die arm man se ooitjie
DIE ARM MAN SE OOITJIE
Op die dak tuin van sy paleis het hy uitgestap
Dawid, man na God se hart,
koning van Israel.
Die aandlug
soel,
gevul met die soet geur van jasmyn.
Met trotse oë
staar hy oor sy koninkryk.
Dan gewaar hy haar
tussen die varings en nardusplante
agter die hisoptakke,
nouliks sigbaar.
Sy was naak,
beeldskoon, slank, verruklik mooi,
besig om te bad
– die ooitjie, in die arm man se kraal.
Bykans onhoorbaar sê-vra, hy vir homself:
“ek is mos koning, énigiets is my ge-oorloof?”
sy oë, gevul met onuitblusbare
wellus en begeerte
ontbied hy haar –
enigste ooitjie
vanuit die arm man se kraal.
In hul erotiese passiespel
streel hy met sy vingers
oor haar naakte liggaam
soos oor die snare van ‘n harp
saam jaag hul asems
stomend, hygend
soos vurige perde voor ‘n oorlogswag
word hul in toonhoogtes van erotiese hartstog
weggevoer.
Terug in haar arm man se kraal
het Dawid ‘n stryd met onrus en skulgevoelens
gevoer,
haar man uit die slagveld laat kom
om by die enigste ooitjie
in sy ”kudde”, te kan kom.
Na vele dae
laat weet sy die koning dat daar lewe
in haar is
in ongeloof en skok, het die koning hom bevind,
die arm man se ooitjie, dra sy kind.
Hy laat haar man in skermutseling
op die slagveld sterf,
en neem sy enigste ooitjie
in sy koninklike kudde op.
Net toe Dawid van die insident vergeet
kom god se profeet
by hom
en vertel vir hom:
“daar was ‘n ryk man wat baie skape in sy kudde gehad het;
daar was ‘n arm man wat net één ooitjie gehad het;
toe slag die ryk man die arm man se enigste ooitjie,
en lê dit as ‘n feesmaal aan sy gaste voor.”
Hierop het die koning woedend geantwoord:
” Só man moet sekerlik sterwe!”
verdoemend was die profeet se woorde:
“Ja, o grote koning, maar u is dáárdie man,
omdat u dít gedoen het, sal die swaard
vir ewig oor u kudde hang.
Die kind wat u by die arm man se ooitjie verwek het
sal sekerlik sterwe”
Hartseer, en in rou
het die koning neergesak,
in sak en as.
Dawid se dienaars het onder mekaar gefluiter:
“die kind is dood”
hy het reeds geweet,
God het woord gehou.
Uit sy sak en as van rou,
het Dawid opgestaan
die arm man se enigste ooitjie
vertroostend,
stewig in sy arms vasgehou.
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.