Jongste aktiwiteit:

Ernest

Ernest
Soms kom lewenslesse op snaakse maniere. Soms van iemand van wie jy dit nooit sou verwag nie.
Soms kyk jy na mense en jy wens jy was soos hulle. Welvarend, suksesvol, goed geklee, oorgenoeg om te eet, goeie huis, goeie buurt. Blink motor.Miskien twee. Drie? Dalk ‘n huis by die see. ‘n Bosveldplaas. Of dalk een in die Kalahari. Praat van eksotiese plekke asof dit die mees alledaagse ding in die wêreld is. Klaarblyklik nie ‘n probleem in die wêreld nie. Wonder nie waar gaan die middele vandaan kom om die punte einde van die maand bymekaar te bring nie. Jy sit saam met hom en wens die aand om. Die hoeveelheid op die tafel maak jou duislig. ‘n Mens kan net soveel eet. Soveel drink. Die geselskap? Wel, dis leeg. Die Rand en die Dollar. Aandele. Wins en verlies. Prokureurs en advokate.. Hofsake. “Ek laat my nie rondstoot nie” tipe van ding. Wat nie die mooi van ‘n sonsondergang kan waardeer nie, want hy is nog op kantoor. By ‘n vergadering. Wat bitter min die son sien opkom, want teen daardie tyd is hy reeds lankal op kantoor. In ‘n vergadering. In konsultasie met sy advokaat.
Jy verlang na die stilte en die eenvoud van jou eie plek. Die een waaraan jy swaar betaal. As die rentekoers een persent styg is jou begroting daarmee heen. Moet jy sny aan ander minder belangriker goed sodat jy net die dak oor jou kop kan behou. Die kinders se skoolgeld kan betaal.
Soms kyk jy na mense en jy is dankbaar jy is nie soos hulle nie. Arm arbeider in ‘n verbleikte, geskeurde oorpak. Met beter klere oor ‘n naweek as hy by sy vriende gaan kuier. Beter, maar steeds nie goed nie. Rousteen huisie afgepleister met klei. ‘n Vertrekkie of twee met sink aangelas. Met materiaal wat van oral af bymekaar gemaak word. Wat oorstroom met die geringste bui reën. Vir wie reën meer ‘n las as ‘n seën is. Wat nie genoeg verdien om elke dag lekker te eet nie. Wat soms ‘n dag moet oorslaan sodat sy kinders darem iets te ete kan hê. ‘n Ou fiets waarmee hy werk toe moet ry. Die taxi kom nie hier verby nie. Ook nie die bus nie. En al was daar, sou hy eenvoudig die luukse nie kon bekostig nie. Wat die see nog nooit geruik het nie. Kyk na eksotiese plekke in ou, weggooi tydskrifte waarvoor niemand meer ‘n nut het nie. Wat elke dag die son sien opkom, want daardie tyd is hy op sy fiets oppad werk toe. Wat vannaand die son sien sak, want dan is hy oppad huistoe. Dalk met ‘n pakkie benevleis, swaaiend in ‘n plastieksak, wat met ‘n lang sous die pap gangbaar moet kry.
Dan sit ek onder ‘n boom. Saam met mense met strak gesigte. Want die dood het een van hulle kom haal. Op sy fiets, terwyl die son opkom, en hy oppad werk toe was. Die taxi wat nooit hierlangs ry nie, het hom aan die verkeerde kant van die pad van sy fiets afgery. Hy kon niemand groet nie. Ek hoor hoe hulle sing. Praat in ‘n taal waarvan ek nie veel verstaan nie, behalwe die woorde wat ek elke dag hoor. Deur die oop deur sien ek die kis in die kamer staan. Met ‘n brandende kers neffens die trollie waarop die kis staan. Ek sien sy oorpak op die kis lê, want dit gaan aanstons saam met hom graf toe. Niks mag agterbly wat sy mense se hartseer groter sal maak nie. Ek sien dit alles. Hoor dit alles.
En ek dink aan een middag laat terwyl ons oppad huistoe was en die son voor ons in ‘n kaleidoskoop van kleure sak. “Nkamula,” hoor ek Ernest sê, “Nkamula, die Here is groot.” “Ja,” sê ek, “die Here is groot Ernest.” Wat sou hy weet van die Grootheid van die Here? “Kyk daar waar die son gaan lê. Kyk daardie colours. Waar kry Hy daardie paint? Jy kan by die hardware gaan, Nkamula, maar jy sal nie daardie colours kry nie.”
Ek sit onder die boom. Saam met mense met strak gesigte. En ek dink aan Ernest by wie ek iets van die Grootheid van die Here geleer het. Ek dink aan alles en ek wonder hoekom ek hoegenaamd dankbaar was dat ek nie soos Ernest was nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed