Kinders moet kaalvoet loop
My ma Babs, Renè en Lindi se ouma, het elke kind in Aberdeenstraat, Virginia geken. En elke ma en pa, tannie, oom, elke hond, blaar en blom. Sy was die beste netwerker in die Vrystaat, maar kon ‘n stewige pakslae met ‘n lag en traan uitdeel totdat ek besef het daar is regte en verkeerde maniere om dinge in die lewe te doen. En dit berus op wysheid.
Maar hoe leer jy jou kind om te onderskei tussen reg en verkeerd, om te help met stoele wegpak nà Kinderkrans, om die Bybel te lees in plaas van Mein Kampf of Karl Marx se Das Kapital? Of moet ons juis ons kinders aanmoedig, soos my pa Kobus met my gemaak het, om Leon Uris, Gore Vidal, Herman Wouk, Adolf Hitler, Marx en Engels, Leipoldt, FA Venter, Langenhoven, David Ben Gurion en dertig ander skrywers te lees. “Jy is in Standerd agt, oud genoeg, lees, anders gaan jy nooit verstaan hoe die wêreld werk nie.” Elke ouer se wens vir hul kind is om min of meer ‘n geletterde, gebalanseerde grootmens te word sonder om in die tronk te beland, op veertien jaar betraand te bieg dat sy ‘n baba verwag, op sestien tydens ‘n laat aand met hoërskoolvriende dwelms gebruik (“net om te voel hoe voel dit, ma”), òf om nà matriek vir jare doelloos deur die lewe rond te dwaal.
Kinders moet kaalvoet loop, speel en swem en boomklim, maar ook lees en ondervind en ondersoek en ontdek sodat hulle darem een of ander verwysingsraamwerk het om ‘n lewens- en wêreldbeskouing mee te vorm. En hoe doen jy dit as jy niks weet nie, òf dink kennis kom uit Google of ‘n XBOX?
Christen ouers in Suid-Afrika het die moelikste taak van almal. Die land is nà apartheid in ‘n politieke gemors van korrupsie, wanbestuur, morele verval en misdaad. Elke ouer wat die beste toekoms vir hul spruite en nageslag hoop, se ergste nagmerrie. Hoe bly ‘n kind normaal, gebalanseerd, ingelig en toegerus om die toekoms aan te pak sonder om rigting te verloor, ‘n kommunis te word en ‘n Christen te bly wat weet hoe om geld te maak om selfversorgend te wees? Hoe gaan hy of sy weet wie Langenhoven was, Danie Theron, Barry Hertzog, DF Malan en Eugene Marais, Herman Charles Bosman of Frederik van Zyl Slabbert? Vra jy vandag se Afrikaansprekende kinders wie AG Visser, Uys Krige, Adam Smal, SV Petersen, Opperman, Totius, Boerneef of Eitemal was, dink hulle jy is mal. Hoe Afrikaners van 1899-1902 vir hulle land moes veg en dit toe deur ‘n volksmoord verloor het, hoe om sinvol in ‘n land met ‘n Swart meerderheid en Blanke minderheid produktief te bestaan sonder om kwaad en opstandig te word en dan tasse te pak om onthuts Australië toe te emigreer?
Die sleutel lê in die opvoeding van jou eie kind. Skole en kerke en portuurgroepe speel ‘n marginale rol as dit kom by metodes om jou kind vir die toekoms voor te berei. Dit is jou verantwoordelikheid om te voorkom dat jou kind Amerikaanse aktrise-sothede uit Huisgenoot by ‘n ambassade kelkie kwytraak en nog nooit ‘n pragtige gedig van NP van Wyk Louw of Joan Hambidge of Daniël Hugo gelees het nie. Afrikaners is nie net plesierig nie, ons is ook oningelig, polities naïef, kultureel bekrompe en dwergies wanner dit by ons kinders en nageslag se lewens- en wêreldbeskouing kom. My filosofiese helde is baie, Uilspieël, Inspekteur Clouseau, Don Quixote, Jean-Jacques R, Hegel, Kant, Kierkegaard, miskien Paulo Coelho – die skool of universiteit het dit nie vir my geleer nie, ek moes self uitvind.
‘n Afrikaanse ouer vra my nou-die-anner-dag wie Langenhoven was – ek moes vir my ‘n beker boeretroos gaan maak om te herstel. Ek wou hom eers antwoord dat Langenhoven vleuel speel vir Vrystaat, want daarvan weet hy baie, maar byt my tong net betyds. “My volk gaan te gronde as gevolg van ‘n gebrek aan kennis,” treur Hosèa êrens in die Bybel (dink ses).
Nee my maat, ons volk gaan ten gronde omdat ons Frengels praat en nie lees nie.