Kersfees is nie vir kinders nie
(Woordtelling 250)
Kindertyd se Kersfees is niks om oor opgewonde te raak nie en is maar ʼn vaal en gevoelige herinnering. Om dit vinnig op te som, my ouers het opgehou om Kersfees te vier toe ek, die laatlam van vier, skoolgaande ouderdom bereik het.
Ek weet baie deeglik waaroor Kersfees gaan. Christen ouers het hulself goed van hul taak gekwyt deur my daagliks te herinner dat ons nie aan die wêreldse plesier deelneem nie. Kersfees is die viering van Christus se geboorte en geen ander opgewonde afwagting word toegelaat nie.
Ek wil nog die kind ontmoet wie se hartjie nie stilletjies na ʼn geskenk uitsien nie.
Terwyl my maatjies se huise gelewe het met liggies en ander versierings wat slegs een maal per jaar uit die boks gehaal was, was ons huis stil en leweloos. Geen opgewonde afwagting nie. Ons het nie kerskaartjies gestuur nie, en as ons enigsins iets ontvang het, was dit vinnig in die asblik gegooi.
Ek het redelik vinnig geleer om in die weke na Kersfees nie by enige maatjie te kuier nie, want daar was altyd gevra watse geskenk ek gekry het. ʼn Boks vol teleurstelling. Nie eens ʼn sakkie met steenkool in nie want ons glo mos nie aan Kersfees nie.
Daar was darem die piekniek saam met my tannie en haar baie kinders. Die somerson wat heerlik warm bak, groot koeltebome, ʼn waatlemoen wat in die dam se koel water dryf, en die gelag speel van kinders. Miskien bly dit tog die beste herinnering.
©Ano
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2024 – Kersfees projek