‘n Rooi motorfiets
n Rooi motorfiets
Soms, as ‘n mens tyd het, en die gedagte begin bietjie draaie loop, dan begin jy wonder oor goed wat jy eintlik lankal vergeet het, maar skielik weer onthou. En dis half asof die ervaring en insig wat die jare gebring het, dinge skielik anders laat lyk as wat dit oorspronklik was. En of ‘n mens ook anders dink oor dinge.
So ‘n geval was die rooi motorfiets.
Ek was op hoërskool. Was hier 1973 rond. Ma het vir ons plek bespreek vir die Julie vakansie op Pennington by ‘n oom en tannie Uys. Hulle het vroëer jare op Mamogalieskraal in die Brits distrik gebly en op Pennington gaan aftree. Meiring’s Cottages was die plek se naam. ‘n Salige twee weke van son en see en sand. Het ons gedink, sien, maar dit het nie so uitgewerk nie. Die oggend toe ons van Brits af gery het, was dit swaar bewolk. Net duskant Heidelberg het ons die reën gekry. Die Hoëveldvlaktes het grys en mistig om ons gelê. Die reën het in vlae teen die voorruit geswiep. Op van Reenenspas het Ma haar oë met ‘n lappie toegedruk, want die mis was so dik dat jy dit amper met ‘n koevoet kon breek. Ons het aanmekaar in die reën gery tot by Pennington. In die reën het ons afgelaai en deur die venster vir die grys see gekyk. Sy het tee gemaak. Ma. Beskuit en koekies het ‘n berg voor ons gestaan.. Sy het nie gespeel as sy reggemaak het vir vakansie nie. Terwyl ons weggelê het aan die beskuit en koekies het dit gereën. Vir twee weke lank het dit aanmekaar neergesif. Af en toe het die son so effens wou deurkom, maar voor ons nog op die strand was, het dit weer toegesak en het die reën in vlae neergekom. As ek al die minute wat ons in twee weke wel op die strand was bymekaar sou tel, glo ek nie ons was ‘n volle uur op die sand nie.
Uit pure radeloosheid het Pa ons eendag in die kar geboender, en met ons Amanzimtoti toe gery. Ons het ons verkyk aan die riviere wat orals in vloed was. Die see was bruin tot doer diep en orals het stompe dryfhout en opdrifsels op die strande gelê.
By ‘n kafee het Ma vetkoek bestel en ons kon elkeen iets lekkers kies. Ek het ‘n lucky packet gevat. Dit was my dood. ‘n Lucky packet. Gewoonlik was daar net twee of drie lekkers in, maar dit het my min gepla. Dis die ding wat binne-in was wat my koorsig opgewonde gemaak het. Die dag was die geluk regtig aan my kant. Toe ek die pakkie oopmaak, was daar ‘n handvol lekkers in en hierdie rooi motorfiets. Nie ‘n klein pieperige motorfietsie wat in ‘n vuurhoutjieboks sou inpas nie! Nee, dit was ‘n ordentlike ding. Meer as 100milimeter lank. As ek dit in my hempsak gesit het, het daar nog ‘n stuk bo uitgesteek. Op die fiets het ‘n mannetjie gesit met ‘n valhelm op sy kop in ‘n tipiese gebukkende houding. Dit was vir my ‘n uitkoms. Ons was nou al moeg vir dambord, kaarte, Monopoly, slangetjies en leertjies; noem dit. Warm patat; al die goed het ons nou al gespeel net om besig te bly. ‘n Mens kan ook net soveel slaap en nie meer nie. En eet. Bloed!! Ons het geëet gedurende daardie twee weke! Ons was permanent honger. Ma kon nie voorbly nie.
Een oggend wou sy pannekoek bak, maar die melk was op. Pa wou gou ry om melk te gaan koop, maar ek het gesoebat totdat hy later maar ingegee het. Reën of nie reën nie. Asseblief! Ek wou net uit die huis kom. Ek het die rooi motorfiets in my hempsak gedruk en met ‘n skotige afdraande straat af laat waai, om die hoek, deur ‘n driffie in die pad wat vol water was, tot by die kafee. Deurnat het ek die kafee binnegestorm, die melk gekoop, en weer teen die opdraande op huistoe gehardloop met die reën in my gesig. Ek was nat tot feitlik in my murg toe ek by die huis kom. Dis toe ek my hemp wou uittrek om ‘n droë een aan te trek, dat ek ontdek dat die rooi motorfiets iewers uitgeval het. Sonder om te huiwer het ek weer in die pad geval. Daardie rooi motorfiets moes ek hê. Dis al wat daar tussen my en uiterste verveling gestaan het.
Net toe ek by die driffie kom, kom daar ‘n seuntjie van voor af gehardloop dat die water spat. Op sy gesig was ‘n breë glimlag. In sy linkerhand, was my rooi motorfiets. Ek het op die seuntjie afgestorm. Ek onthou hoe verskrik hy was. As hy opskool was, kon hy nie groter as, sê so standerd twee of drie wees nie. Miskien selfs kleiner. Ek het hom gekonfronteer oor die rooi motorfiets terwyl die water oor sy swart vel loop. Die seuntjie het geprotesteer in ‘n taal wat ek nie verstaan het nie. En op my beurt het ek weer verduidelik van die lucky packet en die rooi motorfiets in ‘n taal wat vir die kind geen sin gemaak het nie. Eindelik het ek die motorfiets gegryp, en teruggehardloop huis toe.
Voordat ek om die hoek is, het ek vinnig oor my skouer teruggekyk. Die kind het steeds daar gestaan waar ek die rooi motorfiets van hom afgeneem het. Op ‘n afstand kon ek sien hoe sy skouers hang. Dalk het hy gehuil. Ek weet nie. Die reën het van hom afgeloop en water het om sy voete gespoel. Sy hele houding was een van verslaendheid.
Toe dit nou die dag so geweldig reën, en ek weer aan daardie episode terugdink, het ek gewonder of ‘n rooi, plastiek motorfiets kon veroorsaak dat iemand as jong volwassene dalk by Nkonto We Sizwe sou aansluit. Dalk sit van sy kinders lewenslank in die tronk vanweë ‘n bloedige moord iewers op ‘n wit, boere egpaar. Omdat sy pa destyds beroof is van ‘n rooi, plastiek motorfiets, en hy die storie oor en oor vir sy kinders vertel het.
En dit alles het begin by ‘n rooi, lucky packet motorfiets en die feit dat ons mekaar op daardie bewolkte, grys, reënerige dag, nie kon verstaan nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.