Jongste aktiwiteit:

Die ontmoeting

Die ontmoeting

Mense wat hom nou op straat sien, sou nooit kon glo dat Salmon Verster ‘n raps meer as agt jaar gelede ‘n gesiene man was nie. Met ‘n Doktorsgraad in die Ekonomie het hy ‘n senior pos in ‘n gerekende maatskappy beklee. Sy huwelik was gelukkig. Sy kinders was goeie presteerders in goeie skole; sy oudste was op universiteit. Die kenteken op sy Duitse motor, en die huis in Midlands Estate het welvaart gespel. Hy was voorsitter van ‘n paar organisasies. Hy was wat ‘n mens sou kon noem “ ‘n gerespekteerde man”. Oënskynlik was hy op ‘n gelukkige plek in sy lewe.

Die doelgerigtheid wat sy lewe gekenmerk het, het nou plek gemaak vir doelloosheid. Sy snyerspakke het hy verruil vir ‘n verslete denim met ‘n los T-hemp. Sy leerskoene is deur tekkies vervang wat twee nommers te groot is. Hy het die punte bietjie opgestop met stukkies koerant. Sy tuinier van lank terug het eendag, toe hy vir hom ‘n paar ou skoene gegee het, aan hom gesê: “swaarkry hy ken nie size nie, Nkamula.” Vandag weet hy hoe dit voel. Die aktetas van egte buffelleer is vervang met ‘n ou sportsak. Daarin is sy hele lewe. As hy sy besittings sou uitpak, sal daar ‘n skeersakkie wees met ‘n stukkie seep, ‘n kam, tandeborsel en ‘n klein buisie tandepasta daarin. Daar sal ‘n ou handdoek ook in wees, asook ‘n verkreukelde denim, ‘n ekstra paar sokkies en nog ‘n verblykte T-hemp. In ‘n aparte sakkie is ‘n voos Bybeltjie met foto’s van sy kinders. Hy het die sakkie eenkeer gekry terwyl hy saam met ander makkers op Waterklooflughawe gewag het vir die Flossie wat hulle Grens toe moes vat. Oorlog toe. Die foto’s het hy in die Bybel gebêre saam met ‘n foto van sy vrou. Op die foto’s is sy kinders nog klein en sy vrou baie jonk. Sy vrou se foto het hy intussen weggegooi. Sy kombers word elke oggend uitgeskud en opgerol. Daarna word dit met ‘n tou vasgemaak en saam met die verweerde sportsak oor sy skouer gegooi. Dit wat hy sy eie kan noem; die somtotaal van sy lewe, dit dra hy elke dag saam waar hy ookal mag gaan.

Sy dag bestaan daaruit om iewers by ‘n straathoek of ‘n verkeerslig te staan en bedel. Sy bondel is nooit ver van hom af nie. Soms is hy gelukkig en kry hy genoeg om iets te koop om te eet. Ander kere moet hy wag tot die volgende dag om genoeg bymekaar te kry vir een maaltyd. Die ontbering wys aan sy lyf. Voorheen was hy gereeld in ‘n gimnasium waar hy die oortollige rolletjies afgeskud het. Hy het ‘n gespierde lyf gehad. Nou is hy maer. Sy wangbene wys en sy oë is half versonke. Sy hare is dof. Daar is nie geld vir opknappers en duur sjampoe nie; trouens, met die stukkie seep in sy skeersakkie moet hy alles was wanneer hy ‘n geleentheid kry. Sy klere, sy lyf en hare. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ‘n skeermes in sy hande gehou het nie, om nie eens te praat van iets soos reukweerder nie. Kos in die maag is belangriker as ‘n skeermes of self reukweerder onder die arms.

Hy was vanoggend baie gelukkig. By die ingang van ‘n supermark het hy ‘n jongman met ‘n netjies geknipte kort baard en ‘n moderne haarstyl voorgekeer en gevra vir geld om kos te koop. Vir ‘n vlietende sekonde het die man vir hom half bekend gelyk. Die man het hom ‘n paar tellings woordeloos aangekyk en gesê hy moet daar wag terwyl hy vir hom sou gaan kos koop. Hy het nie veel hoop gehad dat die man wel vir hom iets te ete sou bring nie, want meeste mense sê maar net so om hom uit die pad te kry. Toe die man egter terugkom, was daar ‘n inkopiesak in sy hand. Hy kon sien dat daar nogal heelwat in die sak was. Hy het gedink dat die man net een of twee items sou uithaal om vir hom te gee. Die res sou hy vir homself hou. So het hy gedink. Groot was sy verbasing egter toe die man die hele sak net so vir hom gee. Die man het vinnig omgedraai en weggeloop. Hoekom wil daar ‘n bekendheid aan die jongman wees? Het hy hom dalk al in die agt jaar wat hy op straat is iewers raakloop? Party mense se gesigte onthou jy al het jy hulle nog net een keer vantevore gesien. Die meeste ander vergeet jy onmiddelik nadat jy hulle gesien het.

Tydsaam loop hy die drie blokke tot by die park wat nie ver van die middestad af is nie. Hoekom moet hy haastig wees? Hy het immers die hele dag voor hom. Onder ‘n groot boom, aan die kant van die park, gaan hy op die gras sit. Hy maak die sak oop en kyk deur die inhoud. Hy sien ‘n brood, ‘n blikkie koeldrank, ‘n bakkie met pap en vleis. Hy sien selfs ‘n paar toiletbenodigdhede: seep, tandepasta, sjampoe en ‘n klein pakkie seep om sy klere te was. Daar is selfs ‘n kannetjie reukweerder ook in. Versigtig pak hy alles in sy sportsak. Die brood los hy in die plastieksak. Die pap en vleis eet hy dadelik op. Hy lyk amper gulsig terwyl hy eet. Hoe lank gelede was dit wat hy laas ‘n stukkie vleis kon koop? Twee weke? Dalk drie? Hy kan nie onthou nie, want dis nie meer belangrik om te onthou nie. Hoekom moet hy? Vir wat en vir wie? ‘n Gevoel van verbittering wel weer in hom op. Hoeveel keer het hy nie al gewens om een koue wintersnag aan die slaap te kon raak en om nooit weer wakker te word nie.

Nadat hy geëet het, het hy nog ‘n hele ruk in die park verwyl; versonke in sy gedagtes. Toe het hy tydsaam opgestaan, sy bondel bymekaar gemaak en by die ander uitgang aan die noordekant van die park uitgegaan. Twee blokke verder sien hy die kerkgebou tussen pers Jakaranda’s. Soms is die deure oop, ander kere is die deure toe. Hy hou daarvan om in die grootsheid en stilte van die gebou net te sit en oor alles te dink. Soms bid hy. Soms sit hy maar net. Vandag is daar egter drif in sy gemoed. Sonder om mooi te kyk stap hy oor die straat. Hy ruk toe hy die gegil van bande op teer hoor. Vinnig spring hy terug en voel hoe sy bondel van sy skouer afgly. Terwyl hy val, probeer hy nog om sy bondel te red. Hy moet hulpeloos toekyk hoe die dubbelkajuitbakkie oor sy bondel ry en dan tot stilstand kom. ‘n Jongman sit met sy gesig in sy hande agter die stuur. Die enjin luier sag. Salmon kruip vinnig na die bakkie toe, gryp sy bondel – of wat daarvan oorgebly het – onder die bakkie uit en staan dan strammerig op. Hy beweeg agter die bakkie om en stap oor die straat. By die gegote ysterhek gaan hy in en sien tot sy verligting dat die kerkgebou se groot dubbeldeure oop is. Die son skyn skerp en helder by die groot deure in.

Soos gewoonlik gaan sit hy in een van die agterste banke. Rustig kyk hy na die tonele van gebrandskilderde glas. Die spel van die son se strale deur die glas fassineer hom soos altyd. Hy maak die kantsakkie op sy verrinneweerde rugsak oop en haal die Bybeltjie uit. Stil sit hy en kyk na die foto’s van sy kinders. Hy wonder waar hulle nou is; wat hulle doen. Toe staan hy op en stap vorentoe. Teen die muur hang ‘n kruis. ‘n Sagte lig skyn teen die gekapte stene op. Dit laat die kruis amper soos ‘n silhouette lyk. Hy vou sy hande in eerbied om die Bybeltjie. “Ek staan vanoggend hier en ek lyk soos ek lyk omdat die wêreld nie meer is wat hy behoort te wees nie,” begin hy in ‘n skor fluistering. Hy talm ‘n paar oomblikke om sy gedagtes agtermekaar te kry. “Dalk moet ek nie eers met U praat nie, maar aan die ander kant wil ek vanoggend hierdie goed vir U sê en dan ……. dan wil ek hier uitloop. Ek wil hier uitloop en nooit weer iets met U te doen hê nie. Ek wou U eintlik vanoggend kom vloek het soos wat kerkmense my vloek as ek sê ek is honger. Miskien sal U my dan laat sterf as ek U sou vloek. Hoekom moet ek nog glo? Kyk hier,” sê hy en hou die Bybeltjie in die rigting van die kruis. “Kyk hier. As ek vandag hier uitstap gaan ek hierdie Bybeltjie hier los. Dis al wat ek gevat het die dag toe ek by my huis uitgestap het. Die foto’s was maar nog altyd tussen die blaaie gebêre. Dis al wat ek het van ‘n lewe wat was. Net dit,” en hy skud die Bybeltjie om sy woorde te beklemtoon. “Elke dag het ek hieruit gelees. Elke dag. En ek het gebid.” Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy oë. Sy stem is net-net harder as ‘n fluistering as hy weer begin praat. “Ek het baie gebid Here. Daar waar niemand my kon sien nie het ek gebid anders het hulle my weggejaag en uitgeskel as ‘n dronklap. Kerkmense is soms harde mense, ja. Wat het dit vir my tot nou toe gehelp? Ek vra U; wat?! Het U my nooit gehoor nie? Wou U my nie hoor nie? Is ek dan so ‘n stuk gemors dat selfs U niks met my te doen wil hê nie?” Hy sit die Bybeltjie op ‘n klein tafeltjie neer. “Daardie dag toe ek by my huis uitgestap het met daardie Bybeltjie wat daar lê in my sak; daardie dag het daar net iets in my kop geknak. Iets het net padgegee. Ek is nie lui nie. Dis nie van luiheid dat ek is waar ek vandag is nie, Here. Dit weet U self. Dis mense; ja mense vir wie ek omgee ….. omgegee het …….. wat hy gemaak het wat ek vandag is. Ek wou my vrou daardie dag met ‘n bos blomme verras. Op die ingewing van die oomblik het ek al die blomme by ‘n blommeverkoper by die verkeerslig gekoop. Ek wou dit vir my vrou gaan gee. ‘Sy sou daarvan hou’ het ek gedink. Hulle het my nie in die middel van die dag by die huis verwag nie. Sy en die vreemde man op die sitkamer se mat! Sonder ‘n draad klere aan hulle lywe. Ek het die blomme op die mat neergegooi, omgedraai, en oppad deur toe daardie Bybeltjie op die boekrak gesien. Sonder om twee keer te dink het ek die Bybeltjie gevat en geloop. My kar het ek in die oprit gelos. My beursie; al my kaarte, alles het ek net so gelos. Ek het geloop en geloop. Ek het by die hekke van die Estate uitgeloop. Die res van daardie dag het ek geloop. Dit was asof ek van my kop wou afraak. Ek het nog altyd geglo dat ek iewers langs die pad weer vrede sou kon maak met myself en wat met my gebeur het. Ek het geglo dat dinge weer sal beter gaan; dat ek weer sal kan opstaan. Ek het altyd geglo dat ek weer eendag die samelewing in die oë kan kyk en sê ‘hier is ek!! Ek is terug!! Die lewe het my op ‘n hellepad laat loop, maar ek is met mag en mening terug!!’ Maar glo het my niks in die sak gebring nie. Geloof? Wat is geloof?”

Hy swaai verskrik om toe ‘n mansstem skielik agter hom praat. “Geloof is om te glo. En om te glo is om seker te wees van dinge wat jy nie kan sien nie.” Hy sien net ‘n silhouette teen die glans van die helder son wat by die deur inskyn. Die man kom rustig nader gestap.

“Wie is jy?” vra Salmon met sy hand voor sy gesig om die skerp son uit sy oë te hou. Die man ignoreer Salmon se vraag asof dit nooit gevra is nie. Hy stap tot naby Salmon. “Jy het vanoggend vir my kos gekoop,” sê Salmon toe hy die netjiese baard en die kortgeknipte haarstyl herken. “Hoe het jy my hier opgespoor?”
Jy het nie ver hiervandaan nie voor my bakkie ingeloop. As ek nie gerem het nie, was jy dalk nou dood. Ek het gesien toe jy by die hekke ingaan.”
“Hoe lank is jy al hier?” vra Salmon.
“ ‘n Hele rukkie,” antwoord die vreemdeling.
“En jy het my skaamteloos gestaan en afluister?!”
“Ek het gesit en luister. Ek kon nie help om te hoor nie.” Die vreemdeling gaan sit in die voorste bank. “Gaan jy regtig daardie Bybeltjie hier los? Gaan jy regtig die Here vloek en dan hier uitstap met die hoop dat hy jou daarvoor sal laat sterf?”
“Jy ken nie my storie nie,: sê Salmon. “Agt jaar; agt jaar en drie maande gelede het ek die pad gevat en ek kon nog nooit weer terugdraai nie. Agt jaar en drie maande.”
“Ek het gehoor van jou vrou en die vreemde man op die mat ja. Maar was dit nodig om so ‘n drastiese ding te doen deur die pad te vat en nie weer terug te gaan nie?”
Salmon sug. “Jy sal nie verstaan nie.”
“Ek verstaan dalk beter as wat jy dink.”
“Ek het haar liefgehad met alles in my. Alles. Ons het mekaar op universiteit ontmoet. Ek was besig met my nagraadse studies en sy was in haar finale jaar. Voor die biblioteek het sy gestruikel en geval. Ek het haar opgehelp. Ek het gehelp om haar boeke op te tel. Ek het in haar oë gekyk en geweet my vrou staan daar voor my. Ons het gaan koffie drink. Daar was nooit weer iemand anders nie. En toe dit. Sommer op die mat. My oudste kind was op universiteit. Sy naam is Nico. Die middelste een, Mathilda, in matriek en die laatlam, Bernard, in die laerskool. Kyk, hier is hulle op die foto. Dis geneem toe hulle nog baie klein was.” Hy hou die foto so dat die vreemdeling kan sien. Die man vat die foto en hou dit so dat die son van die deur se kant af daarop kan skyn. Lank en aandagtig kyk hy daarna.
“Hoekom het jy so lank gewag om met die Here te praat soos jy vandag met hom gepraat het?”
“Wat laat jou dink dis vandag die eerste keer? Weet jy hoeveel keer het ek uit daardie Bybeltjie gelees. Ek het antwoorde probeer soek. Ek het gebid. Ek het probeer glo! Antwoord dit jou vraag?”
“Nee,” sê die vreemdeling beslis, “glad nie. Ek het gevra hoekom jy so lank gevat het om so ‘n diep en ernstige gesprek met die Here te hê. Hoekom het jy gewag tot jy lyk soos jy vandag lyk?”
Salmon kyk af na die rugkant van sy hande. Dan draai hy hulle om sodat die palms bo is. Hy sien die lyne. Dan kyk hy die vreemdeling in die oë. “Ek skat ek het gedink ek was in beheer. Ek het gedink dat Hy net daar ver bestaan. Ek het gedink dat, iewers eendag, as die tyd reg is en ek dit reggekry het om hierdie ding wat my so opvreet te verwerk, sou ek weer die drade een vir een begin optel. Hoekom het alles dan net skielik op ‘n dag inmekaar getuimel? Alles. My hele bestaan!!”
“Het jy ooit weer met jou kinders kontak gemaak?”
“Nee,” sê Salmon, “hoe kon ek? Hoe kon ek hierdie ding aan hulle verduidelik as ek self nie eers die antwoorde gehad het nie?”
“Het jy nooit daaraan gedink dat hulle dalk beter sou verstaan as wat jy gedink het nie?”
“Hoekom vra jy my al hierdie vrae?” vra Salmon.
“Moenie my vraag ontwyk nie. Sê my eerlik; het jy ooit gedink waardeur jou kinders moes gaan?”
“Wie is jy vreemdeling? Wie is jy dat jy hier kan sit en vir my al hierdie vrae kan vra en dan te verwag dat ek elkeen moet antwoord soos jy dit wil hê?” vra Salmon amper ergerlik.
Die vreemdeling kyk na die lig in die gekleurde glas. “Ek wil hê dat jy saam met my na my huis toe moet gaan,” sê hy na ‘n rukkie. “Wat is jou naam?”
“Salmon.”
“En jou van?”
“Verster. Salmon Verster. Hoekom vra jy my al die goed?! Ek het nou al twee keer jou naam gevra, maar elke keer ontwyk jy my met ‘n teenvraag!”
“My naam is Nico. Nico Verster. Sal jy saam met my huistoe kom Pa? Ons soek al agt jaar na jou.”

©Herman du Plessis




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak