Dit betaal om Kersfees te vier
(woordtelling : 249)
As verkoper is ek dankbaar dat mense Kersfees vier want opgewonde kopers spandeer aansienlik makliker. Dit is voordelig om hierdie opgewondenheid tot op die laaste druppel te melk.
Die ekonomie van Kersfees is globaal en begin reeds in Oktober met die hoogtepunt gedurende die laaste week voor Kersdag. Mense koop nie net geskenke nie, maar spandeer ook meer aan kos en ander onnodighede. Covid het ʼn geweldige invloed op die ekonomie gehad, maar ou gewoontes is geleidelik besig om terug te keer, ten spyte van hoë inflasie en ʼn styging in werkloosheid.
Die kommersialisering van Kersfees word oor die algemeen as ʼn slegte ding gesien, veral wanneer die koper op skuld koop, of dalk in Januarie nie geld het vir kos of skoolklere nie. ʼn Handelaar se verantwoordelikheid is bemarking en verkope, en hy is nie skaam om ʼn behoefte te skep nie. Of die koper dit kan bekostig of nie, is nie sy probleem nie.
Dit is onduidelik hoeveel Suid-Afrikaners gedurende hierdie tyd spandeer, maar volgens Finder.com se statistieke het die gemiddelde Brit in 2023 sowat R14 000 aan geskenke uitgegee. Dit is ʼn styging van R4 000 teenoor die vorige jaar.
Desember is ook ʼn tradisionele vakansiemaand en die feesdae beteken dat mense meer tyd saam met vriende en familie deurbring. Suid-Afrikaners hou van braai en selfs informele kuiers lei tot groter uitgawes.
Ongeag wat mense se siening oor die viering van Kersfees mag wees, die gewoonte om meer te spandeer sal verseker nie maklik verander nie.
https://www.currencytransfer.com/blog/expert-analysis/how-does-christmas-affect-the-economy
©Ano
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2024 – Kersfees projek