Jy moet lekker verjaar, ou maat
Verjaardae is groot gebeurtenisse in die Vystaat, veral omdat die meeste kinders op dieselfde dag wat hulle gebore is, verjaar. Dit gebeur elke jaar in die Vrystaat, sonder uitsondering, maar die meeste kinders en diere raak gou-gou gewoond daaraan. Alhoewel die Vrystaat ‘n baie besondere habitat het, met vriendelike, goedgemanierde inwoners, is dit nie al plek in die wêreld waar die kinders op hul geboortedatums verjaar nie. Dit gebeur ook in ander lande, soos Fiji, Rusland, Venezuela, Ysland en Panama. Ook in die Vrystaat, waar dit kan gebeur dat diere en mense op dieselfde dag verjaar.
Geronkie die donkie is een van die Vrystaat se beroemdste inwoners en hy verjaar ook op sy geboortedag, hoewel hy nie altyd baie gelukkig is as hy moet verjaar nie. As verjaardae in die Vrystaat nie verpligtend was nie, sou Geronkie nooit verjaar het nie.
Hier begin ons storie.
“Geronkie, verbeel ek my, of verjaar jy een van die dae?” vra Mossieman skoorvoetend en rol ʼn denkbeeldige dennebolletjie op sy tak met sy poot weg.
Geronkie skud sy kop heftig heen en weer. “Nee, nie ek nie, Mossieman. Ek het ophou verjaar.”
“Ophou verjaar? Dis mossie moontlik nie!”
“Regtig, ek gaan nie meer verjaar nie. Ek het klaar verjaar.”
“Maar waarom? Verjaardae is prettig! Almal wens jou geluk en jy kry baie persente by jou ma en pa en jou vriende.”
“Dit is omdat ek bietjie mismoedig raak op my verjaardag, Mossieman, kyk hoe hang my ore. Ek het uitgevind dat jy baie ouer word as jy verjaar.”
“Dit is waar ja,” praat Mossieman vir Geronkie bietjie moed in, “maar jy word net met een jaar op ‘n slag ouer.”
“Ek het gehoor dat party mense en diere twee jaar ouer word, as hulle verjaar.”
“Net tweelinge, Geronkie, hulle word dubbeld so oud. En drielinge, wat drie jaar ouer word. As jy vier word, hou jy op met verjaar, want dan is jy amper oud genoeg.”
“O!”
“Jy kan dit nie vermy nie, Geronkie. Verjaardae is onafwendbaar en verpligtend. As jy verjaar, dan word jy ouer. Dit is nou maar eenmal die wet van Transvaal.”
“Maar ons bly dan in die Vrystaat. Dit is nie hoe dinge hier rond werk nie.”
“Hmm…ja… Maar die wet van Transvaal geld ook oorkant die Sandrivier, in die Oranje Vrystaat.”
“As ek dus besluit om nie te verjaar nie, dan word ek nie ouer nie,” sê Geronkie vasbeslote. “Ek gaan nie meer verjaar nie.”
Mossieman kyk na Geronkie se hangore en kry hom baie jammer. Diè twee is al van geboorte af boesemvriende en daarom hou Mossieman nie daarvan as Geronkie treurig is nie. Mens kan sommer sien as ‘n donkie treurig is, want altwee sy donkie-ore èn sy stert hang half-mas. ‘Maar ek het ʼn blink plan,’ dink Mossieman. ‘Ek gaan vir Geronkie ʼn verrassingspartytjie reël en al die diere van die Vystaat uitnooi. Dit moet ʼn groot verrassing wees. Geronkie moet nie daarvan weet nie en ek sal al die reëlings in die geheim moet tref.’
Mossieman spring aan die werk en organiseer links en regs aan die partytjie. Eers bel hy ‘n park in die Kalahari en bespreek die Gemsbok-orkes – dieselfde orkes wat die Kalahari Gemsbokpark wêreldberoemd gemaak het. Toe reël Mossieman ‘n groepie pienk flaminke om saam met die orkes te dans. Flaminke dans meesal die flamingo wat hulle in Argentinië aangeleer het en nou in die Vrystaat dans. En toe die sangers en sangeresse. Niemand sing en fluit beter as voëltjies nie en Mossieman, omdat hy self een van hulle is, ken almal in die Vrystaat wat mooi kan sing. Die meeste voëltjies sing soos nagtegale, behalwe Oupa Uil, wat soos ‘n uil sing.
Kierts-karts, woerts-warts het Mossieman die hele lotjie gereël en geoganiseer, gereed vir Geronkie se groot verjaardag-konsert onder ‘n groot ou populierboom op die walle van magtige Sandrivier wat middeldeur die hele Vrystaat vloei. Maar dit is nie al nie. Mossieman het ook ʼn paar kanaal-apies, wat daaraan gewoond is om mense strepe te trek, aangesê om ʼn tamaaie sjokkelade poetskoek vir Geronkie te bak. Woerts-warts het die apies al die bestanddele bymekaargemaak, die koek gemeng en binne-in ʼn ou miershoop gesit om lekker in die Vrystaatse son te bak.
Toe die groot dag aanbreek, die dag waarop Geronkie moet verjaar, drom swetterjoele diere al van vroegdag af op die walle van die Sandrivier saam. Daar is miljoene diere van elke kleur en geur, groottes en kleintjies, mooies en lelikes, party wat brom en ander wat grom.
‘Kyk net, Mossieman!” stamp Mys die Muis aan Mossieman se vlerk. Mys en Mossieman, met Spinnie Spinnekop en Japie die kanaal-apie langs hulle, sit bo-op Ollie Olifant se tamaai kop sodat hulle alles mooi en duidelik kan sien. “Ek het in my lewe nog nooit so baie diere bymekaar gesien nie. Kyk daar! Ek sien luiperde, fluksperde en kameelperde, sywurms en olifante, kokketiele en krokodille, blesbokke en seekoeie en baie verkleurmannetjies! En almal het persente en geskenke vir Geronkie gebring!”
“Bring die verjaardagkoek,” beveel Mossieman en trots bring die apies die koek uit die ou miershoop tevoorskyn. “Almal gereed? Is julle almal reg vir die groot oomblik?” Die diere klap hulle pote en maak groot geraas, in afwagting vir die partytjie om te begin. Al wat kort is Geronkie die donkie, die eregas.
“Gaan haal vir Geronkie,” gee Mossieman aan twee muile en drie eseltjies opdrag. Hulle draf fluks om die hoekie om vir Geronkie te gaan haal en kort voor lank maak Geronkie sy dramatiese opwagting. Statig en belangrik stap hy deur die erewag wat die diere onder die populierboom vir hom vorm.
“Speel die orkes!” beveel Mossieman en die Kalahari Gemsbok-orkes trek met mening los met ‘Geluk liewe maatjie, Geronkie, omdat jy verjaar. Mag die Here jou seën en nog baie donkiejare spaar.’ Ten spyte daarvan dat hulle bietjie vals sing, trek al die diere van die bos los en sing lustig saam om vir Geronkie geluk te wens met sy verjaardag.
“Dans die dansers!” Die flaminke staan flink in gelid en begin toe stadig met hulle vlerke waai, elegant en pragtig, van links na regs, op en af. Die flaminke dans só mooi dat al die ander diere begin saamdans, selfs die vlakvarke en ʼn verdwaalde seekoei.
“Hulle dans soos klaredyne,” fluister Spinnie Spinnekop bewonderend vir Mossieman en sy klap haar pote van opgewondenheid. Geronkie is beïndruk toe die nagtegale-koor begin sing en die duiwe koer. En toe word die partytjie lekker. Die apies gebruik een van die swaardvisse uit die magtige Sandrivier om die groot verjaardagkoek middeldeur te sny en vir elke dier ʼn stukkie te gee. Selfs die kleinste insekkie kry ʼn krummel. Almal smul en sing en dans dat die biesies bewe en die kranse antwoord gee. Dit is die grootste en lekkerste verjaardagpartytjie wat die Vrystaat nog ooit gesien het – Geronkie die donkie blom van oor tot oor.
“Baie dankie, almal, elke dier en gogga en vis en insek van die hele Vrystaat! Baie dankie dat julle vir my ʼn verjaardagpartytjie gereël het. Dit was die beste verjaardagpartytjie ooit en baie dankie Mossieman dat jy alles georganiseer het.”
Geronkie kyk om hom rond en sien al die diere saam met wie hy in die kleuterskool was. Daarnà in Graad Een in Virgnia Volkskool, toe Goudveld Hoërskool en later hul studentedae by Kovsies. Almal glimlag vir hom en wys duime en vlerke en pote boëntoe om vir hom te wys hulle is sy vriende en dat hulle omgee vir hom, al is hy ʼn donkie. Geronkie raak bietjie bewoë en besef dat hy ‘n baie bevoorregte donkie is, om so baie vriende te hê wat vir hom ‘n verjaardagpartytjie reël. Toe sien hy ‘n hele hoop geskenke en persente wat die diere vir hom gebring het, onder die populierboom. Skaapappeltjies en pere, wortels van Welkom, baie mielies uit Bothaville, turksvye en katobas uit Virginia en kersies van Ficksburg af.
“Verjaardae is spesiaal vir almal wat gebore is,” maak Geronkie sy afsluitingstoespraak. “Maar verjaardae is bowenal vir vriende en familie. Al die diere van die Vrystaat is my vriende en familie, ek is lief vir julle. Baie dankie dat julle gekom het. Ek besef nou dat verjaardae baie lekker is en weet julle wat?”
“Nee, Geronkie! Wat?” koor al die diere terwyl hulle die laaste stukkie koek en krummels opeët.
“Sien julle volgende jaar, want dan verjaar ek weer!”