Jongste aktiwiteit:

Die man met die ligblou oe. Episode 2 deel 1

Die man met die ligbou oë
Episode 2 – deel 1

Daniel kyk stip na die skerm. Verskeie fotos van ‘n pragtige jong blondine verskyn , hulle oorvleuel mekaar op plekke. Hy draai terug na die Kolonel en maak die legger wat voor hom lê oop. “Jorike Gunther” begin die Kolonel die inligtingsessie, “dogter van Gustav Gunther, Duitse mynmagnaat woonagtig beide in Berlyn en Pretoria. Myne in Limpopo sowel as diamant besigheidsbelange aan die Namibiese kus. Jorike is 26, en was laas gesien in ‘n nagklub in Pretoria Oos, The Place, op 27 Desember. Haar vriende en metgeselle is reeds ondervra, jy sal hul verklarings in die legger vind, fotos, adresse, name, nommers en dies meer. Ons het reeds voelers uitgesit en ‘n paar informante ondervra. Daar steek miskien iets in The Place, want daar is ‘n element van subversie en onderduimsheid by die bestuurder opgemerk. Hy was ook baie verwaand by sy ondervraging. Niemand het nog verantwoordelikheid aanvaar of ‘n losprys geëis nie, dit lyk soos ‘n ontvoering vir sekshandel en die verkoop van mense, miskien selfs liggaamsdele of iets dergeliks. Dit is jou taak om Jorike te vind, die bevel kom van bo, hoog bo. Die media is heeltemal uitgesluit en die hele situasie is baie sensitief. Geen woord hiervan mag na buite gaan nie. Gustav Gunther het ‘n beloning van vyf miljoen dollar uitgeloof vir die veilige redding van sy dogter. Die Direkteur en die Minister het dit goedgekeur, jy is ons beste agent, so die taak is joune, nie eers NI of die Valke is bewus van die situasie nie. Alhoewel jy alleen is, is die volle ondersteuning van G1 daar vir jou, enige toerusting of agente kan jy gebruik, sowel as ko-ordinering deur myself vanaf hierdie Opskamer indien jy dit benodig. Enige vrae” “Nee, dankie Kolonel, ek sal in kontak wees” is al wat Daniel sê terwyl hy opstaan en met die leër onder sy arm by die Opskamer uit stap na sy bakkie toe. Die Kolonel skakel ‘n snelnommer op sy selfoon “Ops Jupiter is aan” rapporteer hy en skakel weer af.

Daniel ry direk na The Place en parkeer aan die agterkant van die drieverdieping gebou. Hy haal ‘n foto van Jorike uit die leër en vou dit in sy baadjiesak in, dan stap hy die klub binne. Dit is 23h40 en die musiek is oorverdowend hard. Dit pols tesame met die ritme van flitsene ligte en die sowat tweeduisend mense op die dansvloer wieg soos ‘n see op die dreunende bas klanke. Daniel maak sy pad na die kroeg. Hy trek die aandag van die rastafariese kroegman en bestel met gebare ‘n bier. Die bottel is koud en geen glas word geoffer nie. Hy wys die rasta die foto van Jorike, maar dié skud net sy lokke en draai weg met sy handpalms in die lug. Daniel beweeg deur die massa na ‘n area met tafels en banke. Hier staan hy ‘n oomblik en beskou die toneel, dan kies hy rigting na ‘n groot skuifdeur wat na ‘n stoep lei. Daar sit heelwat jongmense op bankies en stoele op die stoep, party staan sommer rond. Die soet reuk van Turkse hubbly-bubbly rook hang soos ‘n gordyn oor die area.
Langs die deur merk hy een van Jorike se vriendinne, die gekleurde rooi hare en groen mascara presies soos op haar foto in die leër. Hy gaan staan langs haar, glimlag en kyk direk in haar oë. “Kan ons gou gesels?” skree-vra hy bo die musiekgedreun, “oor Jorike en die aand toe sy verdwyn het.” Die rooikop kyk hom vraend aan, maar word weer vasgevang deur sy ligblou oë. “Okay” sê sy met ‘n sug en heelwat handgebare, “ek’t alreeds alles vertel. Ons was hier, sy was badkamer toe, sy het nie teruggekom nie, ek’t gedink sy het ‘n lift gekry, en dis al”. “Dankie” sê Daniel met ‘n ligte glimlag, “sê my, waar is die badkamer?” “Soontoe!” beduie sy en kyk af. Daniel draai om en stap in die aangeduide rigting. Na ‘n paar tree kyk hy om, net om te sien hoe die rooikoppie haar selfoon uithaal, ‘n nommer skakel en dan met iemand praat en in die rigting van die badkamer beduie.

Die badkamers is unisex, daar is gemors oral op die nat vloer. Dit ruik na pis en kots. ‘n Half besope knaap in ‘n te-groot leer baadjie staan kop omlaag by ‘n wasbak en probeer sy hare reg druk terwyl hy in ‘n gebreekte spieël kyk. Daniel draai om. Buite is ‘n swart deur met rooi letters daarop, “Private, Staff Only”, hy draai die handvatsel en begin die deur oop stoot.

Skielik vat ‘n swaar hand hom aan die skouer en trek hom terug. “Kan jy nie lees nie?” vra die uitsmyter, “Staff only, en jy is nie staff nie”. Daniel sien daar is twee van hulle, enorme manne in swart pakke, gereed en gewillig om pyn uit te deel. Daniel reageer instiktief. Met die vingers van sy regterhand na bo gestek stamp hy die man hard op sy midrif. Hy hoor hoe die asem uit sy longe gestamp word en die man steier agteruit teen die muur, sy gesig skielik bleek, sy oë groot gerek in die dowwe lig. Die tweede uitsmyter is vinnig op hom en trek hom in die badkamer is. Die knaap by die spieël word gestamp en besluit om terug te stamp. Die uitsmyter gooi ‘n harde klap teen leerbaadjie se kop, en dit is juis die oomblik waarop Daniel wag. Hy trap met die buitekant van sy regtervoet teen die binnekant van die uitsmyter se linkernknie en toe die man in pyn skree en op sy knie neersak lig Daniel sy regtervuis hoog teen sy skouer. Hy slaan die man net agter sy linkeroog, op die sagte deel van die skedel. Die man sak met ‘n snork inmekaar en bly doodstil lê. Daniel draai net betyds om te sien hoe uitsmyter nommer een hom vanaf die deur bestorm.

Daniel gryp die man en gebruik sy momentum om hom deur ‘n toiletafskorting te stamp en terselfdetyd pootjie hy hom dat hy met sy kop tussen die muur en die toiletbak beland. Voordat die man kan opstaan gryp Daniel die toiletbak se porselein deksel en slaan dit stukkend oor sy kop. Die man bly bewusteloos daar lê, sy een arm oor die toilet, sy gesig in die nat gemors op die vloer, porselien stukke oral.Leerbaadjie dans en swaai arms soos ‘n wafferse bokser. Daniel beweeg vinnig by die badkamer uit, smelt in die skare in en maak sy pad tot by die uitgang.Hy gaan klim in sy bakkie en besluit om te wag en te kyk.

Om 02h20 kom die rooikop half wankelrig op haar hoë hakke na haar motor aangestap. Toe sy die sleutel in die deur steek druk Daniel sy 9mm in haar rug. “Stilbly poppie,” sis hy, “klim in en skuif oor” beveel hy en maak seker sy kan die pistool in sy hand sien. Die meisie se skrik laat haar vir ‘n oomblik verstar, maar dan maak sy presies soos hy sê. Daniel klim agter haar by die bestuurder se sitplek in. “Selfoon!” beveel hy en hou sy hand uit. Sy handig sonder ‘n woord haar foon aan hom oor en hy druk dit in sy sak. “Jy weet baie meer as wat jy voorgee” sê hy en druk die pistool onder haar ken. “Praat nou, wie het haar gevat?”

“Ek weet nie…die uitsmyters, ek weet nie wie nie…hulle gaan my seermaak as ek iets sê…hulle…” en met dit begin sy huil. “Wie?” vra Daniel weer en druk die pistool harder teen haar ken, “Gee my ‘n naam!” Sy kyk met tranerige oë in sy ligblou oë en prewel dan “Jonathan, Jonathan Davids, die eienaar, praat met hom, ek weet niks verder nie” en dan begin sy vreeslik snik. Daniel klim uit en stap na sy bakkie. Oppad kyk hy na die laaste nommers wat die rooikop meisie geskakel het. 00h06 Derek TP en 00h07 David TP. Dan soek hy die nommer van Jonathan Davids, tik dit in sy eie foon, haal die simkaart en battery uit die rooikop se foon en gooi die stukke op die grond. Die simkaart vou hy tussen sy vingers stukkend en ry by die parkeerplek uit.

By die woonstel wat hy en Susan nou deel, sit hy in die sitkamer. Die woonstel is op die sesde vloer van ‘n gebou en Susan is vir ‘n paar dae by ‘n vriendin. Dit is 07h00 in die oggend en Daniel hoop Jonathan Davids is gereed vir ‘n oproep.

(word vervolg)

© Grootvissie
Januarie 2018




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed