Jongste aktiwiteit:

Skenker

Skenker.
Herman du Plessis
Dis stil in die wagkamer. Die horlosie teen die muur wys dis tien oor drie. Ure het verby gegaan sedert hulle die tyding van die ongeluk die vorige aand gekry het. Dit voel asof die tyd vir hulle sedert die vorige aand gaan stilstaan het, maar in werklikheid het die wysers stadig en afgemete al in die rondte gedraai. Tien uur. Elf uur. Drie uur. Al in die rondte; al in die rondte. Onverbiddelik al in die rondte. Die man met die baard sit geboë met sy kop in sy hande. Sy andersins netjiese hare is deurmekaar. Die nag was lank. So, ontsettend, lank. Hy het nie eers gesien toe die son opgekom het nie. Die helder strale van die son kon nie tot in die donkerte van sy siel deurdring nie.
Hulle kind is breindood. Daar is geen breinfunksie meer nie. Die dokter het dit so pas vir die man met die baard en sy vrou gesê. Daar is niks wat hulle kan doen nie. Hulle het die stryd om ‘n lewe te red, verloor.
“Wil julle nie oorweeg om sy organe te skenk vir ander nie. Hy is jonk en sterk. Fiks. Sy longe is skoon. Hy het nie gerook nie. Daar is so baie daar buite wat wag op organe sodat hulle kan lewe. Asseblief, dink daaroor. Al sy organe is geskik vir oorplanting. Hy kan baie lewens red. Asseblief. Ons het nie baie tyd nie.”
Hoe hard kan die lewe soms nie wees nie.
Die man bid. Hy vra wat moet hulle doen. ‘n Traan rol teen sy wang af tot in sy baard, maar hy voel dit nie. Moet hulle toestemming gee dat die masjiene afgeskakel word? Is daar nie dalk iewers in die kompleksiteit van die brein nog ‘n sprankie lewe nie? Kan die God wat lewe skep dan nie ‘n lewe red nie? Die ouetehuise is vol mense wat uitsien daarna om te sterf. Nie net ouetehuise nie. Orals om hom hoor hy dat mense sê hulle is moeg van sukkel. Moeg van probleme met kinders. Moeg vir so baie goed. Hulle bid om nie die volgende dag wakker te word nie. Hoekom nie een van hulle nie? In die saal hier langsaan lê sy seun. Vol sprankelende jeug. Uitdagend energiek. ‘n Jong man met planne vir die toekoms. As hulle die masjiene afskakel, dan is dit vir altyd verby. Vrae. Keuses. Altyd keuses. Tussen reg en verkeerd. Een verkeerde keuse vandag en dis onherroepelik verby. Een verkeerde keuse en sy seun is dalk verstandelik gestrem vir die res van sy lewe. Of dalk sal hy nie wees nie! Wanneer hy bykom sal sy oë blink! Sal hy vra waar hy is! Hoe lank hy al so lê! Sal hy oor ‘n paar dae of weke ontslaan word en kan huistoe gaan! Here, watter kant toe??!! Hy besef dat daar vandag nie ‘n regte keuse is nie. Watter kant toe ookal; dit sal verkeerd wees.
Sy vrou staan voor die groot venster van die wagkamer. Sy staan met haar rug na haar man toe. Sy kan nie meer huil nie. Sy sien die helder water van die fontein wat omring is met roosbome wat wit in die blom staan. Voëls kom en gaan rondom die fontein. Water is lewe. So staan dit geskryf. “ ‘Ek is die water wat lewe gee. Wie daarvan drink sal in der ewigheid nie weer dors word nie.’ ‘Gee vir my van daardie water Meneer.’ ” Roosblare is ‘n teken van laaste afskeid; van erkenning dat ‘n lewe klaar geleef is. Rondom ‘n oop graf. Hoe ironies is die kombinasie nie? Water en rose. Hoekom dink sy nou aan ‘n graf? Sy ril. Haar kind lewe! Hy sal oor ‘n dag of wat sy oë oopmaak! Daardie diep, bruin oë wat so onnutsig kan blink! Deernisvolle oë. Oë wat skitter as hy lag. Wat soos weerligstrale kan skiet as hy kwaad is. Sy draai om en stap by haar man verby. Hy sit met sy kop in sy hande. Sy hare is deurmekaar. Sy weet hy bid. By die ingang na die intensiewe sorgeenheid spuit sy ontsmettingsmiddel op haar hande en arms. Sy vryf dit in en stap deur die groot deure. Die personeel laat haar begaan. Ander dae hou hulle streng by die voorgeskrewe besoektye. Vandag is hulle meer tegemoetkomend. Hulle voel haar pyn. Haar angs.
Sy staan langs sy bed. Hy lyk so weerloos op die wit lakens. Die respirator laat hom asemhaal. Die hartmonitor piep ‘n eentonige reëlmaat. Sy bloeddruk val en styg. Val, verder af, tel weer op. Sy wil hom optel soos toe hy klein was. Spoegies op die seer plekke smeer. Sy rooi borselkop streel. Hom troos. Sy steek haar hande onder die laken in. Voel aan sy voete. Hoekom is hulle so koud? Angs wel opnuut in haar op. Sy fluister by sy oor. Kyk of sy die geringste teken van lewe kan sien. Voel aan sy hand. Druk dit. Hoop sy kan ‘n klein, klein drukkie voel. Net iets wat wys dat hy nog lewe. Dat hy op ‘n manier bewus is van wat om hom aangaan. Die dokter het gesê hy kan baie lewens red. ‘n Paar se lewenskwaliteit verbeter. Twee mense kan dalk niere kry. Een kan sy hart kry. Nog een sy lewer. ‘n Ander een sal sy longe kry. Sterk, gesonde longe. Sy retina’s. Iemand kan dalk weer sien. “Boeta, Boeta, praat met mamma my kind. Wys vir my jy lewe nog. Druk my hand. Voel jy as ek jou hand druk? Knip net jou oog dat ek kan sien jy hoor my. Daardie diep, sielvolle oë van jou. Asseblief, maak hulle oop. Al is dit net ‘n klein, klein skrefie. Boeta, hoor jy my???”
Die suster by sy bed tik met ‘n sneesdoekie oor haar oë. Hoeveel kere het sy nie al hierdie toneel wat nou voor haar afspeel, beleef nie. Mense wat naarstigtiglik soek na die geringste teken van lewe. Dan het sy ook gesien hoe mense wat verby alle hoop was hier uitstap. ‘n Wonderwerk van Hom wat red. Sal Hy dit weer doen? Sal Hy dit vandág weer doen?
In die wagkamer sit ‘n jong vrou met haar rug in die hoek van ‘n groot rusbank ingedruk. Sy kyk na haar pa wat met sy kop in sy hande sit. Sy weet dat hy bid. Sy het hom al baie so gesien. Haar jonger broer lê in die saal hier langsaan. Die dokter praat van organe skenk. Iemand moet doodgaan om ander te red. Sy is dankbaar sy hoef nie daardie besluit te neem nie. Dis seker dié moeilikste besluit wat enige ouer óóit moet neem. Sy dink aan haar eie kleinding by die huis. ‘n Regte klein woelwater. Hoe sal sy dit ooit kan doen as sy eendag voor daardie keuse moet staan. In stilte bid sy dat sy dit gespaar mag bly. Sy bid vir haar broer. Vir haar ouers. Veral vir haar ouers. Dat hulle die regte keuse sal maak. Is daar vandag ‘n regte keuse?? Hoe weet ‘n mens??
Die vrou staan regop langs die jong man se bed. Vryf nog ‘n keer oor die rooi borselkop; druk sy hand. Dan draai sy om en stap by die saal uit. Haar besluit is geneem. Sy gaan staan langs haar man. Vat aan sy skouer. Hy kyk op. Sy sien die leegheid in sy oë; die groewe in sy gesig. Dieselfde bruin oë as haar kind s’n. “Wat gaan ons doen, Henk? Wat gaan ons doen? Tyd hardloop uit. Tyd het nog nooit so stadig, maar ook so vinnig verby gegaan nie.” Die jong vrou staan styf op en stap na haar ouers toe. Sy druk hulle styf vas. Meer kan sy nie doen nie. “Doen wat julle moet doen Mamma.” “Wat as hy nog lewe? As hy net diep weg in ‘n koma is. So diep dat masjiene wat deur mense gemaak is dit nie kan opspoor nie? Helena, wat AS!!!???” sê die man wanhopig. “Hy is besig om te sterf, Henk. Sy voete is koud. Hy is besig om onder ons hande uit te gly. As hy sterf kan hulle niks met die organe maak nie. As ons toestemming gee dat hulle die organe verwyder, kan hulle ander mense red. Ons kind sal lewe al in dit in ander mense se liggame. Hy sal steeds lewe. Ons begrawe net ‘n dop. Dis al.”
Hulle stap na die saalsuster toe. “Suster,” begin die man, maar sy stem knak. Dit word ‘n skor fluistering. “Suster, ons het besluit om die masjiene af te skakel. Laat weet asseblief die dokter sodat hy kan reëlings tref om die organe te verwyder. Ons wil hom nog net een keer sien voordat julle dit doen. Asseblief.”
Die suster trek die gordyne om die bed toe. Sy gun hulle hul laaste oomblikke saam met hulle kind, maar sy wil dit nie sien nie. Emosioneel is sy nie sterk genoeg nie.
Een vir een kom hulle agter die gordyne uit. Eers die jong vrou. Dan die man met die baard. Daar is lyne op sy gesig wat gister nie daar was nie. Laaste kom die ouer vrou uit. Sy draai om en kyk weer na haar seun op die bed. Dan trek sy die gordyn finaal toe en stap vinnig, met haar kop onderstebo, by die saalsuster verby.
In ‘n ander hospitaal sit die vrou met haar twee kinders weerskante van haar. ‘n Man in ‘n wit jas kom na haar toe. Sy tred is haastig. Asof hy goeie nuus kan bring. Hoopvol kyk sy na hom. Hoop vlam in haar op. Is dit ….? Kan dit wees….? “Mevrou, ek het goeie nuus. Ons het ‘n skenker gekry. Ons is reeds besig om die teater in gereedheid te kry. Jy kan vir jou seun self die goeie nuus gaan gee voordat ons hom moet voorberei vir die operasie. Ons sal alles doen wat ons kan. Julle moet net bid dat dit goed sal afloop.” “Dankie dokter!! Baie, baie dankie!!” Die vrou huil, maar nie soos gister en eergister nie. In haar is ‘n vreugde; blydskap; hoop. Haar kind het ‘n kans om daar op te staan en saam met haar huistoe te gaan. Hoe mooi is die wêreld nie skielik nie!?
In ander hospitale oor die land heen speel dieselfde toneel hom af. Organe word per motor, per vliegtuig vervoer. Tyd is die bepalende faktor.
In baie wagkamers word daar gebid.
Gewag.
Gebid.
Gewag.

Operasies word suksesvol uitgevoer. Daar is hoop! Daar is lewe!!!

Eendag, lank, lank gelede, het Iemand ook gesterf sodat ander die kans op lewe kan hê.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed