy bebloede hande reik rukkend uit na my en deur ‘n bloedroggel kom sy opdrag gedemp: “Hardloop…” Hy blaas sy laaste asem uit.

Ek voel die histerie in my opstoot. My voete strompel vanself weg van die afskuwelike toneel. Trane verblind my oë. Ek struikel oor ‘n boomwortel en val met my gesig in die modder. Snikkend vee ek met die agterkant van my hande oor my gesig. Dit is wanneer ek afkyk na my hande dat ek dit sien. Bloed, dis bloed waarin ek lê! Ek probeer regop kom, maar iemand hou my aan my arm vas. Met geweld ruk ek los. My hempsmou skeur af. Ek kyk nie om nie, maar hardloop blindelings deur die varings om weg te kom van my agtervolger af.

Gedempte brabbeltaal bring my weer tot stilstand. Ek is vervul met vrees. As my verdomde kop net nie so gepyn het nie. Waar kom die stemme vandaan? Ek draai in die rondte om die geluide se oorsprong vas te stel. Waar is ek? Hoe kom ek uit hierdie bos? My kop…

Die gebrabbel ontaard in ‘n boosaardige hoonlag. Dit weergalm in die bos. Ek druk met my hande teen my kop terwyl ek met my rug teen ‘n reuse boom staan.

“Hardloop…” roggel iemand reg bo my, ‘n tweede keer. Ek kyk vervaard op. Dis Izak, sy bloed vloei teen die boom af. Sy kopvel hang klewend langs sy gesig, sy maag is deurboor deur die tak waaraan hy hang. “Nee! Nie jy ook nie, Izak, asseblief?” soebat-skree ek die laaste woorde wat hy ooit sal hoor.

Die menseslagting van my vriende maak my kotsend-naar. Ek kan die opstoot van my eie braaksel nie keer nie. Walglik vermeng dit in vreemde patrone met Izak se bloed. My hart klop onbeheersd en my asem kom hortend wanneer ek voortstrompel.

Die volgende oomblik is die mos seepglad. My voete glip onder my uit asof ek teen ‘n reuse glyplank afgly. Ek sien die blaredak bo my, ruik weer die skerp mosreuk en hoor die hoonlag, voordat ek teen die afgrond aftuimel. My angswekkende gille word deur die gedruis van ‘n waterval verswelg.

“Sy gaan nie gou hier opstaan nie,” kom ‘n stem van ver af. Ek probeer my hande oplig, maar dis vasgebind. Die reuk is vreemd-anders as in die bos. Die donker voer my genadiglik weg na ‘n plek waar geen klank of kleur of reuk bestaan nie.

Die lig kom stadig deur my toe ooglede gesypel. Dis ‘n vreemde pienk-rooi kleur. Die bos! Die bloed… Trane biggel oor my wange. My oë vlieg oop wanneer ‘n hand die klammigheid van my gesig afvee.

“Rustig, nou Retha, jy is veilig,” sê Bernard hier langs my.

Hallusineer ek? Ek draai my kop. Dit ís Bernard. ‘n Rooi liggie flikker bokant my kop en binne sekondes is daar ‘n verpleegster by my bed.

My hande word losgemaak en ek skuif effens regop. “Izak?” vra ek onseker aan Bernard. “Hy is buite in die gang, jy mag slegs een besoeker op ‘n slag ontvang,” antwoord hy.

“Julle is dood! Ek het julle in die bome sien hang…”

“Alles drogbeelde, Retha. Ek en Izak het al die monsters vir die agrostologie-projek versamel en jou gelos om te dut. Met ons terugkeer was jou rugsak daar, maar jy was skoonveld. Ons het jou gille gehoor, jou gevolg, maar kon jou nie betyds bereik voordat jy by die afgrond afgestort het nie. Ek het agterna geduik en Izak het die vierwieltrekvoertuig nader gebring. Gelukkig kon ek jou uit die rivier trek, net voordat jy by die waterval af is,” verduidelik Bernard.

“Ons het van die Towersampioen in jou rugsak gevind. Dit bevat Psilocybin, dit is sterker as LSD. ‘n Moordenaar van ‘n sampioen. Jy moes van dit geëet het. Jy was op een helse trip,” sê hy, net voordat ek weer aan die slaap raak.

 

(Woordtelling 765)

 

©Retha van Deventer, September 2024. Pikettie

 

OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK

2.Bloedspoor (5685 woorde)

Die strandjie is net ver genoeg van die hotel af om afgesonderd te wees. Surea se sonbruin vel steek aanloklik af teen die spierwit bikini op die bloedrooi handdoek. Sy lê met haar volmaakte liggaam behaaglik uitgestrek op haar rug, haar oë verskuil agter ’n sonbril. My wysvinger trek speelse patroontjies oor en om die letsel wat die koeëlwond op haar skouer gelaat het.

 

Ek draai behaaglik om op my rug en voel hoe my ooglede swaar word…

 

Die bloed drup stadig, lui teen my vingerpunte af. Die plons-intervalle rek al hoe wyer. Die rooi kleur daarvan fassineer my. Dis bykans hipnotiserend. Die son en tyd staan stil.

 

Ek skrik met ’n skok wakker wanneer Surea my lig soen.

 

“’n Nagmerrie gehad, Lief? Kom, ek het net die medisyne daarvoor,” sê sy terwyl sy opstaan en haar handdoek uitskud om van die sand ontslae te raak.

 

Ek probeer van die onheilspellende gevoel ontslae raak terwyl ons strandlangs terug stap hotel toe.

 

In ons hotelkamer sluit Surea haar arms om my nek en ek voel hoe passie die plek inneem van die onrus van kort tevore. Ek swiep haar met een beweging van haar voete af op en dra haar tot by die bed.

 

Die volgende oomblik voel dit of my skedel ontplof. Dit word swart voor my.

 

Die gordyne voor die venster staan bol soos my seiljag s’n in volle vaart. Surea? Waar is Surea? Ek probeer regop kom waar ek skuins oor die bed lê. Verduiwels, as my kop net nie so gepyn het nie. Ek strompel na die badkamer. Niks. Niemand. Die stoepie van ons kamer op die grondvloer lewer ook niks op nie. My hemp word in sekondes vasgeknoop. Die bliksems het haar. Ons het aanvaar die hele sindikaat is in hegtenis geneem. Dit was ’n fout, never assume

 

Ek deursoek ons hotelkamer deeglik. Haar smuktassie wat in die badkamer was, met alles daarin is weg; so ook al haar klere, skoene en selfs haar sonhoed en handdoek. Daar is geen bewys, geen spoor daarvan dat Surea hoegenaamd saam met my hierdie kamer vir die afgelope drie passievolle dae gedeel het nie.

 

Ek vee met my vingers deur my hare. Hoe is dit moontlik? Is sy geweldadig verwyder of was dit uit vrye keuse?

 

Ek gryp die deursleutel en haas my in die lang gang af na die luukse hotel se ontvangslokaal.

 

Die dame agter die toonbank loer guitig onder digte, fladderende wimpers na my. Ek gee haastig ’n beskrywing van Surea se voorkoms en verneem by haar of sy enige kennis dra van  haar vertrek.

 

Sy tuit haar vol, rooi lippe en en skud haar kop ontkennend.

 

Uit die hoek van my oog sien ek ’n kreupel eilandbewoner nader geskuifel kom. Sy klere is half verslete en hy dra ’n groot silwer grimeertas. Goeie genugtig! Dis Bloedspoor deur die ongekarteerde s’n! Surea se tas wat sy op die stel gebruik het tydens die verfilming van die fliek!

 

Ek gee twee lang treë tot by die man en gryp hom hardhandig aan die skouers. Hy laat val die tas dawerend op die teëlvloer, sy oë knipper-knipper. Ek skud hom soos ’n lappop.

 

“Waar kry jy hierdie tas? Praat! Waar’s sy? Wáár is Surea?” sis ek tussen my tande deur. Die gebrabbel wat volg behoort aan geen taal of dialek. Weer knipper sy oë. Ek los hom so vinnig dat hy sy balans verloor en plat neerslaan.

 

Die portier staan haastig nader. Hy help die kreupele op en spreek hom in Dhivehi, die algemene spreektaal van die Maldive-eilande aan. Die verslonste man skud net sy kop en beduie met ’n vuil hand na die tas voordat hy omdraai en skuifelend na die voordeur begin beweeg.

 

“Jammer Meneer, die ou is te dronk om sy eie taal behoorlik te praat, maar ek kon dit darem uit hom kry dat hy vyftig rufiyaa aangebied is deur ’n lang, sterk man met ’n sonbril om hierdie tas by die hotel te kom inhandig,” verwittig die portier my spytig.

 

“Waar woon die dronkaard?” byt ek die woorde af.

 

“Meneer, hierdie man sal geen adres hê nie,” kom sy antwoord meewarig.

 

Ek tel die tas op. Dit is lig en voel leeg. Die ontvangsdame staar my oopmond aan, maar ek ignoreer haar en haas my na my suite. Ek knip die tas haastig oop. Daar is twee items in die tas. ’n Goue haarlok, ongetwyfeld Surea s’n, en ’n toegevoude bladsy. Ek vou dit haastig oop.

 

Die kort nota is onmiskenbaar in ’n vrouehandskrif geskryf.

 

As jy weet wat goed is vir jou, vlieg terug Suid-Afrika toe. Vergeet dat daar ooit iemand soos Surea van Deventer jou pad gekruis het. As jy hoegenaamd ’n poging aanwend om na die polisie of owerhede te gaan sal die volgende tas ’n ledemaat bevat.

 

Hoe vergeet enige man, wie se pad so intiem gekruis het met Surea, haar?

 

Ek vou die bladsy toe en sit dit met ’n frons terug in die grimeertas. Dis bykans 11:00 en die hitte is alreeds oorweldigend. Waar begin ek na haar soek?

 

Die boemelaar wat die tas na ontvangs toe gebring het se gesig doem meteens voor my op. Hy is die enigste persoon by wie ek kan gaan aanklop vir inligting.

 

Ek raap my sonbril van die bedkassie af op en gooi my strandhanddoek oor my skouer; ek sal so ver moontlik na ’n doodgewone vakansieganger moet lyk as ek Surea lewendig uit die gemors wil kry.

 

Fluit-fluit sluit ek die hoteldeur en stap in die gang af na die voordeur. Die portier groet vriendelik en ek groet hom met ’n gemaak-vriendelike kopknik terug.

 

Waar de hel begin ek die bedelaar soek? My voete vind vanself hul pad na die wandellaan langs die strand. Die palmbome en wit sand het hul bekoring verloor.

 

’n Seun stap kordaat op my af. Hy verkoop kepse. Ek kies ’n swart “Maldives” keps en hou ’n noot dubbel die waarde van die item na hom uit. “If you can tell me where I can find the hunch back cripple with strange acsent, you can keep the change,” hou ek die spreekwoordelike wortel voor sy neus. Gretig beduie hy na die hawe, gryp die geld en verdwyn in die skare.

 

Dan sien ek hom, ’n geboë figuur met ’n verslonsde hoed wat op die kaai sit en visvang met ’n handlyn.

 

Jip, dis hy, die grimeertasbode. Ek stap ongeërg nader en hurk langs hom. “Do you understand English?” vra ek. Hy knik sy kop. “Do you remember me?” gaan ek voort. Weer word ek beloon met ’n kopknik. Ek haal ’n geldnoot uit my broeksak en skuif dit ongesiens onder die man se visgereedskap in. “There is more where this comes from, if you provide me with information. My room number is 121. I’ll be waiting there for you at sunset,” vervolg ek. Sy oë kry lewe. Ek staan tevrede op en slenter terug strand toe.

 

Ek sprei my handdoek oop, trek my hemp en plakkies uit en draf na die water. Die koel water is verfrissend. Ek swem asof my lewe daarvan afhang. Dis my manier om my kop skoon te maak. Wanneer ek na my handdoek stap is ek aansienlik rustiger. Ek droog my af, trek aan en stap terug hotel toe.

 

Terug in my kamer neem ek ’n vinnige stort, verklee in ’n t-hemp en jeans wat my smal heupe aksentueer en gaan daarna na die eetsaal.

 

Bykans al die tafels is beset. Ek gaan sit by ’n tafel in die naaste hoek en kyk die gaste deur. Ek kan nie verhelp om te wonder of  die verpeste ontvoerder moontlik hier sit en my dophou nie.

 

Dan sien ek hom. Die groot, blonde, provokateur wat Surea geskiet het tydens Operasie Ongekarteer. Sy oë is kil en hy staar stip in my rigting.

 

swart oniks weerkaats in jou staar

wrewel trek my rug styf  soos ’n snaar

swart oniks weerkaats in jou staar

prewel haat-gluur  ure se vergaar

 

Dis met moeite wat ek my blik losskeur van die gehate dwelmsmokkelaar aan die oorkant van die vol eetsaal.

 

Ek blik vinnig af op my horlosie en sien daar is bykans ’n uur oor, voor my ontmoeting met die grimeertasbode.

 

Die vriendelike kelnerin kom neem my bestelling en op die ingewing van die oomblik besluit ek om die buffet te bestel. Sodoende gaan ek teen die buffel, Sven, se tafel verby beweeg om te gaan kos opskep.

 

Die afstand na die kostafel voel buitengewoon ver. Ek trek my skouers met mening terug en lig my stoppelken. By Sven se tafel maak ek moedswillig oogkontak. Hy hou ’n bruin koevert na my uit en ek neem dit by hom sonder om ’n woord te sê of te verpoos.

 

By die kostafel neem ek ’n bord en skep, gemaak rustig, vir my van die koue vleissnitte en tropiese vrugte.

 

Terug by my tafel, vou ek die koevert op en plaas dit onserimoniëel in my hempsak. Sven moes intussentyd die eetsaal verlaat het, want hy is nou nêrens in sig nie.

 

Verdomp! Dis nou ’n geneuk. Sven gaan beslis my teenwoordigheid steeds hier op die eiland,  op Surea uithaal.

 

Ek eet die bord kos op en gaan na my hotelkamer. My afspraak met die boggelrug-grimeertasbode lê voor.  Ek haal die koevert wat Sven aan my oorhandig het haastig uit my hempsak, maar voordat ek dit kan oopmaak is daar ’n ligte kloppie aan die deur.

 

Die loergaatjie in die deur bevestig my vermoede; dis die boggelrugman.

 

Ek maak die deur op ’n skrefie oop en loer eers op en af in die gang om seker te maak ons is alleen, voordat ek hom inlaat.

 

“Please, sit down?” versoek ek hom. Hy gaan sit op die stoel voor die skuifdeur.

 

Sy oë, hoewel steeds bloedbelope, is vandag aansienlik helderder. Dis moeilik om sy ouderdom te skat; die verslete klere en vuil gelaat is misleidend.

 

Ek gooi vir my ’n glas water en bied vir hom ook aan, maar hy wys dit van die hand.

 

’n Oorverdowende knal, glas wat versplinter en aan skerwe spat en die boggelrug wat my plat duik, gebeur alles in ’n breukdeel van ’n sekonde. Dit word gevolg deur gaste wat gil en die sirenes van die plaaslike polisie.

 

“Is jy okei?” vra die boggelrugman in Afrikaans.

 

Ek staar hom geskok ongelowig aan. Het die eilandbewoner hom nou Afrikaans geskrik of is ek besig om mal te raak?

 

“Heng, jong, nou is my cover geblaas hier by djou… ma’ blikkies ‘is lekke’ om wie’ Afrikaans te praat, my ou!” babbel die boggelrugman terwyl hy my regop trek.

 

“Die cops ga’ nou hie’ aankom… ek was’ie hie’ nie. Djy ken my nie. Ho’ djy? Kom koep more-aand vis by die jetty,” sê hy voordat hy slinger-slinger al singend in ’n gebrabbelde taal in die gang af verdwyn.

 

Ek staan nog in die gang toe die polisie haastig nader gedraf kom.

 

“You hurt?” vra die lang, skraal blas offisier met die parmantige opwip-snor wat eerste by my aankom. Die staatsembleem met twee sterre daarby dui daarop dat hy die senior superintendent is. Sy van, Thakhan, pryk op sy borskas bokant sy univormsak.

 

“No, Sir, but I sure as hell did get a fright,” antwoord ek eerlik.

 

Die man stap voor my by my hotelkamer in. Hy gee instruksies dat niks versteur mag word totdat die forensiese inspekteur opdaag nie.

 

Thakhan stap versigtig deur die vertrek en gaan staan voor die oorblywende deel van die venster waar die koëel vroëer die glas aan skerwe laat spat het.

 

“You’ve got enemy?” vra Thakhan weer in geradbraakte Engels.

 

“No, Sir, not that I know of,” lieg ek blatant. Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om hom van Surea se verdwyning te vertel, maar bedink myself betyds toe ek die grimeertas onder die spiëeltafel gewaar. Een verkeerde woord en Surea se lewe is in gevaar.

 

“You drug dealer? You bring problems to Maldives?” vra Thakhan kil.

 

“I’m on holiday, I don’t do drugs,” antwoord ek gladweg.

 

’n Gesprek buite die deur trek ons albei se aandag. ’n Kort mannetjie met ’n bril en swart tas tree na binne. Thakhan verduidelik aan my dat dit die forensiese offisier is.

 

Hy betrag die boonste gedeelte van die venster waar die koëel dit gepenetreer en versplinter het.

 

Hy wissel ’n paar woorde in Dhivehi met Thakhan en vervolg dan in perfekte Engels.

 

“Whoever tried to shoot you, did so from the second floor right across from this room according to the trajectory. Please stay here and don’t touch anything,” versoek hy voordat hy op sy hakke omdraai en na die gang stap. Thakhan en sy konstabel volg hom.

 

Ek druk die deur toe en haas my na die grimeertas. Versigtig om niks te versteur nie, maak ek die knippe oop en verwyder die koevert met die waarskuwingsnota en haarlok. Ek vou dit dubbel en druk dit agter die wasbak se afvoerpyp binne die badkamerkassie in.

 

Dan onthou ek van die koevert in my sak wat Sven tydens etenstyd aan my oorhandig het. Ek haal dit uit en skeur dit haastig oop. Die kleur fotostaat laat styg my bloeddruk. Ek skud my kop in ongeloof. Dit kan nie wees nie. Dit is onmoontlik!

 

Dis ’n huweliksertifikaat wat stipuleer dat Surea van Staden en Sven Baranov in die eg verbind is twee jaar gelede.

 

Verbysterd vou ek die dokument op, plaas dit terug in die koevert en versteek dit by die dreigbrief in die badkamerkassie.

 

’n Klop aan die deur ruk my terug na die werklikheid. Ek trek haastig die toilet en gaan maak die deur oop.

 

Thakhan lyk grimmig.

 

“Both the rooms where the shot could have been fired from is empty. The camera on that floor is out of order,” sê hy sonder om asem te skep.

 

Na sy onthulling dat daar gepeuter is met die sekuriteitskamera op die vleuel oorkant my hotelkamer, blaf  Thakhan ’n paar instruksies uit aan sy manskappe wat in die gang rondstaan.

 

Hy gee toestemming dat die hotel se skoonmakers die kamer kan opruim en versoek my om hom te vergesel na die polisiestasie.

 

Na wat soos ure voel is die ondervraging afgehandel, my verklaring afgelê en gee Thakhan toestemming dat ek na die hotel kan terugkeer, maar onder geen omstandighede die eiland mag verlaat nie.

 

Ek stap die hotelkamer binne en haas my na die badkamer. Ek maak die kassie se deur oop en steek my hand agter die afvoerpyp in. My verligting is groot toe ek die twee koeverte uithaal. Dit is nog net soos ek dit daar gelos het.

 

Die huweliksertifikaat haal ek uit en beskou dit met weersin. Surea van Staden en Sven Baranov. Dieselfde Sven wat nie geskroom het om koelbloedig op Surea te skiet, toe sy as dubbelagent hom aan die kaak gestel het nie. Sven, wat veronderstel was om vir vyftienjaar in die tjoekie te sit, loop vry rond en beweer hy is Surea se man?

 

Ek herleef weer die angsvolle oomblikke op die seiljag.

 

Die koeël wat my van my voete afgeruk het op my alleenvaart. Die besef dat ek op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Die engel wat oor my gebuk het en om verskoning gevra het dat sy my moes skiet om my te beskerm. Haar sagte hande wat vir dae aaneen my wond versorg het. Surea se ontboeseming dat sy as dubbelagent optree om ’n dwelmsindikaat oop te vlek.

 

Die dag van die “transaksie” moes ek op my tande kners en my weerhou daarvan om Sven nie te lyf te gaan, toe die grimeertasse oorhandig is, op die oop see nie.

 

Ek hoor weer die oorverdowende geluid van die helikopters en die geknal van skote.

 

Die rooi vlek wat groter en groter geraak het op Surea se wit hemp, het my van alle vrees ontneem. Ek het onverskrokke op haar afgestorm en in my arms opgeraap om haar na die beskutting van die kajuit te neem.

 

Weer sien ek die haat in Sven se oë, die strak lyne om sy mond. Is dit moontlik dat ’n man met soveel afsku na sy vrou kan kyk? Of is dít juis hoekom hy so na haar gekyk het? Die besef dat sy wederhelfte hom uitgelewer het aan die owerhede … is dit wat hom gedryf het tot waansin?

 

Met ’n besliste beweging plaas ek beide dokumente terug in die wegsteekplek agter in die badkamerkassie. Hierdie inligting moet nie onder die polisie se aandag kom nie; dit kan Surea se lewe kos.

 

Surea.

 

Is ek verlief op ’n getroude vrou? Daar was geen ring aan haar vinger of selfs ’n merk daarvan nie. Vir ses maande het ons mekaar bykans elke dag gesien en nie een keer het sy my rede gegee om hoegenaamd te twyfel in haar liefde vir my nie.

 

Ek skuif die vertwyfeling in my hart opsy.

 

Die son sak soos ’n bloedspoor oor die see. Boggelrugman wag al seker by die jetty op my. Ek trek ’n ligte windjekker aan en sluit die hotelkamerdeur agter my toe.

 

Die windjie buite die hotel is koel teen my sonbruin vel en die sout reuk van die see bring gedagtes aan Surea in haar wit bikini glashelder na vore. Ek moet haar kry! Ek moet haar uit die kloue van Sven red, al kos dit wát…

 

Ek stap rustig, gemaak ongeërg strandlangs na waar die boggelrugman sit en visvang.

 

Ongemerk bespied ek my omgewing; die aanslag op my lewe is nog vars in my geheue. Daar is enkele paartjies wat hand-aan-hand langs die wit soom van strand stap, maar ek gewaar niks verdag nie.

 

Op die jettie gaan sit ek langs Boggelrugman en staar uit oor die see.

 

“Jy kan’ie lank hie’so sit’ie,” praat hy terwyl hy deur skrefies oë oor die see tuur.

 

“Nou gee my genoeg rede om te loop!” antwoord ek meer bitsig as my normale gematigde self.

 

“Oraait, relax my ou! Die saak staan soe: ek’s under cover. Ek hou al vir ses maande die sindikaat dop, toe kom jy en daai blondie en kom foeter alles deurmeka’. Sien jy daai seiljag, daai grote met die blou streep? Dis waar Sven en sy gebroedsels lê. Ek het ’n luistervink daar geplant. Hulle maak reg vir ’n moerse groot transaksie. Heroïne,” rammel die boggelrugman dit af.

 

“Verdomp, ek moes dit geweet het!” swets ek.

 

Die aasreuk en my gemoed is in kompetisie met mekaar om die naar kol op my maag op te stoot tot in my keel. Die idilliese sonsondergang gaan ongesiens by my verby.

 

“Van wat ek kan hoo’ is jou blondie die lokaas. As sy saam met’ie drugs oorhandig word, kry hul dubbel die tjieng.. My manne op die Saartjie Baardman wag dat ek die sign gee om toe te slaan. Hou jou lyf da’ weg, hoo’jy? Vat nou die sak vis en gaan gee dit vir’ie sjef,” kom dit met finaliteit van Boggelrugman.

 

Ek vat die sak, staan op en begin wegstap sonder om te groet. My gedagtes is ’n warboel van los drade.

 

Dis sterk skemer toe ek die palmlaning na die hotel bereik. Die see se gedruis weerklink in my ore.

 

Die hand wat my agter ’n hibiskus in pluk is so onverwags dat ek my balans verloor. Die sak skeur en die visse trek oor die gras. Ek probeer regop kom, maar ’n skraal hand druk my ferm terug in die blombos.

 

“Shhhhht,” kom dit van my aanvaller.

 

Die bekende reuk van Surea se parfuum vang my onkant. Al my sintuie is nou ingestel om die persoon hier voor my te eien. Kan dit wees?

 

Ek trek die hoody van die booswig se kop af. Goudblonde hare tuimel oor die smal skouers. Dit ís sy!

 

Vir ’n oomblik staan en staar ons na mekaar, dan tree sy vorentoe en gooi haar arms om my nek.

 

Ek beweeg met ’n besliste beweging uit Surea se omhelsing.

 

“Genugtig Surea, wat de hel is hier aan die gang? Ek word midde ons passie oor die kop geslaan, jy verdwyn soos ’n groot speld, daar word op my geskiet en dan verskyn jy soos is ’n skim in die skemer drie dae later asof niks gebeur het nie?” rammel ek gefrustreerd die sinne af.

 

“Saggies tog? Ons kan nie hier praat nie. Ek moet amper weer terug na die seiljag,” fluister Surea terwyl sy my aan die arm dieper die ruie tuin in trek.

 

“Ek het net vyf minute voordat die spul onraad gaan bemerk, maar ek moes jou net kom gerusstel. Moet in hemelsnaam nie nou vrae vra nie, vertrou my, ek weet wat ek doen. Gaan jou gang, alles sal reg uitwerk, ek belowe,” kom dit oortuigend van my beeldskone meisie. Sy soen my liggies, trek die hoody oor haar blonde hare en verdwyn net so skielik as wat sy verskyn het.

 

“Surea!” roep ek tevergeefs agterna, “Bliksem tog.”

 

Ek stap met mening terug na waar ek die vis enkele minute gelede laat val het, tel dit op en gebruik die geskeurde sak om dit in toe te vou.

 

By die voordeur vra ek die portier om my na die hotel se kombuis te beduie sodat ek die pakkie kan gaan afgee.

 

By die kombuis knip-oog die chef vir my en beduie waar ek die vis kan neersit.

 

“From my friend, Georgio?” vra hy.

 

“If that is the hunchback’s name, yes,” antwoord ek. Hy beaam en daarmee is ons gesprek afgehandel en keer ek terug na my hotelkamer.

 

Die son wil-wil uitkom oor die turkoois see toe ek die volgende oggend die gordyne ooptrek. Ek voel tam na ’n onrustige nag.

 

Daar is ’n geroesemoes op die strand by die hawe. Haastig pluk ek ’n kortbroek en t-hemp aan en drafstap soontoe. Daar is ’n samedromming van drawwers, vissermanne en vakansiegangers. Die polisie keer my voor toe ek probeer nader gaan.

 

“No persons beyond this point, Sir,” versoek die man geklee in die plaaslike polisiemag se uniform my beleefd. Daar is ’n lint gespan om die publiek weg te hou van die toneel.

 

Ek beur teen die lint om beter te sien.

 

Het Surea haar vasgeloop teen die skermunkels? Die hemel weet, ek sal met my kaal hande die barbare vermoor as sy iets moes oorkom. As ek net kan sien! Met moeite baan ek my weg oor die dik sand deur die skare na die teenoorgestelde kant van die afgesperde gebied.

 

Dan sien ek die rede vir die hele kabaal. Dis my “vriend”, die boggelrugman, Georgio, se liggaam wat met ’n kombers toe gegooi word op ’n draagbaar. Skok en verligting volg mekaar in breukdele van ’n sekonde op. ’n Lewe beteken vir hierdie sindikaat niks nie en Surea is uitgelewer aan hulle genade.

 

’n Koue rilling trek teen my rug af.

 

Koorsagtig fynkam ek die hawe vir die seiljag met die blou streep. Niks. Dis weg.

 

My blik word gevange gehou deur die helder, turkooisblou seewater.

 

Turkoois, ironies genoeg, kleur van hoop, wysheid en ewigdurende liefde.

 

Is daar hoop dat Surea ongedeerd van die seiljag kan ontsnap? Het ek die wysheid om hierdie situasie reg te hanteer? Is die huweliksertifikaat eg? Het ek en Surea ’n kans op ewigdurende liefde? Die vrae maal in my kop.

 

“Please make way?” roep ’n polisieman my terug na die hede. Ek staan tru sodat hul kan verby kom. ’n Gevoel van totale verslaentheid neem besit van my terwyl Georgio se lewelose liggaam op ’n draagbaar na die ambulans gedra word.

 

Vir volk en vaderland, kan ek nie verhelp om te dink nie.

 

Terug in die hotelkamer, gaan lê ek skuins oor die bed met ’n verblindende hoofpyn. Die twee pynpille wat ek gesluk het begin my net lomerig maak, toe daar ’n klop aan die deur is. Wie de hel soek my nou?

 

Met ’n sug staan ek op en maak die deur oop.

 

“May I please come inside?” vra die chef terwyl hy angstig in die gang af loer. Sy houding is gespanne en hy trippel letterlik op een plek rond.

 

Ek swaai die deur groter oop en beduie met ’n kantel van my kop dat hy kan deurstap. Hy laat nie op hom wag nie. Ek stoot die deur agter hom toe.

 

Die kort ronde man voor my se intelligente oë blink onnatuurlik. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy voorkop waar sweetdruppels pêrel. Duidelik is hy angstig om met my te praat.

 

“Okay, now that you are here, may I know the reason for your visit? I’ve got a killer of a headache and was just about to take a nap,” moedig ek die man aan om te verduidelik waarom hy hier is.

 

“Yes, yes, let me just catch my breath… When I cleaned the fish you brought me from Georgio, I found a small plastic bag with a note in the mouth of one of it. At first I thought it was something the fish tried to swallow, but my curiosity lured me to open it up and when I read the note I realized it was put there by Georgio!” ryg die chef die woorde uit sonder om asem te skep. “Georgio’s body was found dead on the beach this morning! I don’t want to be connected to any of this, understand? I’ve got a good job!” stoomroller hy voort met ’n rooi gesig.

 

“Okay, but may I please see the note that you are talking about?” por ek hom aan om die skrywe vir my te wys.

 

Hy steek sy hand in sy broeksak en haal ’n gekreukelde nota daaruit. Hy vou dit met bewende hande oop en gee dit vir my aan.

 

Dear Francois,

If anything happens to me in the next week, please take this note to room 101?

 

3.2029˚ N, 73.2210˚ E

19:00, 6/11/2023

+27 86 111 2468

 

(Thank you for or all the left overs and the humanity shown to me.

You were a true friend.)

 

Ek vou die nota met die koördinate, datum, tyd en telefoonnommer stadig toe.

 

“Thank you, Francois,” antwoord ek en my woorde klink vreemd kalm in my eie ore. Francois knik en verlaat my hotelkamer haastig.

 

Ek gaan sit op die bed en lees die nota weer. “Boggelrugman, jy was ’n yster,” fluister ek asof hy my kan hoor.

 

’n Plan begin vorm aan neem in my gedagtes en ek besluit om die daad by die woord te voeg. Die telefoon op die bedkassie is binne my bereik en ek skakel ontvangs om ’n eksterne lyn te kry.

 

Met bewende vingers sleutel ek die telefoonnommer op die nota in. Na drie luitone antwoord ’n diep stem: “Sarah Baartman, Adjudant Marais, goeiedag.”

 

“Adjudant, ek het hierdie nommer by een van jul informante gekry. Hy is vanoggend oorlede, maar het ’n nota met koördinate, ’n datum en tyd aan my gestuur,” rammel ek die woorde haastig af.

 

Daar heers doodse stilte aan die ander kant van die lyn.

 

“Adjudant, is u nog daar?” vra ek.

 

“Ja, ja ek is hier. Waar bevind u uself?” kom die teenvraag.

 

“Ek gaan tuis in die Hotel de’ Palms hier op die Maldives Eiland,” antwoord ek gretig.

 

“Goed, lees die nota aan my?” versoek adjudant Marais.

 

“Ek sal die inligting alleenlik verskaf indien ek teenwoordig kan wees wanneer u toeslaan op die sindikaat,” vervolg ek met meer brawade as wat ek voel. My handpalms is nat gesweet van spanning. Daar is ’n herhaling van die doodse stilte, maar hierdie keer wag ek vir hom om eerste te praat.

 

“Dis absurd! Genugtig, weet jy hoe gevaarlik is hierdie sindikaat?” vra hy, die irritasie duidelik hoorbaar in sy stem.

 

“Ek weet presies hoe gevaarlik hul is, Adjudant. My meisie is hul gevangene en daar was reeds ’n aanslag op jul informant hier in my kamer,” antwoord ek beslis.

 

“Surea van Staden, jou meisie? Goed, maar verskaf asseblief solank die datum en tyd sodat ek die taakspan kan gereed kry. Jou kamernommer sal ook nodig wees om met jou in verbinding te kan tree vir verdere reëlings, asseblief? Bly naby jou telefoon,” kom sy stem dringend.

 

Ek verskaf my kamernommer en lees die datum en tyd. Sonder om te groet word die telefoongesprek beëindig.

 

Slaap moes my oorval het, want ek word wakker van ’n harde klop aan my deur. Ek staan op, trek my vingers deur my kuif en gaan maak die deur oop. Voor my staan ’n blas man, met twee visstokke, geklee in ’n geblomde hemp en kortbroek,.

 

“Kan ek binnekom?” vra hy in suiwer Afrikaans.

 

Ek tree terug en hy stap in.

 

Hy steek sy regterhand uit en sê: “Luitenant Bierman, aangename kennis. Die adjudant het my na jou gestuur.”

 

Ek neem die aangebode hand en is nie verbaas toe die handdruk meer as ferm is nie.

 

“Jy is in besit van die koördinate waar die dwelm- en mensehandeltransaksie gaan plaasvind?” sê-vra Bierman my.

 

“Dis korrek,” antwoord ek gelykmatig.

 

“Wil jy nie eerder heroorweeg en die koördinate aan my verskaf nie?” vra Bierman op die man af.

 

“Soos reeds aan die adjudant gestel, verskaf ek dit op een voorwaarde, en dit is dat ek teenwoordig is wanneer julle toeslaan,” antwoord ek beslis.

 

“Goed, Adjudant het versoek dat ek jou die geleentheid gee om te besin, maar jou besluit is gemaak. Jy sal dus saam met my na die Sarah Baartman moederskip gaan. Trek vir jou strandklere aan. Ons gaan ‘hengel’,” sê hy.

 

Ek maak my tas oop en haal ’n stel klere uit wat beter dae geken het en verklee vinnig in die badkamer. Die dokumente wat agter die wasbak versteek is prop ek in my denim se sak voordat ek die badkamerdeur oop maak. Ek prop my beursie en ’n swart rolnektrui in ’n rugsakkie wat ek oor my skouer haak.

 

“Hier, dra jou visstok en lyk vrolik as ons by die deur uitgaan,” beveel Bierman toe hy die visstok in my hande druk.

 

Ons verlaat die hotelkamer en stap in die laatmiddagson al langs die strand af met ons visstokke.

 

Na ongeveer ’n uur bereik ons ’n rotsagtige strand. Bierman klouter rats oor die rotse tot waar ’n rubber duck verskuil in ’n sloep lê.

 

Behendig stoot hy die rubber duck in die water en kort-voor-lank dreun die enjin en stuur hy die diepsee in.

 

Die water is kalm en die wind in my gesig koel. Dit stem my rustig, dit en die wete dat ek oppad is na Surea.

 

’n Uur later doem die silhoeët van die enorme skip, Sarah Baartman, voor ons op. ’n Touleer word laat sak nadat ons die rubber duck stewig aan die windas se kabel vasgemaak het.

 

Op die dek stel die adjudant homself aan my bekend en versoek my om hom te vergesel na die kapteinskajuit.

 

“Van Deventer, jy besef die gevaar waaraan jy jouself blootstel? Dis op eie risiko!”

 

“Dis korrek, Adjudant,” antwoord ek Marais.

 

“Koördinate asseblief?” versoek Marais en hou sy hand.

 

Ek plaas die nota daarin.

 

“Bliksem! Ons sal dadelik moet vertrek. Kom, die helikopter staan gereed,” byt Marais die woorde af voordat hy op die interkom die taakspan se opdragte gee.

 

Minute later is ons in die helikopter en swiep die lemme deur die aandlug.

 

Ons bereik die twee seiljagte.

 

Die adjudant beveel die sindikaat oor die megafoon om hul wapens neer te sit en plat te lê op die dek.

 

In reaksie daarop lig die gewapende manne hul wapens en vuur in ons rigting. Die loots, wat dit te wagte was, maneuvreer die helikopter behendig weg van die aanval. Die taakspan vuur akkuraat ’n sarsie skote toe die helikopter ’n tweede keer die seiljagte nader. Op beide seiljagte word belhamels neergevel.

 

Dan gewaar ek hom. Sven. Hy hou Surea as ’n skild voor hom! Genugtig, die boosaard gee nie ’n snars om vir haar lewe nie!

 

Die skerpskutter voor langs die loots lê aan en tref sy teiken sekuur. Sven en Surea tuimel oorboord. Dis reeds sterk skemer.

 

Die rubber duck het intussentyd die seiljagte bereik en die oormag is net te groot vir die sindikaat. Die skurke word geboei.

 

’n Duiker swem met Surea terug na die rubber duck waar die bevelvoerder versoek dat die helikopter haar moet ophys. Surea is gewond.

 

Met die harnas om haar lyf word Surea tot binne die helikopter gelig. Haar klere en hare is nog nat en kleef teen haar beeldskone liggaam. Ek beur om by haar uit te kom, maar die adjudant druk my ferm in my sitplek terug.

 

“Jy gaan nou net in die pad wees, Van Deventer!” skree hy bo die geraas van die motore.

 

Dit kos ysere wilskrag op te bly sit terwyl ’n bewustelose Surea die nodige noodhulp kry.

 

Die radio gons. Dis die bevelvoerder van die rubber duck wat laat weet dat alles onder beheer is en dat die helikopter kan terug keer na die Sarah Baartman.

 

Dis bykans middernag toe die skeepsdokter my ontbied.

 

“Die pasiënt is buite gevaar. Sy het baie bloed verloor, maar is baie gelukkig dat geen organe getref is nie. Sy vra om jou te sien,” rapporteer die geneesheer.

 

Ek vergesel hom na die mediese kajuit.

 

Langs Surea se bed sak ek op my knieë. Sy gee haar hand aan my en ek vryf liefderyk met my duim oor haar gladde vel.

 

Trane dam in my oë op. Hoe lief is ek nie vir hierdie pragtige, blonde spioen nie.

 

Haar lippe beweeg. Ek staan op en buig oor haar gesig om te hoor wat sy sê.

 

“…nie getroud… Dis vervals,” kom die fluistering deur haar koorsige lippe.

 

“Shhht, liefling, ek glo jou. Jy moet nou net gesond word?” antwoord ek met ’n hees, emosiebelaaide stem.

 

***

 

Dis drie maande later.

 

Ek staan onder die gazebo op Maldives se strand en wag op my bruid.

 

Onwillekeurig streel my oë oor die see. Die turkooisblou is vol beloftes van hoop, wysheid en ewigdurende liefde.

 

Surea verskyn in die laning, haar trourok vertoon ekstra wit teen haar sonbruin, slanke bene.

 

Sy kyk op in my oë wanneer sy my bereik. Haar vol lippe vorm die woorde stil: “Ek is lief vir jou.”

 

Ek kan nie wag om haar onvoorwaardelik myne te maak wanneer hierdie seremonie verby is nie.

 

My spioen. My lewe.

 

©Retha van Deventer, Oktober 2024.

November 2024 – OOP projek

2.Na-nag van die stomp sker

Die krakende houtvloer eggo nog in Ninke se ore, toe die kamerdeur stadig, krakend oop swaai.

 

Versigtig trek sy die laken tot onder haar ken en knip-knip haar oë om beter te kan fokus in die maanverligte slaapkamer. Dis 03:00 in die oggend. In die donker deurraam neem die vae lyne van ‘n skimagtige figuur gestalte aan.

 

Die gestalte se asemhaling weergalm bonatuurlik deur die vertrek, sodat Ninke impulsief haar hande oor haar ore druk. Die geluid daarvan is skokkend bekend.

 

Haar ouma het emfiseem gehad. Ninke onthou maar te goed die vinnige, hortende asemhaling, die kroniese hoesie en die lug deur haar slymgevulde longe gefluit het.

 

Die krom figuur met onmiskenbare voetsleep, slof stadig, treetjie vir treetjie nader. Ninke ruik die vrot asem wat in swaar walms oor haar neerdaal. Dit pers die lug uit haar longe en stoot haar bykans-verteerde aandete in haar slukpyp op.

 

Die wete kom lê met beslistheid in haar … hierdie nagtelike, bonatuurlike besoeker is beslis haar oorlede ouma! Haar ouma wat reeds twee jaar gelede gesterf het.

 

Koue sweet slaan oor Ninke se liggaam uit. Sy bewe van angs.

 

Halfpad op pad na Ninke se bed, gaan staan die wese langs die spieëltafel. ’n Benerige, blou, klouagtige hand met lang, hekserige naels, neem die skêr wat daarop lê.

 

Met ’n dramatiese beweging, knip sy ’n stukkie vlees aan haar eie binne-arm af. Ninke gil van die pyn wanneer sy ook aan haar arm, op dieselfde plek, voel hoe daar deur die vel gesny word. Bloed sypel stadig uit Ninke se binne-arm waar ’n wond uit die niet verskyn.

 

Dit herinner Ninke aan die afgryslike dag waarop sy in haar ouma se kamer gekom het. Ouma het tjoepstil daar gelê. Sy het nie asem gehaal nie.  “Ouma! Ouma!” het sy geroep. Ninke het haar aan die skouer gegryp en geskud, maar geen reaksie gekry nie. Daarna het sy haar hand uitgesteek en haar aan die binne-arm geknyp, vasbeslote om enige teken van lewe te vind … tevergeefs.

 

Hoe is dit moontlik? Kon haar ouma dan tog voel? Sy het dus nog gelewe!

 

Die besoeker se hoonlag sny deur murg en been.

 

“So jy onthou?” vra haar demoniese ouma met ’n skril, bewerige stem.

 

Sy lees my gedagtes, mymer Ninke.

 

“Ja, my liewe kind. Waar ek my bevind is daar niks wat ek nie kan sien of hoor nie,” antwoord haar ouma op Ninke se gedagtes.

 

Weer lig haar blou klou die skêr. In afgryse aanskou Ninke hoe haar ouma hierdie keer haar tong uit steek. Sy lig die skêr tot voor haar oopgesperde mond en knip die punt daarvan met een beweging af. Dit val met ’n plof geluid op die kamervloer.

 

Ninke proe die metaal smaak van bloed voordat die pyn van die wond aan haar tong in haar brein registreer. Sy vlieg regop op in haar bed, onseker of sy die bloed moet sluk of uitspoeg. Dit loop in dun straaltjies by haar mondhoeke af en drup op haar nagklere.

 

Trane van vrees loop vrylik oor Ninke se wange.

 

Wanneer sy haar mond oopmaak om te gil, val die punt van haar tong op die spierwit laken. Bloed sypel stadig uit die tongpunt om ’n donker vlek daarop te laat. Versteen staar Ninke daarna.

 

Haar ouma gee nog ’n skuifeltree nader aan die bed. Dis asof Ninke uit ’n droom ontwaak. Sy spring van die bed af om afstand tussen haar en haar ouma te kry. Sy gaan staan angsbevange met haar rug teen die verste muur.

 

“Here!”

 

Haar smeekroep is tevergeefs en laat haar tong van nuuts af bloei.

 

“Here! Here! Here!” kom daar opeens stemme van alle kante.

 

Dit voel vir Ninke of sy besig is om mal te raak. Sy kyk na die mure en sien gesigte daarin van mans, vrouens en kinders van alle ouderdomme. Hul lyk soos reliëfwerk vasgevang in die pleister van die muur.

 

“Nou wil jy bid? Noudat jy vervul is met vrees? Waar was jou gebede toe ek hygend na asem op my sterfbed gelê het? ” vra haar ouma kortasem.

 

“Verstaan tog Ouma, ek was net ’n kind,” lispel sy gepynig. Die punt van haar tong bloei onverpoosd.

 

“Ek was net ’n kind! Ek was net ’n kind! Ek was net ’n kind!” weergalm dit in die kamer.

Met rukkende bewegings braak Ninke van die wrang smaak in haar mond. Die bloed vorm psigedeliese krabbelpatrone in die kots op die matjie voor haar bed. Dis bykans fassinerend.

 

Ninke word na die werklikheid teruggeruk wanneer haar ouma weer beweeg.

 

Die blou hande word voor haar uitgestrek en sy draai dit met handpalms na bo. Stadig lig sy haar hande op.

 

Verstom voel Ninke hoe haar voete die grond verlaat. ’n Allesoorheersende vrees neem van haar besit, sy gryp wild om haar rond terwyl haar voete skop-skop.  Sy kry die gordyn beet; dit skeur wanneer haar ouma haar tot teen die plafon oplig en horisontaal maneuvreer tot reg bokant haar bed met haar gesig na onder.

 

Met afsku staar Ninke na die gemors onder haar. Die kots, die bloed, die blou tong en die verwronge, afstootlike postuur van haar ouma.

 

“Sit my neer, asseblief Ouma!” gil Ninke.

 

“Sit my neer. Sit my neer. Sit my neer,” hoor sy die mure roep.

 

“Ag, hoe aandoenlik,” smaal haar ouma, hande steeds omhoog.

 

Midde haar angs onthou sy die dag toe haar ouma haar op haar sesde verjaardag opgetel het. Sy onthou die vrot, rookasem in haar gesig en hoe sy gespartel het om daarvan weg te kom.

 

“O, so nou het jy allerlei verskonings hoekom jy my vermy het. Nou kry my asem die skuld,” verweer die weersinwekkende vrou met die halwe tong.

 

Die volgende oomblik laat val sy haar hande slap langs haar sye. Ninke val plat op haar maag op die bed met haar gesig in die kussing. Rou snikke ruk deur haar tengerige liggaam wanneer sy haar omdraai en weer van die bed af klim, hierdie keer staan sy ’n entjie van die muur af, gedagtig aan die geeste daarin.

 

Ninke voel hoe die fyn haartjies op haar arms rys by die blote gedagte aan die mure vol geeste.

 

Stadig kom haar ouma om die bed gestap, die skêr flits steeds in haar hand.

 

Ninke spring bo-op en oor haar bed om by die deur uit te vlug.

 

Met ’n oorverdowende knal, klap die deur voor haar gesig toe. Sy ruk en pluk aan die deurknop, maar dit beweeg nie ’n aks nie.

Ninke loer oor haar skouer. Haar ouma staan reg agter haar.

 

“Nee-nee … so maklik gaan jy nie wegkom nie, Kleintjie,” smaal sy.

 

Ninke snik magteloos.

 

Die geeste in die mure maak weer hul metafisiese verskyning en snik almal saam met haar. Die kakofonie van klanke is opeens te veel vir haar, sy voel hoe die swart newels haar bewussyn verswelg.

 

Haar bene swik onder haar en sy sak inmekaar met haar rug teen die deur. Wanneer sy haar oë oop maak, sit sy in ’n verwese bondeltjie, plat op die vloer. Sy druk haar vuis in haar mond om die rou snikke te keer; bang dat die geeste weer te voorskyn sal kom van agter die mure.

 

Sy kyk vreesbevange op na haar ouma voor haar, wat nou die skêr onheilspellend teen haar oumenspols hou.

 

“Nee, asseblief, Ouma spaar my lewe, moet dit nie doen nie!” roep Ninke uit.

 

“Moet dit nie doen nie. Moet dit nie doen nie. Moet dit nie doen nie,” kom die poltergeesstemme van agter die mure.

 

Sy voel die koue, skerp lem op haar linkerpols wanneer die ouvrou deur die plooierige vel begin sny met die skêr se lem. Daar kom geen bloed by die ouvrou se pols uit nie, maar Ninke se bloed spuit ’n boog deur die lug.

 

“Eina!” gil Ninke en gryp met haar regterhand na waar die sny langer en langer word al teen haar arm op.

 

“Eina! Eina! Eina!” skree die stemme uit die muur.

 

Die ouvrou draai om en skuifel tot waar die stuk gordyn wat afgeskeur het, op die bed lê. Die klou-hande tel dit op.

 

Sy drapeer dit vermaaklik om haar oumensnek, oorkruis die punte daarvan en begin dit al hoe stywer trek. Ninke voel hoe haar lugweë toegedruk word. Sy los die wond wat sy probeer toe druk en gryp vervaard na haar keel. Sy is besig om te versmoor.

 

Daar is net een uitweg, sy moet die gordynstrook by haar ouma probeer af neem.

 

Met ysere wil staan sy op en storm met mening op haar ouma af. Sy kry die gordynstrook beet en ruk daaraan. Dit trek egter stywer om haar ouma se nek en syself voel die effek daarvan om haar eie. Sy kry nog minder suurstof in haar longe.

 

Die bloed pols by die wond uit haar arm van die gestoei om die gordynstrook te probeer afneem en ’n euforiese gevoel neem geleidelik van haar besit … bloedverlies, registreer haar brein…

 

“En die hemel weet ek was lief vir jou. Sal ek jou nooit vas kan hou,” dring die musiek van my selfoon-alarm tot my slaapbenewelde brein deur. Die son skyn deur my venster. Ek lig my linkerarm op. Daar is geen teken van ’n wond nie.

 

©Retha van Deventer, November 2024

Woordtelling: 1540

 

 

3.Sing my

Die kluitklap op die kissie, so wit soos my gesig, weergalm in my baarmoeder waar ek reeds die nuwe lewe voel.

 

“O Here, gee my krag? Ek moet U nuwe skepsel net so lief hê, soos wat ek vir Christelle was?”

 

Ek voel die son se strale oor my arms, kaal soos my hart. ‘n Sensoriese troos, ‘n Hêlios-kus. “Sy sal die son in haar dra,” mymer ek, onbewus van die begrafnisgangers se meewarige kyke.

 

Vier maande later is sy gebore. Haartjies met sonvonke daarin … asof die gode my versugting gehoor het. Hemelblou oë, soos my liefling in die hemel.

 

Ek stort my liefde in oorvloed uit op Retha, probeer sodoende die seer in my stil. Sy floreer daarop en word ‘n pragtige, liefdevolle, sonskynkind.

 

“’n Sonstraal, ‘n sonstraal, Jesus roep my vir ‘n sonstraal…” sing Retha. Ek hoef nooit te roep om te weet waar sy haar bevind nie, as sy nie praat nie, sing sy.

 

“Mamma, sal Mam gróót asseblief vir my ‘n geel matriekafskeidrok maak?” kom Retha se versoek. My dogter raak groot. Die skeidingsangs wil-wil aan my hart kom krap. Ek maak die rok en voel weer die warm namiddagsonnetjie op my skouers. Hêlios-troos.

 

Retha lewe.

 

*

 

Elke steek van die graaf in die grond, om my kind se kis toe te gooi, deurpriem my hart.

 

“O God, wat het ek gesondig? Ek het U gevra vir nog ‘n kind, maar nie in ruil vir die een wat U reeds aan ons gegee het nie,” worstel ek met die Skepper. Dis na middernag. My vrou het uiteindelik aan die slaap geraak. Dit is goed. Sy is swanger met ons tweede kind. Oor vier maande moet sy geboorte skenk.

 

Ek staar na die sekelmaan. “Klein bietjie maan, kyk Pappa,” hoor ek weer haar engelstem, nou ewig stil. Die Here beveel Artemis om ‘n maanligstraal na my te stuur. Dit kom lê vertroostend koel in die traan op my wang. Die trane word meer, vorm ‘n straaltjie wat hartseer deur my baard drup-drup loop. Dit kon net sowel Christelle se vingertjies wees wat hier vroetel. My rou kreet skeur die nag. “My kind is dood! Dood, hoor julle? Dood…”

 

Die maande kom en gaan. Hartseer ten spyt, groei die lewe in Anna tot volrond. Op 21 April 1970 skenk sy lewe aan Retha (haar naam beteken: kind van die Lig).

 

Dis drie jaar later, Retha sit op my skoot. Die aand is Karoo-stil. “Pappa, kyk! Dis ‘n boeppens maan,” sê sy met haar kop op my skouer, net voordat sy aan die slaap raak. Artemis se glinster weerkaats op haar blonde hare. My hart is vol. “Dankie Here, vir hierdie kind. Dankie vir die volmaan,” fluister ek.

 

Ek sit in die skoolsaal. Retha is in matriek, volgende jaar gaan sy Stellenbosch toe. Kan ‘n man se hart terselfdertyd so gelukkig en so seer voel? Die musiekkonsert herinner my aan Christelle. Sy was so lief daarvoor om vir haar ongebore sussie te sing.

 

Retha se suiwer sopraanstem ruk my terug na die hede: “… vlieg oor die bome met my drome, kyk hoe glinster die maan…”

 

*

 

Iets is fout. Mamma se hart klop ineens te vinnig.

 

Dit doef-doef in my ore, hier waar ek in haar baarmoeder is. Haar gille vibreer deur my: ”Christelle is dood! Christelle is dood!”

 

Dood? Wat is dit? Hier waar ek is, ken ek net groei en lewe.

 

Ek wag dat Christelle my voetjies moet kom kielie deur Mamma se magie. Dis al aand, sy het ook nog nie vir my kom sing nie. Gisteraand het sy dan nog vir my kom leer sing: “Sterretjies wat skitter in die hemel blou, ek wonder o so dikwels of jul ooit onthou…” Sterretjies moet mooi wees. Sy sing so mooi.

 

Ek suig my duim, maar vanaand help dit nie. Ek draai my om in die vrugwater. My hart verlang na Christelle. Mamma het haar so gereeld vertel dat sy ‘n sussie gaan kry. Hulle gaan my Retha noem. Wat is dood?

 

Mamma huil, Pappa huil en Christelle is stil.

 

Vir maande werk ek hard om te groei en te lewe. Die baarmoeder druk my vas. Ek kan nie meer maklik beweeg nie. Ek verlang na Christelle se stem. Ek is gereed om te weet wat daar buite op my wag.

 

Dis 21 April 1970, ek groet Mamma, Pappa, die son, die maan, die sterre.

 

Ek huil, ek lag, ek praat, ek sing, want stilbly, is om dood te wees.

 

Ek mis Christelle…

 

(748 woorde)

 

©Retha van Deventer, November 2024.

 

 

Met eervolle vermelding aan die skeppers van bogenoemde musiek en opgedra aan my sussie, Christelle, wat voor my geboorte oorlede is.

 

Deel 1: Son: “’n Sonstraal, ‘n sonstraal, Jesus roep my vir ‘n sonstraal…”

Deel 2: Maan: “… vlieg oor die bome met my drome, kyk hoe glinster die maan…”

Deel 3: Sterre: “Sterretjies wat skitter in die hemel blou, ek wonder o so dikwels of jul ooit onthou…”

 

Januarie 2025 – OOP projek

2.Hemelse park van liefde

Haar blonde, los hare warrel syagtig in die wind waar sy al hoe hoër swaai in die lowergroen park se speel-area.

Asof afgespreek, kom die dogtertjie en haar ma elke dag stiptelik om 17:30 vir vyftien minute se uitgelate speeltyd. Ek sit en hou die idilliese toneeltjie daagliks dop, maar dit wek geen vreugde in my swaar, donker gemoed op nie.

Daar is wel iets gerusstellends daaraan om hul daar te sien. Roetine?

Dit is op my roete vanaf die kantoor na my woonstel. Ek gun myself elke dag hierdie verposing. Soms kry ek sommer ’n Woollies-slaai of toebroodjie om hier te nuttig as aandete.

Sedert Bert drie maande gelede aan hoofbeserings beswyk het in ’n motorongeluk, is kos glad nie ’n prioriteit nie.

Bert…

Vreemd hoe ’n mens, selfs al was daar lankal nie meer sprake van liefde nie, iemand mis wanneer die persoon nie meer daar is nie.

My oë dwaal terug na waar die dogtertjie swaai. Was ek ook eens so vry en sorgeloos? Wanneer het die lewe sy kleur verloor? Selfs nadat Bert se ontrouheid aan die lig gekom het, was daar dae wat ek kon lag. Daar was dae wat ons selfs sáám gelag het.

Die hartverskeurende gehuil van ’n kind ruk my terug na die werklikheid.

Ek spring op vanaf die bankie en hardloop instinktief nader waar die mamma met haar dogtertjie in haar arms hurk.

“Toemaar, Zabeth, Mamma is hier,” hoor ek die vrou troos.
“Goeiemiddag, kan ek help?” bied ek aan.
“Asseblief, as jy vir my ’n snesie het?”

Ek diep die pakkie snesies uit my handsak op en hou daarvan in haar rigting. Sy druk dit liggies teen die wond teen die kant van die dogtertjie se kop, maar dit is binne sekondes deurweek.

“Ek dink jy moet haar eerder ongevalle-eenheid toe neem,” stel ek voor.
“O vrek, Mevrou, ek het nie ’n motor nie … toemaar Zabeth, toemaar my skatjie,” antwoord sy my terwyl sy die kind deurlopend troos.

Ek gee die res van die snesies aan, die bloed is minder, die dogtertjie stiller, maar haar ogies begin fladder. Skielik val haar kop agteroor en verloor sy haar bewussyn.

“Nee! Zabeth! Zabeth!” roep die mamma haar dogtertjie se naam uit om haar te probeer wakker kry.

Ek spring op.

“My woonstel is net twee blokke hiervandaan. Ek gaan haal gou my motor, wag net hier,” beveel ek en begin hardloop. My asem brand in my keel van die ongewone oefening.

Ek hardloop die trappe twee-twee op tot by die derde vloer, ruk my voordeursleutels uit my handsak en sluit dit oop. Ek haak die motorsleutels van die hakie af waar dit in die gang hang, gryp ’n kombersie uit die gangkas, sluit die deur agter my en hardloop weer die trappe af na die kelderverdieping waar my motor geparkeer staan.

In ’n ommesientjie is ek terug by die park en soek naarstigtelik na parkering. Die geluk is aan my kant wanneer ’n voertuig se flikkerlig aan kom en ek met ’n sug van verligting daar parkeer.

Die mamma is nou omring deur nuuskierige omstanders wat almal gelyktydig probeer raad gee. Ek baan my weg tussen hulle deur tot by haar.

Daar hang trane aan haar wimpers en die blydskap wanneer sy my gewaar laat my vir ’n oomblik my ekwilibrium verloor. Ek staan daar met my gedagtes in ’n warboel. Hier is ’n wildvreemde vrou wat bly is om my te sien; iemand wat my werklik nodig het. Wanneer laas het ek “nódig” gevoel?

Ek skud die gevoel van melankolie van my af en neem haar handsak en die kleuter se rugsakkie by haar.

“Kom, ons moet gou maak, daar is reeds te veel tyd verspeel,” sê ek en begin haastig aanstap na die motor.

Ek sluit die motor oop, gooi die sakke op die agterste sitplek en hou vir haar die voordeur oop.

Die verkeer het al redelik afgeneem, ons ry in stilswye en vorder vinnig tot by die hospitaal.

Die dogtertjie word ondersoek en nadat daar steke in haar wond gesit is, gehospitaliseer vir observasie.

“Kom, kom ek gaan koop vir jou ’n koppie koffie hier onder in die hospitaal se kafeteria?” stel ek voor wanneer die trane van nuuts af in die mamma se oë opdam.

Nadat ons by ’n tafeltjie plaasgeneem het, steek ek my hand na haar uit, “Sandra,” stel ek myself aan haar voor. “Sandra, ek is Madelein Toerien. Hoe sê ek ooit genoeg dankie vir wat jy vandag vir my gedoen het?” vra Madelein.

“Madelein, ek het nie eens gedink voor ek gedoen het nie, jou “dankie” is meer as genoeg.”

“Jy verstaan nie, Sandra. Zabeth is sterwend. Sy is op ’n waglys vir ’n nieroorplanting. Aangesien ek nefritis gehad het, is ek nie ’n geskikte skenker nie. Hierdie is dus ’n dubbele terugslag vir haar,” kom dit hortend van Madelein.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd ervaar ek suiwer emosies. Emosies van skok, ongeloof en hartseer vir ’n klein, vreemde dogtertjie en haar ma, spoel deur my gemoed. Ek voel ergerlik hoe my eie trane agter my ooglede brand.

Impulsief bied ek aan: “Mag ek my laat toets om vir haar ’n nier te skenk?”

“Jy kan, maar die kans dat jy ’n geskikte skenker sal wees, is baie skraal. Sien, Zabeth se bloedgroep is O-positief. Sy kan slegs van iemand met die ooreenstemmende bloedgroep ’n nier ontvang en dan moet daar nog voldoen word aan die ses-antigeentoets ook. Zabeth wag al twee jaar lank op ’n geskikte skenker. Dankie dat jy bereid was om te probeer,” sê Madelein opreg en neem ’n groot sluk koffie.

“Ek is O-positief, dit is dalk net die moeite werd om te probeer,” antwoord ek opgewonde.
“Die kans is steeds baie skraal, maar is jy seker dat jy wil voortgaan met die proses?”
“Ek is, Madelein.”

Dit is twee maande later en ek en Madelein staan langs Zabeth se bed.

Gedurende hierdie twee maande het ons hegte vriendinne geraak en het ek haar vertrou met my lewensverhaal. Vir die eerste keer in twee jaar voel dit weer vir my asof ek lewe. Ek staan soggens op met ’n lied in my hart en saans kan ek weer bid.

Die bloedtoetse se uitslag het bewys dat ek wel bo alle verwagting ’n geskikte skenker vir Zabeth is.

Ek het die geliefde kleinding gou kom groet voordat ekself voorberei gaan word vir die operasie om my nier te verwyder.

Met teerheid vee ek die haarsliert wat oor Zabeth se voorkop hang terug. Ek ruk my hand terug asof dit ’n slang is wat my pik.

Die geboortevlekkie in haar haarlyn, dis identies aan Bert s’n.

Ek kyk op in Madelein se sagte, blou oë wat vol vraagtekens na my staar.

O Here, dit kan nie wees nie! Is hierdie vrou die een wat my en Bert se huwelik geskaad het? Is hierdie kind, Bert se kind?

Ek kyk terug na die dogtertjie op die bed. Sy kyk met groot, potblou ogies na my en hou haar hand na my toe uit. Ek aarsel ’n oomblik voordat ek dit neem.

“Moenie bang wees nie Tannie. Mamma sê Liewe Jesus het ons storie l-a-a-a-nkal geskryf. Hy sal by my én Tannie wees,” kom dit van die sesjarige dogtertjie.

Haar onskuld en Madelein se weerloosheid is in konflik met die rou emosies wat ek probeer verwerk. Ek gee Zabeth se hand ’n stewige drukkie toe die suster my ontbied en ek na my hospitaalkamer geneem word.

“Suster, weet jy of geboortevlekke oorerflik is?” skraap ek genoeg moed bymekaar en stel die vraag wat aan my binneste vreet.
“Dit is. Gewoonlik van pa na dogter of ma na seun,” antwoord sy afwesig terwyl sy voortgaan om die drip in my arm te sit.

Dan is dit so? Skenk ek my nier aan Bert se dogtertjie, wat gebore is uit sy huweliksverraad?

“Here, gee my krag,” bid ek woordeloos en voel weer die skreiende pyn soos op die dag wat hy sy buite-egtelike verhouding aan my beken het.

“…Liewe Jesus het ons storie l-a-a-a-nkal geskryf…” eggo Zabeth se woorde weer in my ore.

“Is ons pasiënt gereed? Dis tyd om teater toe te gaan,” sê die portier as hy die kamer binnekom.

“Sy is,” sê die suster en maak die bed se remme los.

Ek maak my oë toe.

Dit is ure later.

Madelein staan langs my bed. Haar oë is rooi gehuil. “Zabeth?” my stem klink vreemd in my ore. Madelein skud haar kop en sy sê snikkend: “On… ons… kleinding… is… sy… speel in die hemel se parkie.”

Ek voel hoe die trane by my ooghoeke opdam en hul paadjies tot in my hare vind. ’n Totale verlatenheid neem besit van my.

Twee weke later is daar ’n klop aan my woonsteldeur.

Ek loop versigtig, kyk deur die loergaatjie en sien Madelein se afgeremde gesig.

“Kom binne, Madelein,” nooi ek wanneer ek die deur oopmaak.

Sy stap kombuis toe en sit ’n gerf blomme in die wasbak neer, terwyl ek die ketel aanskakel.

Ons gaan sit met ons bekers koffie in die leefvertrek.

Madelein neem die raampie, met ’n foto van my en Bert daarin, wat op die tafeltjie langs haar stoel staan en sê: “Jy het geweet. Jy het geweet die oomblik toe jy Zabeth se geboortevlek sien en steeds het jy jou nier vir my en Bert se dogtertjie gegee?”

“Dit is die lewensverhaal wat die Vader vir my beplan het, Madelein. Dit is die onvoorwaardelike naasteliefde wat ek vir jare versaak het. Dit was tyd om na Hom te luister. Jou en Bert se dogtertjie het my daaraan herinner,” antwoord ek oortuigend, eerlik en uit my hart.

“Was dit naasteliefde toe ek jou man toegelaat het om my die hof te maak? Was dit naasteliefde toe ek in ’n oomblik van swakheid my oorgegee het aan wellus?” vra Madelein terwyl die trane van selfveragting oor haar wange stroom.

Ek sit my koffiebeker op die kanttafeltjie neer en gaan sit langs haar op die bank. Met ’n besliste beweging neem ek haar hand in albei myne en sê: “Nee Madelein, dit was versoeking, maar die blote feit dat jy nou hiér is en berou het oor wat jy gedoen het, midde-in jou hartseerstryd, dít is naasteliefde.”

© Retha van Deventer, 26 Januarie 2025.

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Koos Elsum het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak